Matteus 6:1-15

Om te bid is duur



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Daar is baie vorme van gebed. Daar is blote skietgebede. Daar is diepe dankgebede. Daar is gebede wat nie anders as smekinge voor God verstaan kan word nie. Of dit kan wees dat ons by onsself sit en nadink oor ons lewe - met sy vreugdes en probleme — met die wete dat ons in dit alles altyd in God se teenwoordigheid is. Dit is ook om te bid.

Gebed, broers en susters, kan egter ook ‘n geveg met God wees, soos Job (in Job 9:12-19) byvoorbeeld met God geveg het toe hy gesê het:

“As Hy op iets beslag wil lê, wie sal Hom keer? Wie sal vir Hom sê: Wat doen U? God hou sy toorn nie terug nie...Hoe sou ek my woorde teen Hom kon kies?... As ek na Hom sou roep en Hy sou my antwoord, sou ek nie glo dat Hy my gehoor het nie, want dit is Hy wat my baie wonde slaan...wat my nie ‘n kans gun om asem te skep nie...”

So ‘n strydgebed kan baie eg wees. Soos die meeste van ons gebede seker ook eg is. Maar gebed, broers en susters, kan ook blote skyn wees. En dit is juis waaroor Jesus dit het in Matteus 6. ‘n Mens kan, sê Jesus, byvoorbeeld ‘n voorslag bidder wees, sonder om daarvan bewus te wees watter koste daar aan gebed verbonde is.

Want om te bid is baie maklik. Dit is nie moeilik om mooi woorde te bedink wanneer ‘n mens byvoorbeeld voor mense bid om hulle te beïndruk nie. Dit is net so maklik om jou kruidenierslysie vir die dag of vir die geleentheid met die gebed gou na God toe deur te bel en te wag op resultate. Want ons het mos nou gevra, ons kant gebring, en nou is dit God se beurt. En as God nie gou genoeg met dit wat ons gevra het voor die deur staan nie, sê ons so maklik: God verhoor nie gebede nie.

Gebed, broers en susters, en dit moet ons raaksien, is egter nie so goedkoop nie. Inteendeel. Dit is baie duur om te bid. Ander gestel: as ‘n mens bid, moet jy mooi dink of jy bereid sal wees om, as God jou gebed verhoor, die konsekwensies daarvan te aanvaar. Kom ek verduidelik wat ek bedoel met ‘n paar voorbeelde:

As ons bid: “Laat u Naam geheilig word” en God verhoor daardie gebed, gaan dit kos dat ek my lewenstyl sal moet aanpas en verander. Want die bede vra van God dat Hy my lewe heilig moet maak.

En hoe lyk ‘n heilige lewe? Levitikus 19 sê onder meer ‘n heilige lewe beteken om eerbied vir jou pa en ma te hê, nie inhalig te wees nie, maar om, wanneer jy oes, die wenakker te laat staan en om die are wat val, daar te los vir die vreemdelinge en die armes.

Heiligheid beteken verder nie om te lieg en te bedrieg en te steel nie; om nie jou naaste uit te buit of te beroof nie; om ‘n dagloner se betaling vÿoaÿoar sononder vir hom of haar te gee; om ‘n ongelukkige mens nie ‘n rat voor die oë te draai nie; om nie partydig te wees in die regspraak nie; om nie jou medemens te beskinder nie; om nie haatdraend te wees of ‘n grief te koester nie.

Dus, broers en susters, as God my bede — “Laat u Naam geheilig word” — verhoor, tref die verhoorde gebed my eerste van almal en verander my lewe. En as ek weier om in ‘n heilige mens verander te word, verhinder ék dat daardie bede verder verhoor word. Gebed, broers en susters, is dus baie duur.

“n Volgende voorbeeld. As ek bid: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”, vra ek eintlik van God dat die aarde sal word soos die hemel. As God daardie gebed verhoor, beteken dit dat die stukkie aarde wat ek bewoon en die flentertjie tyd wat ek leef, vir almal om my ‘n stukkie hemel sal wees. Dat mense wat met my in aanraking kom of mag kom, iets van die gesig en teenwoordigheid van God in hierdie wêreld sal ervaar. Want dit is tog wat die hemel is, broers en susters: Om in die teenwoordigheid van God te kan lewe.

Met ander woorde: As God die gebed verhoor dat sy wil op aarde moet geskied, verg dit van my wat dit bid dat ek soos Christus moet leef en doen, want — sê die evangelie — hy het God tussen en onder die mense sigbaar gemaak. Nie dat ons nou moet dink dat ons God moet speel nie. Nee, broers en susters, dit is nie wat dit beteken nie. Ons moet God dan sigbaar maak. Want ons is nie net sy kinders nie, maar ook sy verteenwoordigers, sy hande, sy oë, sy geduld, sy vergiffenis.

Daarom, broers en susters, kom ons sê dit maar weer: Gebede is duur. Verhoorde gebede is nog duurder. Want die duur gedeelte van die gebed is dat u en ek as bidders in die voorste linie van die verhoring van ons gebede staan.

Ons bid so maklik en vra so baie dinge van God. Ons vra Hom om ons huwelik heel te maak, om ons verhouding met ons kinders of ons ouers of teenoor wie ook al reg te maak, ons vra God dat hy ons gesondheid sal gee, noem maar op. Maar dan staan ons dikwels self in die pad van die verhoring van daardie bedes. God gee ons gesondheid, maar dan gebruik ons ons gesondheid om die verkeerde na te jaag, of om ons met onbenullighede besig te hou. En dan sê ons soms nog so werklikwaar dat God ons gebede nie verhoor nie.

Of, broers en susters, kom ons neem ‘n baie praktiese voorbeeld, ‘n voorbeeld wat sommiges sal sê dalk ‘n baie gevaarlike voorbeeld is om te noem, maar miskien tog vir ‘n keer genoem moet word: Ons bid so baie vir ons land en al sy probleme. Selfs van die kansels van die kerk af. En dan vra ons God om ons te help met al die vyandskap en haat en wetteloosheid en geweld. Maar sê nou God verhoor daardie gebede? Is ons bereid om deel van die gebedsverhoring uit te maak? Is ons byvoorbeeld bereid dat God ons hart en ons lewe, ons gesindheid teenoor ander mense met verskillende standpunte oor die politiek of wat ook al, verander? Met ander woorde: Is ons werklik bereid dat God ons woonplek/werkplek/waar ons ook al besig is, ‘n stukkie hemel te maak deurdat Christus se beeld in ons gestalte kry en God sigbaar word vir die mense óm ons? As ons nie daartoe bereid is nie, moet ons hierdie bede nie bid nie.

'n Laaste voorbeeld: U as doopouers wat vanoggend u kind ten dope kom bring, maar ook ons wat dit alreeds gedoen het. Dalk het ons gebid en vir die Here gevra: Here, gee tog asseblief dat ons kinders mag hê. Of, Here, wil u nie tog asseblief by die doop werklik u verbond met my kind so bevestig dat hy/sy nooit uit u hand sal gaan nie?

Wat, broers en susters, was en is die implikasies vir ons as doopuers as God so ‘n gebed verhoor? Dat ons konsekwent ‘n voorbeeld in die geloof vir ons kinders sal wees. Dat ons hulle sal voorgaan in liefde, geduld, vergiffenis, hulle sal voorgaan in getrouheid ten opsigte van die eise van die Woord, dat ons vir hulle, met ons lewens, sal wys wat beteken ‘n gehoorsame dank-baarheidslewe, dat ons sal toesien dat hulle die beeld van Christus in ons lewens sal kan raaksien.

Dit, broers en susters, is die implikasies van so ‘n gebed. Dus: as ons nie bereid is tot hierdie implikasies moet ons dit nooit weer bid nie, en moet u as doopouers nie vanoggend u kindjie bring om gedoop te word nie.

Broers en susters, ek sluit af: Laat ons bid. Laat ons gedurig bid. Sonder ophou. Dit is immers ‘n Bybelse opdrag. Maar laat ons nie onnadenkend bid nie. Laat ons nie bid om deur mense gehoor te word nie — al bestaan daardie gehoor net uit onsself.

Laat ons eerder bid soos mense wat weet dat God gebede verhoor, en soos mense wat weet dat verhoorde gebede ons eie lewens heel eerste gaan tref.

Terwyl ons onthou: Om te bid is nie maar net ‘n plig nie. God het immers nie ons gebede vir sy bestaan nodig nie. Maar gebed is ook nie speletjies nie. Daarvoor is dit te duur.

Juis daarom het Jesus gesê: “As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak jou deur toe en bid tot jou Vader...wat sien wat verborge is”.

En daar in jou binnekamer sal die gebedsverhoring begin wanneer God begin om u en my lewe te verander, sodat Hy déúr ons ons gebede enduit kan verhoor.
Amen