Matteus 18:21-35

Ons het almal vergifnis nodig



Gemeente van ons Here Jesus Christus

Die storie word vertel van 'n Spaanse pa wat 'n kwaai rusie met sy seun gehad het, soveel so dat die seun weggeloop het van die huis af. Daar was vir baie jare geen kontak tussen die pa en die seun nie. Die pa het egter so baie na sy seun begin verlang dat hy die volgende beriggie in 'n koerant in Madrid laat plaas het:

Paco, Pa is jammer. Kan ons met mekaar praat? As jy kans sien, ontmoet my Saterdag m 12 uur voor die kantore van hierdie koerant. Jou pa.

Baie senuweeagtig het die pa daardie Saterdag na die plek van ontmoeting toe gegaan? Het sy seun die berig raakgesien? Sou hy daarop reageer? Sou hy bereid wees om sy pa te vergewe? Toe die pa egter by die plek van ontmoeting opdaag, sien hy tot sy verbasing dat 800 mans op die plein voor die koerantkantoor saamdrom. Hulle het later uitgevind dat al die mans se naam Paco ( 'n taamlik algemene Spaanse naam) was en dat al 800 op die beriggie gereageer het in die hoop dat húlle pa was wat die hand van versoening uitgesteek het. Almal het gebrand om weer met hulle pa's versoen te word. Om vergewe te word, om met mekaar versoen te word is een van die mees basiese behoeftes van alle mense...

Dis daarom nie om dowe neute dat Jesus die vierde met 'n ''en'' koppel aan die vyfde bede nie: Gee ons vandag ons daaglikse brood en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.

Jesus sê self in Matteus 4 dat 'n mens nie van brood alleen kan leef nie. Ons het nog iets nodig, naamlik die woord van vergifnis uit God se mond. Vir ons liggame het ons die mees voedsel nodig om te oorleef, en brood is die mees basiese van voedselsoorte; vir ons gees het ons ook so 'n mees basiese geestelike voedselsoort nodig om te kan oorleef - ons het vergifnis nodig. Sonder vergifnis, vergaan ons, sal ons van geestelike honger sterf, net soos iemand se liggaam sonder enige kos ook tot sterwe sal kom.

Nou weet ons dat die Here ons wil vergewe, dat Hy ons kan vergewe, trouens, Hy het dit Klaar gedoen in Jesus Christus - Jesus het die prys betaal sodat God ons kan vergewe- al wat ons moet doen, is dat ons ons skuld moet bely. Die Here kan en wil ons vernuwe, ons verander, ons heel maak- en alles wat nodig is om dit moontlik te maak, is reeds gedoen. As God dit kan klaar gedoen het, hoekom is dit nodig dat mens elke keer weer daarvoor sal vra, sou mens dalk wou vra. Maar om jou skuld te bely, om jou skuld te erken, om te besef hoe gebroke jy is – dit, sê iemand, is die smal poort waardeur die Gees van die Here inkom om in ons lewens sy werk daar te kom doen.

My broer en suster, dis 'n baie, baie belangrike ding hierdie wat ons baie goed moet verstaan. Ons moenie die skuld vir ons sondes bely omdat dit 'n voorwaarde vir vergifnis is nie, ook nie omdat God 'n kwaai God is wat ons deur ons belydenis moet probeer paai nie. Hy is ook nie 'n moedswillige God wat ons in ons skuldbelydenis voor Hom wil sien kruip nie. Die Here dring daarop aan dat ons ons sondes bely omdat dit die plek is ons begin om ons harte te vernuwe, dis die manier hoe ons begin om ons lewens te verander!

Om hierdie punt te onderstreep: Het jy al raakgesien, my broer en my suster, dat die enigste, maar die enigste geestelike gawe waarvoor Jesus ons leer om te bid in die Onse Vader die vergifnis van ons sondes is?

Jesus leer ons nêrens in die Onse Vader om te bid vir geestelike vernuwing of geestelike groei nie. Hy leer ons nêrens in die Onse Vader om te bid vir die vervulling met die Heilige Gees en sy gawes nie. Hy leer nêrens in die Onse Vader om te bid  vir dinge soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, deursettingsvermoë, dinge wat die vrugte van die Heilige Gees genoem word nie. En dis nie omdat dié dinge nie belangrik of nie nodig is nie. Maar ek dink dat Jesus ons in die Onse Vader nie leer om vir dié dinge te bid nie omdat Hy weet dat al hierdie dinge eintlik begin by 'n besef van hoe sondig 'n mens is, by 'n belydenis van daardie sondeskuld, by 'n besef van hoe gebroke van gees ons is. Dis die deur waardeur al die ander gawes van God 'n mens se lewe binnekom.

Soos mens aanstap in jare, so besef jy dat oud word nie vir sissies is nie. Jy moet sterk wees om al die pyne en skete wat oud word met hom saambring, te kan hanteer. Maar oud word bring darem nie net pyne en skete nie. Oud word bring ook 'n stuk geestelike rypword met hom mee. En een van die dinge wat 'n mens meer en meer besef hoe ouer jy word, is hoe sondig jy is, hoe skuldig jy voor God staan en hoe daar, sonder dié besef, geen sprake van geestelike groei kan wees nie.

Maarten Luther, die ou kerkvader, het blykbaar dikwels gesê: Hoe heiliger, hoe sondiger. Mens sou dink dit moet anders wees: Hoe heiliger, hoe minder sondig. Maar wat Luther bedoel het is dat, hoe nader mens aan die Here beweeg, hoe meer besef jy hoe baie sondes en tekortkominge jy nog in jou lewe het. Hoe nader mens aan die Here beweeg, hoe meer besef jy dat jy die Here baie beter kan liefhê en dien en vertrou as wat jy reeds doen. As jy min doen, dink jy jy doen baie. Maar as jy naby aan die Here leef, besef jy jy het eintlik nog nie eers begin nie. en dis uit dié besef, besef van hoe ver jy tekort skiet, besef van hoe skuldig jy nog staan, dis eers as jy dit besef dat jy kan begin om geestelik te groei. Dis tog wat die Heidelbergse Kategismus reg aan die begin aan die orde stel. Om wel getroos salig te lewe en te sterwe, moet ons weet hoe groot ons sonde en ellende is. Eers as ons dit weet, besef ons hoe nodig ons God se ingrype het, en eers as ons dit besef, kan ons 'n lewe van blye dankbaarheid begin leef omdat ons besef net hoé genadig God ons in Jesus Christus werklik was! Dis hoekom ons nodig het om gereeld en met groot erns die vyfde bede van die Onse Vader te bid.

Jesus leer ons in die vyfde bede om te bid: vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.  Een manier om hierna te kyk is om af te lei dat die manier hoe ons ander mense vergewe, gaan bepaal hoe God ons vergewe. Die mate waarin ons ander vryspreek, bepaal dan die mate waarin ons deur God vrygespreek sal word. Dis tog wat Jesus uitspel in Matteus 6:14-15 As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

Met eerste oogopslag lyk dit nogal asof hierdie uitspraak 'n streep trek deur die leer van verlossing uit genade en genade alleen. Voorwaarde vir verlossing word dan dat ons eers moet vergewe voordat God ons sal vergewe.

Maar, dank Vader, dit werk darem nie so nie, want dan sou ons nooit 'n kans gestaan het nie. Hierdie uitspraak van Jesus verwoord wat iemand noem die kringloop van vergifnis. Wie vergewe is, vergeef ander; en wie ander vergewe, word vergewe. Die bron van die moontlikheid dat ons ander sal vergewe, is die besef dat ons deur God vergewe is.

Vergifnis, kom dus altyd van iewers af - dit kom daarvandaan dat ons vergewe is; maar dan is daardie vergifnis ook altyd iewers heen op pad- om weer 'n ander te vergewe.

Ongelukkig, my broer en my suster, ontstaan daar hier so baie keer 'n kortsluiting, soos ons ook in Matteus 18 gelees het. 'n Amptenaar wat miljoene rande geskuld het, word deur die koning sy skuld kwytgeskeld. Toe hy by die gebou uitstap, wurg hy 'n man wat hom 'n paar rand skuld en laat hy dié in die tronk opsluit. Die koning vind hiervan uit en gee die amptenaar oor om gemartel te word.  En dan lees ons dat Jesus sê: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.

Ek wil dit dalk so probeer verduidelik. Ek moet bely dat ek in een opsig nogal 'n baie tipiese bedorwe Suid-Afrikaanse man is. Ek haat dit om die vullissakke uit te vat om verwyder te word en ek is heimlik verlig dat dit deel van die bediende se werk is. Maar, van tyd tot tyd, as die bediende nie daar is nie, moet ek dit doen. Gewoonlik onthou ek eers om dat die sakke uitgevat moet word as ek klaar gestort en aangetrek het. Dan gaan ek met my welriekende ou lyfie en mooi skoon kleertjies uit om die stink sakke uit te dra. Daar's mos altyd sulke vuil, stink  water onder drom as jy die sak uithaal, veral as dit gereën het. Omdat ek so min moontlik kere wil loop, dra ek baie altyd grillerig in sak in elke hand en dan probeer ek om met my bolip my neus toe te druk. Ek probeer so gou moontlik van die sakke ontslae te raak. Maar sê nou maar net, voor die vullislorrie verbykom, hardloop ek gou uit en bring ek die sakke weer terug tot in die huis en maak so 'n mooi hopie van die sakke in die hoek van my kombuis. En volgende week maak en weer so en weer en weer totdat daar 'n berg stinkende, verrotte sakke die hele kombuis vol lê. Ek sal nie lank hiermee besig wees voordat my vrou die manne met die wit jasse bel om my te kom wegvat nie...

Maar baie van ons doen presies dit! Nie letterlik nie, maar in ons geestelike lewe, in ons onvermoë om ander regtig van harte te vergewe. Ons sê ons het iemand vergewe, ons het die sak van skuld gaan buite sit - maar dan, kort voor lank, hardloop ons uit en gaan haal dit weer terug. Ons haal altyd weer iemand anders se oortreding teenoor ons op. Ek sal vergewe, ja, sê ons, maar vergeet, nooit nie! Terug is die sak vol stink sondevullis in jou hart! Ek kan net nie daaroor kom wat so-en so aan my gedoen het nie! Die een swartsak op die ander, en nog een op hom, en nog een op hom. Ons vra dat die Here ons oortredinge sal vergewe, maar as dit kom by die soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree, dan bring ons elke keer weer die sondevullis van ander mense se oortredinge in ons harte en in ons lewens in. En ons verander onsself in 'n vullishoop van onvergewensgesindheid. En ons verkies vullis, verkies vullis bo vergifnis!

CS Lewis het gesê: Om 'n Christen te wees, beteken dat jy bereid sal wees om die onverskoonbare dinge in ander te vergeef, omdat Christus die onvergeeflike in jou vergewe het!

Jesus leer ons om te bid: en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.

Ek glo nie hier is iemand wat die naam Paco het nie. Maar ons is maar almal soos die Paco van my storie aan die begin. Ons het almal vergifnis nodig. En om ons is daar ook 'n klomp Paco's, ander mense wat nodig het dat ons hulle sal vergewe. En daarom is dit nodig, so nodig dat ons sal aanhou om te bid: en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.
Amen