Matteus 6:9-15

Ons is die koninkryk



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Die Ons Vader is ‘n gebed waarin daar met hartstog gebid word vir die koms vir die koninkryk van God. Wat hierdie koninkryk is, sê die Ons Vader self: dit is waar/wanneer God se Naam geheilig word, wanneer God se wil geskied, wanneer daar geen broodgebrek is nie, wanneer versoekings weerstaan word, wanneer vergifnis plaasvind, wanneer mense verlos word van alle vorme van boosheid in hierdie wêreld.

Die koninkryk van God is dus nie soseer ‘n plek nie, maar ‘n gebeurtenis. ‘n Gebeurtenis waarin mense telkens weer en weer, met woord en daad, God verklaar as Koning, Jesus verklaar as Here. As my Here, as my besitter. En omdat God koning is, en Jesus die Here is, en mense daaruit en daarvolgens lewe, word ‘n toestand bereik waar mense weer met God versoen is, met mekaar, en met hullself. Met ander woorde, die koninkryk is iets wat moet word, moet gebeur, en telkens weer gebeur. Ek meen, broers en susters, dat ons dit baie goed moet begryp, ander sal niks van die koninkryk ooit in ons lewens sigbaar word nie. Maar hieroor later meer.

Verder, broers en susters, leer ons hierdie gebed by Jesus. En ‘n mens wil amper sê: by wie anders? Want in Jesus het die koninkryk aangebreek. In Markus 1:15, seker een van die belangrikste versies in Markus as ons wil verstaan wat Markus eintlik wil sê, sê Jesus: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk het naby julle gekom”. Hoe naby? So naby as wat Jesus in mense se teenwoordigheid was.

So teenwoordig dat die wat honger was kon eet, dat die wat melaats, blind, siek of gestrem was gesond geword het, dat vroue kon hoor dat ook hulle waarde in die oë van God het, en dat aan kinders vertel is dat ook hulle belangrik is. So belangrik dat hulle geloof as voorbeeld vir baie kan dien.

Maar ook: die koninkryk was daar, en het vir baie gekom, telkens daar waar pyn tot ‘n einde gekom het, maar ook angs, verwerping, onsekerheid, wanhoop en, finaal, die dood. Dit het Jesus gebring, en daarom kan niemand beter, niemand anders, ons leer om werklik vir die koninkryk te bid nie.

En nou kom Jesus, broers en susters, en in Matteus 6:12, ons teksvers, vertel hy ons hoe ons dieselfde kan doen. Hoe ook ons, soos Hy dit gedoen het, die koninkryk sigbaar kan maak, die koninkryk kan laat gebeur, laat gebeur in die lewens van ander mense, maar ook in ons eie lewens.

Drie sake is belangrik in ons teksversie: die skuld waarvoor daar vergifnis ontvang en gegee moet word, dat hierdie skuld as ons skuld beskryf word, en, derdens, die vraag wat dit beteken om hierdie skuld te vergewe. Drie sake, broers en susters, waaroor ek u vanoggend wil nooi om my verstaan daarvan met u te deel.

Kom ons kyk eers na die skuld waarvan Jesus in hierdie versie praat. Die belangrikste saak, broers en susters, wat in die pad staan vir die koms van die koninkryk, sê Jesus hier, is skuld, die skuld van mense, dus ook die skuld van ons (dit wat die Bybel hier met oortredings vertaal het). Dat skuld die belangrikste saak is, die hoofrede is waarom die koninkryk nie kom nie, is duidelik uit verse 14 en 15: dit is die enigste bede waarop daar uitgebrei word, en wat Jesus verder verduidelik. Hieroor later meer.

Oor hierdie skuld sê Jesus: daar waar oortredings gebeur, waar daar skuld is, daar kan die koninkryk nie wees nie. En, logies hiervan afgelei: daar waar skuld nie vergewe wil word nie, waar skuld nie weggeruim/uitgewis word nie, daar is die koninkryk ook nie. Met ander woorde, ons kan op twee maniere in die pad staan van die koms van die koninkryk: ons kan skuld veroorsaak, en/of ons kan weier om skuld af te skryf, te vergewe, of dan, uit te vee.

Wat, broers en susters, is hierdie skuld, die woordjie wat ek vanoggend nou al so baie gebruik het? Skuld is ‘n ervaring wat ontstaan wanneer verhoudinge bederf word, en meer spesifiek, die verhouding met God en die verhouding met mense wat na en naby aan my leef. Skuld ontstaan met name wanneer ek God, en die wat na aan my leef gebruik om my doeleindes te bereik, my wil te laat geskied, my eie behoeftes tot vervulling te bring. Of anders gesê: skuld ontstaan daar waar ek God en my medemens gebruik, in plaas daarvan dat ek my beskikbaar stel om deur God en my medemens gebruik te word.

Juis daarom wek skuld altyd vrees. Want wanneer ek teenoor God of iemand skuldig staan, vermy ek dit om met God of daardie iemand in ‘n verhouding te tree. Ek vermy so persoon liewer, want sy/haar teenwoordigheid is ‘n voortdurende herinnering dat ek teenoor hom/haar of God te kort skiet. In die ervaring van skuld dus, word God en my naaste vir my ‘n bedreiging, ek is vir hulle bang, in plaas daarvan dat God en my naaste vir my die vernaamste geleentheid word teenoor wie ek die liefde kan leef, en in wie se lewens ek vreugde kan bring.

Ons kan dit ook so stel: die maatstaf waarmee God die kwaliteit van ons verhouding met Hom, en met die ander om ons meet, is die liefde. Niks anders nie. En nou kan ons gerus maar sê: ons hoor dit so baie, ons sê dit so baie. Dit klink selfs al vir sommiges onnodig/outyds. Maar ons kom nie by die liefde as maatstaf verby nie. Tensy u ‘n ander Bybel as ek het.

Verder: wanneer die Bybel oor die liefde praat, dan sê die Bybel vir ons wat dit is in baie, baie eenvoudige en duidelike terme: die leef van die liefde beteken ek is tot beskikking van ander en God, en daarom ag ek altyd ander hoër as myself. So hoog dat God en die naby aan my, die doel van my lewe word.

En dan ook nie in ‘n “omdat”-verhouding nie, maar in ‘n “ondanks”-verhouding: ek leef nie die liefde teenoor die naby aan my omdat of hy en sy so goed of wonderlik is, dit verdien, of omdat ek persoonlik daarby kan baat nie. Nee. Die liefde waarvan die Bybel praat sê: ek is by die naby aan my betrokke, ek vind my vreugde in die naby aan my ondanks wie of wat hy/sy is, ondanks wat hy/sy aan my gedoen het. ‘n Houding dus, soos Paulus dit in 1 Korintiërs 13:7 verduidelik, wat alles bedek, alles glo, verdra en bly hoop.

Mense wat hulleself dus wil sien as burgers van die koninkryk, is mense wat - ter wille van die liefde - hulleself verloor in diens aan God en die naaste. En waar hierdie liefde nie is nie, kom skuld. En word ook die hart alle sonde oopgevlek, naamlik, ek leef so dat ek verwag dat God en die naby aan my my belange moet dien, God en die naby word middele om my drome te verwesenlik. In plaas daarvan dat die sin van my lewe bepaal word deur die belange van God en die wat ek sogenaamd liefhet.

Skuld skep dus ook vervreemding tussen mense. Vervreemding wat maak dat ek net by mense betrokke raak uit vrees of onder dwang. Want wanneer ek iemand iets skuld, dan dien ek hom omdat ek moet, en nie omdat ek wil nie. Ek dien hom uit vrees vir straf en vergelding. Hoekom dien u en ek God? Gaan antwoord later vandag gerus vir uself hierdie vraag.

Die tweede saak in ons teksvers wat ons aandag verdien is die woordjie ons, “vergewe ons ons oortredings”. Hieroor kan ons korter wees. Die Ons Vader wil hier vir ons hard en duidelik sê: die skuld wat die wêreld verteer, dit maak wat dit is, wat maak dat so min van die koninkryk sigbaar is en word, is nie iets veraf of onpersoonlik nie. Dit is ons skuld, my skuld.

Dit is byvoorbeeld wat Dawid moes ontdek toe die profeet Natan hom na aanleiding van sy sonde met Batseba en die moord op Uria gekonfronteer het. Ek is die man, moes hy erken. Dit is so maklik, broers en susters, om verontwaardig te wees oor ander se sonde, en veral oor ander se sonde teen my gedoen. Maar dit is ‘n gans ander saak om te besef: Ek is die man/vrou. Ek is deel van die probleem. Ek, saam met baie ander, staan in die pad van die koninkryk.

So, broers en susters, is die Ons Vader gebed dus ‘n erkenning dat ons almal, saam met mekaar, in die weg staan van die koms van die koninkryk van God. Om die Ons Vader-gebed te bid is dus onder andere om ons aandadigheid te erken aan die mense naby aan ons se lyding en swaarkry. Daarom, wie dit nie wil erken nie, moet nie die Ons Vader bid nie.

Laastens: die aspek van vergifnis. Wanneer ons hierdie aangrypende gebed bid, kan ons een ding weet: God wil en sal ons vergewe. God sal die vervreemding tussen Hom en ons, en ook ons skuld, wegneem. Maar dan moet ons twee sake goed verstaan.

Eerstens, wanneer God vergewe is dit nie omdat God - as ons dit vir ons doel hier so kan stel - die kwaad vergoeilik of goedkoop maak nie. Juis omdat vergifnis nie goedkoop is nie. Inteendeel. Die prys van vergifnis is dat God een keer in die geskiedenis nie wou vergewe nie. Een keer - op Golgota - het God se genade opgeraak en het Hy in sy toorn ons skuld in Christus, en dus in Homself, gestraf. Wanneer God dus vergewe, is dit nie maar net om vredeswil nie, maar om Jesus wil.

Tweedens: God vergewe ons nie as ons nie mekaar ook vergewe nie. Dit sê vers 14 en 15 baie duidelik. En dit help nou nie dat ons met allerhande teologiese of godsdienstige argumente kom om dit anders te wil verstaan nie. Die eenvoud van Jesus se woorde hier kan selfs die kleinste en jongste onder ons vanoggend verstaan: God vergewe ons nie as ons mekaar nie vergewe nie.

Maar beteken dit nie dat ons God se vergifnis teenoor ons afhanklik maak van ons vergifnis teenoor ander nie, kan u vra. Ek betwyfel dit ten sterkste. Wat Jesus hiermee bedoel, meen ek, is die volgende: Vergifnis, soos die geloof, is nie alleen ‘n gawe nie, maar ook ‘n opgawe/opdrag, ook ‘n daad. Ons kan dus nie maar net vergifnis wil ontvang nie, ons moet dit ook gee.

Deur mekaar te vergewe maak ons in die wêreld sigbaar dat God ons vergewe het. Ek kan nie God se vergifnis ontvang sonder om dit ook te gee nie. As ek wrokkig teenoor ‘n medemens bly leef, en tog beweer dat God my vergewe het, weet ek nie wat ek doen nie, weet ek nie waarmee ek besig is nie. Dan verstaan ek nog nie wat met my gebeur het toe God my vergewe het nie. En daarom kan ek vergifnis nie net ontvang nie, ek moet dit ook leef. Want deur dit te leef, sê ek: ek het dit ontvang, ek is bevry, en dit is ‘n ervaring met so ‘n geweldige omvang en gevoel van bevryding, dat ek nie ander kan as om dit ook te doen nie. Wie hierdie ervaring nog nie gehad het nie, impliseer Jesus hier, sal dit nie vir ander kan gee nie.

Ek sluit af deur weer by vanoggend se begin te begin. Daar het ek een saak baie sterk probeer beklemtoon - een saak wat in my lewe vir my, persoonlik, ‘n geweldige perspektief oor God, en wat God met ons op hierdie ou aardetjie wil doen, en laat wil doen, geopen het: die koninkryk is nie ‘n plek nie, dit is iets wat gebeur, en telkens weer moet gebeur.

As ons sê: die koninkryk waarvan Jesus hier praat is ‘n plek, dit is iets so groot soos die hele wêreld wat moet verander, dan gee ‘n mens sommer gou moed op. Want dan word ‘n mens oorweldig. As ons egter raaksien dat die koninkryk ook ‘n gebeure is, of ten minste kan wees, dan beteken dit dat waar ek beweeg, waar ek leef, ek die koninkryk kan laat kom, ja, dat ek hierdie Ons Vader-gebed waar kan laat word.

En hoe kry ons dit reg? Soos Jesus ons leer bid het in vers 12: Deur eerstens te erken dat ook ek skuld het, skuld het aan die feit dat byvoorbeeld my huwelik lyk soos dit lyk, of selfs dat die mense naby aan my se lewens lyk soos dit lyk, tot God te bid om vergifnis daarvoor, die bevryding van vergifnis te beleef, en dit dan te gaan leef.

So maklik, broers en susters, kom die koninkryk. So maklik kry ons dit reg. So maklik is dit om hierdie bede in ons lewens waar te maak. Daarom: kom ons moedig mekaar aan, ten minste waar ons as gesinne saam is, ten minste waar ons hier saam is, ten minste in die gemeenskap waarin ons bly, om die koninkryk te laat gebeur, te laat kom.

Anders bly ons opsê van hierdie gebed niks anders as leë woorde nie.
Amen