Matteus 10:7-8, 16-20, 26-33

Dit gaan oor God!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In my leeswerk vir vanoggend se prediking het ek baie duidelik bewus geword van die wye verskeidenheid van sentimente wat oor Geloftedag bestaan. Vir sommiges gaan Geloftedag uit en uit oor die Afrikanervolk – daarom ook die somse sterk politieke inslag wat die viering van hierdie dag vir sommiges inhou. Ek respekteer dit. Ander weer oordeel dat Geloftedag nie oor die volk gaan nie, maar oor die kerk – daarom die klem op die geloof van hulle wat die Gelofte afgelê het. Diegene wat so voel, se standpunt respekteer ek ook graag.

Ek oordeel egter, broers en susters, dat die viering van Geloftedag nie oor enige iets anders as God kan gaan nie. Nog nader gesê: Geloftedag handel oor God se voorsienigheid. Oor hoe God voorsien.

Wanneer die vraag gevra word oor wat God se voorsienigheid beteken, is dit altyd goed om maar weer te gaan kyk wat Ursinus en Olivianus, die skrywers van die Heidel-bergse Kategismus, oor God se voorsienigheid gesê het: …die almagtige en oral teenwoordige krag, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Hierdie is natuurlik geloofstaal, broers en susters. Maar dit is moeilike geloofstaal. Want dit is maklik om so te praat as alles voor die wind gaan. Maar wanneer die groen gras plek maak vir 'n doodgeskroeide aarde, en gesondheid maak plek vir siekte, en rykdom vir armoede, wanneer jy dit aan jou lyf begin voel, dan is dit nie meer so duidelik hoe God se voorsienigheid werk nie.

Wanneer jy afgedank word en daar is nie vooruitsigte vir 'n nuwe werk nie, dan wonder jy: maar is dít hoe God voorsien? Wanneer jy dokter toe gaan en hy sê vir jou jou siekte is ongeneeslik, dan wonder mens maar so ‘n bietjie oor God se rol daarin. En wanneer 'n driejarige kindjie vigs kry na 'n bloedoortapping laat dit ‘n mens ongemaklike vrae vra: is dít wat God voorsien vir kindertjies?

Hierdie is maar drie voorbeelde, broers en susters, drie vrae. Daar is egter vandag, reg oor die wêreld, duisende mense wat vra: Waar ís God? Want ek sien God nie in my lewe raak nie. En alles wat met my gebeur kan darem seker nie wees wat God vir my wil hê nie. En ja, broers en susters, kom ons wees maar eerlik: ons vra ook baie dikwels hierdie vrae. Ek vra dikwels hierdie vrae. Want almal van ons wil maar weet, broers en susters, al vra ons hierdie vrae hoe beskeie, wat God se plan is. Want ons wil weet, ons wil verstaan, wat God se plan is. Wat God se wil is. Hoekom God voorsien soos Hy voorsien. Soos Hy byvoorbeeld op 16 Desember 1838 voorsien het. Want ons soek sin. Daarom wil ons weet. Sien God my raak? Weet Hy wat met my gebeur?

In ons gelese gedeelte sien ons dat Jesus op ‘n keer hierdie vraag (vrae) geantwoord het (Matt 10:29-31). Kos twee mossies nie eintlik niks nie? Tog, niks gebeur met hulle wat nie God se wil is nie. So is dit ook met julle wat baie meer werd is as ‘n mossie. Selfs elke haar op julle koppe is getel. Niks sal oor julle kom sonder dat dit God se wil is nie.

Wonderlike nuus, wil ons sê. Hier staan dit: niks gebeur met my wat nie God se wil is nie. Alles wat met my gebeur is deur God vooraf beplan.

Dit is egter nie, broers en susters, hoe ons hierdie uit-spraak van Jesus kan verstaan nie. Hoekom nie? Want die konteks waarin hierdie verse staan, laat dit eenvoudig nie toe nie. En kom ek verduidelik.

In Matteus 10:7 maak Jesus ‘n baie belangrike uitspraak: kyk, die koninkryk van die hemel het naby gekom. En nou wil ek vra dat u baie mooi sal luister, broers en susters. Dit is ontsettend belangrik dat u sal verstaan wat ek nou sê: die betekenis van die koninkryk wat naby gekom het beteken nie dat God een of ander geheime plan bekend gemaak het om ons nuuskierigheid te bevredig nie. Allesbehalwe. Wat sê die Here wanneer Hy vir ons sê die koninkryk van God het naby gekom? Hy wil sê: maak julle oë oop vir ‘n wonder. Watter wonder? Matteus 10:8 sê dit pragtig: siekes word gesond, dooies word opgewek, melaatses word gereinig en duiwels word uitgedryf. Die onmoontlike het moontlik geword. Want die koninkryk is hier! God sorg vir sy skepping. Hy sorg vir sy mense. Veral vir hulle wat as nikswerd beskou word nie. Hy gee lewe. Hy gee vrede. Hy skep nuwe lewensmoontlikhede.

Dit is dan ook, broers en susters, hoe ek 16 Desember 1838 wil verstaan. Dit gaan nie oor volk of kerk nie. God is nie net ons God nie. Dit gaan nie oor hulle wat daar was nie. Dit gaan ook nie oor ons nie. Dit gaan oor God.

Oor God wat, al verstaan ons bitter min hiervan, op ‘n dag vir ‘n klomp van sy kinders gesê het: ek weet persoonlik van julle. Daarom is ek hier. Ek is in beheer. Ek voorsien. En daarom, kyk: ‘n wonder!

Dit is wat ek graag, broers en susters, in my hart wil ronddra wanneer ek vandag saam met u terugdink aan hierdie dag soveel jare gelede. God het gehandel. God was goed. God het voorsien.

En soos die Gelofte dit stel, wil ek dit aan my kinders vertel. Maar ook aan alle mense. Waar God is, daar gebeur wonders. En hierdie God, wat die Vader van Jesus Christus was, is ook my Vader. ‘n Vader wat vol barmhar-tigheid en deernis en liefde en genade teenoor ons en alle mense is.

Daarom wil ek, broers en susters, en ek nooi u uit om dit saam met my te doen, my openlik (soos Matt 10:32 dit stel) voor alle mense vir God uitspreek. Ek wil sê: so is my God. So is my Vader wat in die hemel is.

Met die konsekwensies daarvan. Ek sê weer. Met die konsekwensies daarvan. Watter konsekwensies? Dat ek, waar ek kom, bereid sal wees om die wonders van God oor te vertel. Dat God sondes vergewe. Dat Hy vol deernis is – vir alle mense. Dat sy barmhartigheid weier strek as enige menslike grens wat gestel kan word.

En dat ek ook bereid sal wees om dit te leef. Dat waar ek kom ek sal sê: vrede vir julle. En terwyl ek dit doen, ek nie bang sal wees vir dit wat die liggaam kan doodmaak nie Of dat ek vervolg sal word, of uitgestoot sal word nie. Want: hulle wat hulle openlik vir God uitspreek, is baie meer werd as mossies.

Die vraag is nie, broers en susters, of God 'n plan het nie, maar of God 'n hart het. By Bloedrivier het ons nie God se plan gesien nie, maar God se hart. En wat sê God se hart? God wil verlossing, God wil vergifnis, Hy wil versoening, nuwe lewe, ewige lewe, kortom die vervuldheid van al sy beloftes. Dit is hoe God met sy mense bemoeienis maak.

En daarom moet ons, wie ook God se kinders is, dieselfde doen. Omdat God met al sy mense bemoeienis maak, moet ons ook met al God se mense bemoeienis maak. As ons wil hê dat ons in God se hart moet wees, moet ander ook in my hart wees. En in terme van Geloftedag: as die God van 16 Desember 1838 my God is, my God is wat wonders doen, moet ek bereid wees dat God my wil gebruik om ook wonders te doen. Wonders van vrede, vergifnis, deernis en barmhartigheid.

Dit is of die albei, broers en susters, of dit is niks. Ek kan my nie verbind aan die wonder-God van Bloedrivier, maar nie bereid wees om die werktuig van God se wonders te word nie. Skerper gesê: ek kan nie die Gelofte opsê – waarin ek iets oor my hemelse Vader sê – en hier weggaan en glo my hemelse Vader mag nou niks vir my mag sê nie. Wie God as vader aanroep, sê daarmee dat God Vader van sy of haar hele lewe is. Wie hom of haar aan die Gelofte verbind, sê Matteus 10:32 by implikasie, spreek hom of haar openlik vir God uit. En wie dit gedoen het, het dan nie eintlik ‘n keuse nie. Want dit is of albei, of niks.

Ek sluit af met die woorde van die apostel Paulus in 2 Korintiërs 10:3 en 17-18 (vry vertaal):

“Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is die evangelie.... Hy wat roem, moet in die Here roem”.

Oor Bloedrivier kan ek net oor die Here roem. Dit is Hy alleen wat nuwe lewe gee. Nuwe lewe sodat ons daarmee nuwe lewe kan gaan gee. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet, het Jesus gesê. En ons enigste wapen waarmee ons dit kan gee, is die evangelie. Kinders van God wat so lewe, is baie meer werd as twee mossies!
Amen