Romeine 2:1-11; 1 Samuel 1:9-19; Matteus 28:16-20

Geloftefees



Votum So sê die Here: “Ek is die Here, Omdat ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou...”.
Seën Gemeente: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen
Lofsang Gesang 354:1-4
Na Wet Gesang 229
Belydenis Gesang 334:1-3
Gebed
Prediking

Gemeente, ons gaan vanoggend tydens hierdie Geloftefeesviering afwyk van die normale manier van omgaan met die Bybel tydens ‘n erediens. Waar ons normaalweg ‘n spesifieke gedeelte uit die Bybel saamlees en dan daaroor besin, gaan ons dit nie vanoggend doen nie. Ons gaan eerder godsdienstig besin oor die Gelofte van 1838 en die betekenis daarvan vir vandag. Ons sal wel enkele verse uit die Bybel saamlees ter ondersteuning van sekere standpunte.

“Suid-Afrika waar gaan jy heen?” Op 16 Desember 1949 het dr D F Malan hierdie woorde op ‘n saamtrek by die Voortrekkermonument aan duisende mense gevra. Die gedagte was dat, as die Afrikaner weggedwaal het van die Voortrekkergees, hy moet terugdraai na die pand wat aan hom toevertrou is om te bewaar, terug na sy Christelike wandel en geloof, terug na sy kerk, terug na God.

Ook óns moet vanoggend hierdie vraag opnuut vra en vasstel waarheen ons op pad is. Maar ook moet ons ook vra waarvandaan ons kom. Is dit so dat ons as Afrikanervolk met ‘n bepaalde doel aan die Suidpunt van Afrika geplant is? Oor hierdie vraag sal mense hewig verskil. Aan die eenkant vind ons ‘n groep mense wat onwrikbaar glo dat ons as volk uitverkies is met ‘n bepaalde doel vir Afrika, en aan die anderkant vind ons dié groep wat glo dat die geskiedenis toevallig so verloop het, dat blankes hier gevestig is.

Die feit van die saak is: of die blankes toevallig hier geland het en indringers in Afrika is, en of dit ‘n Goddelike ingrype is wat die blankes hierheen gelei het, dit verander geensins aan die feit dat ons in Afrika woon nie, en ‘n opdrag het om uit te voer nie. Selfs al het ons voorvaders hulle op die Suidpool gevestig, sou ons hierdie Bybelse opdrag moes uitvoer (kyk gerus Matteus 28:16-20).

Elke Christen het die opdrag ontvang om te lewe in gehoorsaamheid aan God en om die boodskap van God se genade, deur die redding van Jesus Christus, aan álle mense te verkondig. Hoe ironies is dit nie dat baie mense wat die Afrikaner wil uitsonder as God se nuwe uitverkore volk, juis as argument aanvoer dat God ons na donker Afrika gestuur het sodat die Christendom hier gevestig raak, maar dat baie van hierdie mense nie wil voldoen aan die opdrag om God se evangelie te versprei na alle mense nie. Baie van hulle probeer God opeis net vir die blanke Afrikaner en die blanke se saak.

Dit bring ons by die tweede saak wat ons moet bespreek. Kies God kante? Ek het dit altyd baie vreemd gevind dat ons voor ‘n rugbywedstryd in die kleedkamer bid dat God ons die oorwinning moet gee en in die kleedkamer langs ons, staan ons opponente en bid vir dieselfde saak. Wat moet God nou doen, kante kies? Hierdeur wil ek geensins die krag van gebed ontken nie, ek glo net dat ons baie keer onredelik is in ons gebede. Maar het God dan nie by Bloedrivier kante gekies en besluit die blankes is vir Hom belangriker as die Zoeloes nie? Kom ons gaan lees eers in Romeine 2 wat die Bybel oor kant kies sê (die liturg lees Romeine 2:1-11).

Dit is baie duidelik gestel in vers 11 dat God niemand voortrek nie. Hoekom het daar dan ‘n wonderwerk by Bloedrivier plaasgevind?

  • Eerstens het die Voortrekkers tot God gebid en onwrikbaar geglo dat God hulle sal red. Die Voortrekkers was mense wat naby aan God en die Woord van God geleef het. Hulle het nie iets gedoen alvoor hulle nie eers vasgestel het of dit God se wil is nie.
  • Tweedens het hulle besef dat God ‘n soewereine God is wat kan optree soos wat Hy goeddink en soos wat Hy wil. Hulle het besef dat God in sy soewereine genade die geskiedenis presies dieselfde sou laat verloop het, of hulle ‘n gelofte gedoen het of nie gedoen het nie. Hulle het besef dat ons God nooit in iets kan indwing nie — al wat hulle belowe het, was dat indien God in sy soewereine genade hulle tog welslae sou laat ervaar, hulle dan “uit dank vir sy genade” sekere dinge wat hulle beloof het, tot sy eer sou uitvoer. Daarom stel hulle ook onomwonde dat Geloftedag “soos ‘n dankdag” tot God se eer gehou sal word.
  • Derdens het hulle hulle totale afhanklikheid van God besef. Wanneer ons na die gelofte luister dan wil dit vir ons met die eerste hoor daarvan voorkom asof die krygers ‘n voorwaarde aan God gestel het: Indien U ons vandag redding gee, sal ons hierdie dag tot U eer deurbring. Ons doen dit ook maar partykeer: Indien U my Ma of my Pa gesond maak, sal ek ophou rook of as U my hierdie vak laat slaag sal ek voortaan gehoorsaam wees. Maar dit was glad nie die bedoeling nie. Die bedoeling van die gelofte was veel eerder dat hulle daardeur wou erken dat dit alleenlik God is wat hulle ‘n oorwinning kan gee, en wanneer dit plaasvind, sal hulle sorg dat die nageslag hierdie wonderwerk herdenk. Al die eer moet na God gaan en geensins na die mense nie. In nederigheid het hulle hulle afhanklikheid van God besef en dit in die gelofte ook verwoord.

In kort kan ons sê dat dit in hierdie gelofte gaan om God se genade en ‘n daad van dankbaarheid deur die mens.

Op 16 Desember 1838 het God dit goedgedink om gehoor te gee aan sy kinders se smeking. In wat as niks anders as ‘n wonderwerk beskou kan word nie, het God ongeveer 500 persone, ‘n oorwinning oor 10 000 tot 12 000 Zoeloes gegee. God het nie hierdie wonderwerk laat gebeur omdat Hy meer omgegee het vir die blankes nie, Hy het nie hierdie oorwinning gegee omdat Hy dit nodig gehad het dat mense ‘n geloftefees jaarliks in sy eer moet hou nie. Uit sy eie soewereiniteit het God dit so beskik dat die oorwinning behaal kon word. Die geskiedenis kon net sowel anders gelyk het, maar goddank dit het nie.

Ons leer dat die Voortrekkers hulle gelofte aan God gestand gedoen het en 16 Desember as ‘n lofdag aan God gewei het en hierdie dag soos ‘n Sondag deurgebring het. Hulle het ook voortgegaan om aan hulle kinders en dié se kinders, die betekenis van hierdie dag te leer.

Ons moet vanoggend ook nog vir mekaar vra of hierdie gelofte vandag nog vir ons geld? Is ons nog gebind daaraan? Kan iemand anders namens ons ‘n gelofte by God aflê? Kom ons gaan lees eers weer enkele verse in die Bybel saam, te wete 1 Samuel 1:9-19.

Hannah is kinderloos en smeek God om aan haar ‘n kind te gee. Sy lê ‘n gelofte af dat sy hierdie kind vir die Here sal grootmaak en hom beskikbaar sal stel om in die tempel diens te doen. Ons lees in die verhaal dat sy geboorte skenk aan Samuel en dat sy hom op 3 jarige ouderdom na die tempel neem, waar Samuel toe gebly het. Sy het hierdie enigste kind van God ontvang, maar kom haar gelofte na en gee hom terug aan God. Sonder dat Samuel ‘n sê gehad het. Hannah se gelofte aan God het vir Samuel gebind vir die res van sy lewe. Net so bind die doopbelofte van die ouers die kind, wat die gelofte nog nie verstaan nie, wanneer dit afgelê word.

Die Voortrekkers het aan God ‘n gelofte afgelê namens hulleself en hulle nageslag. Hierdie gelofte bind ons steeds vandag, want ons as volk is ook onlosmaaklik verbind aan die geskiedenis van die Voortrekkers. Ons as nageslag het ook rede om dankbaar te wees dat God in sy genade, in ons as Blanke Afrikaners se geskiedenis opgetree het en ook nog steeds elke dag optree.

Wanneer ons in 2001 die vraag vra: “Suid-Afrika waar gaan jy heen?”, sal ons antwoorde van mekaar verskil. Aan die een kant sal ons ‘n baie pessimistiese antwoord kry, wat die land en sy inwoners – veral die blanke bevolking – geen hoop bied nie. Aan die ander kant gaan ons die groep kry wat baie positief is dat alles vir ons ten beste sal uitwerk. Ons moet vanoggend met mekaar eerlik wees en sê dat ons nie werklik wéét waar alles gaan eindig nie.

Maar ons het twee dinge om aan vas te hou wat vir ons hoop moet bied vir die toekoms. Eerstens moet ons vashou aan die verlede. Hiermee wil ons nie sê dat ons nooit mag verander of nie moet leef vir die toekoms nie. Ons bedoel hiermee eenvoudig dat ons na die geskiedenis moet kyk en besef dat God deur al die eeue steeds dieselfde God is. Hy het eeue gelede die Israeliete gehelp en nie so lank gelede nie, het God ook in ‘n wonderwerk die Voortrekkers gehelp. Hierdie selfde God wat nog altyd gehelp het, sal ons ook in die toekoms help.

Tweedens moet ons vashou aan God se beloftes dat Hy ook ‘n God van die toekoms is. Ons eintlike hoop lê nie in redding uit vandag se situasie nie, maar lê in die redding vanuit hierdie wêreld, na die ewige lewe by God. Wanneer ons soos ons voorvaders ‘n Christelike wandel en geloof navolg, wanneer ons vashou aan God se Kerk, en wanneer ons met God sélf leef, hoef ons nooit te vrees wat die dag van môre inhou nie, want selfs nie eens die dood, kan ons van die liefde van God skei nie. God wat in die verlede gered het, sal ook in die toekoms redding gee! Ons onderhou Geloftefees omdat ons daarmee aan die wêreld wil uitbasuin: God is ‘n soewereine, ewige en genadige God. Hy het gered in die verlede, Hy red in die hede, en Hy sal ook red in die toekoms. Met ons oë op God gevestig kan ons die donker toekoms, met gemoedsrus, tegemoet tree.
Amen
Gebed

Slotsang Psalm 44 1-3; 6 en 8 Gesang 353:1-3
Seën “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee”. Amen