Jeremia 32:1-25

Is iets vir God onmoontlik?



1Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir die prediking kom uit dieselfde hoofstuk van die boek Jeremia wat gelees is, maar uit verse 26 en 27: Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir my onmoontlik?”

Broers en susters, het julle gehoor wat vra die Here vir Jeremia? Ja, baie duidelik hoor ons die Here vra: Is iets vir my onmoontlik? Kom ons wees nou maar vandag eerlik met mekaar: Wie van ons het nie ook al die afgelope paar maande of weke gedink dat ons in ’n hopelose land bly nie? Ja, vir hierdie mooi land van ons is daar geen hoop meer nie ... geen toekoms nie! Hierdie pragtige land aan die suidpunt van Afrika, waaraan ons voorouers en onsself so hard gewerk het, sal nooit weer dieselfde wees nie! En sou daar dalk nog ’n persoon onder ons wees wat positief oor ons land se toekoms voel en dink, dan reageer ons gewoonlik met pessimisme. Ja, ons glo dit is onmoontlik dat daar vir die blanke Christenvolk nog enige hoop en toekoms in hierdie land is. Immers, ons hoef nie profete te wees om te kan voorspel wat nog alles in die toekoms sal gebeur nie! Ja, dit is so duidelik soos daglig: In hierdie land sal die Christene, veral die blanke Christene, nog baie ontberings en haat beleef! Nee wat, in hierdie land is daar nie hoop vir my en my gesin nie! Hier is geen toekoms vir my kinders nie! Kom ons vat ons goed en trek!

Ek wil hê julle moet vir ’n oomblik so bietjie nadink oor wat is aan die gebeur in hierdie land van ons? Wat sien julle op die televisie as julle dit aanskakel? Wat lees julle in die koerante as julle dit oopmaak? Wat hoor julle in die gesprekke tussen mense? Wel, nie positiewe goed nie, maar feitlik voor die voet hoor en sien en lees ons net van moord, verkragtings, kapings, korrupsie ... ag, noem dit maar alles op! Dit is ondenkbaar dat al hierdie dinge binne ’n kwessie van vyf jaar so handuit geruk het. En ek is seker dat almal van ons ook iemand ken wat drastiese stappe gedoen het om hierdie soort van lewenswyse te ontduik. Ja, wie van ons ken nie ook vriende en geliefdes wat hulle wortels uittrek, en na beter oorde verhuis nie? Dit is nie vreemd om vandag nog bure te hê en môre uit te vind hulle het ge-emigreer nie! In die onsekere politieke omstandighede van ons land is daar baie mense wat besluit om eerder iewers anders oor te begin ... hulle verkoop alles net sodat hulle ’n bietjie kontant kan hê om saam te vat. Ja, ouers sê deesdae ook vir hulle kinders om sekere studierigtings te kies wat vir hulle deure in die buitewêreld sal kan oopmaak. Ons beste opgeleide en geleerde mense verlaat die land om elders hulle roepings te gaan uitleef, sonder die vrese en bekommernisse van wat môre gaan inhou. Dít is wat om ons aan die gebeur is! Ja, dit is meer as genoeg rede om ons moedeloos te maak oor die toekoms van hierdie land!

Gemeente, kom ons kyk na die gebeure rondom die verhaal van die profeet Jeremia se vreemde grondkooptransaksie. Hierdie gebeure het plaasgevind in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia, dit wil sê in die jaar 587 v C toe Jerusalem vir die eerste keer voor die Babiloniërs sou swig. Volgens ons gelese gedeelte was Jeremia juis in daardie tyd deur koning Sedekia onder huisarres geplaas. Die rede vir hierdie huisarres was omdat Jeremia van dislojaliteit verdink is. Koning Sedekia wil by hom weet waarom is sy profesieë, wat verdoemend en pessimisties is, altyd teen hom, Jerusalem en Juda gemik. As ons na ons gelese gedeelte kyk, dan kan ons kwalik koning Sedekia se argument verstaan. Immers, die Babiloniërs het reeds hulle beleëringswalle teen die mure van Jerusalem gegooi, orals was die leërs van Nebukadnesar te sien, en buitendien was daar as gevolg van hierdie feite reeds hongersnood in Jerusalem. Ja, daar is niemand so blind soos dié wat nie wil sien nie!

Nou kom Jeremia met die volgende profesie na koning Sedekia: Hierdie oordele wat hy uitspreek, is nie die laaste woord vanaf God nie! Ná die oordeel kom daar weer herstel. Hoe is dit tog moontlik? Al wat koning Sedekia en die volk sien, is die donker toekoms wat Jeremia deur sy profesieë vir hulle geskets het. Dit is ’n toekoms van onvermydelike oorlog, dood van geliefdes en vriende, vlug na ander streke en vir diegene wat gevang word, is daar ballingskap. Dít is beslis nie ’n rooskleurige toekoms nie! Watter hoop kan daar nog vir hulle oor wees? Dan vertel Jeremia vir koning Sedekia van sy uitsonderlike saketransaksie met sy neef Ganamel.

Jeremia se oom Sallum wil sy familiegrond vir tweehonderd gram silwer verkoop - in vandag se terme so ongeveer R250,000.00. Nogal ’n aardige bedraggie, maar dit wil voorkom asof dit vir Jeremia nie juis ’n probleem was nie. Blykbaar het hy hierdie silwer van sy pa geërf. Sy oom Sallum het weer grond in Anatot besit, en dit sou Jeremia se neef Ganamel se erfporsie wees. Moontlik het Ganamel gereken dat dit ’n gulde geleentheid is om sy eiendom in harde kontant om te sit. Dalk het hy en sy pa ook die naderende gevare en onsekere toekoms van Juda beleef. Moontlik het hulle die tekens van die tye goed opgesom en gereken dat, sou die Babiloniërs wel op die ou end vir Jerusalem inneem, dan sal grondregte nie eers die papier, waarop dit geskryf staan, werd wees nie. Die enigste en beste manier is om van hierdie grond ontslae te raak, om dit te verkoop aan Jeremia. Dalk het hulle gereken dat Jeremia dom genoeg is om as losser vir die familiegrond op te tree. As hulle hierdie stuk grond aan Jeremia kan verkwansel, dan sal hulle met baie geld sit en hy met ’n “nuttelose” stuk grond! Maar die vraag is nou: Was Jeremia werklik so blind en dom dat hy nie deur hulle skelmstreke kon sien nie?

Nee, geliefdes van ons Here Jesus, Jeremia was darem nie só dom nie. Hy het baie goed geweet wat hy doen, want as profeet van God het hy immers geweet dat hierdie profesieë wel bewaarheid sal word. Tog, ons sou gereken het dat hy wél dom was ... dalk het sy oom en neef ook so gedink. Immers, wie koop tog nou ’n stuk grond in sulke haglike en onsekere tye? Jy moet dom wees as jy geld belê in iets wat feitlik verseker môre nie meer daar sal wees nie!

Maar nie Jeremia nie! O nee, op God se bevel koop hy die grond van sy neef Ganamel, stel ’n wettige koopkontrak op, en laat dit deur die nodige getuies onderteken. Daar word terselfdertyd ook ’n afskrif van die kontrak gemaak. (In die Bybelse tye is die oorspronklike kontrak gewoonlik verseël en in ’n kleipot bewaar, terwyl die afskrif vir normale verwysings na die kooptransaksie gebruik is. Die opgerolde en verseëlde kontrak het as waarborg gedien: Sou een van die partye mettertyd die voorwaardes van die kontrak betwis of dalk beweer dat een van die partye dit verander het, kon die verseëlde kontrak oopgemaak word sodat die inhoud van die kontrakte met mekaar vergelyk kan word.) In Jeremia se geval was die verseëlde kontrak vir ’n ander doel: Hierdie oorspronklike kontrak moes juis verseël en gebêre word om later as waarborg vir die waarheid van Jeremia se profesieë te dien.

Al was Jeremia so seker van sy saak, het hy tog, nadat die hele kooptransaksie afgehandel is, begin twyfel in of dit werklik so goeie idee was. In vers 16 van ons gelese gedeelte sien ons dat hy, toe hy weer in sy kamer gekom het, tot die Here gebid het. In sy gebed bely hy dat God regverdig is in sy oordeel oor die volk, omdat hulle deur die geskiedenis nie na sy roepstem wou luister nie. Ja, ten spyte van al die profesieë en waarskuwings van die profete het die volk hulle nie gesteur aan God se woord nie. Daarom moes God ook uiteindelik teen hierdie ongehoorsame en hardkoppige volk optree! Maar nou verstaan Jeremia nie hierdie nuwe optrede van God nie. Daar is vir hom spanning tussen dít wat hy, as profeet, glo, en dít wat God nou deur hom aan koning Sedekia laat sê: God is Iemand wat elkeen volgens sy dade beloon (v 19); God het van sy kant alles gedoen wat nodig was om Israel sy eie volk te maak (v 20-22); daarteenoor het die Israeliete nie sy goedheid erken en gehoorsaam gebly nie (v 23). Hulle verdien dus wat met hulle gaan gebeur. Tog, noudat die beleëringswalle van koning Nebukadnesar teen Jerusalem lê, kom die Here en sê vir Jeremia om, as ’n simboliese daad, ’n stuk grond in Anatot te koop. Soos Jeremia hierdie handeling verstaan, beteken dit dat die straf van die Here nie sal deurgaan nie, maar dat Hy die volk sal vergewe. Hoe rym dit alles? Jeremia het dus ’n probleem gehad met die vraag hoe vergelding en vergifnis met mekaar rym. Sy hele lewe lank moes hy aan die volk verkondig dat God se oordeel gaan kom, en noudat dit hier is, lyk dit vir hom asof God van plan verander.

Broers en susters, Jeremia slaan die bal heeltemal mis: Die oordeel oor Jerusalem word nie ter syde gestel soos hy gedink het nie, maar dit sal steeds voortgaan soos wat God aangekondig het. Die volk was ongehoorsaam en sal hulle loon daarvoor ontvang. Maar daar wás ’n baie goeie rede hoekom Jeremia hierdie stuk grond by Anatot moes koop. En dit is waar ons teksvers nou inkom.

Ons het gehoor ons teksvers sê dat niks vir God onmoontlik is nie! Wel, selfs Jeremia het hierdie belydenis in vers 17 gemaak toe hy gesê het: Ag, Here my God, U het die hemel en aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie. Kyk, as daar nou al ooit ’n vreemde kooptransaksie in die Bybel was, dan was dit hierdie een. Jeremia betaal ’n hele klomp geld vir ’n stuk nuttelose grond. Boonop laat hy hierdie koopkontrak in ’n veilige plek bewaar. Hy het nie ’n vrou of kinders nie. Vir wie laat hy dit immers na; vir wie het daardie stukkie grond dalk eendag nut? Ons lees later in die Bybel dat Jeremia na Egipte toe geneem is, waar hy volgens oorlewing gesterf het. Hyself het dus nie eers voordeel van sy kooptransaksie gehad nie. Ja, ons kan maar erken dat hy hom deeglik laat inloop het, hy was dom gewees! Maar ons het mos reeds gesê dat Jeremia nie dom was nie. Daar was ‘n baie goeie rede oor hoekom hy hierdie stuk grond buitekant Anatot gekoop het. Dit was nie vir homself nie! Nee, dit was ’n simboliese gebaar: Hy het die grond vir sy volk se nageslag gekoop. In sy eie woorde erken hy oor hoekom hy dit gekoop het: ...want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word (v 15). En hierdie belofte is nie ’n leë belofte nie. Nee, God het self gesê dat Hy hulle weer bymekaar sal maak uit die lande waarheen Hy hulle verjaag het. Die Here sal hulle dan terugbring om rustig te kom woon in die beloofde land. Ja, hulle sal weer sy volk wees en Hy sal weer hulle God wees (vgl v 37-38). Jeremia het sy geld gesit waar sy geloof is! Self het hy nie ’n nageslag gehad nie, maar steeds het hy vasgehou aan God se beloftes. Ja, hy het geglo dat God die geskiedenis van nasies en volke in sy hande vashou. Jeremia het belê in die toekoms van sy volk en dié se nageslag.

Gemeente, wat het hierdie verhaal met ons te make? Die boodskap wat na ons kom, is baie duidelik! Miskien moet ek eerder so vir julle vra: Is dit wat tans in hierdie land gebeur, nie maar die gevolge van ons eie ongehoorsaamheid aan God nie? Is ons nie maar ook, soos die volk in Jeremia se tyd, doof vir die Here se waarskuwings en roepstem nie? Ons hoor God se Woord en tog steur ons ons nie daaraan nie! Jeremia bied vir ons die wonderlike troos: Moenie moedeloos en swartgallig wees oor die toekoms van hierdie land nie. Vertrou eerder op die Here dat Hy nog nooit ontrou aan sy beloftes was nie. Ja, moenie bang wees om geld te belê in ons land nie, moenie huiwer om saketransaksies aan te gaan vir die dag van môre nie; moenie twyfel om jou kind aan te moedig om sy loopbaan en toekoms in hierdie land te soek nie.

Ja, soos Jeremia, moet ons ook belê in ons kinders se toekoms. Niks is vir God onmoontlik nie! Al lyk alles tans vir ons donker en duister, sal die Here weer sorg dat daar ’n toekoms in hierdie land vir ons nageslag is, vir dié wat Hom aanbid en bely.

Geliefdes van ons Here Jesus, hierdie aangrypende verhaal van Jeremia se grondkooptransaksie is die bevestiging van die woorde van ons eie volkslied, Die Stem van Suid-Afrika. Dié van julle wat dit ken, sal weet dat ons daar sing dat die erwe van ons vaders die erwe van ons kinders sal bly. Maar bo alles is dit die bevestiging van die geloof en hoop van ’n mens in God, die Almagtige.

Dit is ook waarom Jeremia sy lossingsreg uitgeoefen het om daardie grond te koop. In God is daar altyd hoop, want niks is vir Hom onmoontlik nie. Wie op die Here vertrou, belê reeds vandag in môre! Ja, Christene belê hulle geloof in die ware God, want, wat vir die mens onmoontlik lyk, is beslis vir God moontlik!
Amen