Jesaja 52:7-12

Sien wat jy nie sien nie, glo en werk



(Die onderhawige preek is geskik vir prediking op Geloftedag wat val op ‘n Sondag in die adventstyd. In die preek wat volg is beide die saak van Geloftedag en advent hanteer, maar die preek kan goedskiks so aangepas word om óf geskik te wees vir Geloftedag óf vir prediking tydens advent.)

Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Wanneer ‘n mens vir ‘n keer werklik gaan sit en dink oor hierdie tyd van die jaar wat ons nou beleef (Kerstyd en die vier van Kersfees), besef ‘n mens gou dat die boodskap van Kersfees nogal lastig kan wees. Hoekom? Want ons sien en ervaar nie regtig dít wat die boodskap van Kersfees vertel nie.

Kersfees vertel van engele wat sing van vrede op aarde, maar ons sien nie oorlog, geweld en onvrede op hierdie ou aarde waarop en waarin ons leef. Die boodskap van Kersfees vertel van Christus wat die beloofde Vredevors is, maar wat sien en ervaar ons? Tweespalt tussen mense, gebroke huwelike, liefdeloosheid, ja, selfs in die kerk onder Christene. En dit laat ‘n mens diep begin wonder oor die Kersboodskap, dit laat ‘n mens vra ‘Gaan die Kersevangelie ooit neerslag vind in ons wêreld’, dit dwing ‘n mens selfs om te vra ‘Is die evangelie nog waar?’

Ons sal egter nie die eerstes wees, broers en susters, wat hierdie soort vrae vra nie. Die ballinge in Babilon (die uit die volk Israel wat in 587 v C weggevoer is uit Israel na die tempel verwoes is), vir wie hierdie teksgedeelte eintlik geskryf is, het in hulle tyd dieselfde vrae gevra. Hoekom? Want, soos ons vandag, was hulle ontnugter. Soos ons vandag, het dit wat hulle gesien en ervaar het, nie geklop met dit wat hulle geglo het nie. Hulle het eeue lank geglo dat die Here die enigste en almagtige God is wat hulle teen alle vyande sou bewaar. Maar nou sit hulle in Babilon, weggevoer en verslaan deur die Babiloniërs.

Wat meer is: hulle het altyd geglo dat Jerusalem die middelpunt van die aarde was, en die tempel in Jerusalem — waar God teenwoordig was — die grootste tempel in die hele wêreld. En wat sien hulle nou? Teenoor die groot stad Babilon is Jerusalem niks meer as ‘n ou plattelandse dorpie nie. En nog erger: die Babiloniese tempels vir hulle afgode was baie groter en indrukwekkender as dié van hulle God.

En om alles te kroon, het die Babiloniërs hulle die hele tyd gespot en gevra: ‘Waar is julle God nou?’ Julle het gesê Hy is sterker as Marduk. Maar kyk wat het Marduk gedoen: hy het ons die oorwinning oor julle gegee, hy het julle tempel platgeslaan, en julle God het niks gedoen om dit te keer nie. So, wie se god is nou eintlik die sterkste.

Met ander woorde, broers en susters, wat die ballinge gesien en ervaar het, het nie geklop met dit wat hulle nog altyd geglo het nie. Inteendeel. Dit wat die Babiloniërs aan die sê was, het eerder na die ware stand van sake gelyk.

Hoe antwoord, Jesaja die profeet, sy mense in hierdie omstandighede? Hy kom met ‘n verrassende boodskap: Israel, jou God is Koning!. Al sien julle dit nie nou nie, al ervaar julle dit nie nou nie, julle God is in beheer. Daar sal vir julle weer vrede kom, julle sal weer vreugde ervaar. Julle gaan weer pad gee uit Babilon uit, julle gaan weer Jerusalem sien. En op daardie dag sal hulle, wat op die mure van Jerusalem waak, jubel oor julle terugkoms. Dit is vas en seker. Glo dit net.

Dit is tog immers, broers en susters, wat geloof is: geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie wat jy wel sien (om Luther se woorde te gebruik). Presies wat die opdrag aan die ballinge was: julle sien die groot stad Babilon, julle sien die magtige tempels van die afgode, alles lyk vir julle verlore. Dit is wat julle sien. Maar dit is wat julle nie moet sien nie. Wat julle moet sien, is dit wat julle nie nou kan sien nie. Dat God almagtig en groot is. Dat God by julle teenwoordig is. Want al sien hulle dit nie, al ervaar hulle dit nie nou nie, God sal hulle nie in die steek laat nie.

Presies dit, broers en susters, het op 16 Desember, soveel jare terug, gebeur. Die paar vegters wat daar was, wat het hulle gesien? ‘n Vyand wat niks minder as ‘n oormag was nie. As hulle geglo het wat hulle gesien het, sou hulle maar net handdoek ingegooi het. Maar wat doen hulle toe? Hulle was nie bereid om te sien wat hulle gesien het nie, maar het dit gesien wat hulle nie kon sien nie. Dat God hulle tegemoet sou kom. Dat God uitkoms sal gee. Daarom het hulle ‘n gelofte afgelê, ‘n gelofte wat eintlik niks anders was as ‘n uitdrukking van hulle geloof nie. ‘n Uitdrukking van dit wat hulle nie kan sien nie, maar tog glo.

En ons, broers en susters, wat van ons? Hierdie advent vier ons die koms van die Lig na die duisternis. Daarom brand ons derde kers vanoggend ook. En, het ons gesê, die meer en meer kerse wat brand en meer en meer lig maak, simboliseer die groter wordende Lig van die Here soos sy koms nader en nader aan die aanbreek is. Waar op Kersdag die Lig finaal in die duisternis inbreek en alle duisternis uitdoof.

Maar is dit wat ons sien? Hoeveel lig sien ons, en, en hoeveel duisternis? Amper net duisternis, sal ons wil antwoord. En voorbeelde hiervan is legio. Geweld is deel van ons dag. Beelde op televisie oor die verkragting van babas minder as ‘n jaar oud skok ‘n mens, dit ruk amper jou hart uit. ‘n Mens hoor van soveel ellendes onder ons mense, en die beste manier van oorleef het geword om dankbaar te wees dit was jy nie.

En wat van al die onvrede waarin ons leef? Mense wat sê dat hulle Christus ken, maar nie ‘n snars van vergewing verstaan nie. Wat Christus ken, maar liewer is vir haat en nyd as die liefde self? Of sien net ek dit raak, my broer en suster?

Wat sê die profeet Jesaja vir ons, in ons omstandighede? Twee sake: die evangelie van Christus se koms na die wêreld, van die koms van die Lig na die duisternis, is ‘n evangelie wat sê dat God in Christus langs ons elkeen kom staan, dat Hy ons aanvaar, en ons nie verwerp nie. Dit is ‘n evangelie wat vrede gebring het vir die wêreld, wat vrede moontlik gemaak het. Dit is ‘n evangelie wat vyandskap kom wegneem het, tussen God en mense, en ook tussen mense en mense.

En al sien ons dit nie raak nie, al sien ons niks vrede nie, en soms net vyandskap, beteken dit nie dat Christus nie gekom het nie. Nee. Hy het gekom. Hy het alles anders kom maak. Ons sien dit nie altyd nie, maar dit beteken nie dat dit nie so is nie. Ook ons moet dit begin sien wat ons nie sien nie (ons moet glo!).

Maar dit is nie al nie. En dit is die tweede aspek van Jesaja se boodskap aan ons. Ons moet nie net anders begin sien nie, ons moet ook begin doen. Presies soos Jesaja van die ballinge in Babilon gevra het. Sien, het hy gesê, wat julle nie sien nie (glo, met ander woorde), maar gaan doen ook. Moet nou al nie aan iets raak wat onrein is nie, sorg dat julle gered en rein is om eendag, wanneer julle terugkeer, julle weer in die tempel sal kan ingaan. Met ander woorde, glo en werk!

Presies dieselfde boodskap het Jesaja vanoggend vir ons, broers en susters. Glo en werk. Christus se koms na die wêreld eis by ons om ons nie meer blind te staar teen al die onvrede en vyandskap in ons tyd nie, maar om uit te breek uit die dampkring van vyandskap, agterdog en haat, en te gaan leef in die dampkring van liefde en omgee vir ander.

Dan, broers en susters, maak ons die Kersboodskap waar. Dan sê ons: al sien ons dit nie nou nie, ons weet God het in Christus na ons toe gekom, Hy het dinge kom verander. Hy was die Lig wat die duisternis kom uitdoof het. Ja, ons sien dit nie nou nie, maar ons glo dit is sien. Daarom sien ons wat ander nie kan sien nie. En daarom gaan leef ons dit ook. Daarom voeg ons ons liggies by die Lig van God. Ons sal ook soos die Vredevors vrede leef en verkondig, liefde leef en verkondig, omgee vir ander leef en verkondig. En so sal al ons liggies saam met die Lig van God een groot lig word. En dan al ons, en almal rondom ons, sien wat hulle behoort te sien: God het na ons toe gekom, Hy het langs ons kom staan, Hy het die wêreld nuut kom werk, daarom kan en is dinge anders.

Maar om dit reg te kry, broers en susters, sal ons moet glo en werk!
Amen