Jakobus 3:1-12; 1 Petrus 4:7-11

Deur ons woorde moet God aan die woord kom



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Het u al ooit gaan sit en dink hoeveel woorde u op ‘n dag besig?  Of hoeveel woorde ‘op ‘n dag ‘n huis vul waar ‘n gesin woon, of waar ‘n aantal mense saamwerk?  Dit is seker ontelbaar.

Nie, broers en susters, dat daar fout is met baie woorde nie.  Inteendeel.  Sonder woorde sou dit maar bra stil rondom ons gewees het.  Maar ook ons menswees en verhoudinge sou beslis skade gely het.  Want dit is deur woorde wat ‘n mens jou emosies uitdruk, orde aan jou denke en gedagtes gee, aan ander kommunikeer wat en hoe jy dink.  Ons sou selfs kon sê dat ‘n mens se woorde die verlengstuk van iemand se persoonlikheid is.

Daarom dat baie daarvan oortuig is dat ‘n mens eintlik maar alleen bestaan deur taal.  In en deur woorde bestaan ons en is ons wat ons is.  ‘n Standpunt, broers en susters, waarmee ek in ‘n baie groot mate saamstem.

Want kom ons dink maar byvoorbeeld net aan die krag van taal.  Woorde het krag.  Dink maar wat byvoorbeeld gebeur wanneer iemand sê: ‘Ek het jou lief’, of, ‘ek haat jou’.  Of: ‘jy is onvoorwaardelik vergewe’.  Of: ‘Dankie ma, dat jy my ma is.  Ma is ‘n wonderlike ma’.

Woorde, broers en susters, is dikwels daarom meer as maar net woorde.  Woorde het altyd ‘n bepaalde effek.  Dit laat dinge gebeur.  Dit laat dinge verander.  Want dit kan bou of breek, herstel of verwoes.

Hoe belangrik dit alles is, broers en susters, besef ‘n mens net weer en weer wanneer ‘n mens weer onthou, weer hoor, dat God sy Woord (en woorde) in ons mond geplaas het.  So in ons mond geplaas het dat ander deur ons woorde sy woorde sal hoor, dat ander deur ons woorde aan Hom bekend gestel sal word.  Eintlik te ongelooflik om te glo: die Woord en woorde van God val die aarde binne deur die poort van die mensemond.

Dink maar aan die geskiedenis van die aartsvaders, die rigters en veral die profete.  Male sonder tal hoor ons hulle sê: ‘So sê die Here’.  Mense wat praat, maar eintlik God.  Of dink maar aan die dissipels, die apostels (bv Paulus) en die vroeë kerkvaders: dit is hulle wat die evangelie van Jesus Christus aan die wêreld bekend gemaak het.  Dit was mense wat gepraat het, maar eintlik God.  En dieselfde kan ons ook van die Bybel sê: dit is die Woord van God, maar woorde in mensetaal.

Hoe geskok, broers en susters, is ‘n mens eintlik nie as jy dit weer raaksien nie: die Woord van God bedien hom met ons woorde, maak hom tuis in die wêreld deur ons woordeskat, word gehoor wanneer ons praat.  Veral daar waar die woord met my gepraat het, en ek daarom nie ander kan as om daaroor te praat nie.

Dit is daarom net logies, broers en susters, dat wanneer ons as kinders van die Here met ander praat, ons woorde goeie woorde sal wees., aangename woorde, sodat God (soos 1 Pet 4:11 dit stel), deur ons woorde aan die woord sal kom.  Kolossense 4:6 sê presies dieselfde: ons woorde moet opbou, oprig en stig.  Dit moet vriendelik wees en van goeie smaak getuig.  Dit moet die regte woord op die regte geleentheid wees.  ‘n Word wat pas by die situasie terwyl dit gelyktydig in pas met God se Woord is.  Dit moet lig versprei, dit moet waar wees, en dit moet iets sê van die genade en liefde wat God vir ons het.  Ja, ons woorde kan en moet daarom eintlik maar net ‘n eggo van God se woorde wees.

Maar nou is dit egter ook so, broers en susters, dat God ons deur en deur ken, en daarom presies weet wat en hoe ons woorde soms is.  Dat ons woorde soms kan afbreek, skade kan aanrig en verwoes.  Dat ons woorde nie altyd waar is nie, soms met bymotiewe gebruik word, en soms alles behalwe God se woorde is.  En juis daarom sê God se gebod uitdruklik: ‘Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie’.

Baie interessant is die agtergrond van hierdie gebod.  In die regswêreld van oud-Israel was dit die gebruik dat die oudstes van ‘n gesin of dorpie of gemeenskap alle regsake as regters gehanteer het.  In hierdie regsake was ‘n geweldige hoë premie geplaas op die krag van die woorde van die getuies wat ingeroep is.  Twee onafhanklike en ooreenstemmende getuies was byvoorbeeld nodig om ‘n saak vas te maak.

Hulle woorde moes opreg, eerlik en waar wees, aangesien juis deur hulle woorde dit uitslag skuldig of onskuldig was, selfs die vonnis van dood of verdere lewe.

Presies dieselfde word in hierdie gebod van ons gevra.  Dit vra terug na die waarheid van ons woorde, dit vra hoeveel van God se Woord is ons woorde gevind kan word.  Dit vra eintlik na wie se mond ons praat: die waarheid of die leuen.  Dit vra aan wie ons tong behoort, en dus eintlik in wie se diens ons mond en woorde staan: die wêreld en die leuen, of God en die waarheid.

En hoe moeilik is dit nie juis vir ons, broers en susters, om hier te doen wat God van ons vra nie?  Want ons weet mos maar te goed hoe moeilik dit dikwels vir ons is om on tong en taal te tem.  So maklik ruk ons die verband wat daar tussen God se Woord en ons woorde moet bestaan, los.  Dat ons soms, soos Jakobus 3:10 dit stel, uit dieselfde mond lof en vloek kan laat vloei.  Dat ons soms, by wyse van spreke, met ‘n gesplete tong praat, ons eintlik baie goed tweetalig geword het.  Dat ons met die tong die lieflikste lof na Bo kan roep, God se lof kan besing, maar met dieselfde tong dit na on medemens kan slinger wat diep kan sny en kan verwoes.  En omdat taal soveel krag het, baie skade kan aanrig.

En is die wêreld nie vol hiervan nie, broers en susters?  Dink maar hoe ons die fyn kuns ontwikkel het om die waarheid te vertrap, te verdoesel, te verdraai of te verduister.  Hoe ons om die waarheid kan praat, die waarheid kan aanpas, kan versnipper, oorbeklemtoon of oorvereenvoudig.  Terwyl dit wat ons met die mond aanbied, eintlik nie die waarheid is nie, al word dit as die waarheid aangebied.

Hierdie gebod waarsku ons daarom eintlik teen soveel gebruike van die tong:

  • leuens;
  • skinder;
  • huigelary;
  • die verdraaiing van ander se woorde om my te pas;
  • die onnadenkende woord op die verkeerde tyd;
  • woorde wat poog my aansien by ander te verhoog;
  • misleidende advertensies; en
  • verkeerde beïnvloeding,

om maar net ‘n paar te noem.  En so gaan ons rustig voort.  Ons woorde word skerp dolke, vergiftig ons wêreld, etiketteer ander en maak selfs ander se siele dood.  Dit maak donker, en skep nie lig nie.  Dit bring hartseer in plaas van vreugde.

Jakobus 3:6 sê nie verniet dat ons woorde ‘die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe’, aan die brand steek nie.  Of, soos die Heidelbergse Kategismus dit stel: ‘ ons woorde word die duiwel se eie werke’.

Juis daarom broers en susters, het die Woord ook mens geword.  Dat God se Woord ‘n mensemond kon kry, dat ons kon sien hoe die Woord van God deur ‘n mensemond gebesig behoort te word.  Dat ons kan sien dat die woorde van God en die mensemond tog by mekaar kan pas, dat hulle bymekaar hoort, en mekaar moet aanvul.

Ek sluit af: dit wat ons as mense van die dier onderskei is juis ons vermoë tot spreke.  Die mens kan die Woord van God hoor, en daarop moet hy antwoord.  Die vermoë om God se Woord te kan hoor, vra gehoorsaamheid.  En vermoë om te antwoord, bring verantwoordelikheid.

Spraak is ‘n gawe uit de hand van God.  Dit verlos die mens van sy eensaamheid.  Dit maak dit moontlik om op God se roepstem te kan antwoord, dit maak dit moontlik om in sinvolle gemeenskap met ander te kan tree.  Veral waar ons mond die voertuig van God se woorde word.  Veral daar waar ons God napraat, en God alleen.

Laat ons maar weer, broers en susters, die krag van ons woorde besef.  Ons woorde kan opbou of afbreek.  Dit kan lig of donker maak.  Dit kan bymekaar bring of alles uitmekaar laat spat.  Mag ons woorde nooit iets anders as God se woorde wees nie.  Mag ons woorde altyd die mond vir God se woorde wees.
Amen