1 Timoteus 6:11-21

Die vanselfsprekendheid van die geloof



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons aanvaar dikwels in die lewe soveel dinge as eenvoudig vanselfsprekend. Dat sekere dinge eenvoudig maar net altyd daar sal wees.

Kom ons neem gesondheid as voorbeeld. Wanneer ons gesond is, dink ons soms nie veel daaroor nie. Ons sê ook dikwels nie eintlik dankie dat dit so is nie. Tot ons siek word. Dan kla ons. Dan bekommer dit ons. Dan is alles verkeerd. So asof gesondheid die normale in die lewe is. Dat ons altyd gesond behoort te wees.

Of, die gawe om te werk. Wanneer ons werk het, kla ons dikwels meer daaroor as om dankie te sê dat ons wel werk het. Tot ons ons werk verloor. Dan kla ons. So asof dit vanselfsprekend is om werk te hê, en ons altyd gesond sal wees om ons werk te doen.

En so kan ons aangaan. Ons aanvaar eenvoudig dat ons klere sal hê om aan te trek, dat ons elke dag sal kan sien, sal kan hoor, sal kan beweeg, sal kan eet. In so ‘n mate, om oor laasgenoemde iets meer te sê, dat ons gebede aan tafel dikwels maar net gewoonte geword het. Meer gewoonte as om werklik vir God te dank vir dit wat voor ons op die tafel is.

En nou is die tragiese, broers en susters, dat ons met God en die geloof miskien ook al dieselfde begin doen het. God is ewig, leer die Bybel ons, Hy is getrou, Hy sal ons nooit verlaat nie, sy genade is onmeetbaar, sy geduld met ons hou nooit op nie.

Uitsprake in die Woord wat ons miskien soms eintlik maar net in ons kwaad sterk. Want as God ewig is, sal Hy mos altyd daar wees, as Hy getrou is, sak Hy my nooit in die steek laat nie, as sy genade onmeetbaar is, sal Hy my mos altyd vergewe. Wat beteken dat ek daarom miskien maar nog vir ‘n rukkie kan lewe soos ek lewe, al spreek God my deur sy Gees oor watter aspek van lewe ook al aan.

En later, as ek besef ek het God nou nodig, sal God mos daar wees vir my. Dan sal ek my lewe in orde kry, dan sal ek my sondes bely en staak. Maar tot dan aanvaar ek dit as vanselfsprekend dat God altyd daar sal wees. Ook vir my. Want Hy is ewig en getrou, het alles geskep, ook vir my.

Wanneer laas, broers en susters, het ons vir ‘n slag gaan sit en dink watter konsekwensies so ‘n lewenshouding inhou? En wat miskien net die gevolg van so ‘n lewenshouding kan wees? Kom ons dink vinnig daaroor.

Indien iemand byvoorbeeld die liefde en ondersteuning van sy ouers as vanselfsprekend aanvaar, en die ouer(s) word ernstig siek, kan die saak nog reggestel word. Of, kom ons sê iemand gee nie genoeg aandag aan studies of skoolwerk nie. Daar is altyd nog kans vir inhaal, hereksamens, of selfs ‘n herhaling van dit wat gedoen is. En al sou alles eventueel tot ‘n mislukking uitloop, is dit darem nie doodsake nie, dit sal darem nie iemand se lot finaal bepaal nie. Daar is darem ook nog ander moontlikhede in die lewe.

Maar met God, broers en susters, is dit anders. Want om God, God se genade en ons kindskap as vanselfsprekend te aanvaar, kan fataal wees. Want met God is daar altyd die kans dat dit te laat kan wees of word om aan die saak aandag te gee. Met noodlottige gevolge. Want met God gaan dit oor lewe en dood, al dink ons nie altyd so nie. Om onverskillig voor God te lewe, kan fatale gevolge vir ons inhou, veral wat betref die lewe na hierdie lewe.

Ek het ‘n paar weke gelede ‘n verhaaltjie gelees wat my weer juis aan hierdie saak laat dink het, naamlik dat ons soms so maklik God en sy genade as so vanselfsprekend aanvaar, en hoe gevaarlik dit eintlik vir ons en ons toekoms kan wees. Ek wil die verhaaltjie om twee redes aan u voorhou: enersyds, omdat dit vir ons (soos gesê) die konsekwensies uitwys van ‘n lewe waarin God en sy genade as vanselfsprekend gereken word, en andersyds omdat hierdie vertelling baie mooi die saak na vore bring wat in ons teksvers, 1 Timoteus 6:19, aan die orde is.

In ‘n tyd toe die meeste konings wreed en geldsugtig was, was daar ‘n koning wat nie sy onderdane uitgebuit en net na mag gesoek het nie, maar werklik na sy onderdane omgesien en hulle versorg het. As gevolg van hierdie houding van die koning het dit dan ook gebeur dat hy dikwels van sy onderdane geskenke ontvang het.

Veral op nuwejaarsdag. Dan het baie van sy onderdane na hom gekom, ‘n geskenkie gebring en hom ‘n mooi nuwe jaar toegewens. Baie het gekom, selfs elke jaar. Ook ‘n kluisenaar wat iewers in die berge gewoon het.

Elke jaar het hierdie kluisenaar na sy koning gekom, sonder uitsondering. Elke jaar het hy die troonsaal binne gestap, en sonder om ‘n woord te sê, in sy vuil rugsak gegrawe, ‘n oorryp vrug te voorskyn gebring, ‘n gebed geprewel, die koning se voete gesoen, die vrug aan hom gegee en dadelik homself uit die voete gemaak.

Om dan maar net weer die volgende nuwe jaar presies dieselfde te kom doen. En elke jaar het die koning die oorryp vrug aan van sy diensknegte gegee, wat dit dan op die ashoop gaan gooi het.
Tot een jaar een van die apies van die koning ook in die troonsaal was toe die kluisenaar sy jaarlikse ritueel kom herhaal het. Toe die kluisenaar die oorryp vrug uit die sak haal en voor die koning neersit, het die apie opgespring en dit middeldeur gebyt. En wat gebeur? ‘n Dieprooi robyn het uit die vrug geval.

Almal was verstom. Dadelik het almal hulle na die ashoop gehaas waar die vorige vrugte elke jaar weggegooi is. Maar niks gevind nie. Want, het die dienskneg gesê, so elke nou en dan het die ander diensknegte die ashoop skoon gemaak deur alles in die see te gooi. So, dit was te laat. So het verskeie robyne verlore geraak. En hulle was nou weg, vir altyd. Diep onder op die bodem van die see.

En is dit nie, broers en susters, wat ons ook soms met God en ons geloof begin maak het nie? God het vir ons so alledaags geword. So ook sy genade, liefde en geduld met ons. Die gawe van geloof ook. So ook al die ander gawes wat ons elke dag so onverdiend uit God se hand ontvang.

Elke Sondag kom ons kerk toe, hoor ons die Woord, en ontvang ons so — by wyse van spreke — die oorryp vrug wat die koning elke jaar ontvang het. En soos die koning die oorryp vrug elke jaar op die ashoop laat beland het, so maak ons miskien ook met die Woord wat ons hoor. Dit raak ons nie veel nie, miskien nie sleg om na te luister nie, maar dit verander ons nie, dit roep ons nie op nie, dit spreek ons nie aan nie, dit maak ons lewens nie nuut nie.

Of anders gestel, in die vorm van ‘n vraag: het ons nie miskien, broers en susters, ons godsdiens so begin inkleur, so begin draai en swaai soos dit ons pas dat ons, soos die koning, nie meer in staat is om die robyn, die skat waaroor dit werklik gaan, raak te sien nie?

Ja, ons ontvang die Woord, maar ons ondersoek dit nie eintlik meer nie, ons dink nie meer daaroor na nie, ons probeer nie meer om dit werklik in en op ons lewens van toepassing te maak nie, en so dring ons nie meer deur tot die skat wat daarbinne vir ons opgesluit lê nie. ‘n Skat wat 1 Timoteus 6:19 vir ons sê, ons lewens so sal verander dat ons die ware lewe sal verkry.

Juis daarom, broers en susters, is die woorde van Paulus aan Timoteus hier in hoofstuk 6 vanaf vers 11 vir ons so belangrik. Want hier maan Paulus juis vir Timoteus om nie in die geloof moeg te word nie, om die evangelie en die geloof nie maar net as vanselfsprekend te aanvaar nie. Om nie maar net te aanvaar dat jy kan lewe soos jy wil, en dat God maar net altyd daar sal wees nie.

Nee, sê Paulus, vlug weg van so ‘n lewenswyse af, en streef na toewyding en opregtheid in die diens aan God. Volhard, sê Paulus, en span al jou kragte in om die ewige lewe te verkry. Niks minder is vir God aanvaarbaar nie. Voer daarom jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot die dag wat die Here weer sal kom.

Want slegs dan, indien jy elke woord wat van God se kant af na jou toe kom, deeglik ondersoek, oordink en bepeins het, sal jy die werklike skat in hierdie lewe begin vind.

Hoekom? Want as jy die Woord van God werklik oordink, werklik daarmee erns maak, werklik kennis neem van die skatte wat God elke dag vir jou gee, sal jy nie anders kan as om te gaan lewe soos hierdie woord van jou vra nie.

Dan sal jy nie, sê vers 17, jou hoop op rykdom/die wêreld plaas nie, maar jouself en ander aanspoor (vers 18) om goeie werke te doen, dan sal jy ryk wees in goeie werke, dan sal jy vrygewig en mededeelsaam wees. En bo alles, sê vers 19, dan sal jy ‘n skat vergader wat die ware lewe genoem kan word.

Hoekom kom so min van ons hierby uit, broers en susters? Hoekom is vir so baie van ons die lewe in die geloof nie eintlik ‘n stuk vreugde nie? Miskien omdat ons tog reken dat God se teenwoordigheid, sy genade en vergifnis ‘n vanselfsprekendheid is. En omdat dit is, ons nie werklik ons lewens in enige ander koers hoef te stuur nie. Maar miskien ook, broers en susters, omdat ons tog miskien God se woord filter deur ons eie voorwaardes, deur ons eie terme, deur dit waarvoor ons kans sien. Al eis die Woord van ons iets anders.

So mis ons die skat van die ware lewe, sê Timoteus. Want alleen as jy werklik die Woord van God ondersoek, alleen as jy werklik die Woord wat jy hoor oordink, alleen as jy met toewyding dit indrink en toepas, dan sal die skat, wat die ware lewe genoem word, in jou en my lewe te voorskyn kom.

Mag God ons nie eendag vind, broers en susters, sonder hemelse rykdom in ons aardse lewe, omdat ons dit iewers op ‘n ashoop weggegooi het nie!
Amen