Handelinge 2:1-13

Ek glo!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Koos du Plessis sê in sy liedjie met die titel ‘Woorde’ die volgende:
goeiemôre goeiemiddag goeienaand
baie dankie vir die wonderlike aand
veels geluk bly te kenne vat die hand
simpatie want ek voel saam met jou vanaand

dis alles woorde net leë woorde
op vals akkoorde
en almal sing dit…

alle sterkte en onthou daar's krag na kruis
kom weer kuier en sê groete by die huis
ons hou almal duimvas kom tog veilig tuis
doen jou plig en eendag sal jy almal wys

dis alles woorde net leë woorde
op vals akkoorde
en almal sing dit…

Soms leë woorde inderdaad, broers en susters. Want dit is soms eenvoudig so: in ons omgaan met mekaar gebruik ons soms woorde wat hulle trefkrag verloor het, woorde wat eintlik nie meer enige betekenis het nie, woorde wat lankal nie meer regtig bedoel word nie. Ons sê ‘veels geluk’, maar bedoel dit nie eintlik nie. Ons sê ‘ons kry jou jammer’, maar voel nie werklik iets nie. Ons sê ‘ek sal aan jou dink’, maar vergeet gou van die betrokke persoon. Presies soos Koos se liedjie: dis alles woorde, net leë woorde op vals akkoorde, en ja, ons almal sing dit…

Ongelukkig, baie ongelukkig is leë woorde ook baie keer deel van ons godsdienslewe. Ons gebruik so dikwels so baie maklik woorde soos liefde, hoop, genade, vergifnis, verlossing, geloof — maar hoeveel keer is dit maar net woorde wat mooi klink, maar nie veel verder kom as mooiklinkende woorde nie. Woorde sonder betekenis, woorde sonder inhoud, woorde wat maar bitter leeg is.

Kom ons vat vanoggend maar net een van hierdie woorde — die woordjie ‘geloof’. Die meeste van ons het by geleentheid, toe ons lidmate van die kerk van die Here geword het, belydenis van ons geloof gedoen. En ek glo broers en susters, sonder voorbehoud, dat dit vir ons almal 'n saak van groot erns was.

Maar wie van ons, broers en susters, kan nog onthou wat ons daardie dag beloof het? Dit was vier sake: Dat ons glo in God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, dat ons onderneem om by hierdie belydenis te bly en ons voortdurend tot die Here sal bekeer, dat ons belowe het om mee te werk aan die groei en die vooruitgang van die kerk, dat ons belowe het om ons kinderlik aan die goeie vermaning en tug te onderwerp? Dit wat ons bely het, dit is wat ons gesê het die inhoud van ons geloof is en sal wees. Glo ons dit nog, broers en susters, leef ons dit nog, onthou ons dit ooit nog — of was dit maar net leë woorde, vals akkoorde?

Nog 'n voorbeeld: 'n Baie belangrike, 'n baie belangrike deel van elke erediens is wanneer ons as gemeente, nadat ons ons skuld bely het en gehoor het van God se genade, saam ons geloof in God bely, saam sê wat dit beteken dat ons in God glo.

Ons het vanoggend, byvoorbeeld, op Pinkstersondag wanneer die Christelike kerk oor die wêreld die uitstorting van die Heilige Gees vier, bely dat ons ‘in die Heilige Gees glo’. Het ons gedink oor wat ons bely het, of was dit ook maar in Koos se woorde: dis alles woorde net leë woorde, op vals akkoorde, en almal sing dit…?

Wat bely ons, broers en susters, wanneer ons bely dat ons in die Heilige Gees glo? Die Heidelbergse Kategismus (een van die belydenisskrifte van die kerk), antwoord hierdie vraag so: Wat is die werk van die Heilige Gees? En dan is die antwoord: Die Heilige Gees wek 'n opregte geloof in my hart en laat my deel kry aan Christus en al sy weldade.

Vreemde taal, sal u miskien sê. Daarom, kom ons sê dit eenvoudig: dit is by uitstek die werk van die Heilige Gees om geloof in ons harte te wek, die Heilige Gees is dié Een wat dit moontlik maak dat ek en jy dit kan sê — en dit kan bedoel as ons dit sê — ‘Ek glo’.

En wat gebruik die Heilige Gees om dit te laat gebeur? Hy gebruik woorde. Wat gebeur wanneer die Heilige Gees uitgestort word op Pinkster, veertig dae na Jesus se kruisiging tydens die Paasfees? Die gedeelte wat ons saamgelees het, praat van 'n wonderwerk. Daar is 'n geweldige stormwind en vuur. Ongelooflik. Maar dan lyk dit of daar iets nog meer ongeloofliks gebeur. Mense, gewone mense, praat op 'n ander manier. Hulle is geesdriftig en meegevoer. En dan nog 'n groter wonder: mense hoor hoe eenvoudige mense in hulle eie moedertaal met hulle praat, in woorde wat hulle kan verstaan vir hulle vertel van die groot dinge wat God in Jesus Christus gedoen het.

'n Teoloog met naam Noordmans sê van die uitstorting van die Heilige Gees: Op Pinkster sien ons skielik die dissipels van Jesus in 'n heel ander lig. let op die onderskeid tussen Paasfees en Pinkster . Tydens Paasfees is daar onsekerheid, vrees en verstrooiing by die dissipels. Die Herder is wel daar, maar die skape is verstrooid. Met Pinkster het die skape self herders geword.

Die eens beangste, sprakelose dissipels word herders. Die Heilige Gees laat hulle praat, praat in 'n taal wat hulle self nie kan verstaan nie, maar in 'n taal waarvan ander mense die woorde kan verstaan en deur hierdie woorde uiteindelik tot geloof in Jesus Christus kom.

En dit wat op Pinkster gebeur, word verder gevoer deurdat die Heilige Gees mense inspireer om die Evangelie op skrif te stel en dit uiteindelik moontlik maak dat ons vandag, 'n stuk of 2000 jaar later, die Evangelie ook in ons eie taal kan lees en in ons moedertaal kan luister na die verkondiging daarvan.

Dit is onder andere die werk van die Heilige Gees — om deur die woorde van die Woord van God, die Bybel, geloof in ons harte te wek, ons by die punt te bring waar ons met oortuiging hierdie woorde kan sê : ‘Ek glo’

Sê ons dit ooit nog? ‘Ek glo, dankie Here, dat ek kan glo’. Ja, die woordjie geloof sal ons nog gebruik, hoog uitgee oor wat ‘geloof’ kwansuis beteken — maar dit is iets anders om die woorde ‘Ek glo’ te gebruik — en dit te bedoel.

Kom ons dink mooi, broers en susters. Het ons kinders, ons al ooit hoor sê: ‘Ek glo’. Het jou vrou, jou man, jou ouers, jou vriende jou al hoor sê: ‘Ek glo’

Maar miskien, broers en susters, moet ons dit nie in die eerste plek dit vir iemand anders sê nie — elkeen van ons moet dalk heel eerste dit teenoor onsself erken. En dan besef en bedoel wat ons sê.

Ek glo Here! Dankie Heilige Gees, dat ek kan glo! En dan nog verder sal gaan. Dat ons nie alleen sal sê ons glo nie, maar ook dan die werking van die Heilige Gees in ons lewens as 't ware sal omhels, dit sal aangryp, en dit ons eie maak deur Geesvervuld, gehoorsaam, toegewyd, met oorgawe sal gaan lewe.

Waar die ‘weldade van Christus, soos die Kategismus sê, nie alleen deur my ontvang sal word nie, maar ook gelewe sal word. Waar ek myself elke dag bekeer. Waar ek stry vir die groei van die kerk van die Here. Waar skape herders word. Waar vrugte sigbaar word. En bo alles, waar God verheerlik word.

Kom ons bely nou weer ons geloof en ons doen moeite om te sorg dat dit nie maar net weer leë woorde is nie, kom ons doen moeite om te besef wat die volle omvang daarvan is as ons sê: ‘Ek glo’.

Kom ons bely saam ons geloof.
Amen