Lukas 17: 1-10

Gee ons meer geloof!



Gemeente van ons Here Jesus Christus

Is u gelukkig? Is u werklik gelukkig?

Dit is  ‘n tragiese feit maar nogtans ‘n werklikheid dat ‘n gelukkige mens ‘n bitter skaars artikel is. Miskien stem u nie saam nie. Gaan kyk dan maar na die muwwe en bekommerde uitdrukkings op mense se gesigte as hulle in hulle motors by die verkeerslig sit, of straat-op en straat-af haas. Luister maar hoe mense murmureer oor hulle lot.

Ja, die mens van die twintigste eeu kan alles doen - atome opbreek, harte oorplant en planete besoek. Die mens van vandag kan alles doen behalwe om mense gelukkig te maak. Die mens kan daardie harte wat hulle oorplant nie gelukkig maak nie. Waarom is dit so? Waarom is daar al hierdie ongelukkigheid in die wêreld om ons?

Ek dink dit is omdat ons geneig is om te glo dat daar ‘n direkte verband is tussen lewensgeluk en lewensomstandighede - en dit is die grootste valsheid! Hoor maar net hoe redeneer ons: ''As ek maar net meer geld gehad het; As ek maar net meer status gehad het; As ek maar net elders gewoon het; As ek maar net getroud was; As ek maar net weer ongetroud was; As ek maar net met iemand anders getroud was!''

Maar inderwaarheid is daar geen verband tussen lewensgeluk en lewensomstandighede nie. Die een is gewis nie afhanklik van die ander een nie. U het dit seker self al meermale teëgekom: ‘n Gelukkige mens wat gelukkig is ten spyte van omstandighede. Mense met baie ongeluk en ongerief, en tog is hulle gelukkig. Mense wat ondanks fisiese gebreke of materiële tekorte steeds lag en bo hulle omstandighede uitstyg. Dan is daar weer ander mense wat oënskynlik alles in die lewe het wat ‘n mens se hart kan begeer en tog is hulle bitter ongelukkig.

Nee, broeders en susters, ons geluk het baie min te doen met ons omstandighede. Geluk het met iets anders te doen. Net soos wat daar geen verband bestaan tussen lewensgeluk en lewensomstandighede nie, net so is daar ‘n direkte verband tussen geluk en geloof. Sonder geloof sal ware lewensgeluk ons altyd bly ontwyk - dit maak nie saak hoe my omstandighede lyk nie. Martin Luther het eenmaal aan sy vriend Philippus Melanchton geskryf:

Die groot sorge wat jou verteer, soos jy skryf, haat ek van harte. Dat die sorge jou hart so in beslag neem, kom nie van die omvang van die gevaar nie, maar van die omvang van ons ongeloof.

U sien, ons sorge, ons ongelukkigheid, is nie as gevolg van ons omstandighede nie maar wel as gevolg van ons ongeloof. Dit is waar die wortel van ons ongelukkigheid lê. Dit lyk asof Jesus se dissipels iets hiervan begin insien het, daarom nader hulle Hom met ‘n groot versoek: Gee ons meer geloof.

Wie van ons voel nie om die Here om meer geloof te vra nie? As ons maar net meer geloof gehad het was die lewe dalk baie makliker. Die Here se antwoord is vir ons verrassend:  As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: “Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see”, en hy sou julle gehoorsaam.

Verstaan u wat die Here bedoel het? Ons en die dissipels se versoek kom eintlik neer op ‘n verwyt:  Ons kan nie glo nie, omdat die Here ons nie van geloof voorsien nie. As ons meer geloof ontvang het, sou ons tot veel groter dinge in staat gewees het - sou ons dalk selfs gelukkig kon wees.

Maar Jesus se antwoord toon aan dat die gebrek aan ons kant lê: Ons gebruik nie ons geloof nie!

Al was ons geloof ook maar net so groot soos ‘n mosterdsaad - ‘n saadjie wat soos ‘n wolletjie byna nie in jou hand gesien kan word nie - kan jy deur dit te saai, deur dit aan die grond toe te vertrou en daarvan iets te verwag, onberekenbaar veel bereik. Uit hierdie dwergsaadjie kan daar ‘n boom groei waarin die voëls van die hemel nes kan maak.

Ons is mos geneig om telkens te sit en wag dat iets moet gebeur wat my sal laat glo. Ons wag vir ‘n teken of ‘n wonder - ons wil eers iets ervaar of iets aanskou wat my tot geloof moet bring. As daar egter een saak is waaroor die Bybel baie duidelik is, dan is dit dat ons nie op sigbare tekens of wonders moet steun om ons geloof te voed nie. Geloof is nie iets wat ons moet verkry of kan verloor nie. Geloof is ‘n potensiaal wat diep binne onsself opgesluit lê en wag om ontdek te word. Tog vra ons steeds, saam met die dissipels: Here, gee ons meer geloof!  Ons vra vir iets wat ons alreeds besit!

Dit laat my dink aan die hiëna in die ou Zululandse legende: Die hiëna het met so ‘n lekker sappige been oor ‘n bruggie geloop, en toe hy afkyk in die water, sien hy daar die weerkaatsing van die been. Hierdie been in die water lyk toe vir hom so sappig, so lekker, nog lekkerder as die een wat hy reeds het, dat hy daarna gryp, die been in sy bek in die water laat val en uiteindelik honger moes bly.

Gee ons meer geloof?  Nee broeders en susters, ons dra dit toe die hele tyd met ons saam. Die Deense filosoof, Sören Kierkegaard, het eenmaal gesê: Die deure van geluk maak van binne af na buite oop.  Geluk kom nie van buite af in ons lewens in nie - ons vind dit nie in uiterlike omstandighede nie (onthou daar is geen verband tussen geluk en omstandighede nie). Ons vind lewensgeluk in die geloof wat God reeds vir ons elkeen geskenk het - as ons dit nou net wil ontgin.

Dit laat my dink aan ‘n verhaal van Rudyard Kipling wat Dalene Matthee ietwat aangepas het in haar bekende boek Kringe in ‘n bos:

Toe die aarde klaar geskape was en die mens op die aarde kom woon het, het die sewe hoofengele van die hemel vergader om oor ‘n baie ernstige saak te besluit. Hulle moes besluit waar hulle die krag van God kan wegsteek sodat die mens dit nie te gou sal kry en misbruik nie. Die eerste engel het voorgestel dat hulle dit op die maan moet wegsteek. Ja, op die maan, het die ander saamgestem. Maar die sewende engel sê: Nee, die mens is slim. Hy gaan eendag weet om op die maan te kom; ons moet ‘n ander plek soek. Op die bodem van die see, waar die see op sy diepste is, stel die tweede engel voor. Ja, sê die ander. Maar die sewende engel keer hulle weer: Die mens is slim, sê hy, op ‘n dag gaan hulle tot op die bodem van die see ook soek. Laat ons dit dan aan die môrester ophang, stel die derde engel voor. Maar die sewende engel het hulle weer gekeer: Eendag gaan die mens tot by die môrester soek. Toe vra die ander vir die sewende engel waar hy dink hulle dit moet wegsteek? Op die laaste plek waar hulle sal soek, sê hy. Binne-in hulleself!

Here gee ons meer geloof? Nee, broeders en susters. Net soos die deure van geluk, maak die deure van geloof van binne af na buite oop. Soek ons geloof elders gaan ons tevergeefs soek. Die grootste reis wat ons ooit sal aanpak is die reis na binne - om te ontdek wat ons alreeds het. As ons dan die krag van God ontdek het sal ons inderdaad in staat wees om groot dinge te vermag, ons sal selfs gelukkig kan wees.

Dit is waar lewensgeluk lê - dan kan ek sing soos in Gesang 253:  “Ondanks alle aardse laster, groei geloof in my al vaster”, Dit is ‘n geloof wat sê: Ek juig en jubel ondanks my omstandighede. Dit is die geloof wat Paulus en Silas laat lofliedere sing terwyl hulle in die gevangenis sit met bebloede lywe en met hulle voete in houtblokke vasgeklem. Dis nie ‘n ander geloof in ‘n ander god nie. Dis dieselfde geloof as ons s’n in dieselfde God.

Dis die geloof wat Habakuk laat sê: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.

Dis die geloof wat Job staande hou te midde van die grootste pyn en lyding denkbaar. Ja goed u kan nou vir my sê dat Job darem nie heeltyd gelukkig ebly het nie. Hy het ook gekla. Dis waar - maar weet u wat het Job ongelukkig gemaak? Nie die feit dat hy al sy aardse besittings, sy vrou, sy tien kinders verloor het nie. Wat vir Job ongelukkig gemaak het was toe hy begin voel dat hy God verloor - toe hy voel God praat nie meer met hom nie. In Job 23 lees ons dat Job sê: “Gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou ek na die suide toe draai, ek sien Hom nie”.

Onthou: ‘n verband tussen omstandighede en geluk bestaan nie - maar as jy vir God verloor, God se krag in jou lewe begin verloor dan kan jy onmoontlik gelukkig wees. Here gee ons meer geloof? Nee, gebruik die geloof wat jy het. Maar wat is hierdie geloof wat, as dit maar so groot soos ‘n  mosterdsaadjie was ons berge sou kon laat versit? Wat is hierdie geloof wat my ondanks omstandighede steeds gelukkig kan maak? Wat my nogtans sal laat jubel? Hoe lyk hierdie geloof?

Ek dink ‘n  mens kan sê dat daar in die woord geloof  drie begrippe opgesluit lê: Dit is doen, waag en oorwin. Om te glo is om te doen, te waag en te oorwin. Om te glo is om te doen ‘n Mens kan nie al sittende glo nie. Geloof is nie net ‘n saak van die verstand nie. Dis eers as dit van jou verstand af na jou hande, jou voete, jou gesindheid vloei dat jy werklik begin glo. Geloof is nie ‘n sienswyse nie maar wel ‘n synswyse. Dit is dus nie net ‘n opinie wat ons het nie, dit is ‘n  bestaanswyse.

Die woord geloof is gebore in die Hebreeuse taal wat slegs uit werkwoorde bestaan. So is die geloof: jy kan dit net met werkwoorde beskryf. Maar wat is dit dan wat ons met of in geloof moet doen? Om te glo is om te waag Geloof is om dit met God te waag. Dit is ‘n waagstuk wat tegelyk die grootste sekerheid inhou. Dit beteken dat ek die betroubare God sal vertrou; dat ek nie sal let op omstandighede nie maar op die Here. Met ander woorde dat ek ondanks omstandighede, ondanks my onmag en swakheid, ten spyte van die hopeloosheid van die situasie, God ‘n kans sal gee, met God op weg sal gaan, Hom op sy Woord sal neem, die minstens 30000 beloftes wat Hy in sy Woord opgeteken het, ernstig sal opneem. As ons vra: Gee ons meer geloof,  dan sê die Here: Ons het genoeg. Die punt is slegs dat jy dit moet plant, dat jy dit moet waag om die klein saadjie aan die grond toe te vertrou en te weet dat dit sal groei. Dan groei dit ook en geloof word nie net ‘n plantjie nie maar ‘n reuse boom. Het u al opgemerk hoe Jesus mense genees het? Deur hulle as ’t ware uit te daag om Hom op sy woord te neem.

Hy het hulle nie eers genees en dan daarna die vanselfsprekende gesê dat hulle hul beddens moet optel en moes gaan nie. Nee, Hy begin deur vir die lamme, wat dit nie kan doen nie, te sê: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis.  En as die lamme dit waag om in sy lamheid die Here op sy woord te neem, dan gebeur dit - dan kom die derde deel van geloof aan die orde.

Om te glo is om te oorwin Geloof is om te oorwin. Wie glo sal oorwin. En dit is ware geluk. Geluk is nie geleë in die afwesigheid van hartseer en pyn nie, maar wel in die teenwoordigheid van Christus. Here, gee ons meer geloof?

Nee, Here help ons om te waag om op U te vertrou, om U op U woord te neem, om die deure van geluk van binne af oop te maak, sodat ons met eerlikheid kan sing:

Ondanks alle aardse laster, groei geloof in my al vaster
Ek sal juig in pyn en vrees, in my Heer oorwinnaar wees.

Amen