Markus 5:21-34

Geloof beteken ook dat ons iets moet doen



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die vrou wat aan bloedvloeiïng gely het, se naam ken ons nie. Markus vertel ons nie wat haar naam was nie. Ook in Matteus 9 en Lukas 8 word haar naam nie genoem nie. Maar al ken ons nie haar naam nie, haar omstandighede ken ons baie goed. Omstandighede wat nie anders beskryf kan word as middernag donker nie. Diep in die put. Op die bodem. Met blykbaar geen moontlikheid van uitkoms nie. As ons weer Markus 5:24-26 saamlees sal u verstaan wat ek bedoel: 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af aan Hom gedruk. Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiïng gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand her eerder vererger.

Sy was, broers en susters, soos ons dikwels sê, 'n geknakte riet: sy het al twaalf jaar gely, sy het baie gely, alles wat sy gehad het, daaraan bestee, en, bo alles, sy het net erger geword.

'n Toestand van kroniese bloedvloeiïng, kroniese menstruasie sal vir enige vrou in enige situasie, tyd of era baie moeilik wees om te hanteer. Maar vir 'n Joodse vrou kon daar niks ergers wees nie. Want dit het feitlik alle fasette van haar lewe geraak:

  • Seksueel: met haar man kon sy geen normale huweliksverhouding hê nie, inteendeel, sy mog nie eers aan hom geraak het nie;
  • Moederskap: dit was vir haar totaal onmoontlik om kinders te kon hê;
  • Huishoudelik: alles waaraan sy geraak het, is as onrein geag. Haar kinders kon sy nie teen haar vasdruk nie, sy kon nie eers die vloere was of die skottelgoed afdroog nie. Ook nie haar kinders se klere nie. Want so sou sy alles onrein maak; en
  • Geestelik/godsdienstig: sy was nie toegelaat om in die tempel in te gaan nie. In die tempel kon sy dus nie gaan bid nie, God se teenwoordig was vir haar 'n totale onmoontlikheid.

Of in kort: sy was fisies en geestelik uitgeput en sosiaal en godsdienstig uitgesluit. Sy was op haar eie. Dit was die hele wêreld en net sy alleen.

En asof dit nie genoeg is nie, gaan Markus nog verder. Om van haar siekte ontslae te probeer raak, het sy talle dokters geraadpleeg. Die Talmoed ('n bespreking van en kommentaar op onder andere die Tien Gebooie — iets soos die Heidelbergse Kategismus of die Nederlandse Geloofsbelydenis) het nie minder as elf geneesmiddels vir die toestand aanbeveel nie. Sy het ongetwyfeld almal probeer. Vir party was daar gronde, soos die kook en eet van bepaalde kruie, die lê in water bestaande uit sekere geneesmiddels. Ander, soos om die as van 'n volstruiseier in 'n linnedoek rond te dra, was niks anders as leë bygelowe nie.
Maar sy het almal probeer. En al haar geld daaraan bestee. Dus, behalwe dat sy fisies en geestelik uitgeput en sosiaal en godsdienstig uitgesluit was, was sy ook finansieel ten gronde.

En dan gaan Markus nog verder: haar toestand het net vererger. Sy was inderdaad 'n geknakte riet. En so het sy maar elke oggend wakker geword in 'n liggaam wat niemand wou hê nie. Ook het sy seker nie eers meer geweet hoe om te bid nie.

Maar tog, broers en susters, het sy nie hoop opgegee nie. Want haar laaste gebed bid sy wanneer ons met haar kennis maak, waar sy besluit om na Jesus te gaan. 'n Handeling wat nie anders beskryf kan word as 'n gebed nie.

Teen die tyd wat sy by Jesus kom, lees ons, is Hy omring van mense. Hy is op pad om Jaïrus se dogtertjie te gaan help — die belangrikste man van die gemeenskap. Wat was haar kanse dat Jesus sy reis na hierdie belangrike man sou onderbreek om haar eers te help? Baie klein, het sy seker geoordeel. Maar wat was die kanse dat sy sou oorleef as sy nie die kans waag nie? Nog kleiner, het sy beslis gereken. En daarom dink sy: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek miskien gesond word (Mark 5:28).

Ons moet ook raaksien dat haar besluit om aan Jesus te probeer raak, 'n gevaarlike besluit was. Want as sy aan Hom wil raak, sal sy aan ander mense ook moes raak. En as een van die menigte haar sou erken, sou dit 'n geval wees van: hallo teregwysing, totsiens genesing. Maar het sy 'n keuse gehad? Want geld was daar nie meer nie, nog ander geneesmiddels was daar nie, ook nie meer vriende nie, dus geen oplossing meer nie.

Net een ding was oor: 'n vae voorgevoel dat hierdie Man haar kon help, 'n groot verwagting dat Hy miskien die oplossing van alles was. En die hoop dat Hy bereid sou wees om sy reis na 'n belangrike man te onderbreek om net een sekonde aan haar aandag te gee.

En daarom waag sy. Al het sy geen waarborg nie. Hoop sy Hy sal reageer. Smag sy daarna dat Hy sal reageer. Al weet sy nie of Hy sal nie. Ja, al wat sy weet is dat ander gesê het Hy is goed, en dat Hy nou daar voor haar was.

En wat gebeur toe sy Hom aanraak? Twee dinge, broers en susters, wat nêrens anders in die Bybel gebeur nie. Eerstens, Jesus genees haar voordat Hy dit weet. Die krag gaan outomaties van Hom uit. Met ander woorde, haar behoefte maak dat God deur Jesus onmiddellik in haar behoefte voldoen. En tweedens: Jesus noem haar dogter, die enigste keer dat Jesus 'n vrou dogter noem. Stel ons voor hoe dit vir haar moes voel: sy kon seker nie meer onthou wanneer laas iemand haar met soveel liefde en toegeneëntheid ontvang het nie.

Dit alles, broers en susters, omdat sy bereid was om te waag. Dit alles omdat sy maar net 'n vae voorgevoel gehad het dat hierdie Man haar kon help, 'n groot verwagting gehad het dat Hy miskien die oplossing van haar probleem was.

Miskien is dit, broers en susters, soms ook al wat ons het wanneer ons na Jesus gaan. 'n Vae voorgevoel, 'n groot verwagting en hoop. Miskien sal Hy my help. Miskien sal Hy my lyding raaksien. Miskien weet Hy presies hoe diep in die put ek sit. Miskien weet hy hoe groot my behoefte en diep my bekommernis lê.

As hierdie beskrywing, broers en susters, inpas by sekere tye in u lewe, let dan maar goed op wie se geloof in hierdie vertelling geprys word. Die was nie die van die belangrike man nie. Ook nie die van sy volgelinge nie. Ook nie die van een of ander groot leermeester nie. Nee. Dit was haar geloof, die geloof van 'n totaal moedelose en uitgeworpene. Iemand wie se naam ons nie eers ken nie. Die geloof van iemand wat aan haar laaste hoop geklou het — dat Jesus miskien sal help.

Hierdie is, broers en susters, so terloops, myns insiens nie 'n te swak definisie van geloof nie: 'n oortuiging dat Jesus kan en 'n hoop dat Hy sal. Dit stem ook nogal met Hebreërs 11:6 se definisie van geloof ooreen: `As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié wat Hom soek, beloon'.

Nie te ingewikkeld nie, meen ek. Geloof is die wete dat God werklik daar is en dat Hy goed is. Met ander woorde, geloof is nie 'n mistieke ondervinding, 'n middernagtelike visioen of 'n stem in die bos nie. Dit is eerder 'n keuse om te glo dat Hy wat alles gemaak het, ook vir my, dit steeds onderhou en dat Hy steeds reageer op die geringste teken van geloof. Of kom ons sê dit anders: redding, verlossing, genesing, die omkeer van lyding, noem maar op, tree in wanneer ons iets daaraan doen. Tree in wanneer ons na God uitreik, wanneer ons bereid is om 'n stap nader aan God te neem.

Soos hierdie vrou. Sy was bereid om haar hand na sy kleed uit te steek. En daarom is sy gered. Die aard van haar poging was nie die bepalende nie, maar die feit daarvan. Dat sy bereid was om na God te soek, na Hom uit te reik.

Ek kan daarom ook nie anders, broers en susters, as om op grond van hierdie vertelling die volgende gevolgtrekking te maak nie: God se hulp is naby en beskikbaar, maar Hy gee dit net aan diegene wat dit soek en najaag. Ja, die groot wonder in hierdie verhaal is die genesing, maar die groot waarheid van hierdie verhaal is dat die genesing begin het by haar aanraking. As sy nie gekom het nie, nie uitgereik het nie, sou daar heel waarskynlik niks gebeur het nie.

Daarom: geloof sonder 'n poging is geen geloof nie. Maar op ons pogings sal God reageer. Geen egte geloofsgebaar — die wete dat God werklik daar is, dat Hy goed is en my kan help — word deur God oor die hoof gesien nie. God sal reageer. Want God ag enige geloofsgebaar hoog.

Dink maar aan soveel voorbeelde uit die Bybel: wanneer 'n ark gebou word ('n geloofsgebaar) word mense gered. Wanneer soldate marsjeer, val mure om. Wanneer 'n staf gelig word, maak die see 'n opening. Wanneer 'n ete gedeel word, word duisende gevoed, en wanneer 'n kleed aangeraak word, kom Jesus tot stilstand en reageer.

Al is ons pogings hoe klein, hoe onbeduidend. Maar ons moet iets doen. Iets doen omdat ons glo dat God werklik daar is, dat Hy goed is en my kan help. Dan is die iets wat ons doen 'n grype na God in die geloof. En dan sal God reageer.
Amen