Matteus 21:12-22

Geloof beteken ook die moed om te droom



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar was eendag 'n man met die naam Hans Babblinger (en hierdie verhaal word vir waar vertel), wat graag wou vlieg. Hy het egter 'n groot probleem gehad, want sien, Hans het in die 16 de eeu geleef. Daar was toe nog nie helikopters, vliegtuie of sweeftuie nie. Hans was dus 'n dromer wat sy tyd ver vooruit was.

Hans se beroep was die maak van kunsledemate. Die dokters van daardie tyd het baie makliker as vandag se medici ledemate geamputeer, natuurlik omdat hulle nie oor die middele en tegnieke beskik het wat vandag vir ons doodgewoon vanselfsprekend is nie. Hans het dus baie werk gehad, en so tussendeur besluit om iets daadwerkliks aan sy droom te doen om te kan vlieg.

Hy het al sy kundigheid gebruik om vir hom vlerke te bou, en toe hy klaar was het hy en sy vriende na die Alpe gegaan om sy vlerke te toets. Daar was heelwat opwaartse lugstrome wat hom sou help, al het hy dit nie geweet nie. Hy het toe gespring, en al het hy nou nie opgestyg en gevlieg nie, het hy tog op so manier veilig na die grond gesweef dat jy amper kon sê hy het gevlieg. Hans was bly, sy vriende het hom toegejuig en God, broers en susters, en dit is 'n persoonlike mening, was ook in sy hart bly.

Hoekom sê ek so? Omdat ek doodeenvoudig glo, broers en susters, dat wanneer ons drome droom, dit probeer, en dit werk, God daaroor verheug is. Verheug is omdat ons die talente en vermoëns wat Hy ons gegee het, gebruik, daarmee waag, en dan ook sukses bereik.

Waar ons baie voorbeelde van het in die Bybel. Tagtigjarige skaapwagters durf nie gewoonlik magtige farao's aan nie. Moses het dit egter gedoen, en geslaag. Net so min as wat jong skaapwagtertjies gesoute soldate aandurf. Dawid het egter gedroom en gewaag, en geslaag. En ek meen tog ons kan byvoeg: en God was daaroor verheug.

Want God, broers en susters, maak dit wat vir ons onmoontlik lyk, moontlik. En juis daarom is dit vir God onaanvaarbaar, ek wil amper sê, maak dit God hartseer, as mense onnodig beperk word of nie uitleef waartoe hulle werklik in staat is nie. Dit is die boodskap wat die vyeboom wat nie vrugte wou dra nie en die berg wat in die see kan beland.

Jesus en sy dissipels was op pad vanaf Betanië na Jerusalem. Hy was honger, en daarom, toe hy 'n vyeboom langs die pad sien staan, het Hy na die boom gegaan om vye daarvan te pluk. Ons moet onthou dat vyebome in Palestina nie soos ons meeste vrugtebome eers blare in die lente gery het en dat die vrugte daarna verskyn het nie, maar dat van die vyebome in Palestina se blare en vrugte gelyktydig verskyn het. Daarom, omdat die boom blare aangehad het, het Jesus verwag dat daar ook vrugte aan sou wees.

Daar was egter geen vye aan die boom nie. Die boom het dus die skyn van vrugte, vrugbaarheid gehad, maar was dit in werklikheid nie. Ek is seker dat die boom Jesus onmiddellik laat dink het aan sy besoek aan die tempel die dag vantevore. Die tempel waar daar 'n skyn van vrugte, skyn van opregte godsdiens was, maar waar alles net formaliteite, uiterlikhede, vormgodsdiens was. Baie handelinge, maar handelinge wat niks maar niks te make gehad het met geloof in en diens aan God nie. Daarom, sien ons, vervloek Jesus die boom.

Die dissipels, sien ons, was verbaas oor Jesus se optrede, en Hom gevra hoekom Hy dit gedoen het. Hy het hulle só geantwoord: ‘Voorwaar, Ek sê vir julle: as julle geloof het, en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met hierdie vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — dit sal gebeur’.

Die Bybel sê nie iets hier van drome en vlerke nie, broers en susters, maar as ons mooi daaroor dink, sal ons raaksien dat Jesus hier met die Babblingers, die dromers van die wêreld praat, en ons almal aanmoedig, uitnooi, om ons vlerke vir 'n slag te toets.

Jesus was honger en het gaan staan by 'n boom wat gelyk het soos een wat vrugte dra. Maar die werklikheid van die belofte, die beeld na buite, het nie met die belofte ooreengekom nie — dit was alles net skyn. Ek meen nie Jesus was kwaad vir die boom nie, maar vir alles waarvan die boom 'n teken was: lou, selftevrede en hoogmoedige gelowiges wat vol skyn is, maar niks in die geloof doen nie. Want God, broers en susters, hou nie van skyngodsdiens waarin daar geen opregte werke is nie.

Presies dieselfde soort godsdiens wat Hy in sy tyd op aarde aangetref het, nogal van die dominees, die godsdienstige leiers, van daardie tyd. Hy en sy volgelinge is gekritiseer omdat hulle op die verkeerde tyd, sonder gewaste hande, geëet het, omdat Hy sogenaamd die verkeerde mense op verkeerde plekke (buite die tempel) vergewe het. Omdat Hy nie met die regte mense gemeng het nie, omdat Hy 'n slegte invloed op vrouens en kinders gehad het.

En elke keer wanneer Jesus mense van hulle sonde of omstandighede bevry het, het die Fariseërs probeer om hulle in hulle ou vormgodsdiens of ou omstandighede terug te druk. Met ander woorde: elke keer wat 'n dapper mens probeer vlieg het, was hulle daar om te sê dit is onmoontlik.

Hans Babblinger, broers en susters, het ook geweet hoe dit voel om altyd ontmoedig te word. Sy eie gemeenskap was so beïndruk met sy prestasie dat hulle graag wou hê dat die koning en biskop moes sien waartoe een van hulle dorpie se inwoners in staat was. Hulle het een versoek gehad: omdat hulle wou hê baie mense moes kon sien hoe hy kan vlieg, daarom moes hy sommer buite die dorp van 'n hoogte afspring.

Arme Hans het nie geweet dat daar geen opwaartse strome was waarvan hy toe eventueel gespring het nie, en het soos 'n klip in 'n rivier geval. Die volgende Sondag het die biskop 'n baie sterk boodskap gelewer met die tema: ‘Die mens is nie veronderstel om te vlieg nie’. Hans het hom geglo en sy vlerke vir ewig gebêre. Hy is kort daarna dood — 'n gebroke man wie se drome aan skerwe gelê het.

Daardie kerk was natuurlik nie die eerste en laaste wat mense se drome vernietig het nie. Inteendeel — ek dink soms dat die kerk presies weet wat om aan mense te sê wat hulle nie mag, of moet doen nie. Dit is hoe dit in Jesus se tyd was, hoe dit in Hans Babblinger se tyd was, en hoe dit soms vandag nog is.

Dit is maklik, broers en susters, om vinger te wys en te sê: ‘kyk wat doen julle!’. Dit mag en dat mag nie. Vir 'n godvrugtige lewe voor God, broers en susters, vir 'n geloof wat wil lewe, wat wil droom, wat wil waag, is dit egter nie genoeg nie.

Miskien moet almal van ons, ook ek, vir 'n slag eers weer in die spieël gaan kyk, Veral hier so aan die begin van die jaar. Het u en ek al ooit probeer om vir iemand vlerke te gee? Het ons al ooit probeer om iemand wat gebonde is, vry te maak? Is daar nie iewers dalk iemand wat my te na gekom het wat ek moet vergewe nie? Wat van jou kollega wat godsdiens maar net in sy vorm nalewe, met geen hart daar in nie? Wat bang is vir die dood? Of jou familielid wat nog steeds die mislukkings van lank gelede agter hom aansleep? Of dalk het jy 'n vriend of 'n vriendin wat in die greep van allerhande onnodige vrese is? Droom ons nog oor die gemeente waaraan ons behoort, oor wat ons hier werklik vir ander kan beteken?

Vergewe so iemand, en gee hom vlerke om mee te vlieg. Leef jou godsdiens met vreugde uit, dra die vrugte wat God vra, en leer ander om te droom oor 'n werklike lewe saam met God. Vertel daardie vriend van die leë graf, sodat hy ook kan vlieg. Leer jou maat om vir God in die toekoms te wag, dat God in die toekoms wag, en dan kan hy/sy ook daarheen vlieg. Of, raak betrokke by hulle hier rondom ons, en laat hierdie gemeente ook leef.

Natuurlik, broers en susters, is ons nie almal vyebome nie, juis daarom verwag God nie van ons almal om vye te dra nie. Maar Hy verwag van ons om vrugte te dra. Dit is nie altyd maklik nie, en God weet dit, juis daarom het Hy vir ons gesê dat enigiets moontlik is vir iemand wat glo.

Wat beteken dit om te glo? Kom ons praat miskien vir 'n slag weer kortliks hieroor. Om te glo beteken nie dat jy die kerk moet aanhang nie, maar dat jy God met jou hele hart en menswees moet aanhang. Glo in God. Waag dit om te glo dat God onder alle omstandighede en in elke situasie, elke oomblik vir jou die regte ding sal laat doen en sal gee.

Dit, broers en susters, meen ek is die konteks waarbinne ons Jesus se woorde van Matteus 21:21 moet verstaan: ‘as julle geloof het, en nie twyfel nie, sal dit gebeur’. Die Here sê hier dat ons moet vlieg, dat ons ver van gister se skuld af sal sweef, hoog bo vandag en môre se vrese sal vlieg. Hy wil ons bevry van vrese, skuld, sonde en dood. Dit is die berge wat Hy uit ons pad gehaal het. Dit is die beloftes wat Hy sal verhoor, die vrugte wat Hy sal gee.

Droom ons nog, broers en susters? Droom u nog oor u verhouding met u lewensmaat, dat dit kan wees en word wat u weet dit kan en moet wees? Droom u nog oor hoe u en u kind rustig kan sit en praat oor die dinge wat saak maak? Droom u nog oor 'n lewe waar u en ek werklik godvrugtige, sonder maar net die skyn, voor God en saam met God leef?

Droom u nog oor die gemeente waaraan u behoort? Dat die kerkraad vir 'n keer weer volledig sal wees? Dat die gemeente werklik vir almal 'n geestelike tuiste, geestelike hawe sal wees? Dat u kind in die kategese werklik die kennis sal opdoen om God nie alleen te ken nie, maar met sy/haar hele lewe te vertrou?

Hierdie is die berge, broers en susters, wat God wil hê ons in die see moet werp. Die struikelblokke wat ons uit die pad moet haal om werklik godvrugtig voor God te lewe. Dit alles begin by drome. Dat ons weer sal droom oor wat moontlik is, en dit dan sal doen.

Hoekom lê so baie van ons drome aan skerwe? Is dit nie omdat ons soms net droom en dan net daar ophou nie? Droom, sê God, maar doen ook. Leef die geloof. Doen in die geloof. Vertrou God in die geloof. Waag in die geloof.

Dan sal ons sien dat wat vir ons onmoontlik lyk, vir God moontlik is. Dat enigiets vir iemand wat glo, moontlik is. Glo u dit? God nooi u vanoggend uit om dit te doen, of te begin doen. Om ons eie vlerke te begin maak, en hulle uit te probeer. Wie weet waar ons dan sal eindig.
Amen