Matteus 21:18-22

Geloof kan berge verskuif



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
‘n Mens kom soms op tekste in die Bybel af wat ’n mens iets laat sê soos ‘dit is darem te erg’, of ‘dit is darem te veel gevra’, of self ‘hier is die Woord van God darem seker nie so ernstig nie’. Een van hierdie verse, broers en susters, is Matteus 21:21-22: As julle geloof het...sal julle...vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.

‘n Vers soos hierdie, broers en susters, laat ‘n mens sommer maklik sê: onmoontlik. Ek weet in elk geval van geen berg in die geskiedenis wat so van adres verander het nie. Buitendien, as ons in ag so neem dat Jesus op pad tempel toe is wanneer Hy hierdie woorde spreek en daarom heel waarskynlik na ‘hierdie berg’ as die Olyfberg verwys, dan kan ons mos sê dat die Olyfberg nog presies op dieselfde plek staan waar dit altyd gestaan het. Agter die tempel.

En, as die see waarna Jesus hier verwys die Dooie See sou wees, weet ons dit is darem nog nie opgevul met ‘n berg nie. Daarom, Jesus is seker hier nie te ernstig as Hy dit van ons geloof verwag nie. So, hierdie versie hoef darem nie te ernstig opgeneem te word nie.

Die tweede reaksie, broers en susters, wat verse soos hierdie by ons wakker maak is soms ook doodeenvoudige eerlikheid. Goed, sê ons, kom ons aanvaar wat in hierdie vers staan is inderdaad moontlik. Die feit dat geloof ‘n berg kan verskuif. Maar dan moet God dit net nie van my verwag nie. My geloof is nie so sterk nie, my geloof is nie so prima geloof nie. Nee wat, ek is eerder broos as in beheer, eerder bang as in beheer, meer bedelaar as bergwerper. Berge versit, ek? Nee wat! Buitendien, ek kan nie eers die paar ou molshopies in my lewe elke dag ewe goed hanteer nie.

Maar tog, broers en susters, maak nou nie saak wat ons reaksie(s) op ‘n vers soos hierdie is nie, dit staan in die Bybel. Meer nog, dit kom uit die mond van Jesus. Ons kan nie verby dit kom nie. Daarom die vraag: wat wou Jesus hier sê? Waarna het Hy hier verwys? Wat beteken die vers werklik, en wat vra dit van ons? Kom ons probeer ons om hierdie vrae te antwoord.

Wanneer ons na die groter geheel kyk waarin Matteus hierdie woorde van Jesus oorvertel sien ons dat Jesus die vorige dag die tempel besoek het. Wat hy by die tempel gesien het, was alles behalwe diens aan God. Mense was besig om geld te maak, om mense uit te buit deur geldeenhede te verwissel teen geweldige kommissie, en allerhande offerdiere te verskaf teen ongelooflike hoë pryse. Hulle was dus besig om geld te maak uit God, en uit die Jode se godsdiens. So, sê Jesus in Matteus 21:13, het hulle God se huis van gebed ‘n rowerspelonk gemaak — ‘n plek waar die rowers van daardie tyd ‘n buit weggebêre en weggesteek het.

Hierdie optrede en woorde van Jesus ontlok dan, sien ons, ‘n hewige debat tussen Jesus en die Joodse leiers. ‘n Debat wat in wese, soos reeds telkens vroeër in die evangelie duidelik geword het, as inhoud het die feit dat die skrifgeleerdes en priesterhoofde eintlik met niks anders as vormgodsdiens besig is nie. Hulle maak asof hulle God werklik dien, maar dra nie werklik in hulle lewens die vrugte van die geloof nie. Hulle dade was sonder liefde. Want as hulle werklik God gedien het, en werklik vrugte van die geloof gedra het, sou hulle nie beswaar gemaak het toe Jesus in die tempel, waar sogenaamde onreines soos die kreupeles en blindes nie mag gekom het, gesond gemaak het nie.

Die volgende oggend, lees ons dan, sien Jesus op pad terug na Jerusalem en die tempel ‘n vyeboom met blare aan. Sommige van die vyebome in Palestina, moet ons onthou, het altyd saam met hulle blare vrugte gekry. ‘n Vyeboom met blare aan moes vrugte ook gehad het. Hierdie vyeboom het egter wel blare gehad, maar nie ook vrugte nie. Dus: alleen die skyn van vrugte. Soos die Joodse leiers. Hulle hele lewe het geskyn van ewe vrome godsdienstigheid, daar was baie blare, maar geen vrugte nie. Hulle was vals, skynheilig. Soos die vyeboom.

En wat maak Jesus? As simboliese daad vervloek hy die vyeboom. Hy skryf dit af. Waarmee Hy duidelik wou laat blyk: soos dit klaarpraat met hierdie boom is, so is dit met die Joodse leiers. Ook hulle sal vergaan omdat hulle alleen maar die skyn van vrugte het, maar in wese geen vrugte dra nie.

Dan, broers en susters, kom Jesus se uitspraak oor geloof en die berg wat in die see sal val. Wat wil Jesus daarmee sê? God laat Homself nooit beperk nie. Nie eers in sy oordeel oor ander beperk God homself nie. As Israel dan nie vrugte wil dra nie, sal hy hulle vernietig. Soos ‘n berg wat in die see gewerp word en nooit weer gesien sal kan word nie, so sal Hy Israel (Joodse leiers) vernietig. Wat meer is, lees ons in Handelinge 1:8, die evangelie sal uitgaan na Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. As Israel dan nie die evangelie wil aanvaar nie, sal dit aan ander gegee word. Soos aan hulle wat in die tempel genees is en God geloof en geprys het.

Die teksvers, broers en susters, praat dus nie in die eerste plek van geloofshelde nie, maar van God se handelinge, dit wat God kan doen, dat God berge kan versit. Die vers praat nie in die eerste plek van groot geloof en groot gelowiges nie, maar wat God wat groot kan handel, telkens weer opnuut kan handel, verrassend, nuut, oorspronklik. Vir mense mag sekere dinge onmoontlik lyk, maar by God is alles moontlik. Vir ons as mense mag sekere probleme so groot soos berge lyk, maar nie vir God nie. Dit wat so groot soos berge vir ons is, kan God eenvoudig, as dit sy wil is, uit ons lewens wegneem.

Wat vir ons na doodloopstrate lyk, maak Hy ‘n snelweg, wat vir ons soos dooie putte lyk, maak hy ‘n bron van nuwe lewe. As God wil, kan Hy berge verskuif. Hy kan enigiets doen.

Wat God immers doen, broers en susters, en gedoen het! Hy het immers die grootste en swaarste berg, die klip voor sy Seun se graf weggerol. Dit wat seker vir ons die grootste berg in ons lewe is, die verdoemenis oor ons sonde wat uitloop op die dood, het God uit ons lewens weggeskuif. Dit waaraan ons niks kan doen nie, dit wat die loon van die sonde is, die dood, het Hy uit ons lewens verskuif deur sy Seun deur die graf te laat gaan.

En, impliseer Jesus hier, ons kan dit ook doen. Ook ons kan berge verskuif. En laat ons hieroor, broers en susters, geen illusies hê nie. Dinge doem soms voor ons op in die lewe wat vir ons so groot soos berge lyk. Goed, ons is soms maar geneig om van molshopies berge te maak, maar soms is daar werklike berge in ons lewens: daardie huwelikskonflik waarvoor daar skynbaar geen oplossing is nie, daardie probleem van my kind waarvoor ek geen lig sien nie. Daardie finansiële krisis waarvoor ek geen einde aan die tonnel sien nie, daardie siekte wat jou liggaam in besit geneem het. Daardie laaste asem wat ek gaan uitblaas, daardie dag van die dood wat loodreg eendag voor ons elkeen sal kom staan.

Geloof, sê Jesus egter, kan dit alles verander. Kan al hierdie berge in die see werp. Nie ‘n groot geloof nie, maar geloof in die grootheid van God. Geloof in die feit dat God alles kan doen. Dat niks vir God onmoontlik is nie. Geloof wat oortuig is van die feit dat God vir sy kinders alles ten goede laat meewerk. Geloof wat glo dat God werklik in beheer is.

Geloof wat maak dat ons, in ons gebede, vir God groot dinge vra, juis omdat ons nie klein oor God dink nie. Want God kan alles doen. Hy kan selfs die evangelie wegneem van hulle wat dit nie wil aanvaar nie, van hulle wat dit sogenaamd aanvaar het maar nie die vrugte dra wat by die evangelie en die geloof pas nie. Mag dit nooit van ons waar word nie.

Maar ook: vir hulle wat die evangelie aanvaar het en die vrugte dra wat by sy liefde pas, vir hulle sal Hy groot dinge doen. En deur geloof in die enige en grote God, sal hulle vir berge beveel om hulleself op te tel en in die see te werp. Wat hierdie berge in ons lewens ook al mag wees!
Amen