Jesaja 7:1-9

Geloof wat nie praktiese geloof is nie, is geen geloof



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons teksvers lees: `Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie'. Nou nie juis 'n versie om vir iemand aan te haal wat in geloofstwyfel verkeer nie, juis omdat dit nie sal troos nie. Want dit help nie, broers en susters, om aan iemand wat twyfel alleen maar te sê `glo maar net' nie. Want hy wat twyfel weet nie van geloof nie, juis daarom twyfel hy/sy!

Tog, broers en susters, wil hierdie vers ons troos, ook ons wat soms in geloofstwyfel verkeer. Maar om te verstaan hoe hierdie vers wil troos, sal ons twee dinge moet doen: Eerstens, wat die geloof is wat Jesaja hier van praat, en, tweedens, in watter omstandighede/konteks Jesaja hierdie uitspraak maak.

Die hele Ou Nabye Ooste was in die agste eeu voor Christus in afwagting oor wat die volgende politieke skuif so wees. Assirië was basies baas oor almal, soos byvoorbeeld oor die Arameërs van Damaskus en die Jode van Samaria/Efraim. Enkele kleiner gemeenskappies het hierdie baasskap/oorheersing tot op hierdie stadium nog ontglip, soos byvoorbeeld Juda, van wie Agas op daardie stadium koning was.

Die meeste volkere en volkies het logies nie van hierdie oorheersing gehou nie, en toe dit vir hulle lyk of daar so effens verslapping in die beheer, administrasie en militêre krag van die Assiriërs kom, het 'n paar van die kleiner moondhede die kans gesien om die Assiriese juk af te skud. Maar dan moes almal saamstaan, ook Juda.

Maar Agas wou nie. Hy was nie lus om kragte te meet met Assirië nie. Maar Resin, koning van Damaskus, en Peka, koning van Samaria, het hulle nie so maklik van stryk laat bring nie, want hulle het Juda se troepe nodig gehad. Toe maak hulle plan: die beste sal wees, besluit hulle, is om eers Juda in te val en Agas te vervang met 'n eie dienswillige, Ben-Tabeal. En dan kan al drie saam Assirië aanvat.

En Agas krimp ineen, sy hart het gebewe soos die bome in 'n bos voor 'n sterk wind, vertel Jesaja. Hy het besef: oorlog lê voor die draai. En omdat watervoorsiening een van die grootste probleme in toentertydse oorloë was (ons ken mos die spreekwoord: sny sy water af), besluit Agas om onmiddellik sy watervore in die Bleikveld te gaan inspekteer.

En terwyl Agas so loop oorweeg hy sy opsies: hy kan met Resin en Peka inval, maar dit wil hy nie, hy is te bang vir Assirië. Of hy kan solank sy soldate opstel en Resin en Peka aanvat, maar hoeveel van sy eie soldate is nie dalk Tabael-ondersteuners nie. Of miskien moet hy aan Assirië die boodskap van die komplot teen hulle deurstuur. Dan sal hulle miskien hom dadelik kom help. En al word hy dan ook maar 'n vasaalstaatjie van Assirië, sal hy ten minste vry uitkom.

En terwyl Agas so langs die watervoor loop en dink, kom hy vir Jesaja, en Jesaja se seun Sear-Jasub, tee. En Jesaja se boodskap aan hom is baie duidelik: bedaar, moenie bang wees nie. En onthou: as jou geloof nie standhou nie sal jy nie standhou nie.

Dit laat 'n mens dadelik die vraag vra, broers en susters, maar wat moet Agas glo? Eenvoudig: dat die Here alleen God is, en dat hy beloof dat niks gaan en sal gebeur nie (vers 7). Wat meer is, God sê dat Hy daarvoor sal instaan. Hoekom sê ons so?

Omdat Agas reg voor sy oë 'n bewys/versekering gehad het, in die vorm van Jesaja se seun, Sear-Jasub. Sear-Jasub, broers en susters, beteken letterlik Oorblyfsel-Kom-Terug. En staan dus ook vir 'n bepaalde manier van glo: selfs al sou watter lot Israel tref, sal hulle nooit uitgewis word nie. Daar sal altyd oorlewendes wees, altyd oorblyfsels wees om weer aan te gaan.

Daarom vra Jesaja hier vir Agas: waarom en vir wie is jy dan nou eintlik bang? Hierdie twee koninkrykies. Kyk mooi Agas, jy dink hulle is vuur en vlamme, maar eintlik rook hulle maar net. Moenie laat die rook jou oë laat traan dat jy miskyk wie God is en wat Hy kan doen nie. Kom dus tot ruste en sien alles in die regte perspektief. Jou angs laat jou van 'n rokie 'n geweldige bosbrand maak.

Maar as jy My nie vertrou nie, as jy toelaat dat angs jou oë verblind, sal jy nie alleen die verkeerde besluite neem nie, maar jy sal ook verlore gaan.

2 Konings 16 vertel ons hoe Agas besluit het, broers en susters. Sy wantroue en sy ongeloof het sy angs so hoog opgestoot dat hy letterlik na Assirië gehardloop het.

Wat kan ons hieruit leer, broers en susters? ten minste dit: geloof wat nie uitgeleef word nie, is van geen waarde in 'n tyd van krisis nie. Dieselfde geld vir geloof wat ewe skielik in 'n krisistyd aangeleer word — ook dit slaag nie.

Want angs en geloof kan nie saam gaan nie. Hoekom nie? Want angs verblind. Maar geloof laat sien. Angs laat ons alles net swart en negatief sien, geloof laat 'n mens ook die positiewe sien. Verder, wil ek sê, benewel angs die brein, terwyl geloof ruimte skep vir nugtere denke. Angs laat ons sê: daar is net een pad, die afdraande pad, die pad van ondergang. Geloof laat ons sê: ek sien dalk nou net een pad, maar by God is daar nog baie ander paaie, ek sien nou net een moontlike oplossing, maar ek weet, God weet van baie meer.

Verder, broers en susters, het angs die manier om 'n mens altyd die gevaar reg voor die deur te laat sien. Geloof, egter, laat ons die gevaar teen die agtergrond van die toekoms sien, want geloof sien altyd vir Oorblyfsel-Kom-Terug aan die hand van Jesaja. Dus: geloof sien die gevaar, maar sien ook God saam met die gevaar. Of anders gesê: die geloof leer 'n mens dat alles in die hande van God is, soos Oorblyfsel-Kom-Terug hand in hand met Jesaja staan, en omdat alles in die hande van God is, ook die toekoms in sy hande is. En omdat die toekoms in God se hand lê, skep geloof ook ruimte vir kalmte.

Geloof maak 'n mens dus nie blind, soos baie mense sê nie. Geloof is ook nie die sogenaamde opium vir die volk, soos ander sê nie. Nee, geloof is 'n lewenswyse. 'n Lewenswyse wat gegrond is op die feit dat God regeer. 'n Lewenswyse waarvan deel is dat ek God met my lewe vertrou. En vertroue, broers en susters, weet ons, kan net gekweek word. Daarom is geloof ook oefening, waar ek elke dag my in Sy hande plaas en later begin agterkom: maar ek kan maar vertrou, want kyk hoe het God my behoed en bewaar.

Juis daarom, broers en susters, kan geloof nie krisisgeloof wees nie, kan geloof nie in die krisisuur aangeleer word nie, is geloof nie 'n stukkie noodhulp of 'n brandtrap nie. Dit het ons by Agas gesien. Want wie 'n ander nie werklik vertrou nie, ook vir God, het geen ander keuse as om op homself staat te maak nie. Dit is net logies. Want na wie gaan jy as jy niemand kan vertrou nie? Net jyself bly oor.

Wie God dus nie vertrou met sy lewe nie, kies dus daarom altyd in die krisis vir homself, en dus ook teen God. Om anders te kies, moet 'n mens God dus vertrou. Hierdie vertroue kan alleen aangeleer word. Daarom is geloof iets vir die praktyk. Vir elke dag, en nie maar net Sondae nie. Maar ook in elke situasie, en nie net in sommiges nie.
Amen