Johannes 6:1-15

God is getrou, al is ons nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die afgelope tyd het daar 'n aantal stemme in die pers en elektroniese media opgegaan dat die tradisionele kerke in 'n krisis verkeer. Redes vir hierdie krisis is onder andere dat daar 'n beweging weg van tradisionele kerke is omdat lidmate nie meer aangespreek voel deur ons wyse van kerkwees nie. Verder word gesê dat die tradisionele kerke te veel na binne gerig lewe, die lidmaat as moderne en mondige mens nie verstaan en daarom nie kan akkommodeer nie, dat die kerk byvoorbeeld nie bereid is om die kritiese vrae wat lidmate deesdae oor God, die Bybel en die kerk het (soos onlangs die van Ruda Landman) aan te spreek nie. Ander weer sê die krisis kan gesien word in swak erediensbywoning, dat die kerk wêreldvreemd geword het, arrogant is, 'n besliste gebrek aan sendingywer toon, nie meer priesterlik-profeties optree nie, en sy gebrek aan visie veral laat blyk uit die feit dat die kerk hom meestal met onbenullige en irrelevante kwessies besig hou. In kort: die kerk, sê baie, is verlore, en sal nie meer vir lank bestaan nie.

Almal argumente, broers en susters, wat ek meen die kerk vir 'n slag goed na kan luister en aandag aan kan gee. Maar, in dieselfde asem, almal argumente wat een baie belangrike saak nie in ag neem nie. En dit is die feit dat God se getrouheid, God se sorg, God se medelye, God se teenwoordigheid by ons en in ons, en ook in die kerk, nog nooit afgehang het van sy kinders se getrouheid, of die aantal gebreke in ons as sy kinders nie.

God bly getrou, al bly ons nie. Wanneer moed by ons ontbreek, ontbreek dit nie by God nie. Inteendeel. God het 'n geskiedenis daarvan gemaak om mense te gebruik ten spyte van mense en al hulle gebreke.

Ons gelese gedeelte van vanoggend is maar net nog 'n voorbeeld daarvan. Die dag begin, volgens Johannes, met die nuus dat Johannes die Doper dood is. Dan volg die vertelling van die dissipels se terugkeer vanaf hulle kort maar baie suksesvolle reis waar hulle gepreek, duiwels uitgedryf en mense gesond gemaak het. Saam met hulle kom 5000 mans en hulle vrouens en kinders. Jesus probeer wegkom van die skare om oor sy vriend te gaan treur en 'n bietjie alleen by sy dissipels te wees, maar in plaas daarvan is daar nou 'n skare mense by Hom.

Dan sien ons leer Jesus hulle, soos sy gewoonte was, waarna Hy na Filippus draai en vra: `Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?' Hou nou in gedagte, broers en susters, dat Filippus kort tevore besig was om duiwels uit te dryf en siekes gesond te maak. 'n Mens sou daarom verwag dat hy optimisties sou wees. ''n Bietjie geloof aan die dag sou lê wat betref die probleem wat hulle hier in die oë staar, per slot van rekening het hy die afgelope aantal weke saam met Jesus mos gesien hoe die onmoontlike telkens gebeur het.

Maar hoe reageer Filippus? Hy klink presies soos al die doemprofete wat die kerk wil afskryf. Hy is bewus van die probleem, maar het geen idee wat die oplossing is nie. Ons sal 'n maand lank met werk, Here, sê hy, om net 'n stukkie brood vir elkeen van hierdie mense te kan gee.

Hy kan dus statistieke aanhaal, hy kan syfers uitryg, maar met geen oplossing vorendag kom nie. Wat meer is, alhoewel die antwoord op gebed reg voor hom staan, bid hy nie eers nie.

Net so ontstellend is die ander dissipels se reaksie. Beslis nie optimisties nie want hoor wat sê ulle: `Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al laat. Stuur die mense terug sodat hulle op plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan gaan koop'. Dus: as geloof 'n kers was, was hulle in die stikdonker.

Andreas, broers en susters, sien ons, probeer darem, al is sy geloof maar klein. Want kyk wat sê hy: `Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies. Maar wat is dit vir so baie mense?' Dus: ten minste 'n idee, maar ook maar geen geloof nie.

Ek dink, broers en susters, dat al die doemprofete wat die kerk, die geloof, en alles wat daarmee saamgaan, so maklik wil afskryf, daardie dag daar op die heuwel baie tuis, met 'n siniese glimlag van `ek het julle mos gesê' op die gesig, sou gevoel het.

Wat doen God, broers en susters, wanneer sy kinders so swak is? Wanneer sy kinders se geloof begin wyfel? Wanneer sy kinders begin moed opgee? Wanneer sy kinders begin sê: dit is verby met die kerk, verby met die geloof, verby met ons, want kyk maar net na ons omstandighede?

Skryf Hy ons af? Nee. Wat Hy wel doen beskryf Johannes soos volg: `Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvor gedank en dit uitgedeel vir die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê'.

Toe die dissipels nie gebid het nie, het Jesus gebid. Toe die dissipels God nie gesien het nie, het Jesus na God gegaan. Toe hulle swak was, was Hy sterk. Toe hulle geen geloof gehad het nie, het Jesus nie getwyfel in die liefde van sy Vader nie.

Maar Hy het ook meer gedoen. Dit wat Hy nog meer gedoen het, vertel Matteus 14:19 so: `Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee'.

Dus, eerder as om hulle te vermaan, te bestraf, te sê hulle geloof is te klein, of hulle selfs af te skryf, steek Hy hulle in die werk.

God, broers en susters, doen vandag nog presies dieselfde. As ons begin twyfel oor so baie dinge, oor die kerk, die geloof, ons gemeente, ons toekoms, ons kinders se toekoms, ons omstandighede, ons werk, dan sê Hy vanoggend vir ons:

Kyk na hierdie tafel. Hierdie tafel is die bewys van my liefde vir julle. Hierdie tafel is 'n bewys dat Ek getrou bly aan my beloftes. Hierdie tafel is die teken van die ewige verlossing wat vir almal beskikbaar is.

Wat meer is: desondanks julle gebreke, somtydse gebrek aan geloof, al julle foute, alles wat julle kortkom, julle oortredings, of wat ook al, nooi Ek julle weer uit. Kom, en kom ontvang die vergifnis, kom en word weer nuut gemaak, kom en kom kry die lewe.
Maar ook: staan van hierdie tafel af op, en wat julle hier ontvang het van my, gaan deel dit uit aan ander. Julle ontvang genade, vergifnis, beloftes van trou, My teenwoordigheid, My geduld, noem maar op. Gaan en gaan deel dit uit. Gaan doen aan ander soos Ek hier aan julle doen.

God, broers en susters, is getrou, al is sy kinders nie. Dit is immers wat God God maak. Maar ook: dit maak ons toekoms, en die kerk se toekoms, 'n toekoms waarin God teenwoordig is en sal wees. Wie dit miskyk, sal altyd op 'n heuwel vol ongeloof staan.
Amen