Johannes 6:22-29

God se liefde: word dit ontvang of verdien?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ongeloof, broers en susters, het soms eienaardige kinders. Kom ek noem u drie denkbeeldige voorbeelde:

  • Daar was die vrou wat bang was om te vlieg. Na die vlug het iemand haar gevra of sy bang was. Haar antwoord: `Nee, ek het net nooit op my sitplek gaan sit nie';
  • daar was die koning wat sy dienskneg beveel het om sy kasteel op te pas terwyl hy op reis was. Die koning het 'n valk gehad. Die dienskneg het nog nooit 'n valk gesien nie, en toe hy die koning s'n sien, het hy gemeen dit is 'n misvormde duif. Toe neem hy die valk, knip sy kloue en vyl sy snawel dat die valk meer soos 'n duif kan lyk; en
  • daar was die aantreklike man wat verlief geraak het op 'n eenvoudige meisie. Hy was belangrik, sy nie. Sy was ook nie mooi nie. Daarom het sy sy liefde nie vertrou nie. Toe hy haar vra om te trou, het sy ingewillig, maar op een voorwaarde: sy sou met hom trou as sy elke dag die vloere kon was, die huis kon skoonmaak en vir hom kos kon kook. Sy wou sy liefde verdien, want sommer net so kon hy haar mos nie liefhê nie. Later het sy hom verlaat, want so 'n belangrike mens, het sy gereken, kon nie haar as eenvoudige sommer net liefhê nie.

Drie mense, broers en susters, wat nie kon glo nie. 'n Vrou wat nie 'n vlug kon geniet nie omdat sy die vliegtuig nie vertrou nie. 'n Man wat 'n mak valk vermink omdat hy nog nooit 'n valk gesien het nie. En 'n vrou wat die liefde van haar lewe verloor omdat sy probeer verdien het wat haar man haar wou gee.

Toegepas op geloof in God, broers en susters, sou ons hierdie drie mense soos volg kon beskryf (en dalk ook sommer dadelik onsself in hulle herken): daar is mense wat sê hulle glo, maar weens hulle somtydse ongeloof kan hulle nooit in die palm van God se genadehand ontspan nie, wat altyd en ewige slyp, vyl en knip aan die omvang en vorm van God se liefde, wat van God se liefdesaanbod hoor, en in plaas daarvan om dit met oorgawe te aanvaar, altyd op die uitkyk is vir die vangplekke en die bedekte agendas.

Hierdie gevoelens wat ons soms het, broers en susters, word pragtig vasgevang in Jesus se woorde in Johannes 6:27-29: ‘Julle moenie werk vir voedsel wat vergaan nie, maar vir voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen’.

Hoe moet ons hierdie woorde van Jesus verstaan? Jesus, broers en susters, reduseer die worstelstryd van hierdie lewe tot net twee sake: ons strewe óf na kos wat sleg word, óf na kos wat hou. Maar watter kos is hier ter sprake? Waarvan praat Jesus hier?

Kos wat sleg word, is enigiets wat tydelik is: sake soos prestasie, toekennings, lof, eer en erkenning. Enigiets wat in die graf bly, is kos wat sleg word. Kos wat hou, daarenteen, is die dinge wat ewig is. Dit is die dinge wat jy alleen van God kan kry. Jy kan dit nie koop nie, jy onderhandel nie daarvoor nie, jy verdien dit nie en kan dit nooit verdien nie. Want dit is 'n geskenk. 'n Geskenk wat vra: klim net op die vliegtuig en geniet die reis, maak net die valk los en laat hom vlieg, aanvaar net jou man se liefde en geniet dit.

Of, as dit by God se liefde kom: glo net God het jou lief, aanvaar dat jy in die palm van sy hand is en geniet dit, hou op om in terme van jou liefdesbegrip aan God se liefde vir jou te slyp en te vyl, aanvaar sy aanbod en vergeet van die sogenaamde vangplekke. Glo net God het jou lief. Dit is genoeg om te strewe na kos wat altyd hou.

In ons gedeelte, broers en susters, sien ons egter dat Jesus se toehoorders dit nie verstaan het nie. Want kyk wat vra hulle: `Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?’

Hierdie vraag, broers en susters, om dit so sag as moontlik te stel, is 'n vraag van ongeloof. Want dit is 'n vraag wat eintlik wil sê: `Ons weet U het vir ons gesê dat U vir ons brood sal gee wat ewig is, dat U vir ons daardie brood sal gee wat altyd sal hou, maar eerlik nou — hoe verdien ons dit, hoeveel kos dit, hoeveel moet ons betaal om dit te kry. Waar moet ons tou staan, en hoe lank moet ons in daardie tou staan. Want dit klink darem te maklik’. Inderdaad, broers en susters. Hulle het Jesus misverstaan. Want het Jesus nie duidelik gesê: `dit sal die Seun van die mens vir julle gee nie?’

Kom ons maak van 'n eietydse voorbeeld gebruik, broers en susters, om dit dalk beter te verduidelik: veronderstel 'n vriend van u verjaar, en u gee vir hom 'n geskenk. Kom ons sê maar 'n das. U vriend maak die pakkie oop en kyk daarna, duidelik ingenome met die geskenk. Maar dan haal hy sy beursie uit, en vra: `Hoeveel skuld ek jou?’

Jy dink hy maak 'n grap en daarom antwoord jy. `Nee man, dit is 'n geskenk. Jy hoef nie te betaal nie’. Maar hy antwoord: `Goed, as jy nie geld wil hê nie, kan ek dan maar vir jou so bietjie in jou tuin kom werk om die das te verdien?’ Nou is jy stomgeslaan, en jy antwoord. `Nee man, hoor my, dit is 'n geskenk, jy kan mos nie daarvoor wil betaal nie’. Maar weer antwoord hy: `Miskien as ek vir jou ook 'n das koop, sal my skuld dan vereffen wees?’.

Teen hierdie tyd, broers en susters, sal 'n mens miskien al so 'n bietjie beledig voel. Hoekom? Want deur jou geskenk, gegee uit liefde en as vrye gawe, het jou vriend probeer om jou geskenk te koop. Hy het jou genade geminag. Maar bo alles: hy het jou beroof van die vreugde om te gee.

Soos ons dikwels, broers en susters, God beroof. God beroof van sy vreugde om vrygewig en onvoorwaardelik te gee. Want ook ons wil God soms probeer betaal vir sy goedheid. Ons wil sy genade verdien. Ons sal enigiets doen, solank ons dit net nie verniet moet neem nie. Dink maar gerus hier aan u eie voorbeelde van hoe ons dit soms doen.

Die punt is egter, broers en susters, en miskien stel ek dit te sterk: het ons al daaroor gedink watter belediging dit vir God moet wees as ons Hom probeer betaal vir sy goedheid? God het 'n blymoedige gewer lief, leer die Bybel ons, juis omdat Hy die blymoedigste Gewer is. As ons, wat sleg is, dit geniet om geskenke te gee, hoeveel te meer nie Hy nie? En as ons, wat mense is, beledig voel as mense ons geskenke tot omkoopgeskenke wil verlaag, hoeveel te meer nie God nie?

Maar kom ons kom terug tot die gedeelte wat ons gelees het. Jesus se toehoorders het gevra: `Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?'. En wat antwoord Jesus? Julle moet meer bid, julle moet meer gee, julle moet gehoorsamer lewe, julle moet die Bybel memoriseer? Nee! `Wat God van julle verlang’, sê Hy, `is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het’ Dan ontvang jy die ewige lewe.

Nou kan u gerus maar u kop skud, broers en susters, vir hierdie antwoord van Jesus. En u kan sommer maar vra ook: `Maar beteken dit dat ek dan geen goeie werke hoef te doen om in die hemel te kom nie?’ Die antwoord is nee. Goeie werke is 'n vereiste.

Of dalk wil u vra: `Maar beteken dit dan dat ek in die hemel kan kom sonder 'n goeie karakter?’ Die antwoord hier is ook nee. 'n Onbesproke karakter is ook 'n vereiste. Ten einde hemel toe te gaan moet 'n mens goeie werke doen en moet jy 'n goeie karakter hê.

`Maar helaas’, broers en susters, antwoord Jesus ons hier by implikasie, `dit is juis die probleem. Jy het nie een van die twee nie. Goed, jy het dalk al mooi dinge in jou lewe gedoen. Maar jy het nog nie genoeg goeie werke om in die hemel te kom nie, al offer jy hoeveel op. Jy sal nooit genoeg hê nie. En ja: jy is 'n baie ordentlike mens, maar nie ordentlik genoeg nie. Want diegene wat God in die hemel sal sien, is nie die ordentlikes nie. Nee, dit is alleen die heiliges’.

En sonder geloof in God, sal jy nooit heilig wees nie. Daarom: om die ewige voedsel te ontvang, God se liefde, aanvaar dit net. Laat vaar jou goeie werke en aanvaar Jesus se werk aan die kruis. Laat vaar jou ordentlikheid en aanvaar dat die heilige God jou ontsettend liefhet. En gaan staan voor God in die naam van Jesus, en nie in joune nie.

Is dit so eenvoudig? Ja, dit is, ek kan nie anders antwoord nie. Is dit so maklik? Ja, maar dit was nie vir God maklik nie. Want die kruis was swaar, die bloed was werklik, die prys buitensporig, sy Seun. Dit sou vir u en my bankrot gemaak het, en daarom het God daarvoor betaal. Daarom: noem dit eenvoudig, noem dit 'n geskenk. Moet dit net nie maklik noem nie. Noem dit liewer wat dit werklik is: genade.

En as jy verstaan hoe groot hierdie genade is, moet nie self genadeloos word deur my geskenk aan jou te minag nie. Moenie eers probeer om dit te verdien of daarvoor te probeer betaal nie. Want jy kan nie. En, bo alles: moet My nooit van die vreugde beroof om te kan gee nie.

Besef ons, geliefdes, dat dit dit is wat ons doen wanneer ons soms nie God se genade as genade, as vrye gawe wil aanvaar nie? As ons nie rustig in sy hand van genade wil gaan sit nie? As ons aan sy liefde slyp en vyl om dit te maak pas by hoe ons liefhet? As ons dit wil verdien en nie wil geniet nie? Mag God ons ook hiervoor vergewe.
Amen