1 Konings 19:1-21

God se saak gaan voort



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons almal ken die verhaal van Elia baie goed. Of dan, die verhaal van Elia se sogenaamde ondergang. 'n Verhaal wat begin het waar Elia homself voor die magtige koning Agab bevind het en voorspel het dat daar die volgende paar jaar nie reën of dou sou val nie. Wat toe ook gebeur het. Dit is die verhaal van iemand vir wie die kraaie, op God se bevel, gesorg het. Die verhaal van iemand wat vir die we­duwee van Sarfat kon verseker: die meel in jou kruik sal nooit minder word nie, ook nie die olie in jou kan nie. Wat ook toe so gebeur het. Dit is ook 'n verhaal met 'n hoog­tepunt: by die Karmelberg het Elia 450 profete van Baäl en 400 van Asjera alleen aangevat en as 't ware alleen oorwin. Dus: 'n verhaal van iemand wat bereid was om onverskrokke na God te luister en te volg waar God beveel het.

Maar dit is ook 'n verhaal met 'n laagtepunt, broers en susters. Want die oomblik toe Elia hoor dat Isebel letterlik sy bloed soek, hardloop Elia die barre, troostelose woestyn in waar hy onder 'n besembos eindig met die woorde: `Nou is dit genoeg Here!. Laat my sterwe. Ek kan nie meer nie!'

Ek dink, broers en susters, dat dit ontsettend moet wees wanneer 'n mens se lewe so 'n punt bereik het. Waar iemand werklik meen dat daar niks meer op sy sakelys van die lewe iets oorbly wat die moeite werd is nie. Laat die bekendheid van hierdie verhaal nie laat ons hierdie moont­likheid miskyk nie. Mense kom wel soms by die punt wat hulle werklik meen dat die heel beste moontlikheid, inteendeel, dat die enigste en laaste moontlikheid totale oorgawe aan ellende, die dood is.

Maar goddank, broers en susters, God gee nie sommer met iemand boedel oor nie. Nie ons God vol liefde, genade en lankmoedigheid nie. Juis daarom skryf God ook hier nie vir Elia af nie, maar stuur Hy 'n engel om Elia te gaan bemoedig. Elia het gemeen sy pad het by die besembos doodgeloop, maar God maak daarvan 'n nuwe begin. Hy skuif die donker gordyne voor Elia weg. Hy maak vir hom nuwe deure oop. Want so is God: waar ons meen ons het onsself vasgeloop, ken Hy nog baie ander paaie.

Nou sou ons, broers en susters, vanaand die preek net hier kon eindig. Ons sou kon sê: die gedeelte leer ons dat ook ons besemboservaringe deur God omgekeer kan word. Dat ons oomblikke van boedel oorgee deur God as geleent­hede gebruik word om van voor af met ons te werk. Dat die einde van ons moontlikhede maar net die begin van God se moontlikhede is.

Die trooswoord van hierdie stukkie geskiedenis, broers en susters , lê egter veel dieper as bemoediging van God se kant af in ons oomblikke van neerslagtigheid. Baie, baie dieper.

Want Elia het in 'n sekere sin daar onder die besembos reg gehad. Sy moedeloosheid was nie maar net die gevolg van moeg word, luiheid of slapheid nie. Hy het rede gehad vir sy gemoedstoestand. Want dinge het maar sleg vir Israel gelyk. Isebel was goed op dreef wat haar skrikbewind betref. Niemand is oorgesien nie. Gaan lees maar gerus in Konings hoe sy byvoorbeeld aan Nabot se wingerd gekom het. Dit kon net sowel in een van ons koerante gestaan het. Eers word 'n vasdag uitgeroep, en Nabot word in die voorste gestoeltes geplaas. Toe word twee manne aangestel om hom voor almal valslik te beskuldig dat hy glo die koning sou vervloek het. Waarop hy dan met klippe doodgegooi is.

Wat kan 'n mens verwag van die toekoms as dinge soos hierdie, nogal gepleeg deur hulle wie in beheer van die land en godsdienstige sake is, aan die orde van die dag is? Dit lyk dus vir Elia of God se saak regtig skipbreuk gely het. Hulle het die verbond verlaat, sy altare is afgebreek en sy profete doodgemaak. En korrupsie vier hoogty.

Daarom broers en susters: hierdie vertelling gaan oor meer as maar net die boodskap dat God mense bemoedig in hulle oomblikke van neerslagtigheid. Dit gaan hier oor meer as maar net een persoon wat boedel wil oorgee. Dit gaan eerder oor die vraag: wat sal van God se saak word as niemand Hom meer dien nie? Wat sal van sy verbond oorbly as almal dit verbreek?

Of kom ons maak die vrae meer van toepassing op ons tyd: 'n mens sou allerlei parallelle kon trek tussen die situasie van Elia en ons situasie vandag. Ons bevind ons tans, broers en susters, meen ek, op 'n tog na die onbekende in hierdie mooi land van ons, 'n tog waar nie een van ons werklik kan sê waar ons gaan eindig nie.

Ook het ons geen waarborg uit die Bybel dat ons byvoorbeeld sal slaag met die herstel van die ekonomie, of dat ons die geweldsvlak merkbaar sal afbring nie.

Verder is die doemprofete volop, ook wat betref die toe­koms van die kerk. Mense wat, so lyk dit soms vir my, net die negatiewe en slegte wil raaksien, en miskien, as gevolg van hierdie ingesteldheid, nie meer die positiewe kan raaksien nie. Tydens die pas afgelope Algemene Kerk­vergadering was die vergadering vol van hulle (met alle respek).

Die kerk sal oor tien jaar nie meer lidmate oor hê nie. Ons sal nooit uit ons finansiële probleme kon nie. Gemeentes sal nie meer die heffing kan betaal nie. Ons kinders sal nie meer in die skool pertinent Christelik opgevoed mag word nie. Evangelisasie sal nooit op dreef kom nie. Die sendingaksie van die kerk het klaar misluk, en moet liewers toegemaak word. Die beroepafwagtende predikante sal geen beroepe ontvang nie. En so kan ek aangaan, broers en susters. Hierdie is maar net 'n paar negatiewe tone wat ek daar opgetel het (en daarmee wil ek nie sê dat daar net so baie, indien nie meer, positiewe dinge gebeur het nie).

Sal die kerk voortgaan, broers en susters? Sal God se verbond met sy kinders bly staan? Sal daar nog mense oor wees wat God waaragtig sal dien? Dit is die vrae vanaand op die tafel. En nou het Elia en, by implikasie ons, hulle reeds geantwoord. Hoe sou, meen u, God hierop antwoord?

Kom ek gee u Sy antwoord, 1 Konings 19:9: ‘EK sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie’. Ek sal 'n paar ware gelowiges laat oorbly. Ek sal my verbond in stand hou. Ek sal die geskiedenis van my heil, die geskiedenis van volkere en kerke, laat voortgaan.

Juis daarom God se woord aan Elia: ‘Wat maak jy hier. Elia?’ Waarom sit jy in sak en as? My saak gaan voort. Ek voer my planne uit, dwarsoor die ongeloof en teenstand van mense soos Agab en Isebel. Ek span menslike besluite in om my koninkryk te laat kom. Ek buig selfs menslike berekeninge om tot my voordeel. Maar my wêreld sal ek nie prys gee nie.

Dit is, broers en susters, hoe ek hierdie gedeelte, en trouens ook die trooswoord van die hele Bybelse boodskap verstaan: God se saak sal voortgaan. God sal nie die wêreld laat eindig in chaos waarin die mense dit dompel nie. Ook sal die magte van die wêreld, wie dit ook al mag wees, nie die laaste woord spreek nie. En wat meer: ook al die doemprofete in die Kerk, of dit nou ons Kerk of ander kerke s'n is, sal nie God se plan van koers af dwing nie.

Wat omdat God daarvoor sorg, soos Hy in die tyd van Elia by wyse van die 7000 oorgeblewe getroues gesorg het, sal God se saak voortgaan. Ek wil amper sê: juis dit is die enigste sekerheid wat 'n mens kan hê in die tye waarin ons leef. En hierdie sekerheid moet ons nie alleen van weet nie, ons moet dit glo, leef en uitleef.

Want, broers en susters, die feit dat ons oortuig daarvan kan wees dat God sy saak sal laat voortgaan, beteken beslis nie dat ons nie nou meer iets hoef te doen nie. Ons kan nie nou maar gaan sit en sê: is dit nie 'n wonderlike boodskap nie! God hou self sy kerk in stand! Hy sorg vir alles. Is dit nie wonderliker as wonderlik nie! Want as God alles self in stand hou, kan ek mos maar net rustig toekyk hoe God sy plan uitvoer!

Mag God ons spaar, broers en susters, dat dít nooit van u en van my gesê sal word nie. Ja die Here is God. Hy regeer. Hy is in beheer. Sy saak is gewaarborg. Maar dit beteken nie dat u en ek nie deur God gebruik wil word nie.

Want kyk wat sê God vir Elia in vers 15: ‘Daarom Elia, draai in jou spore om!’. Meld weer aan vir die diens van God. Gaan salf vir Gasael as koning oor Aram, en vir Jehu as koning oor Israel. En gaan salf vir Elisa as profeet in jou plek. Gaan gooi jou mantel oor sy skouers. Want God se saak gaan voort.

God, broers en susters, laat midde-in die krisis sy koninkryk kom. God hou Sy saak in stand. God hou sy kerk in stand. Hieroor is die gedeelte baie, baie duidelik. So was dit in die tyd van Elia, so is dit ook in ons tyd. Maar dan moet ook ons, soos Elia (figuurlik gesproke, maar in som­mige gevalle letterlik) ook in ons spore omdraai.

In ons spore omdraai en positief by God se plan betrokke raak. Dat ons sal bid vir God se kerk en Sy koninkryk, ook vir ons land. Dat ons ons doelbewus sal beywer vir die saak van God, maar ook vir die gemeenskap waarin ons leef. Dat ons die hande sal uitsteek na ander wat saam met ons in Christus as die enigste Verlosser glo, maak nie saak wie hulle is nie. Maar bo alles, dat ons elkeen onsself sal verbind tot diensbaarheid aan ‘n saak wat baie groter is as al die klein ou dingetjies wat ons soms so kinderagtig verdeel.

Ek wil afsluit met Hebreërs 12:3: ‘Wie die oog hou op Jesus Christus, die Begin en Voleinder van ons geloof, sal nie geestelik moeg word en uitsak nie’.

Sê dit vanaand weer vir uself. Gaan sê dit vir u kinders, Gaan sê dit vir die wat saam met u werk. God se koninkryk is 'n ewige koninkryk. En kom ons gaan leef so, positief, dat dit duidelik blyk dat ons deel daarvan is.
Amen