Hebreërs 11:1-3; 17-31

Is geloof nie maar net lafhartigheid nie?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons as Christene het die manier om vir mense wat erge hartseer of ellende beleef te sê: toemaar, al gaan dit nou so erg, al ervaar jy nou soveel teenspoed, eendag sal dit beter wees. Want eendag sal ons by God wees, en daar sal jy nie al hierdie hartseer en bekommernis hê nie.

Nou is daar mense wat beweer, broers en susters, dat juis hierdie beskouing van die wêreld en die mens se omstandighede Christene niks anders as lafhartige mense maak nie. Hoekom?

Want, sê hulle, al wat hier gebeur is dat Christene, omdat hulle nie meer al die stampe en stote van hierdie wêreld kan vat nie, nou 'n ander wêreld, eendag vorentoe uitdink en dan so aan die gang bly in hierdie wêreld deur te hoop en alles te verwag van wat eendag sal kom.

Met ander woorde, vir die Christen, sê van hierdie mense, is die geloof niks anders as 'n verdowingsmiddel nie, so 'n soort van 'n doepa. Ons kyk rondom ons, ons sien dat alles maar moeilik gaan, miskien te moeilik, en dan sê ons vir mekaar: toemaar, eendag. En dan voel ons beter.

Maar die implikasie van hierdie houding vir die Christen, sê hierdie mense, is baie duidelik: hulle het nie meer moed oor om hierdie lewe werklik te leef nie. Deur hierdie houding sê hulle dat daar nie meer hoop oor is in hierdie wêreld nie. Eintlik: dat hierdie lewe, die lewe hier en nou, nie meer sin kan maak nie. Want sê, hulle, `toemaar al is dit hier hoe woes en erg, al is die teenstand hoe erg en die swaarkry hoe vreeslik, eendag vorentoe, daar sal dit anders wees'.

Met die gevolg dat almal nou so hard probeer om by die eendag daar, daar in die hemel uit te kom waar alles goed en reg sal wees, dat die wedloop na die hemel 'n saak van elke man vir homself word. Dat elkeen so vir homself begin sorg dat hulle die wat saam met hulle lewe, en selfs die wat saam met hulle Christene genoem word, nie meer raaksien nie. Met ander woorde: dat alle Christene daarom in wese egoïste is. Hulle sorg elkeen net dat hulle eendag in die hemel kan kom.

Nou moet ek erken, broers en susters, dat as geloof maar net 'n vlug uit vrees vir hierdie lewe was, maar net 'n hoop op eendag vorentoe, sou ek nie veel erg daaraan gehad het nie. En as geloof net was om om vir myself te sorg om eendag in die hemel te kom, so 'n traak-my-nie-agtige houding oor die leed en nood van andere (solank ék maar net gered word), sou ek dit met veragting verwerp. Want ware geloof lyk nie so nie. Altans, dit is nie die geloof waarvan die Bybel getuig nie.

En dit is ook nie die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het nie. Hoewel die evangelies baie duidelik is oor die feit dat Jesus, net voor sy dood, benoud was oor wat op Hom gewag het, het Hy nie omgedraai en weggevlug nie. Ja, van sy dissels het weggevlug, maar Jesus het sy dood tegemoet gegaan met die wete en geloof dat God Hom ook in daardie krisisuur sou bystaan. En selfs toe Hy gesterf het, het Hy 'n eenvoudige Joodse gebed gebid: `Vader, in U hande gee Ek my gees'. Natuurlik, broers en susters, is gelowige mense soms bang, natuurlik het hulle ook soms vrese. Maar geloof haal die angs uit vrees omdat die gelowige kan hoop dat God in die krisis ook sal duidelik maak wat die sin van alles is.

Hiervan getuig Hebreërs 11 pragtig. Deur die geloof, staan daar, het Abraham, toe Hy deur God op die proef gestel is, Isak gaan offer. Hy het nie gesê: dit is 'n bietjie erg, maar toemaar, eendag sal dit beter wees nie. In sy donker uur het Hy in geloof bly hoop dat God uitkoms sal gee, en daardie hoop het hom ruimte gegee om te handel, om te lewe, en God het Isak aan hom teruggegee.

Hierdie regte geloofshouding word nog duideliker in die geval van Moses se ouers. Van Moses sê Hebreërs: `Deur die geloof is Moses na sy geboorte vir drie maande deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was, en omdat hulle nie die gebod van die koning gevrees het nie. Toe het hulle in geloof, in die hoop en vertroue dat God hier en nou sal handel, nie gesê: laat Moses maar gedood word, want gelukkig, eendag vo­rentoe sal alles beter wees nie. Nee, hulle het die seuntjie vir drie maande lank weggesteek. Hulle angs was weg. Natuurlik was hulle bekommerd, maar hulle was nie so beangs dat hulle maar net hande in die lug gegooi het nie. Hulle het die koning se gebod nie gevrees nie, en in die afwesigheid van vrees kon hulle handel: hulle het 'n mandjie met pik bestryk.

En hierdie einste seuntjie, omdat sy ouers bereid was om hier en nou te hoop op uitkoms, was soos iemand wat elke dag `die Onsienlike gesien het ’, soos iemand wat God elke dag letterlik langs hom en by hom beleef het. Nie dat hy sonder foute was nie, wat vir ons 'n troos was. Want ons weet mos dat hy op 'n keer op die rots geslaan het en pleks daarvan om met dit te praat, en dat hy uit teleurstelling en woede die kliptafels waarop God die wet geskryf het stukkend gegooi het. Maar omdat hy op God hier en nou gehoop het, was hy in staat om later die volk tot by die beloofde land te lei.

En dan was daar Ragab, die nagvrou. Deur die geloof dat God tog hier en nou selfs die sondaar tegemoet kan kom, sê Hebreërs, het Ragab die spioene in vrede ontvang. Ragab, wat gehoor het van die wonderdade wat God in die lewe van die volk Israel gedoen het — sleg soos sy was — het gehoop dat God haar mense hier en nou sou spaar. En deur die rooi lintjie by die venster uit te hang, het sy so in die geslagsregister van Jesus beland.

Dus, broers en susters: in al hierdie mense, soos in die lewe van Jesus, was daar 'n patroon van optrede wat presies dieselfde verloop het. Deur die geloof het hulle die gevare rondom hulle raakgesien. Maar hulle het nie hande in die lug gegooi en gesê: toemaar, eendag sal dit beter wees nie. Nee. Hulle het die gevare raakgesien, maar nie beangs geword nie. Want hulle het op God se uitkoms hier en nou gehoop. Gehoop en vertrou, soos Hebreërs dit stel, op die dinge wat hulle nog moes sien. En so het daar vir hulle ruimte en kalmte oopgegaan om rustig te kon dink en handel. En dit is geloof.

Geloof wat nie deur lafhartigheid gekenmerk word nie, geloof wat nie bestaan uit 'n vlugreaksie uit hierdie wêreld nie. Geloof wat nie bestaan uit maar net 'n hoop op eendag vorentoe nie. Want 'n geloof wat dit doen, broers en susters, is in wese eintlik maar net bygeloof.

En laat ek miskien bysê, broers en susters, dat dit merkwaardig is hoe weinig die Bybel in elke geval praat oor die `ewigheid anderkant die graf ’. Dit is so asof die Bybel wil sê dat daardie `anderkant ’ eintlik maar net 'n bonus is, dat ons verantwoordelikheid om werklik voluit te lewe hier, by vandag en môre lê, dat die ewige lewe reeds hier begin, en nie maar net eendag vorentoe nie.

Nie dat ek hiermee wil sê, broers en susters, dat 'n mens nie byvoorbeeld so effens ongemaklik mag word by die gedagte aan die dood en die lewe anderkant hierdie lewe nie. Daar is baie mense, selfs Christene, wat bang is vir die dood. Geloof neem nie sommer hierdie bangheid weg nie. Maar dit haal die angs daaruit. Want ek weet: ook ek sal daar kan sê: Vader, in U hande gee ek my gees oor.

Ware geloof, broers en susters, wat angs uit die lewe haal, wat die houding `ons kry nou swaar, alles is nou verlore, maar eendag, dan sal dit beter wees ’, nie uitleef of aanhang nie, is 'n geloof wat my leer om die lewe en nou ernstig op te neem. Dit is 'n geloof wat, omdat daarvan deel is die hoop en vertroue dat God my hier naby sal wees, ruimte kry om rustig alles te deurdink, op God te hoop en aan te gaan met hierdie belangrike lewe.

Daarom het ware geloof met die lewe hier en nou te make. Daarom het Jesus soveel klem gelê op daadgodsdiens. Ons ken sy woorde: ek was honger en naak, ek was in die gevangenis, ek het langs jou gebly as jou buurman en jy het my nie eers gegroet nie, ek was die een wat saam met jou in die huis as jou kind gebly het maar jy het nooit vir my tyd gehad nie, ek was die een wat soveel keer met jou gepraat het, maar jy het nooit werklik geluister nie, en so kan ons aangaan.

Is ons geloof, broers en susters, 'n geloof wat maar net hoop op eendag vorentoe, 'n geloof waar ek net myself raaksien om darem gered te word vir daardie eendag vorentoe. Dit, sê die Bybel, is bygeloof.

Ware geloof, daarenteen, is geloof wat die angs uit hierdie lewe haal, is geloof wat glo God help ook hier en nou, is 'n geloof wat hoop op die uitkoms wat God sal gee, al word dit nie nou al gesien nie, is geloof wat ruimte gee om rustig te dink en te handel, en so te handel, dat ons godsdiens ook 'n daadgodsdiens is.

Is dit hoe u en my geloof lyk?
Amen