1 Korintiërs 13:1-13

Is geloof niks meer as 'n ontvlugting van ons probleme nie?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Enige iemand wat die filosofie as vak bestudeer het, sal die naam Betrand Russel ken, en veral sy baie bekende opstel ‘Why I am not a Christian’ (Hoekom ek nie 'n Christen is nie). In hierdie opstel het hy oor die Christelike geloof onder andere die volgende gesê: ‘Ek dink solank daar oorloë en depressies is en baie mense ‘n baie ongelukkige en moeilike lewe lei, godsdiens altyd sal bly voortbestaan. Want sulke mense het God nodig om te ontsnap uit al hulle ellendes. Maar, sodra dinge oor die wêreld, of dan met sekere mense in die besonder, baie goed begin gaan, dan sal godsdiens uitsterf. Want sulke mense het God nie meer nodig nie’.

Interessant is natuurlik dat ons in die boek Job presies die teenoorgestelde argument uit die mond van God se teenstander, die duiwel, hoor wanneer hy vir God sê: Job glo net in U omdat dit met hom so goed gaan. Sodra U hom egter met so ‘n bietjie teenspoed en swaarkry teister, sal Job sy godsdiens afsweer en nie meer in U glo nie.

Dus, volgens Russel gaan godsdiens en teenspoed hand aan hand (waar daar swaarkry is daar glo mense), en volgens die duiwel in Job gaan God en voorspoed hand aan hand (daar waar dit goed gaan daar glo mense). Of anders gesê: volgens albei is godsdiens ‘n ontvlugting, ‘n illusie waaragter iemand wegkruip. Volgens die een sal teëspoed en volgens die ander sal voorspoed hierdie illusie ontmasker, en so sal godsdiens verdwyn.

As ‘n mens nou mooi gaan nadink oor die standpunt van Russel en die duiwel in Job, moet ‘n mens ongelukkig sê dat albei in sommige gevalle wel ‘n korrekte oordeel fel oor die geloof van mense. Want in sommige gevalle is dit so dat mense hulle geloof in tye van teëspoed verloor of versaak. Daar is byvoorbeeld talle verhale van mense wat, tydens die 1933-depressie en droogte op hulle hekke geskryf het dat God nie meer daar is nie. Met ander woorde, teenspoed het hulle godsdiensmaskers afgetrek.

En dan is daar natuurlik ook mense wat hulle geloof verloor wanneer dit baie voorspoedig begin gaan. Ons ken hierdie mens en sy redenasies: noudat ons so voorspoedig is en alles self kan doen, en self kan sorg dat alles goed, lekker en reg bly, kan ons eintlik sonder God klaarkom. Ons moet mense net leer om self hulle verantwoordelikhede na te kom en self hulle oorblywende klein probleempies op te los. Dus: God is eintlik nie nodig nie.

Hierdie argument teen die Christelike geloof, broers en susters, sou honderd persent reg en waar gewees het as godsdiens en geloof presies dieselfde ding was. Godsdiens en geloof staan natuurlik in verband met mekaar, maar dit is nie dieselfde ding nie. Nou weet ek maar te goed broers en susters, dat hierdie saak wat ek vanaand aan die orde stel en wil verduidelik, so met die eerste en vinnige hoor daarvan ingewikkeld en baie moeilik klink. Maar kom ek probeer om dit so eenvoudig as moontlik te doen.

Die godsdiens van sommige mense, broers en susters, het nogal soms die manier om iets soos 'n versekeringspolis te wees, 'n soort van gebruik van God. As godsdiens maar net 'n manier is om uit jou probleme te ontsnap, 'n soort van ontvlugting uit jou eie probleme, daar waar jy jou probleme hanteer deur te sê dat, al gaan dit hoe moeilik, daar darem nog 'n God is wat miskien sal help, dan sal godsdiens verdwyn sodra al die probleme verdwyn. En as godsdiens deel van iemand se lewe is net om te verseker dat dit altyd met jou goed sal gaan, dan sal God in jou lewe en godsdiens verdwyn sodra die voorspoed wyk.

Die feit van die saak is egter, broers en susters, dat wanneer 'n mens se godsdiens net daar is dat God jou óf uit jou probleme moet help óf moet sorg dat alles altyd voorspoedig bly, God vir so iemand iets soos 'n kruidenier geword het. Dan word God die een by wie jy jou bestelling plaas, en sodra die bestelling nie reg en stiptelik afgelewer word nie, dan verander jy van kruidenier. Só 'n God, broers en susters, is inderdaad dan niks meer as 'n plaasvervanger van mense se behoeftes nie.

As ek die Christelike evangelie reg verstaan, broers en susters, is dit egter hoegenaamd nie waaroor dit in die Christelike godsdiens en geloof gaan nie. Om die waarheid te sê, Russel se uitspraak dat godsdiens sal verdwyn sodra mense se probleme verdwyn, is nie so nuut soos hy dink dit is nie. Want glo dit as u wil, ook Paulus het lank tevore iets soortgelyks gesê. die gawe om God se boodskap te verkondig, sê hy byvoorbeeld in vers 8, sal verbygaan. So ook die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, asook die gawe van kennis. Want, sê hy, ons ken nou nog net gedeeltelik, en wanneer God eendag kom, dan sal alles wat ons net gedeeltelik geken het, uitgedien wees.

Maar, sê Paulus, daar is ten minste drie dinge wat nooit sal vergaan nie: vertroue op God (geloof), die uitsien na die dinge wat God vir ons beloof het (hoop), en die liefde. Met ander woorde, broers en susters, wat Paulus hier wil sê (dit is altans hoe ek dit verstaan) is die volgende: die dinge wat ons soms meen ons godsdiens in 'n baie hoë mate uit bestaan, te wete eredienste, die woordverkondiging en alles wat daarmee saamgaan, is nie die laaste woord oor ons godsdiens en geloof nie. Inteendeel, hierdie dinge sal eendag alles vergaan.

Wat egter nie sal vergaan nie, is dit wat die belangrikste van ons geloof behoort uit te maak, naamlik dat ons God kan ken. En, sê Paulus, die moment dat 'n mens God werklik ken, sien jy dat die liefde die belangrikste van alles is.

En hierdie liefde, sê die apostel, het bepaalde en duidelik kenmerke, byvoorbeeld: om lief te hê beteken om geduldig en vriendelik te wees. Dit beteken om goeie dinge vir ander mense te gun en nie te spog oor jou eie of hoogmoedig te wees nie. 'n Mens wat ander liefhet is nie onmanierlik nie en dink nie net aan homself of haarself nie. Hy word nie gou kwaad nie en hou nie boek van die onreg wat ander aan hom gedoen het nie. Oor verkeerde dinge kan hy nooit gelukkig wees nie, en net die waarheid sal hom gelukkig maak. As 'n mens iemand liefhet, kan jy stilbly oor sy foute. Jy kan die beste dinge oor hom glo, die beste dinge van hom verwag en nooit ophou om hom lief te hê nie. Die liefde, en daarom ook die Christelike geloof, gaan dus nooit oor jouself nie, maar oor God en oor die een langs jou (aldus 1 Kor 13:4-7).

Met ander woorde, broers en susters, die godsdiens waaraan Russel dink, is 'n godsdiens waar die een wat glo net aan homself dink, net in God glo ter wille van sy eie voorspoed of geluk. Daarom hou mense op met glo wanneer dit sleg begin gaan of die sogenaamde geluk vind waarna hulle gesoek het.

Die ware Christelike godsdiens daarenteen, sê Paulus, is behalwe vertroue (geloof) en hoop 'n daad. 'n Skeppingsdaad. Wanneer iemand gered word gee God, wat in Christus die sigbare Liefde geword het, aan so iemand die krag en opdrag om ander lief te hê, om so nuwe lewensmoontlikhede en selfs nuwe lewe vir ander mense te skep. En hierdie liefde, sê 1 Korintiërs, is nie maar net 'n uiterlike kenmerk van de Christelike geloof nie, dit is sy huidige wesenskenmerk. Die dag wat ons God volledig sal sien en ken, sal hierdie liefde dan ook die enigste kenmerk wees wat ons huidige geloof en uiteindelike aanskoue aan mekaar sal bind. Dit sal die norm wees waaraan ons gemeet sal word. Daarom bestaan ons geloof, broers en susters, wesenlik in die liefde.

As dit waar is wat Paulus hier sê, broers en susters, is dit dus 'n gruwelike mistasting om ons geloof iets te maak waarmee ons God net wil manipuleer of wil gebruik, waar ons God maar net gedienstig wil maak aan ons eie behoeftes. Daar waar ons meen 'n gelowige kan geloof en eie belang langs mekaar plaas asof dit dieselfde ding is of ooit kan wees.

Wat Russell en die duiwel in Job raakgesien het, is dat die mense soms geneig is om 'n kruideniersgod te aanbid, 'n nuttigheidsgod om te gebruik wanneer ons daarna voel. Maar hierdie waarneming, broers en susters, maak nie die boodskap van die Christelike evangelie tot niet nie, want die Christelike evangelie gaan nie oor dit wat ek daaruit kan kry nie, maar wat dit vir die wêreld vol sondaarmense kan doen.

Juis daarom, broers en susters, moet ons baie versigtig wees om die uiterlike van ons godsdiens, ons rituele handelinge soos die erediens, hoe die erediens ingeklee moet word, wanneer ons moet sit of staan, watter klere ons na die erediens toe moet aantrek, watter liedere ons sing en hoe ons dit sing (al is hierdie sake hoe belangrik en al het ons 'n bepaalde verstaan daarvan — wat nie noodwendig verkeerd is en nie noodwendig verander behoort te word nie) te sien as die wesenlike van ons geloof nie. Want hierdie dinge, sê Paulus, sal verbygaan.

Daarenteen bestaan die wesenlike van ons godsdiens daaruit dat 'n mens God gesien het, Hom deur sy Woord leer ken het, en dan begin om soos God te word deur die liefde te doen. In hierdie verband het Calvyn êrens gesê dat ‘God mens geword het sodat die mens God kan word’. Natuurlik is dit 'n geweldige uitspraak, maar as dit reg verstaan word, is dit in ons konteks vanaand so waar.

God het ons in Christus se lewe kom wys nie alleen wie en wat Hy is nie, maar ook wat ons behoort te doen. Hy het ons kom wys watter koers ons behoort in te slaan as ons Godskinders wil wees. God het mens geword sodat die wêreld vol afdruksels van God kon word.

Of, om dit anders te stel: God het mens geword, die ware Liefde het 'n menslike gestalte aangeneem, sodat die liefde wat nie net aan homself dink nie, lewenspraktyk kan word tussen mense.

En om hierdie liefde te doen, sê Jakobus, is geloof. Wys my jou geloof in jou dade, en ek sal jou in my dade my geloof wys, het hy gesê. So ook 1 Johannes 4:7: ‘wie liefhet is 'n kind van God en ken God’.

Is so 'n geloof maar net 'n nuttigheidsgodsdiens, broers en susters? Sal so 'n geloof, 'n geloof wat God ken en daarom die liefde leef, ophou bestaan wanneer dit sleg begin gaan of die sogenaamde geluk gevind is?

Dit sal nie, want of dit goed of sleg gaan, sal die liefde daar wees, die liefde omdat God ons eerste liefgehad het, en ons daarom nie anders kan as om afdruksels van God in hierdie wêreld te wees nie.

Ek sluit af met 1 Korintiërs 13:13: `En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde. Of soos Gesang 223 vers 2 dit stel: ‘Waaraan sal die wêreld 'n Christen meet? Aan ons liefde sal hulle weet!’
Amen