2 Timoteus 3:10-17; Galasiërs 5:19-26

Is ons gereed en toegerus vir die reis van die lewe?



Broers en susters in onse here Jesus Christus
Die van u wat in geskiedenis belangstel ken dalk die stukkie geskiedenis wat homself in 1845 in die Noordpool afgespeel het. Sir John Franklin, 'n Engelse seevaarder, het die opdrag gehad om die noordwestelike roete om die Kanadese Noordpool na die Stille Oseaan te bepaal. Daarvoor het hy twee skepe met 138 van die beste Britse matrose ontvang.

Almal het gehoop dat hierdie reis 'n keerpunt sou wees in die verkenning van die Noordpool. En die geskiedenis toon dat dit inderdaad was. Maar nie as gevolg van die sukses van hierdie reisvaart nie, eerder as gevolg van die mislukking daarvan. Die skepe het nooit teruggekeer nie. Al die bemanning het omgekom. En diegene wat later in Franklin se voetspore na die Noordpool gegaan het, het duidelik die les uit hierdie reisvaart geleer: berei jou altyd goed voor vir enige reis.

Want dit is juis wat Franklin nie gedoen het nie. Hoewel die reis veronderstel was om vir twee tot drie jaar lank te duur, het hy net steenkool vir 12 dae vir die noodstoomenjins met hom saamge­neem. Maar wat hy aan brandstof kortgekom het, het hy voor vergoed aan vermaaklikheid. Elke skip het 'n biblioteek gehad met 1200 boeke in, op elke skip was daar 'n draaiorrel, porseleinbreekware vir die hele bemanning, asook kristalglase en silwer eetgerei vir almal aan boord. Verder was daar genoeg speelkaarte om die tyd om te kry, asook allerhande soort bordspele sodat niemand kon sê hulle is verveeld nie.

Ook het die bemanning geen spesiale klere saamgeneem om hulle teen die koue te beskerm nie, slegs die pragtig geborduurde uniforms van Haar Majesteit se vloot. Dus: baie edel en eerbiedig, maar skraps en onvoldoende.

En toe het die onvermydelike gebeur: swak voorberei het die twee skepe die ysige water ingevaar en gou het 'n laag ys die dek, die maste en toue bedek. Die see het om die roer gevries en die skepe was vasgevang.

Die matrose, geklee in hulle skrapse uniforms het gaan hulp soek. Maar sonder sukses. Vir die volgende twintig jaar is oorblyfsels van die ekspedisie oral oor die bevrore see gevind. Een van die bote is ontdek met 25 bevrore liggame daarin, lyke was oor die ys gestrooi, en heelwat later is 'n tent gevind met 35 halfgeëte liggame.

Vreemd, broers en susters, hoe 'n mens op so 'n reis kon gaan, beter voorberei vir ontspanning en smaaklike etes, as toegerus vir die koue oop see. Nog vreemder, broers en susters, is dit egter wanneer ons so maak. Want tree ons soms nie ook maar op asof die Christelike lewe 'n plesiervaart vir afgetredenes is nie? Ons het so dikwels min brandstof en baie vermaak. Ons is soms meer begaan om byderwets, in pas, in die mode te wees, eerder as om voorbereid op die lewe te wees. Ons bestee ook soms meer aandag aan die eetgerei as aan die oorlewing van die reis. Ja, ons dink soms maar min aan ons eendaagse bestemming, maar ons maak darem seker daar is vandag — nou — genoeg vermaak en silwer vir almal.

En as alles begin vasvries, wanneer ons lewens in een of ander doodloopstraat bereik, durf ons die ys aan met ons vurke, speletjies en skamel klere en bring ons ons laaste dae deur op 'n tog teen die ysige wind en koue terwyl ons dikwels vir God die skuld gee vir die gemors waarin ons ons bevind.

Maar dit is nie God se skuld nie, broers en susters. As ons onvoorbereid in die lewe uitvaar, is dit ten spyte van, nie as gevolg van God nie. Want Hy het vir ons tot in die fynste besonderhede opdragte gegee vir ons reis deur hierdie lewe. Sy Woord is ons kaart, en die Heilige Gees ons kompas. En wat meer is, Hy het selfs vir ons presies gesê wat ons moet saamneem op ons reis.

Kyk wat staan op God se voorraadlys: pak geloof in, geduld, toewyding en volharding. Daarmee saam moet julle toegewydheid aan God inpak, en moenie kennis van die Skrif vergeet nie. Sit daarvoor sommer 'n hele tas opsy. En hou hierdie tas altyd by julle, maak dit julle handbagasie, want hierdie kennis van die Skrif lei tot verlossing, dit het groot waarde om die waarheid te onderrig, dwalings te bestry, verkeerdhede reg te stel, ja, dit kweek die regte lewenswyse aan. Daarmee saam moet julle ook 'n plekkie maak vir liefde (maak hiervoor die meeste plek), maar ook plek vir vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Want as julle dit saamneem, dan sal julle julle man in die wêreld kan staan, julle sal volkome voorberei en toegerus wees teen enige storm in die lewe, enige terugslag, enige teenspoed, ja, wat julle ook al mag oorkom. Die wind sal nie te koud word nie, julle maste sal nie vasvries nie, die dek van julle skip sal nie te glad word om op te loop nie.

En wanneer julle twyfel (oor waarheen, of oor hoe nou), haal maar net julle kompas uit, die Heilige Gees, bestudeer dit goed, kyk goed daarna, gee daaraan aandag, en julle sal sien 'n watter koers die kompas wys. Volg daardie pad, en julle sal nie op julle reis verdwaal nie. Inteendeel. Julle sal julle eindbestemming bereik.

As God vanaand, broers en susters, u en my reistasse sou oopmaak, wat sal God daarin kry? Dit wat nodig is vir 'n suksesvolle reis, of dalk 'n hele paar dinge wat ons ingepak het, ja, omdat dit vir ons tog so belangrik is, maar wat ons nooit en nêrens met en op ons reis sal help nie? Meer nog: dinge wat ons eintlik net sal help om te verdwaal, en soms werklik sommer lekker te laat verdwaal.

Die dinge wat ons inpak, broers en susters, word egter nie net eendag nagegaan wanneer God byvoorbeeld sou sê om dit uit te pak nie. Dit word ook op ander maniere nagegaan. Op maniere en plekke waar ons dit soms nooit verwag nie.

Kom ons dink prakties hieroor. Soos die lewe teen my spoel, soos die golwe my tref, en soos die wind my teister, haal 'n mens maar altyd, omdat jy geen ander keuse het nie, een vir een die dinge uit wat jy in jou geloofsbagasie saamdra. Kom byvoorbeeld teenspoed, dan pak ons hoop en geduld uit. Kom jaloesie en geskinder van ander, dan pak jy liefde, selfbeheersing en nog geduld uit.

Stap God met jou 'n bepaalde pad waarvan jy nie so baie hou nie, dan pak ons kwota vir kwota geloof uit. En wanneer ander ons nodig het, pak ons goedhartigheid en meelewendheid uit.

Maar wat, broers en susters, as ons deur die geloof nie veel van hierdie dinge ingepak het nie, wat indien hierdie sake sommer gou gou opraak? Of, dat ons sake nodig het wat ons nooit ingepak het nie? Dan, broers en susters, help dit nie om met silwer teen die ys te baklei nie, dan help dit nie om jou tyd met kaarte en bordspeletjies te verwyl terwyl alles rondom jou in duie stort nie.

Dan help dit ook nie om te sê: het ek maar liewers hierdie of daardie gelos en liewers dit of dat in hulle plek ingepak nie. Dan help dit nie om in tasse en kaste rond te krap terwyl jy weet wat jy nodig het jy nie saamgebring het nie.

Gelukkig, broers en susters, het ons altyd nog tyd om self so 'n bietjie inspeksie te gaan doen wat die inhoud van ons reistasse betref. Maar wanneer laas het ons dit gedoen? Wanneer laas het ons artikel vir artikel opgetel en die waarde daarvan weer en weer geweeg? Wanneer laas het ons onsself afgevra of daar nie dalk iets op ons lysie kort nie? Ja, wanneer laas het ons werklik so die Woord deurgrond dat ons deur die Gees agtergekom het dat ons iets kort wat ons nooit gedink het ons kort nie?

Wanneer die lewenstorms oor 'n mens spoel, broers en susters, watter situasie dit ook al mag impliseer, is dit nie wat 'n mens weet wat 'n mens in die hande kan kry of die vermoë het om raak te sien wat jy in die situasie nodig het, wat tel nie. Nee. Wat tel is of jy gereed is. Of jy die regte dinge ingepak het. Anders word u en ek dalk in die koue gelaat.
Amen