Matteus 6:1-4, 25:31-40

Knegte van mense, of kinders van God: Die betalendheid van die geloof



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Dit gebeur soms dat ons mense ontmoet, of dalk mense ken wat, alhoewel hulle nie gelowiges is nie, nie Christene is nie (ook nie as Christene gesien wil word nie), nie aan ‘n kerk behoort nie, selfs nie iets van God wil weet nie, wat, sou ons kon sê, ‘n baie voorbeeldige lewe lei. ‘n Lewe wat, indien dit aan die eise van die Bybel gemeet sou word, gereken sou moes word as ‘n voorbeeldige, dankbare Christelike lewe. Lewens wat ons selfs aanspreek, juis omdat dit in baie gevalle, wat veral naasteliefde en liefdadigheid betref, baie beter as ons s'n is.

Dus: waar ons as Christene glo dat die Bybel ons leer dat dit of dat deur ‘n kind van God gedoen behoort te word en ander dinge weer nie gedoen behoort te word nie, doen hierdie mense dit sonder dat God dit van hulle vra.

Nou is dit merkwaardig, broers en susters, en dalk het baie min van ons dit al raak gelees, dat feitlik in die hele bergpredikasie van Jesus in Matteus (Mat 5-7), Jesus nie vir ons sê dat ons dit of dat moet doen nie. Of anders gestel: Jesus sê byvoorbeeld nie vir ons in die bergpredikasie jy moet jou naaste liefhê, jy moet jou naaste dien, of, jou liefde vir jou naaste moet sigbaar met die daad bewys word nie, al beteken dit van jou kant af opoffering of wat ook al nie.

Nee. In die bergpredikasie, sien ons, gebruik Jesus ‘n totaal ander invalshoek. Jesus sê nie, jy moet jou naaste liefhê en dien nie, maar wat Hy wel sê is: Pas op wanneer jy jou naaste dien. Pas op wanneer jy ‘n liefdesdaad bewys. Pas op wanneer jy ‘n offer bring of wanneer jy die armes help. Dus: wat Jesus doen is nie om aan ons opdragte te gee nie (bv, help die armes nie), maar om ons te waarsku - pas op wanneer jy die arme of die naaste help!

Uit hierdie invalshoek van Jesus, meen ek, kan ons twee belangrike sake aflei. Eerstens: vir Jesus is die gehoorsame, dankbare lewe, ‘n lewe van goeie werke en naasteliefde, iets vanselfsprekends. So vanselfsprekend, dat dit nie ‘n opdrag regverdig nie. Met ander woorde, Jesus aanvaar doodeenvoudig dat, omdat kinders van sy Vader in die hemel onbeperkte liefde, geduld en versorging van God ontvang, dit vir hulle ‘n doodgewone, outomatiese, aanvaarbare handeling sal wees om dieselfde aan ander te doen. Vir kinders van God, aanvaar Jesus dus, maak dit geen probleem uit om ander lief te hê soos God hulle lief het nie. En juis daarom, meen ek, gee Jesus hier geen opdragte nie. Miskien net vinnig die vraag: ons wat onsself kinders van God noem, het ons al sover gekom om wat Jesus hier sê doodeenvoudig te aanvaar en te doen, of is die vraag by ons nog steeds: sal ek nou of sal ek nie?

Die tweede saak: dit is nou wel geen probleem of julle goeie werke moet doen nie, impliseer Jesus hier, die probleem is die goeie werke self. Dit is waar die gevaar lê, sê Jesus. Want die goeie werke van die gelowige is met alle moontlike gevare gelaai. Hulle is vol slaggate en klippe waaroor ‘n mens kan struikel. ‘n Mens is, sê Jesus hier, nog lank nie die opdraande uit wanneer ‘n mens sover kom om aan iemand ‘n goeie daad te bewys nie. Nee. Dan begin die opdraande eers, dan begin die gevaar eers.

Hoekom? Want so maklik, sê Jesus, het ons die gewoonte om maar alte graag, wanneer ons een of ander goeie werk doen, dit aan ander uit te basuin, met ‘n luide getoeter te sorg dat ander daarvan kennis neem. Ja, ons maak seker dat selfs God darem daarvan kennis neem. En dan meen: nou het ons ‘n loon in die hemel. Ons het dit of dat mos immers vir God gedoen, sal Hy ons dan nie daarvoor beloon nie? Nee, sê Jesus: wanneer ons dit doen, is ons skynheilig, is ons huigelaars.

Nou sou iemand egter, broers en susters, ook soos volg kon redeneer: maar dit is mos nie billik nie. Want sê Jesus dan nie self dat daar vir ons ‘n loon in die hemel wag as ons lewe soos God van ons vra nie (vgl vers 4 en ook ander plekke in die Nuwe Testament)? Moet goeie werke dan nie om sy ontwil gedoen word nie? En as ons dit om Sy ontwil doen, praat hy nie self van die loon nie? En juis omdat Jesus self van ‘n loon in die hemel praat, lei dit nie outomaties daartoe dat hierdie loon, wat Hy belowe, ons aandag op die loon gevestig word, ons aandag van ons naaste afgelei word, en ons (on)bewustelik na ons hemelse banksaldo loer nie?

Daarom, broers en susters, meen ek, is die belangrike vraag in ons teks vanoggend: wat bedoel Jesus hier as Hy sê ons diens aan ons naaste is waardevol en lonend? Op hierdie vraag gee Jesus vir ons ‘n antwoord in Matteus 25:31-40. By die laaste oordeel, sê Jesus, sal ons vir eens en vir altyd daaraan herinner word hoe Jesus, kom ons sê, as die verborge Christus, altyd by ons teenwoordig was. By ons teenwoordig was in die eensames, moedeloses, bekommerdes, hulpeloses. Ek meen Matteus 25:40 stel dit baie duidelik en onomwonde: “vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan my gedoen”.

Kom ons sê dit op ‘n makliker manier. Wat Jesus hier sê is: kan ons ‘n ander persoon hoegenaamd met groter erns en respek behandel as wanneer ons in hom die verborge Heiland, die broer van die Here sien? Kan ek my werklik teenoor iemand verhef, kan ek my ooit bo iemand verhewe en meen so iemand is my hulp en kosbare tyd nie werd nie, wanneer ek raaksien dat God hierdie persoon ook onder sy kombers toegevou het, God se oog ook op hom/haar rus, God ook aan hom/haar - soos met my - in liefde dink?

Dus, broers en susters, wanneer ons aan ons loon in die hemel dink in die sin dat ons naaste net vir ons ‘n middel tot ‘n doel word, alleen vir ons betekenis het omdat hulle kan bydrae tot ‘n positiewe bankbalans in die hemel, dan verstaan ons Christus nie hier nie. Want wanneer Jesus hier van loon praat, praat hy nie van ‘n beloning vir u en vir my nie, maar sê Hy: doen wat Ek vra, doen dit ter wille van My, want as jy dit doen, laat jy toe dat die ellendiges, die moedeloses, die hulpeloses, die soekendes, My in jou optredes ontmoet. Daarom loon dit, naamlik, dat Ek, en my koninkryk, sigbaar word. Wat meer is, jy wat dit doen, groei so al hoe vaster aan die wingerdstok, en die gemeenskap tussen My en jou verdiep.

Julle loon is dus my hart, sê God eintlik hier. My hart in dié sin van die woord: jy my kind, het My belofte, my belofte dat - net soos jy, ter wille van My, jouself aan ander offer, jouself eerlik (d w s, nie skynheilig of huigel) tot ander se beskikking stel - Ek my Seun nie alleen vir jou geoffer het nie, maar op dieselfde manier tot jou beskikking is , dat Ek jou nooit sal bedrieg nie, dat Ek jou altyd sal liefhê. Daarom hoef jy nie te werk vir wat jy dink jou toekom nie, jy sal dit in elk geval kry.

Daarom: jou beloning is my gemeenskap. Dat jy in my hart kan inkruip en kan weet: soos jy as sondige mens op ‘n eerlike, hoewel gebrekkige, manier ander tegemoet kom, so sal ek dit vir jou doen. Betoon die liefde, en jy sal al hoe meer van my liefde ervaar, en wat meer is, deur jou toewyding, sal ander ook my liefde leer ken.

U moet mooi verstaan, broers en susters. Ek sê nie hiermee dat ons nou self God word nie, dat die liefde van God enkel en alleen deur ons optrede in die wêreld sigbaar word en die sigbaarheid of nie-sigbaarheid van God nou van ons nukke en grille afhang nie. Nee. Wat ek sê is dat liefde tot die naaste ten minste een van die maniere is waarop God sigbaar in die wêreld gemaak word, dat ons, as God se kinders, die wonderlike voorreg het om hier as God se gestuurdes te kan optree, en dat ons beloning die is van ‘n diepere en diepere gemeenskap met God. ‘n Nader beweeg aan God. ‘n Lewe saam met en by God. En soos Matteus hier sê, eendag by God. Wie dit nie wil hê nie, broers en susters, het nog nie raakgesien en ervaar hoe wonderlik dit is om aan God se genade en ontferming uitgelewer te wees nie, ja, om die ge-meenskap en teenwoordigheid van God in jou lewe te ervaar nie.

Ek sluit af: Hulle wat ons ken, wat nie glo en iets van God wil weet nie, en tog so voorbeeldig lewe, is nie so onskuldig nie. Hulle bedryf ook maar godsdiens op een of ander manier, al is dit nou ‘n selfgemaakte godsdiens. Hulle glo ook maar aan ‘n “god”, in hulle geval hulleself. Want hulle saligheid is geleë in wat ander mense van hulle sê en wat hulle aan ander doen. Al is dit hoe edel wat hulle aan ander doen. In so ‘n lewe is daar nie plek vir God nie, want dan word die een aan wie die eer toekom, die eie ek, die ek-god, van die troontjie gestoot.

Daarom sê Jesus: Ek praat nie eers met julle oor of julle goeie werke moet doen nie. Want ware kinders van God doen dit eenvoudig. Maar pas op wanneer julle in liefde ander dien! Pas op dat julle nie julle “Saligmaker/saligheid” so in ander se erkenning vind dat julle die ware Vaderhuis verloor nie. Julle is duur gekoop, word nie die knegte van mense nie. Kom bly liewer in die Vaderhuis, daar waar julle my gemeenskap en liefde elke dag sal ontvang!
Amen