Johannes 20:26-31

Kom ons maak weer ‘n bietjie tyd vir God



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Arme ou Tomas. Op ‘n keer, dalk iewers in ‘n preek, het iemand die etiket ‘ongelowig’ om sy nek gehang. En van toe af was hy ‘ongelowige Tomas’. En dit is waar. Tomas het getwyfel.

Dit is net dat daar in die lewe van Tomas baie meer steek as maar net doodgewone ongeloof. Dat hy dinge bevraagteken het, was baie meer as maar net blote ongeloof. Nee, dit was eerder ‘n gebrek aan verbeelding. En kom ek verduidelik.

Onthou u die keer toe Jesus (in Johannes 14) vertel het van die huis wat Hy vir sy kinders gaan voorberei? Hoewel Tomas gesukkel het om die beeld wat Jesus gebruik het te verstaan, het hy tog sy bes probeer. ‘n Mens kan jou net voorstel hoe Tomas homself daardie yslike wit huis in St Tomaslaan probeer voorstel het.

En net toe Tomas die idee begin snap, sê Jesus: ‘en julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan’. En dit was te veel vir Tomas. Daarom borrel die vrae uit sy mond: ‘Here, ons weet nie waarheen U gaan nie, hoe kan ons dan die weg daarheen ken?’ Dus: Tomas was nie bang om te sê as hy nie verstaan het nie. Want wraggies, ‘n mens se verbeelding kan darem net tot sover strek!

En dan was daar die keer (Johannes 11) toe Jesus vir sy dissipels gesê het dat Hy na Lasarus toe gaan, hoewel Lasarus lankal reeds dood en begrawe was. Tomas kon homself nie indink waarna Jesus verwys het nie, maar was tog bereid om saam met Hom na Betanië te gaan. Na Betanië, by Jerusalem waar die Joodse leiers Jesus tydens ‘n vorige besoek wou dood deur Hom te stenig. Na Betanië waar Jesus heel waarskynlik sou sterf.

Dus: al het Tomas nou nie eintlik verstaan hoe Jesus nou die dooie Lasarus wou gaan besoek nie, was hy nie bereid om Jesus alleen te laat sterf nie. Daarom was hy bereid om te gaan. Jare het hy vir die Messias gewag, en noudat sy Messias hier was, was Tomas bereid om sy lewe vir Hom neer te lê. Dus, ou Tomas: nie baie verbeelding nie, maar tonne lojaliteit.

Miskien, broers en susters, was dit juis hierdie eienskap van Tomas, sy lojaliteit, wat gemaak het dat hy daardie aand nie saam met die ander dissipels in die bovertrek was toe Jesus die eerste keer aan hulle verskyn het nie. Ek kan my dit nie anders indink dat Jesus se dood vir hom ‘n harde slag was nie. En alhoewel hy nie altyd die beelde kon verstaan wat Jesus gebruik het nie, was hy bereid om tot die einde saam met Hom te stap.

Maar hy het waarskynlik nooit gedink dat Jesus se einde so skielik en so vinnig sou kom nie. Met die gevolg: hy het nou eintlik nog minder verstaan.

Aan die een kant was die gedagte aan ‘n opgestane Jesus vir Tomas te veel. Sulke dinge gebeur mos nie! Ek wil amper sê: dit was juis sy gebrek aan verbeelding (soos ons hierbo gesien het) wat gemaak het dat hy dit nie kon glo nie. Boonop wou Tomas nie weer teleurgestel word nie. Een teleurstelling, Jesus se skielike dood, was vir hom genoeg, dankie.

Maar tog, broers en susters, glo ek, het sy lojaliteit, aan die ander kant, hom laat smag om te glo dat Jesus opgestaan het en lewe. Daarom: as hy, wanneer Jesus die tweede keer aan sy dissipels verskyn teenwoordig is, is dit veral op grond van sy lojaliteit dat hy daar is. Al het ‘n gebrek aan verbeelding, ‘n gebrek om ruimte te maak vir dit wat God kan doen, hom tog maar so ‘n bietjie liggelowig gemaak het. Liggelowigheid wat heel waarskynlik die rede was vir sy nou bekende woorde: as ek nie die merke van die spykers aan Jesus sien nie, en self my vingers in daardie gate kan druk nie, sal ek nie glo nie. Ek is lojaal, daarom sal ek kom, maar moet nie van my verwag om te glo Jesus lewe as ek dit nie self kan bevestig nie.

Dus, broers en susters: ons kan seker sê dat Tomas getwyfel het. Die grond vir sy ongeloof was egter nie wantroue nie of hardkoppigheid nie. Nee. Die grond van sy ongeloof was ‘n gebrek aan verbeelding. Dalk ook was hy bang hy kry weer seer. Maar dit was nie sy eintlike probleem nie. Sy probleem was dat hy te klein oor God gedink het, dat hy nie ruimte gelaat het vir dit wat God kan doen nie.

En is dit nie, broers en susters, soos baie van ons ook maar is nie? Vind ons dit nie ook maar moeilik om in ‘n wêreld van rekenaars, besigheidsplanne, begrotings, langtermynbeplannings en gemeentebeplanning, ja, in ‘n wêreld van ‘sien en ek sal glo’, in ‘n wêreld van ‘ons weet mos deur ervaring hoe dit werk’, ruimte te maak vir die onmoontlike nie?

Is die meeste van ons nie maar geneig om die lewe van agter opgetrekte wenkbroue en met versigtige treë aan te durf nie? Dit is vir ons daarom bitter moeilik om te dink dat God ons kan verras. Nee wat: om deesdae, in ons wêreld, ruimte te maak vir wonderwerke, dit is nie nugter denke nie.

Met die gevolg? Ons vind dit moeilik om te glo dat God dit waarmee Hy die beste is, kan doen: om dood met lewe te vervang. Om oud nuut te maak. Om lelik mooi te maak. Om hooploosheid hoop en lewe te maak. Om ons anders te maak. Om ons lewens mooi te maak. Ja, ons onvrugbare verbeeldings laat by ons min hoop dat die sogenaamde onmoontlik, die sogenaamde onwaarskynlike, kan gebeur.

En so laat ons toe, broers en susters, net soos in die geval van Tomas, dat ons drome die slagoffers word van ons twyfel. Ja, ons maak dieselfde fout as wat Tomas gemaak het: ons vergeet dat die woorde ‘onmoontlik’ en ‘onwaarskynlik’ van God se gunstelingwoorde is.

Kom ons vra daarom, broers en susters, vanoggend elkeen vir onsself ‘n paar vrae eerlik af. Hoe is dit deesdae met ons verbeelding gesteld? Wanneer laas het ons drome gedroom wat ons toelaat om vir ‘n slag logika uit die pad te stoot? Wanneer laas het ons die ondenkbare gedink? Wanneer laas het ons byvoorbeeld van ‘n wêreld, ‘n gemeenskap, ‘n gemeente, ‘n huisgesin gedroom wat in vrede saamleef en saamstaan? Of dat die wêreld van en in die kerk net vergifnis en liefde sien? Dat daar geen honger maag sal wees nie? Dat alle mense God sal ken en nog meer, sal leef soos ons Maker vra?

Wanneer laas het ons gedroom van ‘n gemeente waar daar te veel ouderlinge en diakens is? Dat ons as ouers se verhoudings met ons kinders rustig en sinvol sal wees? Dat daar waar vir vergifnis gesmeek word, dit in oormaat uitgedeel word? Dat liefde vir God en sy mense baie meer sal wees as haat? Dat die lewe, goed, mooi en rustig kan wees? Of sê ons liewer: nee wat, moenie my tyd mors nie. Al hierdie dinge is onwaarskynlik. Sulke dinge gebeur net nie meer in die lewe nie.

Tomas, broers en susters, het ook so oor baie dinge gedink. Juis as gevolg van sy gebrek aan verbeelding. Maar hy was lojaal. Daarom het hy gekom om te kyk of dit tog nie miskien waar is dat Jesus lewe nie. Al kon hy dit in sy wildste drome nie voorstel nie. En toe hy kom, het hy gekry wat hy gesoek het. Die bewys, die gate in die hande en die sy, sy Messias wat lewe!

Met die gevolg? Tomas was ‘n wenner. Meng lojaliteit en bietjie verbeelding, en jy het ‘n man van God. Volgens oorlewering het Tomas op ‘n skip na Indië gegaan om te gaan verkondig dat Jesus lewe. Die legende vertel dat Tomas, net om hom stil te kry, vermoor is. Want hy kon net nie ophou om te praat oor die huis wat vir almal by God wag nie. Ook kon hy nie stilbly oor sy vriend wat uit die dood opgewek is nie.

Net omdat hy bereid was om te kom. Omdat hy lojaal teenoor Christus was. Al was sy verbeelding maar min. En omdat hy gekom het, het hy gekry wat sogenaamd onwaarskynlik en onmoontlik was. God het hom verras. En toe was sy lewe nooit weer dieselfde nie.

Ons tyd, broers en susters, maak nie meer ruimte vir hierdie dinge nie. Die wêreld waarin ons leef meet alles. Alles word beoordeel volgens ooreengekome maatstawwe. Daarom — altans, so glo ons — weet ons wat moontlik en onmoontlik is. Waarmee ons eintlik wil sê: daarom weet ons ook wat in die lewe kan (en gaan) gebeur.

Om so te lewe, broers en susters, is dalk nugter in die oë van die wêreld. Maar dit is ‘n lewe, al is ons hoe lojaal teenoor God en sy saak, wat nie ruimte maak vir God nie. Al sê ons dat ons in God glo. Dit is ‘n lewe wat God eintlik uit ons lewens en wêreld uitskuif, al sê ons dat ons met God besig is.

Want dit is ‘n lewe wat nie ruimte maak vir huise in die hemel en mense wat uit die dood kan opstaan nie. Dit is ‘n lewe waar ons bepaal en besluit wat God mag en kan doen. En dus eintlik ‘n lewe sonder God.

Wat gebeur egter met die mens van God wat bereid is om te glo dat God kan verras? Dat ‘onmoontlik’ vir God gespel was as moontlik? Kom ek gee u twee voorbeelde, en ek gaan die twee tekste presies aanhaal (met ‘n rede):

  • Efesiërs 3:19: ‘Mag julle God se liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan’; en
  • Filippense 4:7: ‘En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus’.

God is groot, broers en susters. Magtig om oneindig meer, sê Efesiërs 3:20, ‘te doen as wat ons kan bid of dink’. Wie dit glo, dink groot oor God. Dink groot oor die lewe. En wie so oor God en die lewe dink, sal deur God verras word.

Al wat God vra, om dit te laat gebeur, is om na Hom te kom. Om Hom altyd op te soek. Om te smag na sy teenwoordigheid in ons lewens. Soos in die geval van Tomas. Ja, die verbeelding was maar min, maar hy het gekom. En hoe het God hom nie verras nie!

‘n Verrassing wat hom laat uitroep het! ‘My Here en my God! Maar ook ‘n verrassing wat hom laat doen het.
Amen