Genesis 23:1-20

Maak geloof ‘n verskil?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Is ons wat glo, se lewens werklik anders as hulle wat nie glo nie? Ons sê dit. Ons sê ons verhouding met God maak alles anders. Ons lewens het meer sin, ons het meer vreugde, ons het ‘n ongekende vrede binne ons. Want ons beleef God teenwoordig by ons. Maar is dit regtig so, broers en susters?

Dit lyk nie alleen soms glad nie so nie, ons voel soms self dat dit nie so is nie. Ongelowiges het hulle probleme. Ons ook. Ongelowiges het soms hartseer. Ons wat glo ook. Ongelowiges voel soms dat niks meer die moeite werd is nie. Ons wat glo voel soms ook so. Maak geloof ‘n verskil? Maak dit werklik ‘n verskil?

Ek het hierdie week, broers en susters, baie hieroor nagedink. En sommer in die Bybel gelees. En tot my verbasing het hierdie stukkie geskiedenis – wat vir ons ‘n deel van die laaste jare van Abraham se lewe beskryf – perspektief op hierdie vraag gegee. En ek wil dit vanoggend graag met u deel.

Kom ons sê net eers twee dinge oor Abraham voor ons na Genesis 23 kyk. Abraham is die persoon met wie God sy verbond gesluit het. Deel van hierdie verbond was ‘n dubbele belofte van God aan Abraham: grond, en ‘n groot nageslag. Van die belofte aan grond het tot dusver niks gekom nie. Wat die belofte van ‘n groot nageslag betref, ook nie veel nie. Abraham het darem vir Isak gehad, die enigste kind van hom en sy vrou Sara. Een kind, wat ‘n mens nou nie eintlik as ‘n groot nageslag kan beskou nie.

Verder idealiseer ons Abraham dikwels. Hebreërs 11 sê immers vir ons dat hy ‘n voorbeeld in die geloof was. Hy word vir sy geloof geprys. Maar eintlik is Abraham maar net soos ons. Hy maak soms sy eie planne, en lag selfs vir God wanneer God weer aan hom bevestig dat hy en Sara ‘n groot nageslag sal hê.

En in Genesis 23 lyk dit vir ons of Abraham weer dieselfde doen. Die belofte van grond het nog nie gerealiseer nie, en nou wil Abraham ‘n stuk grond koop. Maar dit is nie wat hier gebeur nie, broers en susters. Wat hier gebeur is eintlik ongelooflik, ‘n daad van Abraham wat niks anders as ‘n ongelooflike geloofsdaad beskou kan word nie. ‘n Optrede van Abraham wat iets sê van Abraham se verhouding met God, sy vertroue op God, en hoe hy God se beloftes verstaan het. En kom ek verduidelik deur te probeer aantoon wat hier in Genesis 23 gebeur.

In Genesis 23 lees ons, soos ek reeds gesê het, van Abraham toe hy al baie oud was, en aan die einde van sy lewe gekom het. Abraham wil by die Hetiete ‘n stuk grond koop. En kom ek sê eers vinnig hoe so ‘n transaksie gewerk het. Eers het die onderhandelinge tussen die koper en verkoper daar by die stadspoort plaasgevind met die leiers van die stad teenwoordig. Wanneer daar ooreengekom is op die koopprys, is die hoeveelheid silwer in almal se teenwoordigheid afgeweeg, en is die koop as wettig beskou. Die verkoper het sy aantal gram silwer, en die koper sy grond.

Hoekom wil Abraham grond koop? Want sy vrou Sara is oorlede, en hy het nie sy eie stukkie grond om haar te begrawe nie. Hy stel belang in ‘n stukkie grond van Efron, omtrent maar so ‘n akker groot, wat ‘n paar bome op het, asook ‘n graf en ‘n grot. Nie ‘n goeie stuk grond nie, nie veel werd nie.

Wat meer is, Abraham het ‘n probleem. In die land van die Hetiete is hy ‘n vreemdeling, hy is ‘n bywoner. Hy mag dus geen eiendom of grond besit nie.

Maar Abraham probeer. Eerstens is dit baie duidelik dat die Hetiete groot agting vir Abraham gehad het. Daarom weier hulle nie Abraham se versoek summier nie. Ons kan nie aan jou grond verkoop nie, Abraham, maar jy kan gerus jou vrou in die beste graf hier by ons begrawe.

Maar dit is nie vir Abraham genoeg nie. Nee, sê hy, ek wil ‘n stuk grond koop. ‘n Stuk grond wat aan my behoort waar ek my vrou kan begrawe. Daarom vra hy hulle: gaan praat met Efron, gaan vra hom of ek nie tog maar daardie onbenullige stukkie grond wat op die rand van sy grond lê, kan koop nie.

Hoe reageer Efron? Hy probeer die probleem omseil deur aan Abraham die grond te wil gee. Neem die grond Abraham, jy hoef dit nie te koop nie. Begrawe jou vrou daar. Dan is alles mos reg. Maar Abraham bly probeer. Nee, Efron, sê hy, ek wil die grond wettig koop. Ek wil daarvoor betaal.

Hoe antwoord Efron dan. Hy kom met ‘n plan. As hy vir Abraham ‘n mal prys vra, baie meer as wat die grond werd is, dan sal Abraham mos sy versoek laat vaar. Daar sê hy: goed Abraham, jy kan die stukkie grond koop, maar ek vra jou vier en ‘n halwe kilogram silwer daarvoor. ‘n Aanbod wat almal daar besef het: geen mens sal soveel vir so ‘n nuttelose stuk grond betaal nie. Om te verduidelik hoe mal hierdie prys was: veel later koop Jeremia in Anatot ‘n baie goeie akker grond vir maar net 17 gram silwer. Dus: die prys wat Abraham betaal is ten minste 265 keer die prys van ‘n stuk grond.

En tot Efron se verbasing aanvaar Abraham die aanbod. En toe kon Efron nie meer kop uittrek nie. Die silwer word afgeweeg, en Abraham het sy stukkie grond. ‘n Stukkie grond, baie beskeie, maar ‘n stukkie grond waarop hy sy vrou kan begrawe.

Vir die wat daardie dag daar was, moes dit ‘n onsinnige ding gewees het wat Abraham gedoen het. Baie het seker gedink dat hierdie ou man al so seniel geraak het, dat hy nie meer weet wat hy doen nie. Maar Abraham het, broers en susters.

Vir hom was die stukkie grond geweldig belangrik. Hy het nou ‘n stuk grond in Kanaän besit, die land wat God aan hom beloof het. En hierdie stukkie grond wat hy nou daar besit het, het hy gesien as die begin van die vervulling van die belofte wat God vir Hom gegee oor die land.

Abraham se hele lewe was bepaal deur die verbond wat God met hom gesluit het. Hierdie verbond het sy lewe bepaal. God het hom geroep, en grond en ‘n nageslag belowe. Dit het van Abraham ‘n swerwer gemaak, ‘n vreemdeling, ‘n bywoner. Tog het Abraham aan God se belofte vasgehou. Al het hy dikwels getwyfel, sy eie planne probeer maak, op ‘n keer saam met Sara selfs vir God gelag. Maar telkens het God sy belofte aan Abraham weer en weer bevestig.

Abraham het bly glo. En wat gebeur toe? Toe hy oud word, teen alle verwagting in, kry hy ‘n seun. En vir Abraham was dit die begin van ‘n groot nageslag. Vir Hom het God sy belofte waar gemaak. En toe hy nog ouer was, kry hy die stukkie nikswerd grond in Hebron. En vir Abraham was dit die begin van die vervuiling van die belofte van die land.

En ongelooflik: aan die einde van sy lewe word van Abraham in Genesis 25:7-8 gesê dat hy ‘n vol lewe gehad het. Dit wat God vir hom gegee het was genoeg. Hy het geweet die res sou volg. Al sou hy dit self nie sien nie. En is hy, in die beloofde land Kanaän, daar in Hebron, saam met sy vrou begrawe. In die beloofde land. Die land wat God aan hom beloof het.

Vir Abraham, broers en susters, was net een kind en ‘n graf genoeg. En dit is geloof. Om die onsienlike te sien. Om te weet dat in wat ek het en wat God vir my gee, ek kan weet God is getrou. Wanneer my kind gesond word, kan ek weet God is getrou. Wanneer dit met my beter gaan, kan ek weet God is getrou. Wanneer dit met my sleg gaan, en ek bly oorleef, kan ek weet God is getrou. Wanneer ek kan werk, kan ek weet God is getrou. Wanneer my kind lag, kan ek weet God is getrou. Wanneer ek ‘n bord kos voor my het, kan ek weet God is getrou. Wanneer my kind werk kry, kan ek weet God is getrou. Wanneer ons vanoggend hier saam is om Hom te loof en te prys, kan ons weet God is getrou. Elke jaar wat ons finansies klop, kan ons weet God is getrou. En elke keer wanneer God met sy Gees in ons werk, kan ons weet God is getrou.

Om werklik te glo, beteken daarom ook om tevrede te wees. En is dit nie dalk ons probleem nie? Ons wil altyd alles hê. Ons wil net voorspoed hê. Ons wil net geluk hê. Ons wil nie sukkel nie. Ons wil nie swaarkry nie. Ons wil hê ons lewens moet wees soos ons dit wil hê.

En daarom sien ons nie raak dat elke dag wat God my opwek, beteken dat God nog nie met my klaar is nie. Dat hy my nog baie wil seën. Op sy tyd, op sy manier.

Vir Abraham was net ‘n ietsie genoeg. Net een kind in plaas vind ‘n groot nageslag. Net ‘n stukkie waardelose grond, in plaas van ‘n hele land. Daarom het hy ‘n vol lewe gehad. Kan ons dit van onsself sê?

Maak geloof ons lewens anders? Beslis. Veral as ons tevrede is. Tevrede is met dit wat ons het en wat ons sien. Veral wanneer ons insien dat dit wat ons het en ervaar, maar net ‘n ietsie is van dit wat nog kom. Van dit wat God nog gaan gee. Van dit wat God vir ons nog alles gaan en sal gee.

Ek wens, broers en susters, dat dit van my gesê kan word. En ek hoop dat hierdie selfde wens ook vanoggend in u harte leef. Want dan maak God ‘n ongelooflike verskil. Dan kan ‘n mens nie sonder God leef nie!
Amen