Genesis 32:22-32

‘Nogtans geloof’ is ware geloof



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Elke Sondag wanneer ons in die kerk sit, bely ons ons geloof in God. Wanneer ons dit bely, sê ons ten minste twee dinge: Eerstens, dat ons glo dat God 'n almagtige God is (die Skepper van die hemel en die aarde), en tweedens, dat hierdie Almagtige God ons Vader is.

Maar wat bedoel ons wanneer ons dit bely, broers en susters? Of, bedoel ons werklik wat ons bely? Anders gesê: leef ons dit wat ons in ons belydenis sê? Maak dit werklik 'n verskil in ons lewens? Wat meer is: laat hierdie belydenis ons anders praat, leef en dink as die ongelowige, hulle wat nie bereid is om soos ons te bely nie?

Wie bely dat die Almagtige God ook sy Vader is, sê iets geweldigs. Wat hierdie iets geweldigs is, stel die Heidelbergse Kategismus (Sondag 9) soos volg: `Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?' En dan die antwoord: `…dat ek so op Hom vertrou dat ek nie daaraan twyfel nie dat Hy my met alles wat vir my liggaam en siel nodig is, sal versorg; dat Hy ook al die kwaad wat Hy in hierdie lewe oor my beskik, tot my beswil verander'.

Vir die Kategismus gaan dit dus oor vertroue, oor vertroue in God. En hoe sal ons hierdie vertroue beskryf? Kom ek probeer: om God te vertrou beteken om jou lewe, jouself aan God toe te vertrou, in alles en ten spyte van alles. Soos byvoorbeeld Abraham, wat uit sy geboorteland weggetrek het sonder dat hy geweet het waar hy sal uitkom – met net God se beloftewoord om aan vas te hou.

Dít, sou ek reken, is geloof. Om te handel al het jy net God se beloftewoord. Maar nog meer. Dit behoort ook die orde van ware geloofsvertroue te wees: God roep, en ons volg. Hy gebied, en ons gehoorsaam. Hy gaan vooruit, en ons volg.

In die lewe van Jakob, broers en susters, was dit aanvanklik egter anders. Want aan die begin van sy lewe keer Jakob hierdie volgorde om. Hy wil vooruit, en God, het hy gemeen, moet maar net bereid wees om te volg. Hy sal lei, en God moet maar net saamstap. Ons sien dit op verskillende maniere in Jakob se lewe: God beskik dat Esau die eersgeborene is. Maar hiermee is Jakob nie tevrede nie - met 'n pot lensiesop koop hy die eersgeboortereg van Esau af. En toe Isak vir Esau wil seën, maak hy 'n plan dat hy as die oudste geseën kan word. Dus: Jakob vooruit, en God (met eerbied gesê), moet maar net volg.

So terloops, broers en susters, is dit nie ook maar dikwels waar van ons lewens nie? Keer ons nie ook maar soms hierdie volgorde om nie? Moet ons nie miskien ook maar meer gereeld bely: Here, ek bid nie altyd om u raad en leiding nie, ek neem soms maar my eie besluite, ek loop soms maar my eie pad, ek steun meermale maar net op my eie insig? Ons kan hier maar elkeen self besluit.

Hoe dit ook al sy, broers en susters, Genesis 32 vertel ons dat God by die Jabbokrivier ingehaal en dat 'n ‘man’ daar vir 'n hele nag met Jakob geworstel het. Wie die man presies was en wat die nag daar werklik gebeur het, kan ons nie presies uit die teks aflei nie. Maar een ding is duidelik: vir Jakob was dit 'n ontmoeting met God. Want die hele nag het Jakob net bly vashou, en bly sê: ek sal U nie laat gaan tensy U my seën nie.

Pragtig, sal ons sê: dit is geloof. Dit is die regte volgorde. Nie om God vooruit te wil wees nie, maar om aan God vas te hou. Nie om jou eie koers te kies nie, maar te volg waar God lei.

Maar tog, broers en susters, ons sien in die verloop van Jakob se verhaal dat selfs by die Jabbokrivier Jakob nie werklik op die Here begin vertrou het nie. Toegegee, sy pad was nie maklik nie. Ons ken sy verhaal. Eers word sy lieflingseun, Josef verkoop en Jakob glo Hy is dood. Dan kom die droogte. Sy seuns gaan na Egipte om kos te koop, en keer terug sonder Simeon met die boodskap dat hulle as spioene gesien is en dat Benjamin as losprys gevra word.

Vir Jakob was dit alles te veel. Josef weg, toe Simeon en nou moet Benjamin ook gaan. En daarom sy woorde in Genesis 42: alles is teen my, ek ly onder my omstandighede! Dit word alles vir my te veel. Dus: Jakob se omstandighede oorweldig hom. Eintlik: al wat hy doen is om hom blind te staar teen sy probleme en kommer. En wat God betref, staan Hy vir Jakob daar vêr, eenkant, onbetrokke by sy nood en sy situasie. Is God, wat Jakob betref, vir alle praktiese doeleindes afwesig.

Ons wat die Jakobverhaal ken, broers en susters, weet egter dat op dieselfde oomblik toe Jakob met sy hande in sy hare uitgeroep het `alles is teen my', God toe al besig was om op 'n besondere wyse die pad met Jakob te stap.

En wel op so 'n wyse dat 'n swaksiende en gryse Jakob later, op sy siekbed vir Josef kon sê: `Ek het nooit gedink dat ek jou ooit weer sou sien nie, en hier laat God my selfs nou jou kinders ook sien'. En daar, aan die einde van sy lewe, het Jakob God geloof vir die feit dat God hom sy hele lewe soos 'n herder gelei het, al het hy wat Jakob is dit nie altyd raakgesien of wou erken nie.

En so werk God vandag nog, broers en susters, ook met u en met my. Soos Romeine 8:28 dit stel: God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Nie, broers en susters, dat dit beteken dat God dit vir ons nou sal doen nie. Dit sien ons immers baie duidelik uit die Jakob-verhaal. Ook nie, broers en susters, dat God vir ons alles sal gee wat ons begeer of ons meen ons nodig het nie. Nee. Wat God wel gee, en sal gee, is uitkoms, dit wat Hy weet ons nodig het, wat Hy weet vir ons goed is.

Juis daarom, broers en susters, het nog Jakob, en nog ons vandag, ooit werklik rede om te sê: alles is teen ons. Eintlik was daar nog net een persoon in die lewe wat ooit rede gehad het om dit te sê: want sien Hom maar gerus weer strompel onder sy kruis daar op pad na Golgota, sien maar weer sy gegéselde liggaam, sien Hom maar gerus weer daar waar Hy aan die kruis hang, en hoor gerus maar weer hoe daar met Hom gespot word, hoe Hy verag word, ja, en hoor Hom gerus maar weer sê: My God, my God, waarom het U my verlaat. Daar waar Hy, anders as Jakob, werklik deur God verlaat is, en daarom kon sê: nou is alles teen my. Want op daardie oomblik aan die kruis het dit van Jesus waar geword: daar was alles en almal teen Hom! Sodat, broers en susters, dit nooit maar nooit van ons waar hoef te wees nie. Eintlik: sodat dit nooit van ons waar kan wees nie!

Die boodskap van die verhaal van Jakob, broers en susters, is: vertrou op God. Vertrou Hom met jou toekoms. En ek sê dit, broers en susters, terwyl ek van baie mense in ons gemeente weet vir wie dit vandag, gister, ja selfs die afgelope tyd, werklik nie maklik is of kan wees om dit te sê nie.

Maar dit is die boodskap van feitlik die hele Genesisverhaal: vertrou op God. Vertrou Hom in die lewe van jou kinders. Vertrou Hom vir jou eie lewe. Vertrou Hom vir die gemeenskap waarin u woon, vir die gemeente waarvan u deel is, vir die land waarin u leef.

En laat ek dadelik bysê, broers en susters, onsekere tye soos die tye waarin ons nou leef, is nie sonder sy seën nie. Want wanneer mensgemaakte ideologieë, mensgemaakte bouwerk en mensgemaakte planne rondom ons struikel, planne van die verlede en planne van nou, dan sien 'n mens immers weer die een groot waarheid raak: daar is net een vaste punt in die lewe wat nie wankel of wyk nie: God, en God se beloftes.

Maar om dit te kan sê, en dit werklik te glo, broers en susters, vra van 'n mens opregte geloof, ware geloof, kom ek sê, dit vra van ons nogtans geloof. Nogtans geloof wat sê: al lyk dinge hoe, al lyk my omstandighede hoe, al is my situasie wat, al lyk dit vir my of God vêr staan, al lyk God vir my onbetrokke, nogtans sal ek jubel in die Here, my God.

Dus, broers en susters, en ek sluit hiermee af: om te sê ek glo in God, die Almagtige, my hemelse vader, word eintlik eers 'n ware belydenis wanneer ek bereid is om ook 'n `nogtans' geloof te bely. Om, wanneer alles volgens my oordeel en insig, skeefloop te weet en te glo: maar God is hier. Al voel dit nie so nie, Hy hou my vas. Al lyk dit nie so nie, Hy is besig om 'n bepaalde pad met my te stap. Ja, wanneer die dokter se diagnose jou keel wil toedruk, beteken nogtans geloof om te weet: God is by my. Of: as droefheid oor 'n geliefde wat nie meer daar is nie jou hart wil stukkend breek, te weet: God verstaan.

Om elke Sondagoggend en –aand in die kerk te sê ek glo in God die Vader, broers en susters, is (met alle respek teenoor u) vir my persoonlik baie eenvoudig en baie maklik. Ja, miskien beteken hierdie belydenis van ons dikwels nie veel meer as die woorde wat ons hoor nie.

Dit is egter eers daarbuite in die werklikheid van die lewe, met al sy spanninge, onsekerhede, druk, hartseer en ellende, dat dit duidelik word of ons hierdie belydenis glo of nie. Dit is eers waar ek werklik bereid is om my geloof as 'n nogtans geloof uit te leef, waar dit duidelik word of ek my elke Sondag se belydenis werklik glo. En, of ons elke Sondag se belydenis ook 'n belewenis is. Want waar belydenis belewenis geword het, nogtans geloof geword het, daar het dit ware geloof geword.
Amen