Markus 5:21-24, 35-43

Om die onsienbare te sien



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die van u wat al die geleentheid gehad het om in 'n blinde persoon se teenwoordigheid te kon wees, sal weet dat 'n blinde persoon, veral daar waar die omgewing aan so iemand onbekend is, met klein treetjies loop: juis omdat so iemand bang is hy/sy sal teen iets vasloop, of selfs dalk sal val. Daarom loop 'n blinde persoon baie versigtig, want so iemand is immers blind, hy/sy kan nie sien wat voor in die pad is nie.

Ook ons, broers en susters, al kan ons sien waar ons loop, het egter ook rede om baie versigtig te wees. Want, ja, ook ons is blind. Ons kan nie in die toekoms in sien nie. Ons het geen sig verby die teenswoordige nie.

Ek kan nie vanoggend met sekerheid sê dat ek lank genoeg sal leef om hierdie preek klaar te preek nie, en u kan nie sê dat u lank genoeg sal leef om klaar na die preek te luister nie. Want, al kan ons sien, is ons ook blind. Blind vir die toekoms. Blind vir môre. Blind vir volgende week.

Nie een van ons weet presies wat met ons kinders sal gebeur nie. Nie een van ons weet wanneer ons sal sterf nie. Nie een van ons wat nog jonk is weet presies met wie ons eendag gaan trou, en of ons wel sal trou nie. Want vir die toekoms, broers en susters, is ons nie net blind nie, ons is onveranderlik blind. Ons kan niks daaraan verander dat ons nou ewe skielik in die toekoms kan in sien nie.

Dit is, om die waarheid te sê, iets wat almal wat lewe met mekaar in gemeen het. Die wat baie het is net so blind soos die wat minder het, die geleerdes is net so blind soos hulle wat nie die geleentheid gehad het tot verdere opleiding nie, ja, die bekendes kan net so min in die toekoms inkyk as die sogenaamde onbekendes.

Verder is dit ook so in die lewe, broers en susters, dat al probeer 'n mens hoe hard om jou lewenspad so reguit as moontlik te loop, jy tog iewers jou toon sal stamp en seer sal kry. Wat hierdie toonstamp ook al mag beteken, en wat die seerkry ook al sal wees.

Soos in die geval van Jaïrus. Hy was 'n man wat so reguit in die lewe probeer loop het, maar ewe skielik het sy lewenspad 'n groot draai gemaak. Hy het voor die donker grot van die dood kom staan, en hy het nie die krag gehad om alleen daarin te stap nie.

Jaïrus was die leier van die sinagoge. Vir ons sê dit dalk nie veel nie, maar in die tyd van Jesus was die leier van die sinagoge die belangrikste man in die gemeenskap. Die sinagoge was die middelpunt van die mense se geloof, dit was hulle plek van samekoms. Maar ook was dit die middelpunt van die kinders se opvoeding, van besigheid en handel, van die politiek, eintlik van die hele sosiale lewe. Daarom was die leier van die sinagoge eintlik niks anders as die senior geloofsleier, die burgemeester, die skoolhoof, die bekendste dorpenaar nie.

'n Mens wil amper vra. Wie kon vra vir meer. Nie Jaïrus nie. Hy het alles gehad wat nodig was vir 'n goeie en rustige lewe. Maar tog moes Jaïrus dit ewe skielik doen. Hy moes ewe skielik vra vir meer – hy moes smeek vir sy dogter se lewe.

Die Jaïrus wat dus by Jesus opdaag was alles behalwe die goedgeklede, heldersiende, goed versorgde leier. Nee. Hy was 'n blinde man wat smeek om 'n gawe. Daarom val hy op sy knieë voor Jesus neer en smeek dat Jesus hom sal help.

En let mooi op: hy probeer nie om met Jesus 'n ruiltransaksie aan te gaan soos dit sonder uitsondering die gebruik in sy tyd was nie. Want hy sê nie: as jy my hierdie guns doen, sal ek vir jou 'n guns doen nie. Hy onderhandel nie met Jesus nie. Hy sê nie: hier is 'n paar mense, veral die godsdienstige leier, wat so bietjie omgekrap is omdat jy mense gesond maak en mense se sondes vergewe. As jy my help, sal ek met hulle praat. Ook maak hy nie verskonings nie. Want hy sê nie: gewoonlik is ek nie desperaat nie, Jesus, maar vandag het ek so klein probleempie nie). Nee. Al wat hy maak is om te smeek en te hoop.

Daar is tye in 'n mens se lewe, broers en susters, waar alles wat jy kan bied, nie genoeg is om op te maak vir dit wat jy vra nie. En Jaïrus het hierdie punt in sy lewe bereik. Want wat kan iemand gee in ruil vir sy kind se lewe.? Hierdie was dus nie 'n saak van speletjies nie. Inteendeel. Die saak was heel eenvoudig: Jaïrus is blind vir wat die toekoms vir sy dogtertjie inhou, en Jesus ken die toekoms. Daarom smeek hy vir Jesus se hulp. En Jesus, broers en susters, wat lief is vir die eerlike hart, help hom. En God, broers en susters, wat weet wat dit beteken om 'n seun aan die dood af te staan, gee Jesus die mag om Jaïrus te help.

Maar dan sien ons, broers en susters, dat voordat Jesus en Jaïrus enigsins veel kan vorder, ‘n mens van Jaïrus se huis hulle onderbreek met die nuus dat die dogtertjie gesterf het. En juis hier, broers en susters, begin die verhaal te lewe. Want ewe skielik word die rolle omgekeer. Jesus verander van die een wat deur Jaïrus na sy huis gelei word na die een wat Jaïrus lei. Hy verander van die een wat deur Jaïrus oortuig word om te help na die een wat Jaïrus oortuig. Maar ook meer. Van die een wat vereer word na die een wat uitgelag word. Van die een wat mense uithelp na die een wat mense uitsluit.

Jesus, in kort, neem beheer oor. Moet jou nie ontstel nie, bly net glo, is wat Hy vir Jaïrus sê. En hierdie stelling, broers en susters, is 'n ongelooflike en wonderlike stelling. Hoekom? Want dit beskryf presies wat dit beteken om die onsienbare te sien, om die onbekende te ken.

Dit wil sê: ignoreer die mense. Sluit hulle uit. Ignoreer hulle wat sê dit is te laat om oor te begin. Skat dié wat meen dat jy nooit iets sal bereik nie, gering. Hou jou doof vir hulle wat sê jy is nie vinnig, groot genoeg of goed genoeg nie. Met ander woorde, om dit effens plat te stel: geloof, sê Jesus, beteken om soms watte in jou ore te druk en 'n blinddoek om jou oë te draai.

Want wanneer Jesus sê: Bly maar net glo, dan bedoel Hy: moenie jou moontlikhede beperk tot dit wat jy kan sien en ken nie. Moenie net na die hoorbare luister nie. Moenie dat logika altyd alles beheer nie. Glo dat daar meer aan die lewe is as wat jy net kan sien. Dus: vertrou My!

In een van die baie boeke wat Bonhoeffer geskryf het, broers en susters, vertel hy dat hy op 'n keer in 'n sel in 'n konsentrasiekamp die volgende op die selmuur uitgekerf gelees het: Ek glo in die son, al skyn dit nie, ek glo in liefde, al wys dit nie, ek glo in God, al praat Hy nie.

Ek probeer my die persoon voorstel, broers en susters, wat hierdie woorde daar uitgekerf het. En ek kan aan net een voorstelling dink: dit is iemand wat gekies het om die onsienbare te sien. Soos Paulus byvoorbeeld in 2 Korintiërs 4:18 geskryf het: `Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is ewig'. Of, soos hy dit in Hebreërs 11:1 stel: `Om te glo is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie'. Met ander woorde: om te glo is soms om die onsienbare te sien en te wil sien.

Presies dit, broers en susters, het God van Jaïrus gevra. Hy het hom gevra om die onsienbare te sien. Om 'n keuse te maak. Om te lewe volgens die feite of deur die geloof. En so maak God presies met ons: wanneer 'n tragedie ons tref, wanneer ons, omdat ons blind is vir die toekoms, ons teen iets stamp, word ons die keuse gelaat om te kies wat ons sien. Of die lyding, of die Geneser.

Jaïrus, broers en susters, het 'n keuse gemaak. 'n Goeie keuse. Hy het geloof en Jesus gekies, en geloof in Jesus het Jesus na sy dogter gelei.

Ek sluit af: Almal van ons, broers en susters, het al die handelinge of werk van God in ons lewens raakgesien. Die meeste van God se ingrype in ons lewens het ons egter nog nie gesien nie. Eers wanneer ons eendag volkome by God is, sal ons sien hoeveel keer Hy ons beskerm het, hoeveel keer Hy ons doof gemaak het vir ander se stemme, hoeveel keer Hy ingegryp het om ons te bewaar. Net die ewigheid sal openbaar hoe God miskien:

  • planne wat ek gemaak het nie laat slaag het nie, omdat Hy vir my ander planne gehad het;
  • 'n verhouding tot einde laat kom het omdat Hy geweet het die huwelik sou nie werk nie;
  • deure vir my toegemaak het, deure van byvoorbeeld bevordering of blykbare sukses, omdat Hy my elders wou gebruik;
  • my foute laat maak het, my my kop laat stamp het sodat ek vorentoe, daar waar dit belangrik sou wees, nie weer dieselfde foute sou maak nie;
  • my 'n lewensmaat of vriend gegee het wat liewer was vir God as vir my, en my so die regte raad laat hoor het;
  • my die regte boodskap in die kerk of oor die radio laat hoor het toe ek dit bitter nodig gehad het; of
  • my die regte gedeelte in sy Woord laat lees het toe ek belangrike besluite moes neem.

Miskien moet ons dit vandag iewers gaan neerskryf: God weet dat u en ek blind is. Hy weet dat om in die geloof te lewe in pleks daarvan om jou te beroep op dit wat jy sien en dink, nie maklik is nie, maar eerder bitter, bitter, moeilik is.

Persoonlik dink ek dat dit een van die redes was waarom Jesus Jaïrus se dogtertjie uit die dood opgewek het. Nie ter wille van haar nie – dit sou immers vir haar beter in die hemel gewees het. Maar ter wille van ons – om ons te leer dat God sien wanneer ons vertrou, dat God Hom verheug dat ons, omdat ons 'n hemelse Vader het, bereid is om die onsienbare te soek, te wil sien en te sien. Dat ons bereid is om te glo wanneer God sê: Moenie ontsteld wees nie. Bly maar net glo!

Aan hierdie onsienbare geloof, glo ek, sal ons eendag gemeet word.
Amen