Efesiërs 1:15-23

Om saggies te prewel: vertrou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wil die prediking vanoggend begin deur aan u twee algemene ervarings voor te hou waarvan ek oortuig is u ook al beleef het. Twee ervarings, fiktief, maar ook twee ervarings wat net sowel waar kon wees. Dan, broers en susters, wil ek met u ‘n fiktiewe gesprek deel. Daarna gaan ons na ons teksverse kyk.

Die eerste ervaring speel in die hospitaal af. Ons staan ‘n paar treë van ‘n bed voor ons. Die atmosfeer is swaar en somber. ‘n Masjien pomp suurstof in ‘n gebreekte liggaam in. ‘n Monitor meet die slae van ‘n beseerde hart. Die persoon op die bed was in ‘n motorongeluk. Die gesigte om die bed lyk verward. Lyk moeg. Ons ken die mense goed. Ons wil so graag vir hulle iets doen. Maar ons weet nie wat nie. Ook weet ons nie eintlik wat om te sê nie.

Dan prewel ons: vertrou, vertrou net op die Here. Vertrou die een wat ons leed en smart en kommer ken. Maar die woorde klink hol. Dit lyk asof dit op dowe ore val. En heimlik wonder ons self of ons, as ons in hulle situasie was, werklik sou kon vertrou.

Die tweede ervaring: voor ons sit ‘n man. ‘n Goeie man. ‘n Gelowige man. Maar ‘n man vol vrees, ‘n man baie bang. Sy vrees is eerlik. Sy maatskappy het gesluit. Onder gegaan. Hy het sy werk verloor. Dit was nie sy skuld nie. Maar dit het gebeur. Hy het nie sy geld weggedobbel of vermors nie. Maar geld is daar nie meer nie. ‘Hoe gaan ek vir my gesin sorg?’, kom die woorde oor sy lippe. ‘Hoe gaan ek weer respek by ander, en by myself, kry?’ En in sy oë sien ons net verwardheid . Sy gesig lyk soos die van Petrus daar op die water toe hy net die golwe en wind gesien het, en niks meer nie.

Dan kom die woord uit ons mond: vertrou. Vertrou net op die Here wat ons omstandighede ken. Maar die woorde plof neer. Want die woorde sit nie ‘n werk voor hom neer nie, en die woordjie vertrou sit ook nie kos in sy kinders se monde nie. En heimlik wonder ons: as ons in dieselfde situasie was, sou ons kon vertrou?

Nou die gesprek. ‘n Paar treë van ons af sit ‘n man in ‘n dodesel. ‘n Jood van geboorte, vroeër ‘n fanatiese Fariseër met tentmaker as beroep, later ‘n geroepe en gehoorsame apostel van die Here. Sy dae is egter nou getel. Die swaard van die dood hang oor sy kop. Om ons ongemak te probeer verberg, vra ons aan hom ‘n paar vrae:

‘Het jy enige familie, Paulus?’ Nee, niemand nie..
‘En jou gesondheid, hoe gaan dit met jou gesondheid?’ My lyf is voos geslaan en gedaan.
‘Enige besittings, Paulus?’ Niks noemenswaardig nie. Net my perkamente, pen en mantel.
‘En jou reputasie?’ Wel. Nie veel nie. Vir sommige is ek ‘n ketter en opstandeling, ander weer sien my as ‘n dwarstrekker, ander weer glo ek is werklik ‘n apostel van die Here.
‘Enige vriende, ou Paulus?’ Ek het nog ‘n paar oor. Ek het baie meer gehad, maar baie van hulle het die rug op my gekeer.
‘Enige toekennings?’ Nie hier op aarde nie.
‘Maar wat het jy dan, Paulus? Geen aardse besittings, geen vriende, geen familie, feitlik geen gesondheid meer nie. Gekritiseer deur party. Verguis deur ander. Geslaan deur sommiges. En bespot deur ander. Wat het jy wat saak maak?’ Paulus bal sy vuis. Hy kyk daarna. En ons kyk daarna. Dit is asof hy iets in sy hand vashou. Wat hou hy vas, dink ons? Wat het hy daar in sy hand?

Dan hou hy sy hand uit dat ons kan sien. Wanneer ons vooroor leun maak hy sy hand oop. En ons staar na sy handpalm. Dit is leeg. En dan antwoord hy: Ek het my geloof. Dit is al wat ek het. Maar dit is ook al wat ek nodig het. Ek het, met die krag van my God, die geloof behou. Daarom het ek niks meer nodig nie!

Dan leun Paulus terug teen die tronkmuur en glimlag vir ons. En ja, ons kyk terug in die gesig van iemand wat geleer het dat die lewe meer inhou as maar net dit wat jy hier voor jou sien. Meer inhou as al jou vrese en negatiewe gedagtes. Want dit is wat geloof is, dit is om te vertrou op dit wat die oog nie kan sien nie.
Die oog sien die brullende leeu. Geloof sien Daniël se engel.
Die oog sien storms. Geloof sien Noag se reënboog.
Die oog sien reuse en geweldige sterk oorlogsmasjiene. Geloof sien hoe die volk reeds in Kanaän woon.

Ja, broers en susters, dit is hoe die Bybel vir ons geloof definieer:

Ons oë sien net foute en mislukkings. Geloof sien ons Verlosser, Jesus Christus.
Ons oë sien net skuld en sonde. Geloof sien Jesus Christus se bloed.
Ons oë sien die oop graf. Geloof sien ‘n wonderlike stad waarvan God die argitek, bouer en instandhouer is.

Gaan staan ons voor die spieël, broers en susters, en ons kyk, menslik gesproke, baie goed na onsself. Wat sien ons? Ons sien ‘n sondaar. Mislukkings. Eintlik net een groot mislukking. Ons sien ‘n huigelaar. ‘n Verbreker van beloftes. Ons sien iemand wat baie makliker sitplek as standpunt inneem. Maar as ons deur geloof kyk sien ons in die spieël ‘n verlore seun wat geklee is in ‘n purper kleed, met ‘n ring aan die vinger wat sê ons is God se kind, ons sien die merk van die soen van God op ons voorkop, en ons hoor hoe almal binne in God se huis feesvier, en nie kan wag dat ons deel van die vrolikheid sal word nie.

Maar wag ‘n bietjie, hoor ons hulle daar rondom die bed, wag ‘n bietjie, hoor ons die man oorkant die tafel, wag ‘n bietjie, hoor ons die stem binne in ons sê: Hoe weet ek dit is waar? Hoe weet ek dit is nie maar net ‘n ydele hoop, een totale versinsel nie? Gee my die feite, dan sal ek dit glo. Want wat ek nou sien, bevat eintlik geen feite nie.

Ons teksverse, broers en susters, Efesiërs 1:19 en 20, beantwoord al hierdie vrae van ons op ‘n kragdadige manier. Die krag wat God uitoefen in ons wat glo, is dieselfde krag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Jesus Christus uit die dood opgewek het.

God is ons krag. Wat meer is, Hy gee selfs die geloof om dit te kan glo, en raak te sien. Dieselfde hand wat Christus aangeraak het en weer laat lewe het, is dieselfde hand wat ons elke dag aanraak, rig, lei en stuur. Dieselfde arms wat Jesus Christus uit daardie graf gedra het, is die arms wat ons vang wanneer ons voel of ons net val, val en nog verder val.

Hoe sien ons wat ons nie sien nie, broers en susters? Hoe kyk ons met ‘n geloofsoog, soos vers 18 sê, dat ons kan sien watter erfenis en watter hoop daar vir ons in Christus weggelê is?

Eintlik eenvoudig. As jy weer voor die spieël staan, en net sonde sien, weet dan dat dieselfde hande wat vasgespyker was aan ‘n kruis, die hande is wat jou aanraak en vergewe.

As jy weer voel dat die kragte van lewe jou ruk en pluk, en heeltemal van jou voete af wil ruk, weet dan dat die krag wat Jesus Christus opgewek het, dieselfde krag is wat jou staande in die lewe sal hou.

Wie van ons, broers en susters, as ons kinders na ons aangehardloop kom en met vreugde in ons arms spring, sal op sy staan sodat ons kinders hard op die grond val? Wie van ons is so wreed dat ons ons kinders, wanneer hulle in ons arms wil spring, die rug sal keer? Dit is ondenkbaar. Dit kan tog nie, dit sal tog nie.

Hoekom sal God dan, broers en susters? Hy wat die volmaakte Vader is. Hy wat ons geroep het om deel van sy huisgesin te wees, Hy wat vir ons ‘n heerlike erfenis in Christus weggelê het. Hy wat in ons wat glo dieselfde krag uitoefen as waarmee Hy Christus opgewek het.

Daarom, broers en susters, kan ons maar weer, wanneer ons woorde opraak, wanneer ons gemoed ons oorval, en ons geen woord meer oor het om vir ander te sê nie, prewel: vertrou. Vertrou op die Here. Inteendeel. Mag dit die enigste woord wees wat ons prewel. Want al waarvan ons tog seker is, is ons geloof, en die feit dat God kragtig werk in die wat in Hom glo.
Amen