Eksodus 2:1–15; Hebreërs 11:23–27

Om te glo beteken om te werk



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Sosioloë reken dat die mens nou maar eenmaal ’n toekomswese is. Vir sommiges bestaan die lewe uit net twee groot dele: herinneringe en beplanning. Herinnering is die verlede en beplanning is die toekoms. Ons praat oor en ons dink aan alles wat agter die rug is, en ons beplan vir dit wat kom.

Meer nog: vir dit wat agter die rug is, kan ons eintlik nie bang wees nie; ons is nie daaroor bekommerd nie. Dit is eintlik klaar. Dit is eintlik verby. Maar dit wat voorlê, dit is vir só baie van ons die bron van maagsere en kommer. Sê nou dit gebeur, of sê nou dat gebeur! Ons het mos soms so ’n vae voorgevoel. Ons is mos gedurig besig om in die toekoms in te grawe. Wat se kommerwekkende gebeurtenisse en verskriklike dinge kan ons ons nie soms onnodig verbeel nie?

Ons kan mekaar soms tog só die verdrietigheid inpraat oor hoe donker en duister ons toekoms is: materiële tekorte, al die geestelike en sedelike en morele aanslae van verleiers en goddeloses en nog wat. Alles wat nog op ons en ons kinders kan losbars.

Klein Moses het sy oë in ’n baie ellendiger wêreld oopgemaak as ons s’n: ’n slawekind wat in die Nylrivier krokodilkos sou word. Maar teen alle verwagtinge in eindig Moses se geskiedenis anders. Hoekom?

Geloof, geloofsbesluite en die uitleef van geloof laat eerstens sy ouers daadkragtig optree. Al weet hulle dat die koning hulle kon doodmaak, steek hulle vir Moses drie maande lank weg in ’n mandjie op die Nylrivier. Geloof laat hulle só optree, want geloof is om te doen wat God van jou vra en oortuig te wees dat God self sal toesien dat reg geskied.

Verder ken die meeste van ons die geskiedenis. Die farao se dogter kry Moses in die Nyl. Moses se eie ma maak hom vir die farao se dogter groot en uiteindelik gaan bly Moses in die farao se paleis. En so word hy ‘n koningskind.

Toe Moses groter geword het en self kon besluit wat hy wil en wat hy nie wil nie, het hy geweier om ’n klein Egiptenaartjie te wees. Iewers moes Moses gehoor het dat hy ’n Israeliet was. Dit was seker die skok van sy lewe. Hy is nie ’n Egiptenaar nie, nie eintlik een van die bevoorregtes nie, nie ’n toekomstige troonopvolger nie, maar ‘n ellendige slawekind. Niks het hom verhinder om van sy afkoms te vergeet nie: hy het ’n roemryke toekoms voor hom gehad. Al die rykdom en al die kennis van Egipte het in sy skoot geval. En boonop kon hy ook nog ’n farao word, koning van Egipte, in daardie tyd die magtigste mens ter wêreld.

Maar Moses weier om langer die seun van die farao se dogter te wees. ‘Jou dwaas!’, sou ons wou uitskree. ‘Moses, weet jy wat jy doen? Jy gee alles prys. Jy verkies om ’n slaaf, ’n stuk eiendom, ’n ding, ’n veragte te word. Swak beplanning; ou Moses, swak keuse’, sou ons wou sê.

U sien dus, broers en susters, ’n tweede draai in Moses se geskiedenis ook as gevolg van geloof: nie net uit die bek van die krokodil die paleis in nie, maar nou weer uit die paleis ’n veragte slawewêreld in. Nie rykdom nie, nie moontlike mag nie, maar geloof in God dui Moses se lewenskoers aan.

Tipies, broers en susters: die norme van die geloof is meestal anders as die wêreld s’n. Die wêreld se norme is deur kortsigtige mense uitgedink — die geloof se norme het God bepaal. En daarom: toe Moses se geloof hom laat besluit, toe besluit hy anders as wat mense normaalweg besluit. Moses het geglo om terug te stap na Israel toe nie beteken dat hy terug na ’n klein toekomslose slawevolkie toe gaan nie, maar terug na ’n ware toekoms toe stap. Want Israel se geskiedenis was nie menslik of wetenskaplik of volkekundig uitgedink nie. Hulle toekoms is deur God bepaal, die Skepper self, die groot Skrywer van die geskiedenis — verlede, hede, toekoms, alles.

Om onder God se wil te buig, broers en susters, is altyd die moeite werd. Hoekom? Kom ons kyk na Moses se geval: deur in die geloof vir God te kies bevry God hom van die gebruike van die Egiptenaars, bevry God hom van afgode-aanbidding, bevry God hom daarvan om ander mense te verdruk en te verneder.

Ja, ’n mens sou kon bly in die paleise en by die magsoekende en verdrukkende Egiptenare, dit sou seker lekker wees en jou belangrik laat voel, maar môre as jy wakker word en jou skuldige gewete pak jou, dan sien jy dit was leeg en laag, en oormôre as jy staan voor die regterstoel van God, besef jy jy was dwaas.

Aan die anderkant: alles wat met God te make het, diens aan Hom, sy waardes, sy norme — dit alles het ewigheidswaarde.

Ek het gesê die grootste deel van ons lewens bestaan uit beplanning, uit gereed maak vir die toekoms. Die saak wat tans hoë prioriteit onder ons mense geniet, is die saak van die onderwys. En waarmee anders het die onderwys te doen as die toekoms? Opvoeding en onderwys is niks anders nie as om ons kinders gereed te maak vir dit wat voorlê, om hulle te lei sodat hulle eendag verantwoordelike, goed toegeruste volwassenes sal wees. Anders gesê: wat die opvoeding en onderwys van ons kinders betref staan ons in ons tyd elke oomblik in Moses se skoene, in Moses se skoene waar ons keuses moet maak wat vir ons kinders baie belangrik is.

In ’n ‘nuwe’ land met ‘nuwe’ omstandighede en ‘nuwe’ uitdagings word ‘nuwe’ verantwoordelikhede dag vir dag op ons skouers opgestapel. Ons staan byvoorbeeld voor ’n ander werklikheid as tien jaar gelede toe alles deur wetgewing en in ’n mate deur mense wat óm ons mag gewees het, bepaal is. Vandag het ons met ander wette te doen, en óm ons, op die skoolbank langs jou en agter die besluitnemingslessenaars en op ons televisies binne in ons gesinskamers, is daar ander mense met ander opvattings en ander norme en uit ander agtergronde, uit ander godsdienste en ander bevolkingsgroepe. In ’n omgewing, beskerm met net dit wat jou eie is, was ons in die verlede te gewoond om net met ons horlosies en dagboeke ons toekoms te beplan.

Al die ander goed was duidelik (ook maar veronderstel om te gewees het!) deur owerhede vir ons in kanne en kruike gegooi. Ons moes net ‘eet’ en ‘drink’.

Tussen ’n hele massa van waardes en norme, en veral uitgangspunte wat verskil oor waardes en norme, moet ons vandag besluite neem en ons lewens uitkap.

Gelukkig, broers en susters, het ons Grondwet ’n artikel 15(1) en 15(2) en het ons ’n Skolewet wat ons nie in ’n rigting in dwing nie, maar wat ons vryheid gee om, wat ons godsdiens betref, te maak soos ons wil, mits dit nie die ‘gees’ van die res van die Grondwet skaad nie.

Soos almal weet, is dit egter nie alles so eenvoudig nie. In die onlangse verlede, met die vasstelling van ‘n nuwe onderwysbeleid oor godsdienste op skool, het baie gevoel dat ons in ’n rigting ingedwing word waarin ons nie wou wees nie. Maar soos Moses van ouds het feitlik al die kerke in Suid-Afrika en ouerverenigings en sekere vakbonde vier voet vasgesteek en met baie onderhandelings en oortuigingsinisiatiewe tog uiteindelik geslaag.

Met ’n enkele uitsondering mag alles bly soos dit was. Hiermee word nie bedoel dat alles nog steeds vir ons ‘uitgemeet’ en ‘afgeweeg’ word nie, maar dat ons kan besluit hoe jy jou godsdiens wil beoefen, sonder om iemand anders in die proses te benadeel. Jy mag nie benadeel word nie, maar jy mag ook nie ’n ander een benadeel nie. Saalopenings, eredienste by spesiale geleenthede, predikante wat by geleentheid met sy kerk se kinders praat, dit mag nog steeds, met die enkele uitsondering: die onderrig van verskillende godsdienste word ook deel van skool se leerplan. En dit móét ook deur ’n onderwyser aangebied word — nie deur kerklike ampsdraers nie.

Gelukkig is die situasie tans so dat die onderwysers wat in die klas voor ons kinders staan, verreweg sonder uitsondering nog vanuit 'n Christelike agtergrond kom en daarom, so hoop ons, die regte onderskeidingsvermoë aan die dag sal lê wanneer dit kom by die onderrig oor die verskillende godsdienste. Maar ons besef ook dat hierdie situasie baie gou kan verander, en dan is die vraag: maar wat staan ons, as kerk, as ouers en as kinders te doen?

Gaan kyk ons weer na Moses, dan sê Hebreërs 11 vir ons dat dié een ding wat 'n verskil gemaak het, wat gemaak het dat hy nie opgeneem is in die leefwyse (en godsdiens) van die Egiptenare nie, die feit was dat Moses geglo het (Heb 11:24).

En hierdie geloof van Moses was beslis deels daaraan te wyte dat die Here dit so beskik het dat sy eie moeder hom kon opvoed nadat die farao se dogter hom uit die Nyl gehaal het. So het sy moeder Moses gevorm, al was hy deel van die Egiptenare se hof.

En baie duisende jare later, soos vanoggend weer sal gebeur, lê ons by die doop van ons kinders 'n belofte af dat ons dieselfde sal doen, dat ons hulle in die geloof sal opbou sodat hulle ook in hulle lewens uiteindelik die regte keuses sal maak. Die nuwe voorgestelde doopformulier sê dit so mooi: Dit is egter belangrik om die doop jou eie te maak en self daarvoor verantwoordelikheid te aanvaar. Daarom moet ouers en die gemeente kinders leer wat die doop beteken.

As ons wil hê dat ons kinders vas sal bly staan in die waarhede van die Christelike geloof, sal ons hierdie 'n saak van baie groter erns moet maak. Die een plek waar ouers en gemeente saamkom om die kinders te leer, is natuurlik die erediens en die kategese. Statistieke wys dat gemiddeld 40% van lidmate die oggenderedienste bywoon, terwyl tussen 50 en 60 % katkisante die kategese bywoon. Is dit hoe ons erns maak met ons doopbelofte? Dink ons regtig dat ons kinders op hierdie manier die nodige en die regte kennis opdoen?

Geloof, het ons mos nog altyd gesê, is 'n saak van kennis en vertroue. As ons nie elke geleentheid wat tot ons beskikking is om ons kennis oor God en sy Woord uit te bou, ten beste benut nie, dan gaan die vertroue op God wat ons so nodig het om staande te bly in 'n deurmekaar wêreld, mos ernstig skade ly.

Ek het in die verlede ‘n keer gesê dat die enigste plek waar sukses voor werk kom, in die woordeboek is. En dit sal ons weer moet hoor. Baie het verander in die onderwys en dat dinge heel waarskynlik nog baie gaan verander in die onderwys, is 'n gegewe. As ons sukses wil bereik sodat ons en ons kinders sal bly vasstaan in ons Christelike geloof te midde van al hierdie veranderinge, sal ons baie, baie hard daaraan moet werk dat ons en ons kinders die nodige kennis en die regte vertroue opdoen sodat oor ons gesê kan word : Omdat ons en ons kinders geglo het, het ons bly vas staan toe alles om ons verander het. Omdat ons en ons kinders geglo het, het ons bly volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (Heb. 11:27).

Hoe volhard ons, broers en susters? Ons kan sê: maar ek is van daardie 40% wat die eredienste bywoon, en my kinders is van daardie 50% tot 60% wat die kategese bywoon. En heel waarskynlik is u reg. Maar hoe toegewyd is ons om ons kinders te leer wat hulle doop beteken? Doen ons dit enigsins?

Wanneer laas het u met u kind oor sy of haar doop gepraat. En as u voel u is nie in staat daartoe nie, hoekom het u nie hulp gevra om dit beter te kan verstaan nie? Verder, broers en susters: hoe betrokke is u by u kind se skool? Woon u die vergaderings en verkiesings by?

Dit help tog nie ons kla oor alles en nog wat as dit kom by ons kinders se skole nie, maar wanneer ons byvoorbeeld die geleentheid het om hulle te verkies wat ons weet ons belange op die hart dra, is daar soms nie eers ‘n kworum nie. Kan ons kla, mag ons bekommerd wees, as ons optrede soms ‘n totale onverskilligheid aan die dag lê?

Keuses, dit is wat ons in die toekoms al hoe meer sal moet maak. Harde werk gaan van ons gevra word. Mag ons dit so doen, dat ook van ons eendag gesê sal word: omdat ons geglo het, het ons volhard soos mense wat die onsienlike God sien.
Amen