Johannes 4:43-54

Ongeloof, halwe geloof en ware geloof



1Geliefdes van ons Here, Jesus Christus, die tema van hierdie prediking gaan oor ware geloof; en dan ook met spesifieke verwysing na die tweede deel van vers 50: “Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan.”

Broers en susters, daar is ’n baie bekende Afrikaanse gesegde wat sê: “Sien is glo!” Besef julle dat ’n mens in hierdie moderne samelewing van ons te afhanklik is van die sien van dinge voordat jy iets sal glo? Hoekom kan ’n mens nie maar vir iemand glo bloot op grond van sy woord nie? Hoekom moet jy altyd eers wag vir bewyse voordat jy daardie persoon sal glo? Is dit miskien omdat ons uit die ervaring geleer het om niemand meer te vertrou nie, of is dit eerder omdat ons te afhanklik geword het van die sien van dade? Geld die gesegde: “Woorde wek, maar dade trek” nie dalk vir ons nie?

Volgens die skrywer van die boek Sal die regte Jesus opstaan, asseblief?, dr Johan Cilliers, is daar ’n outobiografie van ’n persoon wat die Duitse konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. In een van die hoofstukke in daardie persoon se boek word ’n merkwaardige verhaaltjie beskryf. Dit het gegaan oor die Joodse vroue wat nakend en bibberend voor die gaskamers gestaan het, gereed vir hulle beurt om vergas te word. Toe God hierdie onreg raaksien, het Hy vanuit die hemel sy hand uitgesteek en hulle hare gestreel as ’n troosvolle gebaar. As jy mooi oor hierdie verhaaltjie nadink, dan kan dit ’n mens vir ’n hele ent troos ... maar dit kan jou egter ook, as jy lank genoeg daaroor nadink, geweldig opstandig maak. Jy kan jouself afvra of dit al is wat God kan doen? Kan Hy werklik net ons hare streel in tye van nood en ellende?

Ek is seker dat die meeste van ons hierdie soort opstandigheid ken ... veral wanneer ons aan die chaos van die wêreld dink. Waarom raak God nie ontslae van al die haat en geweld nie? Beter nog: Waarom verdelg Hy nie die Bose met een goedgemikte vuishou nie? Waarom nie? Of kán God nie?

As ’n mens na hierdie Skrifgedeelte kyk, dan hoor ons dieselfde soort van opstandigheid by die pa van hierdie jong seun. Hierdie regeringsamptenaar se seun is dodelik siek en lê op sterwe. Hy vra vir die Here Jesus: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe” (v 49). Sy versoek is eintlik universeel ... ja, in sy versoek smelt die smart van menige ouerhart oor die eeue saam. Ja, hoeveel ouers het nie al gebid vir genesing van hulle kinders se siektes nie? Hoeveel mense het nie al oor die eeue gebid vir hulle geliefdes se herstel van ’n siekbed nie? En wat was die resultate van al hierdie gebede? Somtyds het die siekes gesond geword ... ander kere het dit nie veel verandering gebring nie ... ja, partykeer het van daardie siekes selfs dood gegaan. Nou kan jy jouself die vraag afvra of daar dan iets fout is met jou gebede, of hoor die Here nie meer nie? Het Hy nie dalk maar ook net, soos in die geval met die Joodse vrouens in die konsentrasiekamp, sy hand uitgesteek en jou of jou siek geliefde se kop in ’n troosvolle gebaar gestreel nie?

Gemeente, voordat ek by die kern van hierdie gelese gedeelte uitkom, wil ek graag eers vir julle die agtergrond gee van die Johannes evangelie. Die doel van die Johannes evangelie was uitsluitlik om ons te laat glo in Jesus Christus, as die Woord van God. Ja, Jesus se woord is meer as genoeg om te glo ... hierdie mensgeworde Woord van God móés geglo word. Dit mag nou vir julle soos geskiedenis klink, maar dit is belangrik om te weet hoekom Johannes hierdie evangelie geskryf het.

Hierdie evangelie het teen die agtergronde van spesifieke omstandighede ontstaan. Navorsing het getoon dat hierdie evangelie in ongeveer 110 n C geskryf is. En dit is dan nou juis in hierdie tydperk dat daar ’n hewige stryd gewoed het tussen die sinagoge aan die een kant, wat deur die Fariseërs beheer is, en die Christene aan die ander kant, wat in die sinagoge wou aanbid. Die groot rede vir hierdie hewige stryd was omdat die Fariseërs besig was met ’n hervormingsproses in die sinagoge, sodat hulle andersdenkende groepe uit die sinagoge kan verban. Hierdie hervormingsproses was nie soseer gemik teen die Christene nie, maar eerder teen die Gnostiek.

Wie of wat was die Gnostiek? Wel, hulle was ’n godsdienstige beweging wat ontstaan het as gevolg van die mens se idee van onsterflikheid. Volgens die Gnostiek het die skeppergod, wat genoem is die Demiurg, alle materie geskep, waaronder die sonde ook tel. Iets van hierdie oergod het in die skepping agtergebly, wat hulle dan die “goddelike vonke” genoem het. Hierdie “goddelike vonke” moes dan uit die skepping, uit die materie ontsnap om weer met die Demiurg te verenig. En juis omdat die Christene ook verkondig het dat hulle Verlosser, Jesus Christus, uit die dood opgestaan het, het die Fariseërs aangevoer dat die Christene elemente van die Gnostiek in hulle teologie het. Alhoewel die Christene se belydenis lank voor die ontstaan van die Gnostiek reeds daar was, en dit eerder die Gnostiek is wat elemente van die Christendom bevat, het die Fariseërs dit as 'n gulde geleentheid beskou om die Christene uit die sinagoge te verban.

En hierdie optrede van die Fariseërs-beheerde sinagoge het die Christene baie verward gemaak. Hulle het begin twyfel of hulle geloof in Christus eg is, en of dit nie maar tog bloot 'n uitvloeisel van die Gnostiek is, soos wat die Fariseërs beweer nie? En dit is dan teen hierdie agtergrond dat Johannes sy evangelie skryf en sy boodskap aan sy medegelowiges bring.

Geliefdes van ons Here Jesus, om nou terug te kom na ons gelese gedeelte: Wat doen die Here Jesus omtrent die pa se gebed? Wel, Hy hóór... én Hy dóén! Maar in hierdie proses van genesing gebeur iets wonderliks met die kind se pa self. Ja, hy ontvang baie meer as waarvoor hy gevra of gedink het. Hy kry baie meer as blote genesing van sy kindjie. Ja, die pa ontvang ook begrip vir hierdie wonderwerk, dit open vir hom ook die deur na die groter werklikheid, naamlik die koninkryk van God. Hierdie eens ongelowige regeringsamptenaar van Kapernaum word ‘n vurige gelowige... een wat hierdie geloof uitdra deur daarvan te gaan vertel! Tog, as ons mooi daaroor gaan sit en dink, dan besef ons dat hierdie pa nie van die begin af so gelowig was nie. O nee, oorspronklik wou hy net ‘n Wonderwerker gehad het, iemand wat sy siek kindjie kon genees deur die swaai van ‘n towerstaf.

Julle sal opmerk dat daar in dié gelese gedeelte basies drie tipes geloof voorkom, naamlik ongeloof, halwe geloof (wat niks anders is nie as ongeloof) en natuurlik ware geloof. Sommer aan die begin van die gelese gedeelte lees ons dat die Here Jesus sê dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Dit was verwysend na die Jode, die Fariseërs, wat in absolute ongeloof teenoor Hom gestaan het. Die Here Jesus is immers ’n gebore Jood, tog ... hulle aanvaar Hom nie as een van hulle nie! Hy word selfs deur sy eie mense verag en verloën. Ons lees ook in Johannes 1 vers 11 dat die Here Jesus na sy eiendom gekom het, maar dat sy eie mense Hom nie aanvaar het nie! Die Jode het in absolute ongeloof teenoor Jesus gestaan.

Net ’n bietjie verder lees in vers 45 ons van die Galileërs wat die Here Jesus hartlik kom verwelkom het. Waarom? Wel, hulle het van al die wonderwerke gehoor wat Hy in Jerusalem tydens die Paasfees gedoen het. Logies was hulle daardeur beïndruk! Die Here Jesus se koms na Galilea het soos ’n veldbrand versprei. Tog, vir hulle het dit meer gegaan oor die halsbandjie as om die hondjie! Hulle het gekom met slegs een bedoeling: Om te kyk of hierdie Jesus, van wie almal so baie praat, nie dalk weer ’n ou “wondertoertjie” wil doen nie. Ja, hulle glo in Hom, want Hy kan mos wonders doen! Jesus was voorwaar die Wonderwerker, en hulle het ‘n wondergeloof, met ander woorde, ’n geloof wat geheel en al afhanklik is van wonderwerke, in hierdie Man gekry. Dit is ook geen wonder nie dat Jesus hulle berispe: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie” (v 48). Die Here Jesus het geweet dat hulle Hom slegs met bybedoelings kom eer! En by hierdie Galileërs is net halwe geloof aanwesig, en dit is natuurlik ook niks anders nie as ongeloof!

Broers en susters, die volgende wat ons in ons gelese gedeelte lees, is dat Jesus na Kana gegaan het waar Hy voorheen water in wyn verander het. Dit is hier in Kana wat die regeringsamptenaar na die Here Jesus toe kom. Sy seun het op sterwe gelê, en vir hom was dit van uiterste belang dat sy seun moes bly leef. Hierdie seun van hom sou op die ou end die erfgenaam van sy besittings wees. Hierdie seun sou die familienaam voortdra! Daarom dat hierdie pa so ’n absolute krisis beleef het! Sy seun mag eenvoudig nie sterf nie!

Daarom gaan hy ook na die Here Jesus toe, want hy het ook gehoor van hierdie Man wat wonders kan doen. Onmiddellik betig die Here Jesus hom oor sy halwe geloof. Hy sê vir hierdie pa dat hy ook net glo omdat hy van die wonderdade gehoor het. Die Here Jesus laat die pa besef dat Hy nie maar bloot op elke versoek ’n wonderteken gaan verrig nie. Nee, die Here Jesus is wel bereid om te help, maar dan moet die geloof eg wees, en die wonderdaad moet slegs net gesien word as bevestiging van sy Godheid! Waaroor dit eintlik gaan, is die feit dat dit vir die Here Jesus moontlik is om gesond te maak, maar die vraag is of jý dit glo! Die probleem lê nie in die Here se vermoë om gesond te maak nie, maar in die mens se geloof dat Hy dit kán doen!

Hierdie kras antwoord wat die Here Jesus die pa gegee het, laat hom egter nie afskrik nie. Nee, inteendeel. Die pa verkry nuwe insigte ten opsigte van die Here Jesus se taak op aarde. Hy besef nou dat hierdie Jesus, wat voor hom staan, die Christus is, en daarom spreek hy Hom ook as “Here” aan. Voor hom staan die Verlosser wat die mag het oor sowel lewe as dood. Die pa staan nou voor die Here Jesus sonder enige aanspraak op verdienste; hy staan voor die Here Jesus as ’n radelose, hulpsoekende vader wat om die lewe van sy kindjie pleit. Anders as wat hierdie pa versoek het, naamlik dat die Here Jesus saam met hom moes kom en sy seuntjie te genees, sê die Here Jesus vir hom dat hy maar huistoe kan gaan, want sy seuntjie leef.

Wat sou julle en ek in hierdie situasie gedoen het? Wel, ek is amper seker dat die gelowige van vandag op ’n teken sou aangedring. Ja, ek is seker dat ons eerder sou gesê het: “Sien is glo!”

Gemeente, kom ons kyk nou na hierdie gedeelte: Wat sou julle sê is grootste wonder van hierdie verhaal van die pa en sy sterwende kindjie in Kapernaum? Dink julle ook dat dit die genesing van die jong kind is? Natuurlik, dit ís ’n groot wonderwerk, maar beslis nie die grootste van die verhaal nie. Die grootste wonderwerk van hierdie verhaal is in vers 50 waar daar die volgende staan: “Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan.” Ja, hierdie man het die Here Jesus op sy woord geneem. Dít is ’n op sigself ’n wonderwerk! Die Here Jesus gee die pa nie ’n botteltjie wondergeneesmiddel nie, ook nie raad oor hoe om sy kindjie gesond te dokter nie. Nee, die pa kry net die Here Jesus se belofte dat sy kind reeds genees is! En wil jy nou meer: Die man glo dit! Nie gesien nie, en tog het hy dit geglo ... Dít is die grootste wonder van hierdie verhaal! Máár die wonderwerk hou ook nie hier op nie. O nee, die klimaks van hierdie wonderverhaal lê eintlik eers in vers 53: “En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.”

Nou kan julle natuurlik sê dat dit roerend is, maar wat van vandag? Kan die Here vandag nog wonderwerke doen? En as Hy wel kan, waarom is dit so skaars? Ons leef buitendien tweeduisend jaar na die Here Jesus se lewe ... ons kan nie letterlik na Hom gaan vir raad oor en genesing van ons siektes nie. Dit sou werklik wonderlik gewees het as die Here Jesus vandag nog gelewe het en ons almal van raad en genesing kon voorsien het. My vraag is net: Sou ons Hom nie maar ook soos destyds behandel het nie? Tog, al is die Here Jesus nie vandag letterlik en fisies onder ons nie, het ons steeds sy beloftes.

Ja, ook die Here Jesus se beloftes kan vir jou genoeg wees, soos dit vir die kindjie se pa destyds was. Iets in die verhaal wat die meeste lesers se oë ontgaan, is die verloop van tydsduur. ’n Mens sou verwag het dat die pa homself, onmiddellik na die Here Jesus se woorde, na sy tuisdorp gehaas het. Maar hy het nie! Hy kon maklik vir Kapernaum in een dagreis bereik het. Hy vertrek eers die volgende dag, en vier en twintig uur later hoor hy van sy slawe: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat” (v 52).

Tussen die Here Jesus se beloftewoord en die vervulling daarvan aan die een kant, en die pa se ervaring van daardie belofte aan die ander kant, geskied ’n hele volle dag. Vir die pa het die tydaspek nie saak gemaak nie, o nee, die Here Jesus se belofte was vir hom meer as genoeg. Hy het geglo toe die Here Jesus vir hom gesê het: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe”. Hoekom?

Want, geliefdes van ons Here Jesus, God het nie in die hemel agtergebly en net vanuit die verte mense se koppe kom streel as ’n bemoedigende gebaar nie. Nee, Hy het self mens geword, Hy is Immanuel, Hy het onder ons kom leef! God het as die mens Jesus gekom om meer as net een siek kindjie te genees ... Hy het gekom om die hele wêreld, na liggaam en siel, te genees.

Nou kan julle my vra: Máár doen die Here Jesus werklik vandag nog wonderwerke? Eintlik is hierdie vraag verkeerd. Dalk moet ons eerder vir onsself die volgende vra: Glo ék nog die wonderwerk wat God deur sy Seun met hierdie wêreld, vir my en jou, gedoen het? Ons het immers die beloftewoord hieroor gehoor ... die Here Jesus het dit vir ons gegee. Solank jy daaraan vashou, is dit vir jou meer as genoeg versekering dat God nie net ons hare streel nie, maar dat Hy daadwerklik ook, as die geloof daar is, genesing kan bring! Ja, ware geloof bring sekerheid by die gelowige. En dit is juis in hierdie deurmekaar en verwarde wêreld van ons dat sekerheid ’n saak van blydskap is. Die sekerheid van die ware geloof lê daarin dat, niks wat oor ons kom of wat met ons gebeur, ons van die liefde van God kan skei nie (Rom 8:38). In Jesus Christus het God daardie belofte gemaak! Al wat daar van ons, as gelowiges, verwag word, is om God se Woord, die Bybel, te glo sonder enige voorbehoud! Dit is waarom Johannes ook aan die einde van sy evangelie by monde van die Here Jesus aan Tomas die volgende sê: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie, en tog glo?” (vgl Joh 20:29).
Amen