Lukas 17:1-10

Waar is geluk te vinde?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Gelukkige mense is seker een van die skaarste artikels van ons tyd. As u nie saamstem nie, gaan kyk maar gerus vir ‘n slag na mense se gesigte. Daardie bekommerde uitdrukkings, daardie lang kyke na niks. Ry gerus vir ‘n slag stroomop, teen die verkeer in waar mense in motors sit en van die werk af kom. Kyk maar weer net vir ‘n slag na hulle gesigte. Glimlagte is maar min. Geduld is maar min. Of luister maar net hoe dikwels en maklik (so half outomaties), mense hulle lot bekla. Hoe daar gemurmureer word oor omstandighede. Geluk, sê hulle, bly hulle net ontwyk. Hulle kry dit net nie reg om gelukkig te wees nie.

Wat eintlik, broers en susters, vreemd vir ons tyd is. Want die mens van die twintigste eeu kan mos feitlik alles doen/regkry: atome opbreek, planete besoek, en selfs harte oorplant. As dit egter kom om daardie harte wat ons oorgeplant het gelukkig te maak, staan ons ewe skielik onmagtig. Kry ons niks reg nie.

Waarom is dit so? Waarom is daar al hierdie ongelukkigheid in die wêreld om ons? Ek wil vanoggend ‘n antwoord waag. Ons is te geneig om te glo dat daar ‘n direkte verband is tussen lewensgeluk en lewensomstandighede — seker een van die grootste valshede van ons tyd.

As u nie met my wil saamstem nie, broers en susters, is u baie welkom. Maar hoor maar net weer hoe ons soms redeneer: ‘As ek maar net meer geld gehad het’, ‘as ek maar net meer status of mag gehad het’, ‘as ek maar net elders gewoon het’, ‘as ek maar net ‘n ander werk gehad het’, ‘as ek maar net ander talente ontvang het’, ‘as ek maar net jonger/ouer was’, dan sou ek gelukkig gewees het. ‘n Mens vol van vreugde.

Feit van die saak is, broers en susters, is dat daar geen verband tussen ware lewensgeluk en lewensomstandighede nie. Die een is gewis nie afhanklik van die ander een nie. Want hoekom is dit so dat daar verskeie mense is wat, ten spyte van negatiewe omstandighede, werklik gelukkig is. En in dieselfde asem: hoekom is daar mense wat, in ons oë, alles het wat ‘n mens kan begeer, wat in die mees positiewe omstandighede leef, en tog bitter bitter ongelukkig is.

Nee, broers en susters, ons geluk het baie min te doen met ons omstandighede. Ware geluk het met iets anders te doen: nie met ons omstandighede nie, maar met ons geloof. Sterker gesê: daar is ‘n direkte verband tussen ware geluk en geloof. Sonder geloof sal ware lewensgeluk ons altyd bly ontwyk — maak nie saak hoe my omstandighede lyk nie.

Hoor wat het Luther eenmaal hieroor aan sy vriend Melanchton geskryf: Die groot sorge wat jou verteer, soos jy skryf, haat ek van harte. Dat die sorge jou hart so in beslag neem, kom nie van die omvang van die gevaar nie, maar van die omvang van ons ongeloof. Wat wou Luther hiermee sê? Baie eenvoudig: ons sorge, ons ongelukkigheid, is nie as gevolg van ons omstandighede nie, maar wel as gevolg van ons ongeloof. Dit is waar die wortel van ons ongelukkigheid lê. By ons ongeloof.

En kom ek verduidelik presies wat ek hiermee bedoel. In ons gelese gedeelte is Jesus besig met niks anders as om oor die praktiese sy van ons geloofslewe te praat nie. Hy praat hier op ‘n wyse oor die lewe wat ons almal ken. In die eerste plek, sê Jesus (vers 1), is dit eenvoudig ‘n feit van hierdie lewe dat dinge met jou gebeur wat ongeluk veroorsaak. Die wêreld is gebroke, dikwels onreg­verdig. En omdat ons deel daarvan is, kry ons elkeen ons kwota teëspoed. Die lewe werk eenvoudig so. Tweedens, sê Jesus egter (verse 2-3), is die tragiese dat ons soms die oorsaak is van ander se ongelukkigheid. Wees op julle hoede dat julle dit nie vir ander moeilik maak nie.

Derdens, sê Jesus, as iemand verkeerd optree, berispe so iemand. As hy berou het, as hy sê ‘ek is jammer’, en dit werklik bedoel wat gesien kan word uit sy woorde en dade, vergewe hom. Al moet jy dit sewe keer doen.

Hoe, broers en susters, reageer die dissipels op hierdie woorde van Jesus? Dit staan nie so in die teks nie, maar ek lei af: Here, maar is dit nie ‘n bietjie erg nie? Is mense werklik daartoe in staat? Ons dink tog nie so nie. Maar: dalk as U ons meer geloof gee, dan sal ons dit kan doen. So Here, asseblief, ons is bereid om te probeer — gee ons net meer geloof! Dan sal ons dalk kan! ‘n Versoek, ‘n bede, broers en susters, wat dalk ook al oor u en my lippe gevloei het.

Jesus, broers en susters, antwoord die dissipels (en ons) op ‘n verrassende manier. As julle geloof maar net so groot soos ‘n mosterdsaadjie was, so groot soos ‘n wolletjie wat jy amper nie in jou hand kan sien nie, dan sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: `Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see’, en hy sou julle gehoorsaam.

Verstaan u, broers en susters, wat die Here hiermee wou sê? Om werklik gehoorsaam voor die Here te kan lewe, om gelowig te kan lewe, is nie om te wag op ‘n teken of ‘n wonder wat my tot geloof kan bring nie. Geloof is nie iets wat ‘n mens kan verloor of meer kan kry nie. Geloof is iets wat ons reeds besit. Dit is deur God aan ons gegee. Ons is nuut gemaak in Jesus Christus. Ons het die potensiaal in ons, omdat God ons harte nuut gemaak het, om nie alleen gelowig te leef nie, maar ook om werklik gelukkig te wees.

Ons ongelukkigheid, ons gebrek aan liefde, ons gebrek aan vergifnis, ons as oorsaak van ander se struikeling, is nie omdat ons te min geloof ontvang het nie, dit is omdat ons dit nie gebruik nie. Omdat ons eenvoudig weier om te word wat ons reeds in Jesus Christus is. Ons ongelukkigheid is nie die gevolg van omstandighede nie, nie die gevolg van ‘n gebrek aan geloof nie, maar die gevolg van ons ongeloof!

Tog vra ons steeds broers en susters, saam met die dissipels: Here, gee ons meer geloof! Ons vra vir iets wat ons alreeds besit! Wat my laat dink aan die vertelling oor die hiëna in die ou Zulu-legende: Die hiëna het met so ‘n lekker sappige been oor ‘n bruggie geloop, en toe hy afkyk in die water sien hy daar die weerkaatsing van die been. Hierdie been in die water lyk toe vir hom so sappig, so lekker, nog lekkerder as die een wat hy reeds het, dat hy daarna gryp, die been in sy bek in die water laat val en uiteindelik honger moes bly.

Die Deense filosoof, Kierkegaard, het op ‘n gesê: Die deure van geluk maak van binne af na buite oop. Geluk kom nie van buite af in ons lewens in nie — ons vind dit nie in uiterlike omstandighede nie. Nee, ons vind ware lewensgeluk in die geloof wat God reeds vir ons elkeen geskenk het. Ons moet dit net begin ontgin.

Deur in die geloof te doen. Hoor hoe pragtig stel Jakobus dit in Jakobus 1:25: Iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak (die leef van die liefde), en hom daaraan hou...hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

Anders gesê: die kind van God wat sy/haar geloof, dit wat reeds in besit is, dit wat God reeds geskenk het, van binne-af na buite toe sigbaar maak, dit is die kind wat gelukkig sal wees. Dit is die kind wat berge sal versit, wat omstandighede sal verander. En dan nie, broers en susters, om te kan sê: maar kyk, ek is darem ‘n pragtige kind van die Here nie. Ek is darem ‘n beter gelowige as hierdie een of daardie een.

Nee. Hoekom moet ons dit doen? Omdat ons verplig is om dit te doen (soos Lukas 17:10 dit stel). Omdat ons nie ‘n ander keuse het nie.

En laat ek hieroor baie duidelik wees: as dit by God kom, broers en susters, is dit of alles, of niks. Ek kan nie maar net bakhand wil staan vir al die gawes uit God se hand (liefde, vergifnis), en dan gaan sê: Here, ja, wag so bietjie, ek weet U verwag van my dit of dat. Maar dink u nie dit is darem so ‘n bietjie erg, te veel gevra is nie?. Ek sal egter probeer. Maar gee my net so ‘n bietjie meer geloof. Dan sal ek dit miskien kan regkry.

Wat sal Jesus hierop antwoord? Gaan hang liewers ‘n klip om jou nek en gaan spring in die see. Of: neem verantwoordelikheid vir jou lewe, maak die deur van geloof van binne-af oop, en gaan doen wat jy verplig is om te doen. As jy jouself kind van God wil noem.

Ek wil afsluit, broers en susters, met ‘n verhaal van Kipling wat Dalene Matthee ietwat aangepas het in haar bekende boek Kringe in ‘n bos: Toe die aarde klaar geskape was en die mens op die aarde kom woon het, het die sewe hoofengele van die hemel vergader om oor ‘n baie ernstige saak te besluit. Hulle moes besluit waar hulle die krag van God kan wegsteek sodat die mens dit nie te gou sal kry en misbruik nie. Die eerste engel het voorgestel dat hulle dit op die maan moet wegsteek. Ja, op die maan, het die ander saamgestem. Maar die sewende engel sê: Nee, die mens is slim. Hy gaan eendag weet om op die maan te kom; ons moet ‘n ander plek soek. Op die bodem van die see, waar die see op sy diepste is, stel die tweede engel voor. Ja, sê die ander. Maar die sewende engel keer hulle weer: Die mens is slim, sê hy, op ‘n dag gaan hulle tot op die bodem van die see ook soek. Laat ons dit dan aan die môrester ophang, stel die derde engel voor. Maar die sewende engel het hulle weer gekeer: Eendag gaan die mens tot by die môrester soek. Toe vra die ander vir die sewende engel waar hy dink hulle dit moet wegsteek? Op die laaste plek waar hulle sal soek, sê hy. Binne-in hulleself!

Here gee ons meer geloof? Nee broers en susters, Net soos die deure van geluk, maak die deure van geloof van binne af na buite oop. Soek ons geloof elders (in wonders of tekens), soek ons geluk elders (in om omstandighede), gaan ons tevergeefs soek. Die grootste reis wat ons ooit sal aanpak is die reis na binne — om te ontdek wat ons alreeds het, dit wat ons reeds in Jesus Christus is. As ons dan die krag van God ontdek het — daardie krag van die opstanding waarvan Paulus so mooi in Filippense 3 praat — dan sal ons inderdaad in staat wees om groot dinge te vermag, ons sal selfs gelukkig kan wees. En onsself kinders van God mag noem.
Amen