Hebreërs 5:4-6:8; 7:1; 1 Johannes 4:7-21

Asseblief, net ligte prekies dominee!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
‘n Mens moet jou die Hebreërboek voorstel as ‘n Bybelstudieklas in ‘n bepaalde gemeente waar hulle besig is om Bybelstudie uit die Ou Testament te doen. Verder, broers en susters, sien ‘n mens, wanneer jy die Hebreërbrief lees, dat die temas wat tydens hierdie Bybelstudie uit die Ou Testament aangeraak word, nie maklik nie is nie. Daar word gepraat oor die wette in Levitikus en Eksodus, gedeeltes wat moeilik is om te verstaan en wat ons ook miskien maar oorslaan as ons daarby kom.

Wanneer ons by hierdie Bybelstudie aansluit (met die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het) handel die dominee van die gemeente oor Melgisedek, daardie misterieuse figuur uit Genesis 14 en sy verhouding met Jesus Christus, inderdaad nie ‘n maklike onderwerp nie.

En dan sien ons, ewe skielik, terwyl hy daarmee besig is, ophou om oor Melgisedek te praat, en stip na elkeen (ek interpreteer nou) wat voor hom sit te begin kyk. Party sit fronsend, ander lyk ongeïnteresseerd, party onbegrypend, ander weer duidelik verveeld. ‘O’, sê hy dan: ek sien ek het nie julle aandag nie. Julle is met ander goed besig. Maar ek weet hoekom: julle wil nie goed hoor wat ‘n bietjie ingewikkeld is en inspanning vereis nie. Julle wil dit hoor wat reeds aan julle bekend is. Ligte prekies, dominee, dit vra julle. Preek liewer oor die feit dat die mens hom altyd weer kan bekeer, of oor geloof in God, dat geloof ‘n gawe is, of oor die doop, daar waar God my sy genade toesê, of oor die opstanding, daar waar ek weer kan hoor dat ek ewig sal lewe, of die wederkoms en die ewige oordeel, daar waar ons weer kan hoor dat Christus ons sal kom haal, en dat ons nie geoordeel sal word omdat ons geglo het nie. Dit wil ons hoor. Want dit is lekker om dit weer te hoor. Dit is lekker om te hoor hoe goed God vir ons is, hoeveel kanse Hy ons gee, wat Hy alles vir ons gedoen het. Maar tog, asseblief nie Levitikus of enige ander moeilike onderwerp nie!

Hoe, broers en susters, antwoord die Hebreërskrywer die klompie wat daar voor hom sit? Wat julle vra, is flou melkkossies vir pasgebore babas. Julle kan mos al onderskei tussen wat reg en verkeerd is, kan julle nie? Dan kan julle mos nie meer pasgebore babas in die geloof wees nie! Dan is julle eintlik mos al volwassenes in die geloof! Inteendeel, as ek in ag neem wanneer julle tot bekering gekom het, hoe lank julle al deel van die kerk is, hoeveel preke julle al oor die grondbeginsels van die Christelike geloof gehoor het, dan moes julle nou al in staat gewees het om ander te leer. Vir ander te preek.

Hoe kan julle dan nou vra vir ‘n ligter onderwerp? Hoe kan julle sê: asseblief dominee, ligter prekies, u weet, ons werk hard in die week. Ons wil ons nie op ‘n Sondag nog ook inspan nie. Wat meer is, nie alleen ligter onderwerpe nie, preek vir ons oor daardie dinge waar ons kan hoor hoe goed God vir ons is, moet net nie daardie sake aanraak waar ons moet hoor dat ons nou ook, omdat God vir ons goed is, self iets moet gaan doen nie.

Wat, broers en susters, wil die dominee wat hier in Hebreërs aan die woord is eintlik sê? Kom ek probeer dit eenvoudig saamvat. Voor hom sit daar ‘n klomp mense wat dink dat die Christelike geloof eintlik maar net oor een tema handel: ek en God, ek en bekering, ek en die Heilige Gees, ek en die opstanding, ek en die ewige lewe. Oor dit wat God vir my gedoen het, doen, en kan doen, dit wat ek uit God se hand kan ontvang.

Hierdie dinge, sê hy, is maar die begin van die geloof. Dit is, hoe belangrik dit ook al mag wees (en moenie ‘n fout maak nie, broers en susters, dit is belangrik — bekering, versoening, vervulling met die Gees, opstanding) alleen die fondamente van die geloof. En ‘n mens kan nie, sê hy, elke keer wat jy op die preekstoel klim, weer die fondamente oor en oor en oor gooi nie. Want ‘n gebou, en dit weet julle, het maar net een fondament.

Presies soos Paulus sê: julle is die gebou van God, waarvan Jesus Christus die hoeksteen, die fondament is. Op hom alleen kan gebou word. Maar Petrus sê ook: julle wat hierdie gebou is, gebou op die hoeksteen/fondament Jesus Christus, laat julle soos lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis. Moet nie aanhoudend die fondament van die gebou gaan lê nie. Bou eerder op die fondament, en streef na die volmaakte, voltooide gebou. Los die melkkos, streef na die vaste spyse!

Dit geliefdes, wat betref ‘n poging om so eenvoudig moontlik ‘n gedeelte uit te lê, die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het. Kom ons dink nou so ‘n bietjie daaroor in terme van ons eie tyd, in terme van onsself.

Wanneer hoor ons dat lidmate sê dat die dominee nou vanoggend regtig mooi gepreek het? Dikwels wanneer ons in die preek gehoor het hoe lief God ons het, dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie, dat Hy vir ons aan die kruis gesterf het, dat ons kan weet God vergewe regtig, dat God vir ons goed is en ons dit net moet raaksien, dat ons kan hoop op ‘n beter môre, want God sal ons nooit alleen los nie. Al daardie boodskappe waarin ek hoor: die Here gee, ek kan net ontvang, en tog so baie dankie dat ek niks hoef te doen nie. Want u weet Here, ek werk hard in die week, daar is nie nog tyd vir ander dinge oor nie. En ek weet maar te goed, geliefdes, dat ek nou hier baie veral­gemeen, maar ek glo tog dat u die punt snap waaroor dit gaan.

Die skrywer van Hebreërs is egter oor hierdie sake baie duidelik: hierdie dinge is maar net die beginpunt van die geloof. Dit is maar net die fondament. Dit is maar net die boodskap vir babas in die geloof. En soos niemand maar net ‘n baba bly nie, maar groei en groot word, so is dit ook met die geloof en die lewe in die geloof. Ons moet volwassenes word, vaste kos begin eet.

Wat is hierdie vaste kos? Of anders gesê, wat is die doel van die evangelie van Jesus Christus waarin ons glo en wat ons Sondag vir Sondag hoor? Efesiërs 4:12-13 sê dit pragtig duidelik: die doel van die evangelie is om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in die geloof, en dan sal ons soos volgroeide mense wees, so volwasse soos Christus.

Drie belangrike terme/woorde word hier gebruik: diens, opbou van die liggaam, eenheid in die geloof. Wil u en ek weet of ons al volwasse in die geloof geword het? Meet jouself hieraan, sê die Woord van God: watter diens lewer jy aan ander in die geloof en aan ander in die gemeente, wat doen jy om van hierdie gemeente ‘n lewende gebou van God te maak, met hoeveel mense leef jy in onvrede, is daar ‘n eenheid in die geloof tussen die mense waar jy beweeg en leef?

In kort: ontvang jy net, of gee jy ook? Sit ek net en luister, of werk ek ook in die geloof? Ons moet elkeen maar self antwoord.

Maar miskien moet ons maar erken, broers en susters, dat almal van ons op een of ander manier, in ‘n mindere of meerdere mate, lui Christene geword het. Solank die dominee Sondag vir Sondag maar net preek oor die verlossing in Christus, die werklikheid van die opstanding, die vergewing, selfs oor bekering, is alles reg. want dan hoef ek as bekeerde mos nie werklik aandag te gee nie, ek is mos bekeer en gered. Dan kan ek heerlik die Woord op my moeilike ou buurman sit en toepas (of op wie ook al) en my verlustig hoe die dominee nou vanoggend hierdie of daardie een sogenaamd bykom. Ek self is nooit betrokke nie. En kan ek selfs agterna sê die dominee het nou vanoggend regtig mooi vir al die ander in die kerk gepreek! Laat hy/sy gerus maar vir ‘n slag hulle wat moet hoor goed inspan. Hy moet net nie ophou inspan nie. Hy moet net nie klaar inspan en die sweep begin klap dat ek moet begin saamtrek met ander nie.

Miskien, broers en susters, lê die wortel van ons laksheid, luiheid in die geloof, onbetrokkenheid, eenkantheid, onwilligheid om werklik deel van die gebou te word en saam te bou (noem dit wat u wil) in ons idee dat die volle evangelie opgesluit lê in die woorde: glo in Jesus Christus en jy sal gered word. Hoe waar dit ook al mag wees, broers en susters, as ons dit sê, het ons nog net gesê: dat jy, dat die mens. Hierdie jy, hierdie mens, broers en susters, is egter nie alles, of die eindpunt, van die geloof nie. As ek genade en vergiffenis ontvang het om maar net twee voorbeelde te gebruik), is dit nog nie die end nie. Inteendeel. Dit is maar net die begin, die fondament gelê deur Jesus Christus. Daar moet nog iets met hierdie genade en vergiffenis gedoen word. Dit moet aan ander gegee word, dat hulle kan ontvang soos ek ontvang het. Want God red nie net die mens se siel nie. Hy verlos die mens in totaliteit, die mens wat hier op aarde leef en beweeg.

Ek sluit af: hulle wat net wil ontvang, wat net wil hoor van die genade, hulle is nog babas in die geloof. Hulle eet nog melkkossies. Hulle soek net ligte prekies. Maar hulle wat dien, besig is om die gebou op te rig saam met ander, wat streef en smag na die eenheid in die geloof, hulle het volwasse in die geloof geword. Hulle is besig met vaste spyse. Hulle soek nie ligte prekies nie. Hulle wil hoor van die fondament, Jesus Christus, wat Hy vir hulle gedoen het, maar ook wat hulle nou kan gaan doen. Hulle wil nie net ingespan word nie, hulle wil ook begin trek, nog meer, saamtrek met ander.

En nou broers en susters, nou dat ons dit alles gehoor het, nie meer traag is om te leer nie, (soos Hebreërs 5:11 dit sê), kom ons gaan aan. Kom ons gaan verder as God dit toelaat:

... en Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste.
Amen