Hebreërs 12:1-3; 2 Timoteus 4:7

Die wedloop van die gelowige



1Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir die prediking kom uit 2 Timoteus 4 vers 7: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.”

Broers en susters, dink aan die laaste keer toe julle ’n atletiekbyeenkoms bygewoon het. Kan julle onthou hoe ’n wonderlike ervaring so ’n byeenkoms is? As julle daaroor gaan nadink, dan is ek seker dat julle ook die kere sal kan onthou toe julle dalk self atlete was. Ja, dit is ‘n wonderlike ervaring om deel te wees van ’n atletiekspan, ’n span wat hard geoefen het om te kom waar hulle nou is. Daarteenoor wil ek julle ook vra of julle nie ook die afgelope paar maande gevoel het asof jy nie meer werklik lus is vir al hierdie probleme in ons land nie? Voel julle nie ook soms lus en gooi handdoek in nie? Ja, wie van ons het nie ook al gedink dit is maar beter as ons ons ou tassies pak en emigreer na Kanada of Australië nie? Dit maak ’n mens skoon bang om net vir vandag te lewe ... wat nog te sê van môre en oormôre?

Dit is veral aan die begin van die jaar dat ons baie te doen kry met atletiek. Ons het tog almal al ’n atletiekbyeenkoms gesien of self bygewoon. Kom ons kyk so bietjie hoe lyk dit: Daar is die baan waarop gehardloop word; daar is toeskouers; daar is ’n wegspringplek; daar is ’n wenstreep; en die belangrikste van alles ... die atlete is ook daar! Ons kan nou vir onsself ’n prentjie vorm van hoe die atlete deur die afsetter nader geroep word; hoe die skares stil raak terwyl hulle hulle onderskeie plekke inneem; hoe die afsetter sê: “Op julle merke ... gereed ...” en dan klap die skoot! Die atlete vlieg met mening en spoed uit hulle wegspringblokke uit. Elke atleet span al sy vernuf en spierkrag in om daardie wedloop te wen, terwyl die skares skree en elke atleet aanmoedig! En dan sien ons ook hoe een atleet die lint breek, die fotograwe foto’s neem, en die wenner hande omhoog verder hardloop!

Gemeente, die skrywer van die Hebreërbrief gebruik ’n soortgelyke beeld van ’n atleet om sy lesers nie net te bemoedig nie, maar ook aan te moedig in hulle stryd om die lydensweg van Christus voluit na te volg. In ons gelese gedeelte hoor ons die oproep van die skrywer: “... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop!” As ons hierdie brief lees, dan sien ons dat daar ’n moontlikheid bestaan het dat die skrywer van hierdie brief juis die probleem in hierdie gemeente gehad het dat die gelowiges besig was om moeg te word en uit te sak in hulle geloofstryd. Ja, die probleme van die lewe en die haat van die wêreld was besig om sy tol te eis onder die gelowige Christene.

Die lesers vir wie hierdie brief oorspronklik bedoel was, was moontlik Jode wat hulleself bekeer het tot die Christendom. Die Hebreërskrywer het moontlik gevrees dat hierdie bekeerlinge, as gevolg van velerlei aanvegtinge en lyding, gedreig het om afvallig te raak in hulle geloof. Daarom het hy die gelowiges met soveel dringendheid aangemoedig en ook bemoedig om hulle geloofswedloop met volharding te hardloop. En dan sien ons drie belangrike elemente wat na vore tree wanneer ons die beeld van die atleet en die wedloop van naderby ondersoek: Eerstens, die atleet hardloop onder aansporing van die skares, tweedens, die atleet hardloop sonder belemmering, en derdens, ’n atleet hardloop met sy oë gevestig op sy Here, Jesus Christus. Kom ons gaan kyk so bietjie na hierdie drie elemente. Dalk hoor ons ook wat die skrywer van hierdie brief vir ons, as moderne gelowiges, wil sê.

Geliefdes van ons Here Jesus, kom ons verplaas onsself na ’n atletiekbaan ... nee, veel beter: Kom ons word self een van die atlete. Immers, volgens die skrywer van die Hebreërbrief ís ons een van die atlete! Kom ons verbeel ons ons is nou by die Olimpiese Spele ... die paviljoene is gepak van die skares; en orals om ons is ander atlete - party is ons spanmaats, ander is ons teëstanders. Die wedloop waaraan ons deelneem, is nie die 100-meter nie. Nee, ons is ingeskryf vir die langste wedloop: die tienduisend meter hinderniswedloop. Ons is almal fikse en goeie atlete; almal het die potensiaal om die wedloop te voltooi. Maar kom ons kyk ook so bietjie na die skares, die toeskouers, die mense wat ons so aanspoor. Kyk baie goed na hulle ... ek is seker julle sal ’n hele paar bekendes daar raaksien! Ja, sien julle vir dalk Abel, Henog, en Noag? Kyk! Kyk daar sit Abraham, Sara, Isak, Jakob en Josef! Haai, selfs Moses en die mistroostige ou Job is ook onder die skare! Ja, en selfs Ragab, die prostituut van Jerigo! Maar wag, daar is nog! Sien julle nie ook vir Dawid, Salomo, die profete en die rigters nie? Wat van al die ander gelowige mans, vroue en kinders deur die eeue? Ja, hulle is almal toeskouers van ons geloofswedloop!

Die skrywer van die Hebreërbrief sê vir ons baie duidelik dat hierdie geloofsgetuies ons wedloop fyn dophou. Daar is dus by hierdie toeskouers ’n intense belangstelling in ons aardse stryd. Maar hulle is nie sommer maar net skares nie! Nee, inteendeel, hulle is getuies! En ’n getuie is mos iemand wat kan intree vir wat hy of sy sê, omdat die dinge waarvan hulle getuig, self ervaar is. Daarom is hierdie skares, wat ons so aanspoor, gelowiges wat reeds hulle geloofswedloop voltooi het. En as ons na hoofstuk 11 van die Hebreërbrief gaan kyk, sal ons sien dat al hierdie skares genoem word as atlete wat reeds die wedloop voltooi het. Hulle weet presies wat daar van ons, as atlete, verwag word; hoeveel energie en stamina dit verg; hoe moeilik dit soms word tydens hierdie wedloop; en ook hoe moeg ons soms vir die wedloop word. Hulle is dus nie net passiewe toeskouers nie ... o nee, hulle is eerder belangstellende en aansporende oud-atlete!

En hoe spoor hulle ons aan? Hulle getuig van God se trou, sy liefde en genade, sy leiding deur die geskiedenis! Hulle vertel ons van hoe hulle geleef het uit God se beloftes en sy verlossing! Hulle kan nie uitgepraat raak daaroor dat God hulle nooit, maar nooit in die steek gelaat het nie! Hulle is opgewonde oor die lewende gemeenskap wat God met hulle deel! En hulle hoop en verwagtinge het ’n werklikheid en ’n waarheid geword in Jesus Christus, al was dit selfs na hulle dood! Ja, hulle moedig ons aan: “Moenie twyfel nie! Moenie verslap nie, want die eindstreep is nie meer ver nie! Kyk, ons het klaargemaak, julle kan beslis ook klaarmaak! God is getrou! Hy is die beste afrigter! Daar is nie ’n beter afrigter as Hy nie! Vertrou Hom!”

Maar, broers en susters, dan hoor ons in die tweede plek dat ons onbelemmerd moet hardloop. En hierdie belemmering waarvan die skrywer van die Hebreërbrief praat, is die sondelas. Om onbelemmerd te kon hardloop, moes die atlete van die Griekse Spele in daardie tyd al hulle klere uittrek. Ja, hulle het heeltemal kaal gehardloop, behalwe vir iets soortgelyks as ’n onderbroek. (Let wel, die vrouens het destyds by die eerste Olimpiese spele nie deelgeneem nie.) Geen oortollige klere en gewig mag ’n atleet belemmer as hy deelgeneem het nie. Ons kan ons eintlik indink wat die skrywer hier vir die atlete wil sê: “Moenie dom wees nie, atlete! Julle wil nou aan ’n baie groot en belangrike wedloop deelneem, maar julle is totaal verkeerd aangetrek! Julle kan mos nie met al daardie gewig en laste gaan hardloop nie! Julle sal nooit die eindstreep haal met al daardie laste en gewig nie! Nee, julle sal lank voor die eindstreep moeg wees en dan nie klaarmaak nie!”

In ons geloofswedloop waarmee ons besig is, is die vereiste dat ons ons sondes moet aflê. Daardie dinge wat ons aandag mag aftrek en wat ons sal verhinder om voluit te hardloop; daardie sondes wat ons so maklik laat verstrik! Elke wedloop, ja, ook ons geloofswedloop, het reëls. As ’n atleet nie by die reëls hou nie, word jy gediskwalifiseer. En dit is waarna die skrywer van die Hebreërbrief verwys. Sy lesers het aanvanklik goed begin met hulle geloofswedloop, maar soos enige hinderniswedloop was daar maar moeilike hindernisse om te oorkom. Maar in plaas daarvan om vorentoe te gaan — oor die hindernisse en struikelblokke — het hulle gaan stilstaan. Eers so bietjie gerus ... en in die proses het hulle opgehou deelneem aan die wedloop; het hulle opgehou groei in die geloof!

Hierdie eerste gelowiges was swaar vervolg; in die openbaar beledig en gevloek; in tronke gegooi en gemartel; vir die leeus gevoer en moes selfs in arenas baklei vir hulle eie lewens. Hulle het begin twyfel aan hulle vermoë om die lydensweg vol te hou. Hulle het begin twyfel aan die egtheid, die uniekheid van die geloofswedloop. Is hierdie wedloop nog die moeite werd? Die gevaar het nou bestaan dat hulle kon teruggly na waar hulle begin het! Nog erger ... hulle kon gediskwalifiseer word! Daarom sê die skrywer vir hulle dat hulle nie net kan hardloop wanneer hulle so daarna voel nie! Nee, hulle moet voluit hardloop! Die reëls waarvolgens ons moet hardloop, is deur God self gegee: Ons moet Hom bo alles liefhê, en ons naaste soos onsself. En as ons hierdie hinderniswedloop wil voluit hardloop, dan sal ons daarop moet let dat ons ons laste sal moet ligter maak. Die sondelas en juk wat ons vir onsself oplê, is besig om ons in ons geloofswedloop te belemmer. Hoor wat sê Jesus in Matteus 11 verse 28 tot 30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Wel, as ons werklik hierdie geloofswedloop wil voluit hardloop, dan moet ons miskien maar by die Here Jesus gaan rus soek.

En dít, geliefde gemeente, bring ons uit by die derde element van ons geloofswedloop. Ons moet ons oë gerig hou op Jesus Christus! Hy is ons Leidsman en Voleinder! ’n Toegewyde atleet hou altyd sy doel in oë. En ons doel is om die Here Jesus in voorbeeld na te volg! As geloofsatlete mag ons vir geen oomblik ons doel uit die oog verloor nie! Die oomblik as ’n goeie atleet sy of haar doel uit die oog verloor en hulle nie hou by hulle oefenprogram nie, dan begin hulle staatmaak op eie spierkrag, talente en op hulleself.

Nee, ons word uitdruklik deur die skrywer van die Hebreërbrief beveel om ons oë op die Here Jesus gerig te hou! Hy is vir ons ’n voorbeeld. Hy het ook sy geloofswedloop klaargemaak! Maar die Here Jesus is nie maar net nog een van die toeskouers en geloofshelde wat in die paviljoen sit nie. Nee, Hy word bo hulle gestel as die Een op wie ons ons oë gerig moet hou. Die Here Jesus het nie net, soos die ander geloofsatlete, voor ons die wedloop klaargemaak nie, nee, Hy het ook in ons plek die wedloop gewen! Hy en ons hardloop vir dieselfde span: God se span! Jesus het reeds die lint vir ons gebreek! Daarom is die Here Jesus die Leidsman, die Een wat eerste die lint gebreek het; Hy het eerste die lourierkrans - die opstanding uit die dood - gekry. Daarom is Jesus ook die Voleinder, want Hy het in die geloof volhard en die wedloop voluit gehardloop; Hy is die Een wat in totale gehoorsaamheid voluit gehardloop het!

Net soos wat ’n toegewyde atleet of sportman ’n videoband van ’n beroemde sportster bestudeer om sy eie tegniek te verbeter, net so moet ons ons oë op die Here Jesus gerig hou om die hardloopstyl van ons geloof te verbeter. Sodoende word Jesus se hardloopstyl, my hardloopstyl; word sy lourierkrans, my lourierkrans. Daarom hardloop ons die geloofswedloop met ons oë op die Here Jesus gevestig. Ons hardloop in sy voetspore ... nie langs sy voetspore ’n ander stel spore nie! Nee, ons moet hardloop soos Hy gehardloop het!

Maar, gemeente, die Here Jesus se wedloop was nie sonder struikelblokke en hindernisse nie. Die Satan het Hom probeer versoek en verlei; sy eie mense het Hom verag en gevloek; sy aardse lewe was een vol lyding, skande, vernedering en uiteindelik ook die kruisdood - die straf van die laagste misdadigers! As deel van sy volharding het die Here Jesus egter hierdie teenstand van die sondaars verdra. Ja, Hy het dit verdra, en daarom vra Hy van ons om dieselfde te doen. En ons, as atlete van hierdie geloofswedloop, moet dít in die oog hou en nie verslap in ons stryd teen die sonde nie. Die hindernisse en struikelblokke mag ons nie geestelik laat moeg word en langs die pad wil laat rus nie. As ons ons oë op Jesus gerig hou, sal ons aan die einde van die wedloop ook kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.”
Amen