Genesis 12:10-20

God daag ons uit!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Een van die redes hoekom ons soms so sukkel om in die geloof te groei, so sukkel om nader aan die Here te lewe, dat ons geloofslewe soms vir ons so moeilik is, so onverkwiklik, is die feit dat ons op die verkeerde manier begin. Nie op die regte plek begin nie.

Ons begin verkeerd. En kom ek gee u twee voorbeelde om te verduidelik wat ek bedoel.

Wanneer ons voor die Here staan en met ons sonde gekonfronteer word, is ons eerste reaksie gewoonlik — in plaas van om dit te bely — dat ons van ons sonde wil wegvlug. Ons ontken dat ons verkeerd gelewe het, ons wil ons optrede verduidelik, ons wil dit wegpraat, selfs vergoeilik. Dus, ons begin verkeerd.

Of, wanneer ons midde-in ‘n krisis staan, in plaas daarvan om op God te vertrou, is een van ons eerste reaksies om self beheer te probeer kry, selfs deur die krisis te probeer kom. Weer eens: ons begin verkeerd.

Nie, broers en susters, dat ons die enigstes is wat soms so maak nie. Want in die Bybel het ons talle voorbeelde van mense, selfs van die bekendste geloofshelde soos Dawid en Petrus, en in ons geval vandag, Abram, wat presies net so opgetree het. Dat ook hulle hulle sonde wou verberg, en in die moment van die krisis God nie vertrou het nie. Maar nog meer: dat hulle juis in hulle momente van krisis, deur self te probeer oorleef, tot verdere sonde oorgegaan het. Soos presies met Abram gebeur het in die gedeelte wat ons so pas saamgelees het. Kom ons kyk vinnig daarna.

Aan die begin van Genesis 12 lees ons dat God aan Abram ‘n opdrag gee, maar ook ‘n aantal beloftes aan Abram maak. Die opdrag: trek uit jou land uit na die land wat Ek jou sal wys (Kanaän). Die beloftes: God sal jou seën, al die ander nasies sal deur Abram geseën word, en God sal aan Abram die beloofde land gee.

Maar toe Abram in Kanaän kom, in die land waarin God hom sou seën, breek daar ‘n sware hongersnood uit. Hierdie hongersnood het twee reaksies by Abram tot gevolg gehad: eerstens het hy (seker) begin wonder: maar is dit hoe God se seën lyk, en tweedens, juis as gevolg van hierdie gedagtes, het angs Abram beetgepak. Moes hy nie maar liewer teruggaan Ur toe nie?

Toe dit nie beter word nie, sien ons dat Abram self planne begin maak. Tot dusver het hy op God gewag, op God vertrou, maar nou was sy krisis en angs te groot, en volgens sy ervaring, God te ver. Daar skuif hy nou vir God eenkant toe, en begin om self planne te maak om uit die krisis te kom. Met rampspoedige gevolge.

Want toe Abram in Egipte kom besef hy, omdat sy vrou baie mooi was, hulle hom sal doodmaak en sy vrou aan die farao gee. Daarom vra hy vir Sarai om vir almal te sê wat vra dat sy sy suster is. Die gevolg: Abram verloor sy vrou, sy gaan bly in die farao se paleis, en farao gee aan Abram ‘n klomp vee en slavinne. Hy verloor dus sy vrou, maar wen baie wat besittings betref.

Dan sien ons , gryp God in. Hy tref die farao met ‘n aantal plae juis omdat Abram sy vrou verloor het. ‘n Daad van God wat ook konsekwensies vir Abram se lewe het: die farao roep hom in, spreek hom skerp aan, gee sy vrou aan hom terug en verjaag hom uit die land.

Dus: waar Abram ‘n seën vir alle nasies moes wees, waar alle nasies deur Abram geseën sou word — dit was immers God se belofte —is die gevolg daarvan dat Abram sake in eie hande neem, asook die leuen wat hy vertel, dat die nasies nie geseën word nie, maar vervloek word en dat allerhande peste hulle tref. Of anders gesê: Abram se leuen het die gevolg gehad dat hy, in plaas van ‘n seën, ‘n gevaar vir almal rondom hom geword het.

Met hierdie as agtergrond, broers en susters, kom ons vra: dit is duidelik dat Abram hier verkeerd opgetree het, maar wat is die werklike sonde wat Abram hier begaan het? Lê dit daarin dat hy beangs geword het toe hy die hongersnood sien en dit seker selfs aan sy lyf gevoel het? Seker gedeeltelik. Maar om beangs te word vir enige situasie is darem seker nie sonde nie. Of lê sy sonde daarin dat hy ‘n leuen vertel het? Seker ook gedeeltelik, broers en susters. Want om ‘n leuen te vertel kan tog nie goedgepraat word nie.

Maar wat was dan die werklike sonde van Abram hier? Abram se angs en leuen, broers en susters, was maar net die puntjie van die ysberg. Sy sonde het veel dieper gelê: hy het nie raakgesien dat God juis op hierdie oomblik van sy lewe besig was om hom aan ‘n geloofstoets te onderwerp nie. Want dit is wat God hier met Abraham doen: Hy toets sy geloof, en Hy kyk of Abram werklik bereid is om aan die beloftes van grondgebied en seën vas te hou, beloftes wat God so pas in wese aan hom gemaak het.

Goed, Abram sou seker kon sê dat hy eintlik maar net verantwoordelik en realisties opgetree het toe hy oor sy vrou gejok het. Dit is goed om te glo, sal ‘n mens seker kan sê, maar die geloof maak darem nie dat jy nou niks meer mag beplan en doen nie. So, ‘n mens moet darem hier en daar so ‘n bietjie prakties wees, bereid wees om self ‘n plan te maak wanneer die mure op jou intuimel. Jy kan nie tog maar net sit en kyk nie.

Hierdie argument, broers en susters, sou niks ander as ‘n dekmantel vir Abram se kleingeloof wees nie. Abram het maar net die pretensie van opregte geloof gehad. Hy het met die mond gesê dat hy glo, maar toe die druk kom, toe vergeet hy van God, vergeet hy van sy naaste, selfs van sy vrou, en dink hy heel eerste aan homself.

Ons sien dus hier in Abram se optrede eintlik maar net vir onsself raak, broers en susters: daardie oergeneigdheid — die basis van alle sonde —om net jouself lief te hê en net aan jouself te dink.

‘n Mens sou dit alles ook op ‘n ander manier kon sê: Abram se sonde het daarin gelê dat hy net met twee moontlikhede in sy lewe rekening gehou het: hy verloor óf sy lewe, óf sy vrou. En so het hy vergeet van die derde moontlikheid: dat God op sy manier, juis omdat hy Abram in hierdie situasie geplaas het, uit die situasie sou red. Dat God die uitkoms sou gee.

Dus: Abram se sonde was dat hy in die uur van toetsing nie kans gesien het om God regtig met sy lewe te vertrou nie. En so, deur self ‘n plan te maak, verloor Abram nie alleen beheer oor sy situasie nie, maar ook werklike kontak met God. En daarom staan hy skielik alleen.

Maak ons nie presies soms ook maar net so in ons lewens nie, broers en susters? So dikwels, ook wanneer ons in die krisis staan, sien ons net twee dinge raak: die krisis, en watter gevolge hierdie krisis vir my lewe kan inhou. Met God nêrens in die prentjie nie. Ja, die krisis verlam ons in wese so, dat ons niks rondom ons raaksien behalwe die krisis nie, en veral, dat ons nie eers boontoe kan kyk nie. Na God kan kyk nie!

En omdat ons God nie raaksien nie, broers en susters, God as ‘t ware uit die hele prentjie verdwyn, is ons nie bereid om op God te wag nie, en wil ons self inspring en alles beredder. Is ons bereid om die hele wêreld om te keer, as dit moet, om oor ons krisis te kom. Maak nie saak wie in die slag bly nie, maak nie saak wie se lewens ons omkeer nie, maak nie saak wie ly skade nie. Solank ek net skotvry, en heel anderkant my krisis uitkom.

Is hierdie waarskynlike optrede van ons, broers en susters, ook nie maar ‘n teken van ons somtydse kleingeloof nie? Of selfs, juis omdat ons so gejaagd lewe, nie meer bereid is om rustig op God te wag in ons lewens nie? Ja, eintlik nie bereid is om God met ons lewens te vertrou nie?

En het ons nie soms al, broers en susters, aan eie lyf, die konsekwensies van ons eie probeerslae gevoel nie?

  • Daar waar ons, toe ons in die krisis was, net aan onsself en ons eie voorspoed en welsyn gedink het, en daarom besluite geneem het wat ander bitter seergemaak het. Ja, ons bas was gered, maar ander het skade gekry;
  • en as gevolg hiervan nie alleen die naby aan ons verloor nie, maar ook vir God;
  • en, in die finale konsekwensie van alles, juis omdat ons so dikwels ons geloofslewe op hierdie soort van verkeerde voet begin, dit nie werklik regkry om geestelik nader aan God te groei nie.

God kom egter vandag, broers en susters, en daag ons uit om op Hom te vertrou in elke situasie van krisis, ja, met ons hele lewe. Dalk is dit so dat u nie tans ‘n krisis in u lewe beleef nie, Sê dan vir God dankie dat Hy u so seën.

Maar dalk is al wat u vandag op die horison sien een krisis op die ander. Een probleem op die ander. Wat dit ook al mag wees.

En heel waarskynlik, my broer en suster, wil u ‘n realis wees, soos Abram, en self beheer van alles wil oorneem. Deur self planne te maak. Al beteken dit wat of al vra dit van my wat. Al gaan hoeveel ander skade ly.

As ons so voel, sê die Woord vandag vir ons: nee! Gaan staan eers stil. Kyk eers op na God. Sien eers raak of God nie dalk besig is om u geloof te toets nie, of Hy nie miskien juis nou aan jou en my die kans gee om in die geloof te groei nie, dat Hy net wil hê dat ons vir ‘n slag rustig sal raak en Hom sal toelaat om op sy tyd en sy manier uitkoms te gee nie.

Miskien wil u sê: maar watter waarborg het ek dat God my wel sal uitred? Hoe weet ek dat God Hom na my toe sal afbuig. Die waarborg hiervan, broers en susters, is God se trou, dit is God self. Want watter God ontmoet ons in hierdie gedeelte?

Ons ontmoet ‘n God van Genade. Al maak Abram ‘n fout, God red hom steeds.

Ons ontmoet tweedens in hierdie gedeelte ‘n God wat vergewe. Nadat God Abraham uitred, plaas God Abraham se sonde agter hom en stap weer die pad saam met hom.

En ja, ons ontmoet hier ook ‘n God wat trou bly aan sy beloftes. Want die beloftes wat Hy aan Abram gemaak het, word later almal waar. Desondanks die feit dat Abram later weer, toe Sarai aanvanklik nie ‘n kind in die lewe kan bring nie, weer sake in eie hande probeer neem, weer self planne begin maak, en weer van alles ‘n gemors maak.

Dit is dieselfde God, broers en susters, wat ook aan u en my genade sal betoon, ons sal vergewe en ons uitred. Dit is dieselfde God wat vir u en vir my in sy Vaderhande vashou. Wat van berge molshope kan maak. Maar dan, broers en susters, moet ons bereid wees om op God te wag. Bereid wees om Hom ‘n kans te gee. En juis hiertoe, broers en susters, daag God vanaand vir u en vir my uit. Wie hierdie uitdaging aanvaar, oordeel ek, sal geestelik groei.
Amen