1 Petrus 2:1-5; 2 Petrus 3:14-18

God se voorskrif vir ‘n gesonde geestelike lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
As ‘n kind ewe skielik ophou groei, of ophou om te ontwikkel, sal sy ouers bekommerd wees. Die ouers sal so ‘n kind na die dokter neem, hulle sal toetse doen om te kyk wat die probleem is, en soek totdat ‘n rede en moontlike oplossing vir die probleem gevind is. Want kinders, tot op ‘n stadium, moet groei. Dit is eenvoudig normaal. Na ‘n sekere tyd is ‘n volwasse liggaam eenvoudig ‘n vereiste. Ons kan amper sê, verpligtend.

Die Bybel leer ons dat ons presies dieselfde van ‘n kind van God kan (en moet) verwag. Soos 1 Petrus 2:2 en 2 Petrus 3:18 dit stel: kinders van God moet opgroei tot saligheid, hulle moet toeneem in die genade en kennis van die Here. Of in kort: alle kinders van God moet daarna strewe om volwasse in die geloof te word.

Hoe weet ons of ons besig is om in die geloof te groei of nie? Die toets is baie eenvoudig (en ons elkeen kan dit sommer nou doen): is jy steeds die Christen wat jy ‘n paar maande gelede was? Bid jy nog steeds min, en wanneer jy bid, is dit maar net elke keer dieselfde gebed oor en oor? Worstel jy met presies dieselfde verkeerde dade en gedagtes as twee jaar gelede? Lees jy minder en minder jou Bybel? Voel jy of jy nader en nader aan die Here lewe, of is jou ervaring van God se teenwoordigheid maar nog net presies wat dit was soveel jare gelede? Word Christus werklik meer in jou lewe, en jy en jou wil minder? En, ‘n laaste vraag: is God, die Bybel, godsdiens, kerk en kategese maar net nog ‘n plig, nog ‘n aspek van jou lewe, of is dit juis dit wat jou lewe werklik rigting en sin gee? In kort: is jou verhouding met God iets wat jy as lekker sou beskryf, of nou nie eintlik so nie?

Hierdie vrae, liewe jongmense, is baie belangrike vrae. Want as ons in ons harte oorwegend negatief op hierdie vrae geantwoord het, dan is ons siek. Dan is ons ernstig siek. Siek in die geloof. Meer nog: dan het ons dringend hulp nodig. Ons het ‘n dringende ondersoek nodig, nie van ons liggame nie, maar van ons harte. Nie fisies nie, maar geestelik. Nie deur ‘n mediese dokter nie, maar deur God en sy Gees self.

En laat my toe, broers en susters, om tog maar hier, voor ek aangaan, ‘n terloopse opmerking te maak, ‘n opmerking gerig op ons almal vanaand hier, ek ingesluit. Hoe tragies is dit nie, dat wanneer ons siek word, ons baie vinnig ‘n afspraak by die dokter maak. Want siekte het met dood te make. En dit is ernstige sake. maar as ons geestelik siek geword het, wat gebeur gewoonlik dan? Nee wat, sê ons gewoonlik vir onsself, dit is nie so ernstig nie. Ek sal nie sommer doodgaan nie. Dit, terwyl dit in die geloof eintlik oor die lewe gaan. Oor die ware lewe!

Hoe dit ook al sy, broers en susters, die ondersoek kan ek nie vir u doen nie. God doen dit, deur sy Gees. Op baie maniere. Op baie kere. U en ek weet waarvan ons hier praat. Wat ek wel kan doen is, ek kan, soos die mediese dokter — nadat hy ‘n betrokke siektetoestand gediagnoseer het — sy handleiding raadpleeg en ‘n spesifieke medisyne voorskryf, God se handleiding (sy Woord) raadpleeg en ook ‘n voorskrif uitreik. ‘n Voorskrif wat medisyne bevat wat, indien dit geneem word, sal lei tot ‘n volwasse geestelike lewe, ‘n lewe van saligheid, ‘n lewe vol van die genade en kennis van God.

Kom ons kyk na God se voorskrif. Dit bevat vier inskrywings, waarvan die eerste lees: volhard in die gebed (Rom 12:12). Hoe doen ons dit? Hoe verdiep ‘n gelowige sy gebedslewe? Bid net. Moenie voorberei om te bid nie. Bid net. Moenie ‘n boek gaan lees oor gebed nie. Bid net. Moenie ‘n gebedseminaar bywoon of betrokke raak by ‘n bespreking oor gebed nie. Bid net.

Jou stemtoon, liggaamshouding en plek is jou eie keuse. Jou woorde is jou eie keuse. Bid liewer onbeholpe as glad nie. Moenie jou te veel bekommer oor die toedraai van ‘n geskenk dat jy dit nooit gee nie. God is nie bekommerd hoe jy bid en watter woorde jy gebruik nie. Hy is meer bekommerd oor die feit dat jy sal bid. met Hom sal praat. Met Hom besig sal wees. Want wanneer jy so met Hom besig is, is Hy met jou besig. Wanneer jy bid en aan God aandag gee, kan jy aandag gee aan dit wat Hy jou wil leer. Daarom bid net. Bid selfs net wanneer jy daarna voel. Sorg net dat jy elke dag daarna voel.

Die twee medisyne op die voorskrif van God lees: verdiep jou in sy Woord en sy wet (Jak 1:25). En hierdie medisyne vir ‘n siek geestelike lewe wil ek met ‘n voorbeeld beskryf. Gestel jy skep kos in ‘n restaurant in, en jy kom by die groente. Maar dit lyk nie goed nie, ook nie eintlik bekend nie. Op jou vraag wat dit is, sê die kok: Nee, dit is groente meneer, maar dit is vooraf gekoude groente. Sal jy dit eet? Ek glo nie so nie.

Tog, broers en susters, doen ons dit met die voedsel wat ons in God se Woord vind. Ons eet lustig aan alles wat ander uit die Woord vir ons voorsit. Ons leen ons ore uit aan almal wat iets oor die Woord te sê het. Oor wat sogenaamde ware bekering is, hoe jy moet lewe, wat reg en verkeerd is. En ons eet dit lustig op. Word ons meegesleep, soos 2 Petrus 3:17 dit stel, deur die dwalinge van ander. Geen wonder dat ons opgehou het om te groei in die geloof nie.

Nee, sê Jakobus. Verdiep jouself in die volmaakte Woord en wet van God. Gaan lees dit self, gaan self terug na die fontein van God se skatte. Raak self besig met sy Woord, lees dit, oordink dit. Want wanneer ons dit doen, gebruik God sy Gees om ons elkeen persoonlik te verryk en te leer hoe om te lewe. Lewe eerstehands saam met God en sy Woord. Nie op ‘n tweedehandse manier nie. God het sy Woord ook vir jou gegee, nie net vir ander nie.

Die derde artikel op God se voorskrif lees:: jy moet die tiende opsy sit...sodat jy kan leer om die Here altyddeur te eer (Deut 14:23). Hoe leer die gee van ‘n offergawe jou om God altyddeur te eer? Dink maar aan die eenvoudige handeling om ‘n tjek uit te skryf vir jou offergawe. Eers skryf jy die datum op die tjek. Daardie datum sê baie: dit sê dat jy gebonde is aan tyd dat jou lewe nie ewig is nie. Dit sê dat jy vandag leef omdat God die dag vir jou gegee het. Dit sê alles sal vergaan, maar nie God nie, ook nie jy as jy werklik in Christus glo nie.

Dan skryf ons gewoonlik die naam op die tjek, die persoon aan wie die bedrag moet gaan. As die bank dit sou toelaat, sou ons daar geskryf het: God. Maar nou laat die bank dit nie toe nie. So skryf maar die naam in van hulle wat met God se werk besig is. Hulle wie deur God geroep is om sy werk, byvoorbeeld in die vorm van ‘n gemeente se aktiwiteite te doen.

Dan volg die bedrag. Ai, die bedrag. Tog so ‘n moeilike vraag somtyds. Want watter bedrag vul ons daarin? Moeilik om te antwoord, want nie een van ons se omstandighede en vermoëns is dieselfde nie. Maar tog is die bepaling van die bedrag eintlik eenvoudig. Eenvoudig as on die syfers wat ons daar invul nie maar net ‘n bedrag is nie, maar eerder ‘n belydenis. ‘n Belydenis dat alles in elk geval aan God behoort. ‘n Belydenis dat alles wat ek is, het, en besit, gawes uit God se hand is. Maar ook ‘n belydenis waarmee ek God dankie wil sê vir alles wat Hy vir my gedoen het, doen, en nog sal doen.

En dan die spasie waarvoor die geld gebruik moet word. Skryf maar gerus daar wat God jou op die hart lê: vir die behoeftiges, vir die siekes, vir hulle wat versorging nodig het. Noem maar op. Maar skryf ook daarin, en luister mooi. Vir my ook, Here. Gebruik hierdie geld ook tot my voordeel. Watter voordeel? Die geleentheid om nog ‘n stukkie van die tou af te knip wat ons so aan alles wat aards is bind, veral sodat ons nie eendag aan alles en nog wat vasgebind sal wees wanneer Christus kom nie.

Die laaste inskrywing op die voorskrif lees: moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar moedig mekaar eerder aan om daarheen te gaan (Heb 10:25). Hoekom is dit belangrik, broers en susters, liewe jongmense? Kom ek verduidelik dit ook ten slotte met ‘n voorbeeld. Gestel jy sit iewers oorsee op die pawiljoen waar jou land se span teen ‘n ander land speel. Elke keer wat jy jou span toejuig, draai almal om en staar jou aan. Jy voel onwelkom, daar in die vreemde land. Maar jy bly maar skree, dit is tog jou span. Al word die kyke en opmerkings erger en erger. Tot jy agterkom dat so paar rye ondertoe iemand ook juig wanneer jy juig, en hande klap wanneer jy hande klap.

Dadelik voel jy beter. Jy is nie alleen nie, jy het ‘n vennoot. Iemand kry saam met jou swaar. Iemand voel saam met jou ontuis. Vreemd. Maar wanneer daardie persoon, wat jy glad nie ken nie, omdraai en sy duim in die lug hou, en jy vir hom dieselfde teken terugwys, is julle ewe skielik broers. Al ken julle mekaar glad nie.

Presies so werk dit in die lewe, broers en susters. Die hele week ondersteun jy vir God en dit wat God vra, in ‘n wêreld waar min God en sy saak ondersteun. Jy is die een teen wie almal is. En iewers het ‘n mens ondersteuning nodig. Iewers wil jy voel jy behoort. Jy het mense by jou nodig wat juig wanneer jy juig. Wat bly is wanneer jy bly is. Jy het nodig wat die Bybel gemeenskap noem. En jy het dit elke week nodig. Want enige mens kan per slot van rekening net so lank aanhou, so lank die druk weerstaan, voor jy dit begin oorweeg om vir die span te skree wat almal ondersteun. Voor jy besluit om maar liewer al die druk en snaakse kyke een kant toe te skuif en saam met die skare vir dit wat eintlik jou vyand is, te skree.

Daar het ons dit. God se voorskrif vir ‘n ongesonde geestelike lewe. Vir ‘n ongesonde verhouding met Hom. Bid, lees sy Woord, gee aan God wat Hom toekom, en kom kerk toe.

Doen dit die res van julle lewe, smag na suiwer geestelike melk, word volwasse in die geloof, vermeerder in julle kennis van die Here (soos 1 Pet 2:2 en 2 Pet 3:18 dit beskryf). Dan sal dit met julle goed gaan. Dan sal julle eendag julle plekke in julle elkeen se gesin wat mag kom kan volstaan, sal julle julle plek waar julle sal werk, en in die gemeenskap waarin julle gaan woon, kan volstaan. Ook in die gemeente waaraan julle eendag sal behoort.

Mag dit in julle lewens werklik so wees! En mag ons, as predikante, kerkraad en gemeente, maar julle ouers, eendag ook soos Paulus van die Korintiërs gesê het, van julle kan sê: ons het geweet al ons arbeid en toewyding was nie tevergeefs nie!
Amen