2 Korintiërs 3:18

Wie is jy en waarheen is jy op pad?



Broers, susters en kinders, “Wie is jy, en waarheen is jy oppad?” Dit is ‘n baie eenvoudige vraag, met ‘n baie eenvoudige antwoord. Kom ons maak dit effens moeiliker. Wat sê ander mense: Wie sê hulle wie is jy, en waar sien hulle jou heengaan? Skielik het ons nie meer beheer oor die “regte” antwoord nie. Iemand anders gaan my nou beoordeel en moontlik gaan hy dalk iets raaksien en noem waarmee ek nie saamstem nie, moontlik nie wil hoor nie. Somtyds is dit nodig om ‘n objektiewe opinie te kry van wie jy werklik is.

Kom ons doen bietjie hierdie toets en vra vir ander mense wie ek is. Ons kan dit by ons huise doen, moontlik in die omgee groepe, moontlik vir ons beste vriend of vriendin. Dit is belangrik om somtyds afstand van onsself te kry en te hoor wat ander mense in my raaksien. As ons dit nie doen nie, dan word ons soos die nare stiefma in Sneeuwitjie. Ons gaan nie die werklikheid wil aanvaar as die spieël op ‘n dag vir ons sê ons is nie meer die mooiste nie. Wanneer die oomblik van waarheid vir ons aanbreek, sal ons heftig wil ontken dat dit nie ons is wat beskryf word nie, sal ons nie die foute en onvolmaaktheid in ons eie lewens wil raaksien nie. Eerder die waarheid uit my man of vrou of beste vriend/in se mond hoor, as wat ‘n vreemdeling dit vir my moet vertel of meer nog, agter my rug by ander oor my praat. Somtyds maak die waarheid seer, maar dit is die enigste manier hoe ons werklik daarna kan streef om beter en beter te word. Nie om sodoende beter as my medemens te wees nie, maar om meer en meer te word wat God wil hê ek moet wees.

Wat sal God se antwoord wees wanneer ons Hom vra wie is ek? Die ideaal is dat wanneer ons voor God, ons spieël gaan staan en vra: “wie is ek?”, ons iets van onsself in hierdie spieël moet kan sien, omdat ons geskape is na die beeld van God. In Gen 1:27 lees ons: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”. Ons moet dus iets van hierdie beeld raaksien wanneer ons voor die spieël staan, en hierdie beeld moet goed wees, want dit is God se beeld. Maar is dit so ‘n mooi beeld wat met ons praat vanuit die spieël? Kan ons iets van God se beeld raaksien wanneer ons voor die spieël staan? Die antwoord is ‘n baie vae, huiwerige, “somtyds”.

Ons kan dit vergelyk met ‘n spieël in ‘n badkamer waarin ‘n warm stort loop of waar daar ‘n warm bad getap is. U het dit sekerlik al almal gesien? Hierdie spieël is toegewasem en ons kan nie detail daarin sien nie. Die beeld wat vanuit die spieël kom is baie vaag. Ons kan ons handdoek vat en die spieël afvee, en vir ‘n kort rukkie sien ons die beeld duidelik, om daarna maar net weer te verdof. En so is dit ook met God se beeld in onsself. Hierdie beeld is dof gemaak deur die wasem van die sondeval. Ons sien iets van God, maar dit is nie baie duidelik nie. Die mens sélf het hierdie beeld stukkend gegooi deur ongehoorsaam te wees en sonde te doen. Die beeld wat ons moes dra het dowwer en dowwer geword.

In Jesus Christus is hierdie dofheid weggeneem en het ons die voorreg gehad om weer iets van hierdie beeld te sien, maar daarna het die spieëlbeeld weer dof begin raak.

Die enigste manier, weet u gemeente, om die dowwe spieël weer helder te kry, is om die deure en vensters van die badkamer oop te maak. Stadig maar seker sal ons sien dat die beeld weer helder raak totdat ons onsself weer daarin kan raaksien, selfs die fynste besonderhede van ons gelaat. Dit is die koel, droë lug, wat oor die spieël gewaai het, wat veroorsaak dat die damp teen die spieël opgeklaar het. En net so het ons ook hierdie “koel lug” nodig. Die lug wat ons spieël weer sal helder maak, is die Heilige Gees. Deur die Heilige Gees word ons al meer en meer wat ons in Jesus Christus moet wees.

Wat ís dit wat ons dan moet wees? Ek kan alleenlik oor myself praat, wanneer ek by God begin. Selfkennis, begin by Godskennis. Tussen Godskennis en selfkennis bestaan daar dus ‘n wisselwerkende verband: verstaan jy God beter, verstaan jy jouself beter. Ken jy jouself, leer jy God ook beter ken.

Om hierdie beeld te verstaan, moet ons begin deur vir mekaar te noem dat ons in ‘n tussenin tydperk leef. Ons leef in die voortdurende spanningsveld van tussenin. Kom ons verduidelik dit. Ons is tussen hierdie lewe en die hemel; tussen die verlede en die toekoms; tussen die verstaanbare en die onverstaanbare; tussen die onvolmaakte en die volmaakte. Tussen die helder beeld in die spieël en die dowwe beeld wat weer met tyd sal helder word. Ons leef in die spanningsveld van wie ons nou is en wie ons in Christus behoort te wees.

En wat ons nou is, is onvolmaakte mense wat leef in ‘n onvolmaakte wêreld, waarin ons telkens die sonde toelaat om beheer in ons lewe te neem. Volgens Genesis 1 is dit glad nie wat God met ons lewens bedoel het in die skepping nie.

En om te verstaan wat ons behoort te wees, moet ons in die Skrif gaan kyk. Ons lees in 2 Korintiërs 3:18: “…Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word…”. Ons moet gelyk word aan die beeld van Christus, met ander woorde, gelyk aan die beeld van God. Hierdeur wil ons nie sê dat ons soos God moet word nie, die gedagte hieragter is eerder dat ons die beeld wat God uitstraal, naamlik liefde, regverdigheid, omgee ens, ons eie moet maak.

Op die vraag dus van wie ons is, sal ons moet antwoord dat ons soos God se beeld moet wees. Ons moet altyd probeer om nader en nader aan daardie beeld te leef. In werklikheid kan ons sê dat in Jesus Christus, daardie beeld reeds in ons gerealiseer het, maar dit is nog net uitgestel. Kom ons verduidelik dit.

God sit as’t ware in die toekoms en Hy trek ons almal daarheen. Ons elkeen se toekoms is daar waar ons op ons sterfdag gaan staan. Daar sal ons elkeen die antwoord hoor op die vraag: “Wie is ek”? En as antwoord sal Jesus Christus ons by die dal van doodskadu ontmoet en daardeur lei. As God sou vra “Wie staan hier?”, sal Jesus Christus vir ons as getuie by God instaan en verklaar dat ons begenadigde sondaars is. Jesus Christus sal teenoor sy Vader getuig dat ons skoongewas is deur sy bloed aan die kruis en daarom sy kind is.

Alhoewel dit vir ons in die toekoms sal plaasvind, kan ons nou reeds leef met die wete dat dit wel sal gebeur, want Jesus Christus het dit so aan ons beloof.

Wanneer jy dus weer voor ‘n spieël gaan staan en na jouself kyk, dan kan jy vir jouself vra: “Wie is jy?”, en met eerlikheid kan jy dan daarop antwoord: “Ek is God se beeld in hierdie wêreld”. Gemeente ons moet nie dat dit daar ophou nie, wanneer ons net voor die spieël stilstaan en dit nie vir die wêreld gaan wys nie, kan ons nie daarop aanspraak maak dat ons God se beeld dra nie, want God se beeld kan nie opgeeis word deur myself nie, maar moet met ander gedeel word. Dit beteken dat ek telkens voor ek iets wil doen, moet vra of dit God se beeld sal laat skyn en of dit dalk wasem is wat die beeld gaan verdof.

Dit beteken ook dat ons met ander oë na mense rondom ons sal kyk, want wie weet, dalk is my optrede, of my geskinder, die wasem wat die beeld van God in iemand anders dof maak.

Ons moet uitgaan gemeente en nou reeds gaan leef as mense wat God se beelddraers is.
Amen