Johannes 2:1-12

Bekommer ons of vertrou ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die tyd van Jesus was wyn by ‘n bruilof amper wat ‘n troukoek vandag is. Want soos ‘n mens jou amper nie ‘n bruilof sonder ‘n troukoek kan voorstel nie, was in daardie tyd ‘n bruilof sonder wyn totaal ondenkbaar. Hoekom? Want in daardie tyd was die voorsit van wyn ‘n teken van respek aan jou gaste. Sonder wyn sou daar ondenkbare skade en skaamte oor jou kom, wat geweldige konsekwensies ingehou het vir jou en jou familie se situasie in die gemeenskap. In kort: dit was beskou as ‘n belediging as jy nie aan ander tydens ‘n bruilof wyn voorgesit het nie.

Maria was dus, in ons gedeelte van vanoggend, met ‘n groot sosiale probleem gekonfronteer. Die troue was ‘n gemors. Dit was ‘n doodgewone, alledaagse ramp. Darem nie nodig om 10111 te skakel nie, maar tog: daar was geen manier vir Maria om haar verleentheid te verberg nie.

En as ons nou mooi gaan dink, broers en susters, is die meeste van ons daaglikse probleme van dieselfde kaliber. Dit is selde dat ons ‘n dilemma van nasionale omvang moet hanteer, of dat ons krisisse op die Richterskaal registreer. Want die lewensgolwe wat oor ons breek word gewoonlik veroorsaak deur klein klippies wat oor ons spoel, nie deur groot rotse nie. Ons is byvoorbeeld laat vir ‘n vergadering, ons vergeet iets by die huis, die verkeer is swaar en ons is bekommerd want ons weet ons kinders wag om opgelaai te word, ons pos raak weg, die huis se krag skop uit of my motor raak onklaar in die middel van die verkeer.

Hierdie golwe wat soms oor ons spoel, broers en susters, bedreig nie werklik ‘n mens se lewe nie, soos vroeër gesê. Maar hulle sou kon. Want ‘n verkeerde reaksie op ‘n eenvoudige probleem kan ‘n vuur aan die brand steek. Wat as ‘n sneeuvlokkie begin, kan ‘n sneeubal word wat in ‘n sneeustorting eindig, veral as ons nie pasop nie.

En juis daarom is dit belangrik dat ons sal let hoe Maria op haar probleem gereageer het. Wat het sy gedoen? Sy het doodeenvoudig na Jesus gegaan en gesê: `Hulle het nie meer wyn nie.’ Net so. Dit is al wat sy gesê het. Sy het nie histeries geraak nie. Sy het eenvoudig vasgestel wat die probleem is, en dit na Jesus geneem.

Nie dat daar vir haar nie ook ander moontlikhede was nie. Sy kon byvoorbeeld ontplof het deur te sê: `Waarom het julle nie beter beplan nie? Daar is dan nie genoeg wyn nie. Wie se skuld is dit? Julle doen nooit iets reg nie! ‘n Mens kan ook niks aan ander oorlaat nie, want dan is daar altyd ‘n gemors. Lyk my hier moet ‘n mens alles self doen om dit reg gedoen te kry!’

Of, broers en susters, sy kon gaan sit en tob het. `Dit is alles my skuld. Ek het weer eens misluk. En ek verdien dit. As ek miskien liewer op skool my hoofvak huishoudkunde gemaak het, sou ek dalk beter gevaar het. Daarom, bind my maar vas en sleep my galg toe. Ek verdien dit, want ek is die oorsaak van hierdie gemors.’

Maar nie Maria nie. Waar dit vir ons soms so maklik is om op alles behalwe die oplossing van ‘n bepaalde probleem te fokus, het sy die knoop bekyk, dit geëvalueer, en onmiddellik na die regte persoon gevat: `Hier is een wat ek nie kan losknoop nie Here, hier moet u help.’

‘n Optrede wat my laat dink aan ‘n keer toe ek nog nie predikant was nie en ‘n kerkraadsvergadering bygewoon het. Die saak op die tafel was maar moeilik, en die gemoedere loop hoog. En hoe langer die bespreking hoe duideliker het dit geword dat ‘n oplossing of kompromie nie maar net voor die deur gelê het nie. Totdat een van die oueres opgestaan het met die voorstel: `Maar hoekom gaan bid ons nie oor die saak nie?’ Waarop iemand anders gereageer het: `Het dit nou al werklik sover gegaan?’

‘n Gebeure waaroor ‘n mens miskien moet vra: wat laat ons altyd aan gebed dink as die laaste uitweg in plaas van die eerste? En ek kan onmiddellik aan twee redes dink: of ons voel te onafhanklik, of ons voel te onbeduidend, te onbelangrik.

Soms is ons te onafhanklik. Soms begin ons te maklik te dink en glo dat ons groot genoeg is om ons eie probleme op te los. Nie, broers en susters, dat God nie van ons verwag om ons probleme te takel en in liefde of met nugterheid op te los nie. Dit is juis ‘n teken van volwassenheid (veral volwassenheid in die geloof) wanneer ‘n mens in staat is om as ‘n kind van God onder leiding van die Gees sinvol met die lewe, sy golfies en soms golwe om te gaan en staande te bly. God maak ons juis sterk in die geloof om dit te kan doen.

En ons moet in die geloof die skool van die lewe takel en by die horings pak. Maar: dit moet nooit ‘n stadium of vlak bereik waar ons meen dit is nooit meer nodig om God se hulp in te roep nie. Want dan het ek, in my eie oë, self God geword en wil ek te dikwels te maklik alles beheers en regeer, dinge, en ongelukkig soms ook mense.

By ander geleenthede weer meen ons gebed – die inroep van God se hulp – kan nie, juis omdat ons so onbeduidend en onbelangrik voel. Waar ons vir onsself sê: `Ja, Maria kan haar probleme na Jesus toe neem. Sy is immers sy ma. Maar God wil nie van my probleme hoor nie. Daarvoor is ek te onbelangrik. Buitendien, Hy het hongersnood regoor die wêreld, geweld en oorloë wat mense bedryf om aandag aan te gee. Daarom kan ek Hom nie pla met my probleempies of brouspul nie’.

As dit is hoe ons dink, broers en susters, moet ons miskien weer hoor wat Psalm 18:20 sê: `Hy het my gered…omdat Hy my liefhet.’ Met ander woorde, nie omdat ons so ordentlik is, of op grond van ons goeie werke, of op grond van my mooi gesindheid of op grond van ons voorkoms nie . As dit die geval was, broers en susters, sou ons verlossing mos in elke geval daarmee heen gewees het elke keer wanneer ons nie ordentlik is nie, ‘n verkeerde woord sê of swak vaar in die goeie werke afdeling.

Nee, broers en susters, daar is ander redes hoekom God ons red. Omdat Hy ons liefhet, maar ook omdat Hy deur ons redding verheerlik word, dat die krag van sy reddingsdaad aan die kruis sigbaar word, dat sy almag gedemonstreer kan word, dat die onmoontlike moontlik kan word, en so kan ons aangaan.

Maar ook omdat hy doodeenvoudig vir sy skepsels omgee. Omdat Hy daarvan hou om sy kinders naby aan Hom te hê, soos dit is met enige pa en ma met hulle kinders onder hulle dak. Omdat Hy hom oor ons verheug, soos Jesaja 62: dit pragtig uitdruk: `Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal God oor jou bly wees.’

Of, soos iemand dit eendag baie eenvoudig, maar baie mooi uitgedruk het – en die kinders sal dit goed verstaan —: as God ‘n yskas gehad het, sou jou foto daarteen vasgeplak gewees het. Hy stuur elke lente vir jou blomme en elke oggend die son. Wanneer jy ook al met Hom wil praat, luister Hy. Hy kan, as Hy wil, enige plek in die heelal sy woonplek maak, maar Hy het jou hart gekies om in te woon. Om nie eers te praat watter Kersgeskenk Hy vir jou in Bethlehem gestuur het nie. Wees maar eerlik ou maat, Hy is dol oor jou. Miskien '‘ bietjie plat gesê, broers en susters, maar ‘n mens kan dit beswaarlik eenvoudiger en beter uitdruk.

Daarom, broers en susters, die laaste ding waaroor ons ons moet bekommer, is om te dink dat ons vir God dalk ‘n oorlas kan wees. Nee. Waaroor ons ons eerder moet bekommer is om seker te maak dat ons doen wat Hy vir ons sê. Kyk weer mooi wat Hy vir Maria gesê het: Maak die kanne vol water. Wat Maria tot bo laat volmaak het. Toe sê Hy: skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester. Wat hulle gedoen het. En die water was wyn. So eenvoudig, so maklik.

As u ‘n daar ‘n kelner was, sou u dit gedoen het? Sou is nie miskien eerder gesê het nie: maar hoe sal dit nou die probleem oplos nie? Wat sal die seremoniemeester sê as ek vir hom water gee? Of, wat sou gebeur het as die kelners doodeenvoudig geweier het?

Dieselfde vrae geld vir ons, broers en susters. Wat as ons die probleem identifiseer, dit na Jesus toe neem, en dan weier om te doen wat Hy sê? Nie dat dit ‘n onmoontlikheid is nie. Per slot van sake, God vra soms van ons om, in die oplossing van sommige probleme, ‘n paar moedige stappe en ‘n paar lang tree te neem. Jy is byvoorbeeld te na gekom, maar Hy vra steeds van jou om die oortreder te vergewe. Iemand anders is dalk die oorsaak van ‘n groot mislukking van ‘n projek waarby jy betrokke was, en die uitkoms duidelik nie jou skuld was nie. Dan vra hy nog en nog geduld. Net so, jy kan God se gesig nie sien nie, maar Hy vra steeds dat jy sal bid. Jy sien dalk nie dadelik enige verbetering of uitkoms nie, maar Hy vra dat jy weer sal bid.

Die opdrag om jou nie te bekommer nie, maar op die Here te vertrou (ons tema van vanoggend), broers en susters, is nie ‘n opdrag vir kleingelowiges nie. Laat ons dit maar duidelik vanoggend vir mekaar sê. Maar dan weer, God sal nie iets van jou vra as Hy dink jy kan dit nie doen nie. Daarom, wanneer u en ek weer ‘n doodgewone, alledaagse ramp in die oë staar (of dit nou probleme met ons kinders, ons maats, die skool, probleme by die werk, of wat ook al is), laat ons maar Maria se voorbeeld volg:

  • Identifiseer die probleem (want dan is die saak in elk geval al halfpad gewonne);
  • neem dit in die gebed na Jesus toe (want Hy wil graag na jou luister en jou help); en
  • doen wat God vir jou sê om te doen (al lyk dit hoe onsinnig, moeilik of onmoontlik).

God verras u dalk net. Wie weet?
Amen