Johannes 20:26-30

Die teenwoordigheid van Jesus laat ons anders sien



Vers 28: “En Tomas sê vir Hom: My Here en my God!”

Op TV is daar ‘n program met die naam van “Ripleys believe it or not”. ‘n Program wat handel oor gebeure in die wêreld, wat vir ons alledaagse mense amper onmoontlik lyk. So was daar onlangs die insetsel van ‘n man wat kunswerke in die oog van ‘n naald maak en wat net met ‘n mikroskoop waargeneem kan word. Dit klink te goed om waar te wees. En dit is nie maar net ‘n storie nie, ek het dit met my eie oë gesien.

“Sien is glo”, ‘n ou en baie bekende gesegde in ons Afrikaanse taal. Ons mense is baie lief om te kyk wanneer David Copperfield, die kulkunstenaar, sy toertjies op TV doen. Vir dae oorheers hierdie “toordery” alle geselskap. Mense kan nie uitgepraat raak oor wat hulle gesien het nie. Hy kan dit dan selfs regkry om ‘n hele vliegtuig te laat verdwyn, en hy kan selfs deur die groot “Muur van Sjina” loop. Ons begin selfs glo, dat hierdie man werklik ‘n towenaar moet wees. Ons glo dit want ons oë vertel vir ons, dat hierdie man werklik bonatuurlike magte moet hê. Maar hierdie kunstenaar is besig met oë verblindery. Hy maak staat daarop dat ons oë te stadig is om waar te neem wat hy in werklikheid besig is om te doen. Ons oë neem maar net die helfte van die gebeure waar, maar ons glo dat ons die hele prentjie sien. Ons glo, omdat ons dit sien.

Broers, susters en kinders, Tomas, van wie ons so pas gelees het, kon net sowel vandag geleef het. Hy het ook geleef met ‘n “Glo is sien”, verwagting. Ons kan onsself indink dat die ander dissipels en vroue baie opgewonde moes gewees het omdat hulle Jesus gesien het. Elkeen sou seker sy eie verhaal vertel het van hoe Jesus met hom of haar gepraat het. Sommiges van hulle sou seker tog ook aan Jesus geraak het en Hy aan hulle. Maar steeds wil Tomas nie glo nie.

Ons praat baie keer van die ongelowige Tomas. Maar dit was hy egter nie. Om ongelowig te wees, beteken om nie te glo aan die hoëre dinge nie; die bestaan van God en die ewige lewe word ontken. Tomas is egter ‘n twyfelaar wat maar nie tot sekerheid aangaande die ewige dinge kan kom nie. In sy swaarmoedigheid kan hy nie tot klaarheid kom aangaande die dinge van God nie. Met sy eie oë het hy sy Meester aan die kruis sien sterwe. Selfs die besielende, stralende oë van die ander dissipels wat Jesus gesien het, kan hom nie uit sy swaarmoedigheid verhef nie. Hy sal slegs kan glo as hy met sy eie sintuie hom van die waarheid daarvan oortuig het. Hy kan nie lewe met inbeeldinge en fantastiese voorstellinge nie, want sy gees roep om tasbare, onwrikbare feite.

Miskien sal party van ons nou dink: “So tipies van die ongelowige Tomas”, kan hy nie maar glo, sonder om te sien nie? Hy het dan self gesien watter wonderwerke Jesus alles gedoen het. Jesus het hulle dan self geleer dat Hy na drie dae weer sal opstaan. Dit moet tog genoeg rede wees om te kan glo sonder om te sien? Dit is korrek, dit moet genoeg rede wees, maar daar is iets van Tomas wat maak dat hy nie maar net sal glo nie. En daardie iets is die feit dat hy ‘n mens is. Dit is nie in die mens se geaardheid om maar net te glo nie. Ons wil altyd eers self sien, self verstaan, self ervaar, voordat ons sal glo. Tomas het maar net bloot menslik opgetree.

En vandag tree mense steeds so op. Mense glo nie meer iets as hulle dit nie met hulle eie oë kan sien of dit kan bewys dat dit so is nie. Dit is onwetenskaplik om bloot te glo. Geloof pas nie in die een-en-twintigste eeu, waar die mens mondig geword het en nie meer die kinderverhale van die Bybel nodig het nie. Daar is nie meer ruimte in die wêreld om te glo in wonderwerke nie. Die wetenskap het dit vir die mens moontlik gemaak om te kan leef, sonder om God se hand in alles te sien. In kort, die mens kan vir homself sorg.

Gemeente, dit is die situasie in die wêreld, maar hoe lyk dit in die kerk? Hoe lyk dit in my eie lewe? Glo ons onvoorwaardelik dat God vandag nog wonderwerke kan doen? Glo ek dat Jesus vir my aan die kruis gesterf het? Glo ek dat Hy uit die dood opgestaan het en vandag lewe? Glo ek aan sy wederkoms? Glo ek nog aan alles wat in die Bybel staan?

Soms kom ek tot die besef dat dit vir my moeilik is om alles in die Bybel onvoorwaardelik te glo. Ek sukkel om myself te kan voorstel dat die son kon stilstaan of dat ‘n vrou van bykans honderdjaar kan swanger raak. Ek vind dit moeilik om myself te kan indink hoe daar ‘n pad deur die see gekloof word of hoedat ‘n byl bo-op water kan dryf. Ek lees van wonderwerke in die Bybel, wat menslik gesproke, nie kan gebeur nie.

Dan ervaar ek ook in die lewe soveel dinge wat nie vir my sin maak nie. Waarom is daar soveel lyding in die wêreld? Hoekom moet daar soveel moordenaars en geweldenaars rondloop? Waarom word onskuldige mense, ja selfs babatjies, somtyds so wreedaardig vermoor? Waarom beantwoord God nie my gebede nie? Ek is bereid om vir Hom te werk, maar ek ontvang geen beroep nie. Ons pleit dalk al vir jare dat ‘n geliefde se lewe deur God aangeraak moet word, maar hy of sy bly ‘n ongelowige. Dit lyk of God doof en blind vir my nood is.

Dan kruip die twyfel nader. Dan begin ek ook wonder of die Bybel se beloftes enige iets beteken. Dan wil ek uitroep: ''Here, as U daar is en nog na my luister, wys Uself aan my. Wys aan my dat U in my belangstel en vir my omgee. Wys Uself aan my, sodat ek kan sien en kan glo''.

En met ‘n skok moet ek ontdek dat ek ook maar net ‘n Tomas is.

As ons vanoggend eerlik wil wees, sal ons moet erken dat daar gereeld tye kom wat ons twyfel. Daar is by almal van ons die een of ander iets waaraan ons twyfel of iets wat dit vir ons moeilik maak om onvoorwaardelik te glo. Maar dit is met sulke vertwyfel­inge wat ons na die Here kan gaan en kan sê: ''Here, nou verstaan ek nie meer nie. Help my!''

Dit bring ons terug by Tomas. Die feit dat hy eers sy vingers in die wonde van Jesus wou druk, het nie van hom 'n ongelowige (of HEIDEN) gemaak nie. Hy het eenvoudig realisties gedink en nie by ‘n bevredigende antwoord uitgekom nie.

Sy verstand het vir hom gesê dat dit nie moontlik is dat Jesus uit die graf kon opstaan nie, en daarom wou hy self eers seker maak of dit moontlik is. Daar was dinge in sy lewe wat vir hom moeilik was om te aanvaar en waaroor hy getwyfel het. Sy ongeloof was nie 'n lewenswyse nie, hy wou nie in sy twyfel volhard nie, maar hy wou dit oplos, sodat hy weer voluit kon glo.

Wie van ons sou nie ook getwyfel het as ons in Tomas se skoene gestaan het nie? Op geen manier sou ek my vriende blindelings net geglo het nie. Ek sou dit self wou sien en beleef. As ek self my hand in die wonde kon steek, alleenlik dan sou ek geglo het.

Vrae en twyfel beteken nie dat iemand nie meer ‘n Christen is nie. Dit dui eerder daarop dat daardie persoon soekend is na die waarheid. Dat iemand smag om nader aan God te leef, om struikelblokke in sy geloof, uit die weg te ruim. Daarom mag ons nie mense met twyfel veroordeel nie, maar moet ons eerder die hand uitsteek en oor moeilike paaie help. Moet ons eerder ‘n oor hê om te luister, en ‘n mond wat ‘n sagte en vertroostende antwoord kan gee.

Jesus Christus veroordeel nie een van ons as ons twyfel nie. Hy raak nie kwaad vir ons as ons vrae vra nie. Maar in liefde en met groot geduld, nooi God ons ook uit om ons vingers as't ware in sy sy te druk. God nooi ons uit om met ons twyfel vrae na Hom te kom.

Ons geloof moet deur ons twyfel versterk word. Ons moet aanhou soek na 'n antwoord en nie moed opgee nie. Ons mag egter nooit gemaklik raak met ons vertwyfeling en vrae nie. Ons kan dit nie maar net aanvaar as natuurlik nie. Twyfel moet lei tot ‘n eerlike poging om by die waarheid uit te kom. En wanneer ons dit doen, sal ons ook weer die wonderlike, soos Tomas, van die Evangelie ervaar.

Jesus het nie vir Tomas veroordeel of verwyt omdat hy nie dadelik geglo het nie, want Hy het geweet dat dit Tomas se begeerte was om hierdie twyfel uit die weg te ruim. En daarom, toe Jesus 'n week later, heeltemal bewus van Tomas se twyfel, weer aan sy dissipels verskyn, is dit amper of Jesus spesiaal teruggekom het om Tomas se onthalwe en om hom tevrede te stel. Jesus steek die hand na Tomas uit en wil hom as’t ware uit sy vertwyfeling lei. En net so steek God ook vandag nog na ons die hand uit. Wil hy ook ons oë en verstand open, om sy genade raak te sien en te ervaar.

Is dit nie waar in mense se lewens wat 'n traumatiese ervaring gehad het nie? Aanvanklik verstaan hulle niks nie en sukkel hulle om dit te aanvaar en twyfel hulle in God. Maar as hulle daarmee na die Here gaan en toelaat dat God ook met hulle saak werk, kan hulle agterna getuig dat hierdie hele episode hulle nader aan die Here gebring het en hulle geloof versterk het. Vind ons baie keer dat God met ons praat en die onverstaanbare, verstaanbaar maak.

Dit bring ons by die tweede waarheid van die gelese gedeelte. Ons kan aanvaar dat Jesus ná sy opstanding anders gelyk het as voor sy kruisiging. Ons lees dat Maria nie dadelik vir Jesus herken het toe Hy by die graf aan haar verskyn het nie. Eers nadat Hy met haar gepraat het, het haar oë oopgegaan en het sy Hom herken as Jesus. Ons lees ook in die hoofstuk ná die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, dat die dissipels Jesus nie dadelik herken toe Hy weer aan hulle verskyn nie. Dit wil dus voorkom asof Jesus anders daar uitgesien het na die kruisiging as daarvoor.

En nou staan Jesus Christus skielik voor Tomas en Hy bied aan Tomas dit waarna hy gesoek het. Hy sê vir hom dat hy nie langer ongelowig moet wees nie, maar moet glo: ''Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek hom in My sy; en moenie langer ongelowige wees nie, maar wees gelowig''.

Onmiddellik het Tomas vir Hom gesê: “My Here en my God!”. Tomas is die eerste van al die dissipels wat Jesus erken as God. Hoekom? Wat het gebeur met Tomas se twyfel? Ons lees nooit dat Tomas sy vingers toe wel in die wonde gedruk het nie. Ons kan ook aanneem dat hy Jesus nie sou herken het nie, want Jesus het mos waarskynlik nou anders gelyk as voor die kruisiging. Maar bloot deur Jesus se uitnodiging aan te hoor, het hy tot die geloof gekom, dat dit werklik Jesus Christus is wat voor hom staan. Wat meer is, hy het Hom dadelik erken as God self.

Broers, susters en kinders, wanneer God die hand na jou uitsteek, wanneer Hy in jou lewe intree en jou op die naam noem, gebeur daar vreemde dinge met jou. Skielik verander twyfel in sekerheid.

Die onmoontlike lyk nou baie moontlik. Die skille wat op jou oë is, verander in ‘n vergrootglas, sodat alles anders en nuut lyk. Geen mens kan onveranderd bly as hy deur God self aangespreek word nie. Jy kan dan ook nie anders as om op jou knieë voor Hom neer te val en te bely “My Here en my God” nie. Skielik word God alles en ons niks.

Wanneer dit gebeur, is dit vir ons weer moontlik om God in sy grootheid en andersheid te ervaar. Ons kan dan leef met die sekerheid dat God groter is as die wetenskap.

As ons saam met God deur die lewe stap, moet ons nie verbaas wees om telkens verwonderd te staan voor sy mag nie. Vir God is dit moontlik om sy hand uit te steek en die son in sy baan te stop. Met sy asem kan Hy die see in ‘n pad verander. En Hy wat die Skepper is, sal dit moontlik vind om ‘n vrou van 99 jaar ‘n kind te laat kry.

Ons glo in David Copperfield die Kulkunstenaar se stories, maar ons twyfel oor God se krag. Die kulkunstenaar maak daarop staat dat ons oë nie alles kan waarneem nie. Ons sien slegs ‘n klein gedeelte van dit wat hy doen, maar dit is genoeg vir ons om te glo dat dit net so gebeur.

God, aan die ander kant, wys baie meer. Hy is nie bloot ‘n kunstenaar wat ons probeer kul nie. Hy is getrou aan wat Hy sê en wat Hy doen. Ons aanvaar dat ons ook nie, wat God betref, die hele prentjie sien nie. Dit sal eers plaasvind met die wederkoms, maar God toon genoeg van Homself sodat ons moet glo.

Hy het sélf na die wêreld gekom em Homself aan ons openbaar. Elke dag van ons lewens kan ons nie anders as om verwonderd te staan voor sy skepping nie. In ons eie lewens kan ons ervaar dat Hy tot alles instaat is, maar steeds is ons nie bereid om alles onvoorwaardelik te glo nie.

Broers, susters en kinders, is ons bereid om onvoorwaardelik te glo? Of is daar dalk nog onsekerheid in ons lewe? Is daar dalk nog twyfel wat tussen ons en God staan? Jesus Christus nooi elkeen van ons persoonlik uit om self die hand na Hom uit te steek en aan sy sy te raak. Hy is teenwoordig en tussen ons. Neem die uitnodiging aan, dan sal ons saam met Tomas kan bely: “My Here en my God”.
Amen