1 Timoteus 2:1-13

Die uitwissing van God op die kansel



1Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van ons prediking is na aanleiding van die titel van een van dr Johan Cilliers se boeke Die uitwissing van God op die kansel. In hierdie boek behandel hy die tendens wat deesdae in kerke ontstaan het, naamlik die beduidende leë sitplekke ... Volgens dr Cilliers moet die probleem gesoek word op die kansel: die skokkende waarheid is dat predikante die kerk leeg preek! Dan gebruik hy die volgende voorbeeld van die negentiende-eeuse Skrifverklaarder Bengel wat, terwyl hy besig was om oor Romeine 8 te bepeins, sy oë opgeslaan het na die hemel en die volgende sou gesê het: “O God, wat máák U tog uit ons!” In Romeine 8 lees ons hoe God deur sy Gees die gelowige se lewe beheers, en uiteindelik ook tot ’n kragtige wapen deur ons gebede kan aanwend.

Volgens dr Cilliers moes hy ook gereeld, terwyl hy sy eie boek geskryf en preke geëvalueer het, sy oë egter neerslaan en uitroep: “O God wat máák ons tog uit U!” Die ontstellende bevindinge wat hy uit die meeste preke gekry het, is dat dit slegs gebruik word om die evangelie te verkondig as ’n verpestelike alternatief, ’n tipe van veilige “ghetto” waarin ’n mens van die werklikheid kan af wegvlug. Die meeste preke is dus nie aktueel nie, met ander woorde, dit het nie die leefwêreld van die moderne gelowiges aangespreek nie.

Ja, tereg kan ons vra: Wat is ons deesdae besig om van God te maak? Wat se beeld het ons uit die geopenbaarde God van die Bybel gemaak en aan die wêreld begin voorhou? Het ons nie dalk die ware God iewers langs die pad deur ons prediking en leefwyse uitgewis nie? En ek vra hierdie vraag na aanleiding van die diskussie die afgelope paar weke in die koerante en op die internet oor mense se beweringe dat die aanbidding van God uitgediend is, en dat Jesus Christus nié die enigste Verlosser is of kan wees nie.

Broers en susters, dit maak my bang as ek hoor en lees hoe mense oor God, en oor die manier hoe ons gered kan word van die houvas wat Satan op ons lewens het, redeneer. En verstaan mooi: daar is absoluut niks mee verkeerd om oor God te redeneer, en sy wonderbaarlike redding van die verlore mensdom te oordink nie! Immers, God het nie van ons verwag om “breinloos” in Hom te glo nie ... nee, Hy wil juis hê dat ons Hom ook met ons hele verstand moet liefhê en dien. Ons moet tog die wêreldse goed, en alles wat daarmee saam gaan, oordink, en opmeet teen dít wat ons in God het, en dan bewustelik ’n keuse vír of téén Hom maak.

Maar as ek hoor hoe sommige mense deesdae oor God dink en redeneer, dan wonder ek of ons nie dalk ook op ’n manier bygedra het tot hierdie mense se uitgangspunt en siening nie! Ja, het my manier van prediking ... my manier hoe ek met mense werk en omgaan ... my manier hoe ek met mense praat ... my manier hoe ek liefde betoon en bewys, nie dalk gemaak dat mense se siening van God verduister geraak het nie? Is ek nie dalk besig om die ware Godsbeeld met my eie godsbegrip uit te wis nie?

Ek is seker dat baie van ons se onmiddellike antwoord dalk mag wees dat jy nie so dink nie. Immers, jy kan ’n perd ook net tot by die water neem – jy kan hom nie maak drink nie! Ons kan tog nie die Christelike geloof in hulle keelgatte afdruk nie! Ek dink egter nie dit is só eenvoudig nie! Iewers moes ons manier van kerkwees, die manier hoe óns ons geloof uitleef, of nié uitleef nie, die manier hoe ons God verkondig deur ons woorde en dade, of dit nie doen nie, daartoe bygedra het dat mense so begin dink en voel het oor God. Want ... hoekom is ons kerke deesdae so leeg? Hoekom soek mense nie meer deesdae die rustigheid en stilte van die geloofsgemeenskap en kerk na ’n rowwe en woeste week op nie? Ja, waarom het mense nie meer die begeerte om deel te wees van die geloofsgemeenskap of die kerk nie?

Dink so bietjie daaroor na: Is dit nie dalk omdat daar deesdae nie meer ’n sigbare skeidslyn tussen kerk en wêreld is nie? Het die kerk nie dalk te veel soos die wêreld begin word nie: ons baklei hierbinne net so baie soos daarbuite ... hierbinne is net so baie haat en onmin as daarbuite ... hierbinne is net so min van Christus se omgee en liefde te sien as daarbuite ... hierbinne is dit net so “koud” as daarbuite? Ja, vra julleself ook af: wat het geword van die Here se uitspraak dat ons ín die wêreld is, maar nie ván die wêreld nie? Want onthou, as daar nie meer ’n sigbare verskil tussen die kerk en die wêreld is nie, dan het ons gemeente mos nie meer ’n doel nie!

Gemeente, dit is dalk juis die soeke na die doel van die kerk in die wêreld, of meer spesifiek: dié van ’n gemeente in ’n bepaalde gebied, wat ons ook sal laat verstaan hoe dit gebeur dat bekende mense tot uitsprake soos die volgende kan kom: “As ons ’n betroubare sisteem moet gebruik om ons wêreld beter te leer ken, kan ons nie die geloof gebruik nie ... As ons op die Bybel moet konsentreer, wat betref die biologie, moet ons byvoorbeeld glo wat Jesus gesê dat die mosterdsaad die kleinste saadjie is. Dit is ’n leuen ... die orgideë saad is die kleinste saadjie. God sou dit [immers] geweet het. Hy sou nie só ’n fout gemaak het nie.”

En daarmee impliseer hierdie bekende persoon dat die Here Jesus dus ook nie werklik God kon wees nie! Hy gaan nog verder: “Ek weier om te val vir die Jesus-karikature. God is te groot vir dit. En nou praat ek van mý God. Ja, ek hét ’n God en ek is jammer dat dit nie per definisie dieselfde is as die ander een [van die Bybel] nie.” En luister dan hoe gaan hierdie persoon nog verder deur te sê dat die Here Jesus geen respek vir sy ouers gehad het nie, en dus nie as voorbeeld voorgehou kan word nie. Volgens hom is die Bybel so vol foute en weerspreek dit homself so baie, dat dit nie eers as ’n betroubare bron in die hof sal dien nie. En dan maak hy ’n laaste opmerking: “Een ding sê ek jou: dis nie God se skuld nie. Dis die Bybel wat hersiening nodig het.”

Die persoon wat hierdie uitsprake gemaak het, is die sanger Steve Hofmeyr. En met hierdie – ek wil amper sê: godslasterlike uitlatings het hy die hele debat rondom God se bestaan – onthou, nie sý god se bestaan nie, maar die Bybelse God s’n, en die manier van ons redding begin.

Hierdie debat het oor die afgelope paar weke so gesneeubal, dat daar deesdae in die koerante baie menings gelig word. Soveel, dat daar ’n artikel getiteld: “’n Ope brief aan God” gepubliseer is. En die dinge wat daarin kwytgeraak is, het my werklik geskok. Hierdie anonieme skrywer het die kerk by God aangekla en gesê: “In die stigtingsjare van die kerk is geskrifte van feilbare mense planmatig geselekteer en waarskynlik in baie opsigte vervals. Dié dokumente is saamgevoeg in die Bybel en is voorgehou as synde geïnspireer deur u Gees ... hierin word U aanvanklik uitgebeeld as die God van Israel wat met sy volk speel en mors na willekeur om u siek ego te streel. In die tweede deel verander U wonderbaarlik in ’n God van liefde wat saligheid en die ewige lewe aan almal beloof wat bereid is om te glo wat deur die kerk verkondig word ... Inderdaad hou die kerk aan ons voor dat niemand by U kan uitkom nie behalwe deur die kerk ... Gewapen met die alleenreg op saligheid en die ewige lewe word onskuldige mense gemanipuleer en onderwerp ...”

En dan was daar ’n leser wat só gereageer het op die vorige artikel: “‘U word uitgebeeld as die God van Israel wat met u volk speel en mors.’ Korrek. En dan draai U om en verkondig liefde! ... As my verlossing afhang van my geloof, wat het U en u genade daarmee te doen? ... Ek wil aan U ... bekendmaak dat ek is wat ek is weens die valse leerstellinge wat van kleins af aan my oorgedra is.”

’n Ander leser het soos volg gereageer: “Hierin – verwysend na die boek Genesis – word beskrywe hoe God ’n man skep met sekere drange en magte, hom in sekere omstandighede situeer en dan verdoem tot ewigdurende straf (net) omdat hy opgetree het soos die Almagtige voorsien het en die Almagtige hom gemaak het.”

Geliefdes van ons Here Jesus, ek is seker dat die meeste van julle sekerlik ook nou voel soos ek aanvanklik gevoel het. Onmiddellik wil ’n mens hierdie mense verdoem deur te sê dat jy nie hulle wil wees as hulle voor God moet verskyn nie! Tog moet ons versigtig wees, want dalk moet ons eerder onsself afvra of ons nie dalk met óns manier van prediking en óns manier van uitleef van die gepredikte Woord daartoe bygedra het dat hulle so oor die kerk en geloof voel nie. Onthou, elkeen van ons sal voor God verantwoording moet gaan doen van ons lewens, of dit nou goed was of sleg (2 Kor 5:10).

Tog, hierdie soort van uitsprake maak ’n mens ongemaklik ... jy weet nie of hulle ernstig is of hulle net duiwelsadvokaat speel nie. Maar kom ons aanvaar dat dit regtig is hoe hierdie mense oor die kerk en geloof voel, dan moet ons besef dat die kerk, of die onderskeie gemeentes, vir hierdie mense in hulle doel gefaal het! Ja, as die kerk nie vir hierdie mense troos en hoop in hulle lewensomstandighede kan bied nie, dan is die boodskap wat in die kerke verkondig word, besig om God uitwis, in plaas daarvan om Hom uit te wys, sigbaar te maak! Miskien moet ons ook besef dat hierdie woorde, wat geuiter is, nie uit die monde van mense kom wat nog nooit van God gehoor het nie. Nee, hulle het voorheen ook in die kerkbanke gesit ... was ook deel van ’n gemeente, maar hulle het mettertyd so ontnugter geraak deur die boodskap wat binne die kerk verkondig word, teenoor dit wat sigbaar daarbuite in die wêreld uitgeleef word, dat hulle heeltemal kerklos geword het, en selfs bereid is om sulke “godslasterlike” uitsprake en sienings te huldig. En alhoewel ek net ’n paar mense en hulle sienswyses as voorbeeld gebruik het, is ek seker dat daar letterlik duisende mense daarbuite is wat net so voel! En dit is genoeg rede vir die kerk om bekommerd te wees ... dit is genoeg rede vir ons om ons koppe in skaamte te laat sak, en te vra: “O God, wat máák ons tog uit U?”

Wel, uit die verskeie briewe en debatte is dit duidelik: hulle wil nie in die kerk wees nie, want die kerk is vir hulle vals ... die kerk sê een ding en doen ’n ander ding ... die kerk se Bybel kan nie geglo word nie! Die aanklag teen die kerk van Christus is duidelik: julle is nie aktueel nie ... julle spreek nie die leefwêreld van die moderne mens aan nie! Dit is ernstige aanklagte, veral as die kerk daarop aanspraak maak dat dit wél hulle doel is!

Broers en susters, is die kerk nog aktueel, met ander woorde, spreek ons nog die leefwêreld van die moderne mens aan, of is ons werklik uitgedien? Wel, die kerk kan net uitgedien wees as ons nie meer ons doel nakom nie! Met ander woorde, as ons enigste doel voor oë nie is om soos Paulus te sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1 Kor 2:2) nie, dan is ons besig om ons Godgegewe opdrag te versaak, en dan sal ons gemeente beslis leegloop.

Dit is dus baie belangrik dat ons sal besef waaroor dit in ’n gemeente gaan. Onduidelikheid oor die doel van ’n kerk of gemeente kan tot allerlei ongewenste verskynsels in die bediening lei. Sommige leiers misbruik hulle posisie in gemeentes om hulleself te verryk. Daarom kan verstaan word dat mense in die koerante die opmerking maak: “Geld word van die armes geneem in die naam van liefdadigheid en dankoffers vir U. Tog weet ons dat dit deel [word] van die vergoedingspakkette van ampsdraers.”

Daar is selfs leiers wat reken dat die gemeente die plek is waar lidmate vermaak moet word. Geen wonder nie dat mense in die koerante die volgende uitsprake maak: “... waarom kan ek my nie vereenselwig met die gode van die sinode nie? Dit is omdat hulle karikature van [Jesus] gemaak het ...”

Party geestelike leiers in die kerk glo weer dat ’n gemeente ’n alleen-na-binne-gerigte warmbroeiplek is. Groot getalle, pragtige geboue en ingewikkelde bedieningspatrone lei dikwels die aandag weg van wat God se eintlike doel met die gemeente is, naamlik om sy liefde sigbaar te gaan uitleef. Miskien kan ons dan ook verstaan hoekom iemand in die koerant kan skryf: “Ek is ’n man van 54 jaar en stry die afgelope 15 jaar ’n aanhoudende stryd sonder dat U of enige van u wedergebore kinders boe of ba gesê het.”

Paulus stel in vers 4 van ons gelese gedeelte baie duidelik dat die gemeente diensbaar moet wees aan God se plan om alle mense te red. En hierdie redding word bewerk wanneer mense tot kennis van die waarheid kom. En die inhoud van hierdie waarheid is dat daar net een God is, en dat daar net een manier is om in die regte verhouding met hierdie God te staan, naamlik: Jesus Christus is die Middelaar tussen mens en God. Ja, die Here Jesus het dit duidelik uitgespel: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

En ’n gemeente moet hierdie doel dien deur vir die wêreld te wys hoe mense lewe wat in die regte verhouding met God staan. Dit kan net gebeur as gelowiges hulle lewens deur die Heilige Gees laat beheers, sodat ons woorde, dade en gedagtes tot eer van God sal wees. En daarvoor is ’n lewe van innerlike stilte en uiterlike rustigheid broodnodig.

Gemeente, wat beteken dit om innerlike stilte en uiterlike rustigheid te hê? Dit is lewensnoodsaaklik dat ons ander mense sal oortuig van die feit dat hulle deur Jesus Christus se soenoffer vrede met God het, en dat niks hulle van God se liefde kan skei nie (Rom 8:38-39). Hierdie sekerheid bevorder innerlike kalmte en stilte. Vrede met God is egter nie net ’n feit wat jy moet ken nie, maar ook iets waarvoor jy moet tyd maak om dit te kan belewe. En Christelike handelinge soos Bybellees, gebed, die sing van geestelike liedere, erediensbywoning en meditasie kan ’n Christen meer bewus maak van die vrede wat daar tussen jou en God is, danksy die Here Jesus Christus.

Die moontlikheid om uiterlik rustig te kan lewe, met ander woorde, daardie sigbaarwording van die vrug van die Gees, te wete: liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, geduld, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22), hang baie keer af van ’n mens se omstandighede. Daarom moet jy vir alle mense bid, sodat God deur hulle die regte omstandighede sal bewerk waarin die Christelike getuienis van jou rustige lewe tot uiting kan kom. Maar dan moet jy jou ook nie deur jou sondige natuur laat beheers nie, want dit benadeel jou Christelike getuienis. Vandaar ook die gesegde dat jou woorde een ding sê, maar jou dade iets anders. Vandaar ook die teleurstelling wat deur mense in die koerante oor die kerk en die Christelike geloof uitgebasuin word. En ek glo dat dit in die meeste gevalle nie soseer teen God gemik is nie, maar teen die kerk en sy lidmate se sigbaarmaking van die enigste, lewende God.

Ja, die kerk en ’n gemeente kan God uitwis deur die manier hoe ons Hom aan die wêreld verkondig, en hoe óns ons geloof uitleef. Maar ons kan beslis weer vir God aan die wêreld begin uitwys as ons innerlike stilte en uiterlike rustigheid het. Die wêreld móét kan sien dat daar troos en hoop te vinde is in die herstelde verhouding met God, deur ons prediking en die praktiese uitleef van ons geloof. Op hierdie manier word die waarheid en egtheid van die verlossing deur Jesus Christus sigbaar ... op dié manier word die kerk weer ’n opsoekplek vir hooplose en troostelose mense ... op hierdie manier kan daar ’n duidelike skeidslyn tussen die kerk en die wêreld getrek word ... op dié manier vervul die kerk haar roeping en doel.
Amen