Job 11:10-12:6

Is geloof net sekerheid?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Hoe leef 'n mens saam met onsekerheid? Maar ook: hoe leef 'n mens wanneer 'n mens voel dat daar so baie dinge in die lewe is wat ons nie kan beheer nie, wat buite ons beskikkingsmag lê, wat buite ons greep val. Dinge — wat ons weet — ons in hierdie lewe baie vinnig kan oorval? Ons kan oorweldig, en so ons hele lewe kan verander? Hoe leef 'n mens saam met hierdie onsekerhede?

Die meeste van ons, broers en susters, het in die kerk grootgeword met die idee dat as 'n mens glo, jy van iets seker word. Geloof, is ons geleer, is die sleutel tot die antwoorde op die baie vrae wat soms by ons spook, op die vrae waarmee ons soms nie raad het nie. Vrae soos:

  • waar kom ek vandaan?;
  • hoekom lewe ek?;
  • hoe moet ek daarmee saamleef dat ek nie altyd sal leef nie?;
  • waarom is daar soveel swaarkry in hierdie wêreld?; of
  • hoekom voel ek soms dat die lewe so onregverdig is?

Wanneer hierdie soort vrae ons begin voorkeer, ons begin kwel, is ons geleer om die geloof te sien as die antwoord op al ons vrae. Ons moet net glo geloof sal help, is ons geleer, dan is hierdie dinge nie so erg nie. Die geloof, het ons geleer, verklaar vir ons die vreemde, skakel vir ons die onsekerheid uit. Gee ons weer koers en hoop.

As u, broers en susters, tot hiertoe met my saamstem, is dit goed. Want wat ek tot dusver gesê het, meen ek, is ongetwyfeld waar. En hieroor wil ek baie duidelik wees. Geloof doen hierdie dinge vir 'n mens. Daar is oorvloedige getuienis in die Bybel van mense wat, deur vas te hou aan hulle geloof in God, uitkoms/sekerheid in tye van geweldige onsekerheid gekry het. Dink maar byvoorbeeld aan:

  • die skrywer van die Hebreërbrief wanneer hy sê: `Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie’
  • Abraham, wat God totaal vertrou het toe hy die irrasionele opdrag gekry het eers om al sy goed te vat en na 'n vreemde land (Ur) te trek, en daarna om sy seun Isak te gaan offer.
  • Paulus en die gebeure op die pad na Damaskus, en aan die gebeure wat, soos dit daar staan, `die skille van sy oë laat afval het’ en hom met magtige sekerheid laat verander het van vervolger tot die eerste en grootste sendeling van alle tye.

Met ander woorde, broers en susters, dit is so: geloof bring dikwels vir 'n mens uitsig, troos, geborgenheid, die hoop om te lewe, antwoorde op van ons vrae, maar ook: dit bring sekerheid oor baie dinge in die toekoms.

Want, al is hoe baie dinge onseker, sê ons, is ons ten minste van God seker. En al ontwyk hoe baie antwoorde in die lewe my, God ontwyk my nie, van Hom is ek seker. En, al is hoe baie dinge of mense onbetroubaar, God is betroubaar. In Hom kan ek glo, Hy gee en bring sekerheid in tye van onsekerheid.

Ek wil weer sê, broers en susters. As u so glo, is dit goed, is dit reg. Solank ons egter net twee dinge onthou: dit is nie al wat die Bybel oor geloof sê nie, en, dat ons sal besef dat dit soms gevaarlik kan wees — selfs verkeerd kan wees — om te glo soos ons hierbo gesê het 'n mens in tye van onsekerheid moet glo. Kom ek verduidelik deur van Job se verhaal gebruik te maak.

Kom ons begin by ons teksvers, Job 12:6: `In die huise van die rowers is daar rus, en dié wat God se toorn verwek, is veilig, dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het’ (of soos die 1953-vertaling dit stel — hulle wat meen dat hulle God in hulle hand ronddra). Hierdie woorde van Job, broers en susters, as 'n mens mooi daarna kyk, verraai 'n geweldige stuk ongeduld by Job oor die sekerheid wat sommige mense het. Job spot selfs oor die sekerheid wat sekere mense meen hulle het.

En nie sommer maar net sekerheid oor dit of dat nie. Nee, Job is ongeduldig en spot oor die sekerheid wat sy vriende oor God het — presies dit waarvan ek so pas beweer het ons ten minste in hierdie lewe seker van kan wees.

Ons almal ken Job, broers en susters. Populêrweg dink ons dat die boek Job handel oor 'n man wat `die pyne kon vat’: hy kon lyding en swaarkry op 'n merkwaardige manier verwerk, want, al het hy al sy besittings, sy vrou, kinders en gesondheid verloor, het Job nooit in sy lyding en swaarkry ongeduldig geraak en moed opgegee nie. Daarom: die boek Job leer ons hoe om met geduld swaarkry/lyding te verwerk.

Nou is dit nie verkeerd, broers en susters, om te sê dat die boek Job oor lyding handel nie, mits ons net die kern van Job se lyding reg verstaan. Want die saak waaroor dit in die grootste gedeelte van die boek gaan is nie Job se droefheid oor die verlies van sy besittings, vrou, kinders en gesondheid nie, hoé erg dit ook al was. Nee. Die wese van Job se lyding was sy onsekerheid oor God.

Hierdie lyding, sien ons, word veroorsaak deur veral die drie vriende van Job, drie manne wat, in vandag se terme, as drie baie goeie en knap teoloë/godgeleerdes bekend sou staan. As daar nou ooit in die geskiedenis drie mense was wat gemeen het dat hulle alles van God af weet, dan was dit nou hierdie drie. Wat meer is, hulle gedugtheid het gelê in hulle eenvoudige teologie, die eenvoudige manier waarop hulle 'n baie moeilike saak soos God, en God se handelinge, kon verduidelik.

Wat was hierdie teologie? In Job 11:13-16 sê Sofar dit in baie eenvoudige woorde: As jy gehoorsaam voor God leef, dan seën God jou. Maar as jy sonde doen, dan straf God. Daarom Job, jy sit op die ashoop omdat jy gesondig het. As jy dus wil hê God moet jou weer seën, verwyder die sonde uit jou. Dan Job, kan jy seker weet, seker van wees, het jy niks om meer te vrees nie. Dan hoef jy in nood nie bang te wees nie. Dan is God sonder meer aan jou kant.

Die keuse is dus eenvoudig, en dit is joune: as jy wil hê God moet aan jou kant wees, lewe gehoorsaam. As jy sonde doen: vergeet dat God jou sal help.

Die woorde van Job in ons teksvers, broers en susters, is 'n radikale verwerping van so 'n eenvoudige teologie. Mense wat so seker van hulleself is, sê Job, is doodgewoon rowers. Húlle is die mense wat God se toorn verwek, juis omdat hulle meen hulle het God in hulle mag, of, soos die 1953-vertaling dit stel, omdat hulle meen dat hulle God in hulle hand ronddra. Hulle sekerheid — ook sekerheid oor God — is daarom niks anders as mensegemaakte sekerheid nie, mensgemaakte sekerheid oor 'n mensgemaakte God, 'n mensgemaakte God wat hulle ook meen hulle kan beheer en totaal kan voorspel: as ek sondig, maak God só, en as ek goed lewe, maak Hy weer só.

En dit kan Job nie aanvaar nie. Regdeur die boek kan Job nie aanvaar dat iets wat hyself gedoen het, vir al sy ellende verantwoordelik kan wees nie. Inteendeel. Hy weet hy het nie gesondig nie. Maar, wat meer is, sê Job in hoofstuk 31: indien hierdie drie vriende van hom reg was, beteken dit dat elkeen se verlossing en redding in sy eie hande is. Lewe ons goed, dan help God ons. Lewe ons sleg, dan straf God ons. Dan kan ons self besluit. En dan, sê Job, is ons in beheer, en nie God nie. En dit kan nie.

Die interessante is, broers en susters, dat Job hierna nie nou gaan en sy vriende se teologie met 'n meer gesofistikeerde een vervang nie. Want Job het eenvoudig nie antwoorde op sy vrae nie. En dit is juis die hart van sy lyding: sy voortdurende onsekerheid oor God, oor hoekom God maak soos Hy maak. En dit ervaar Job nie as ongelowige nie, maar as gelowige.

Wat sê dit vir ons, broers en susters? Ek wil dit stadig sê: Geloof en sekerheid is nie noodwendig dieselfde ding nie. As ek in God glo beteken dit nie dat al my onsekerhede sal verdwyn nie. Wanneer ons voor onsekerhede in die lewe staan, is die keuse nie maar net eenvoudig 'n keuse tussen sekerheid (wat dan sg geloof sou wees) en onsekerheid (wat dan sg ongeloof sou wees nie). Nee. Ons keuse is 'n keuse tussen geloof en ongeloof, met die implikasie dat onsekerheid ook deel van die geloof mag wees, en baie dikwels is.

Soos in die geval van Job. Job het geglo, hy het God nooit verlaat nie. Hy het met God geworstel. Maar hy het nie noodwendig antwoorde op al sy vrae gekry nie. Al sy onsekerhede het nie maar net, omdat hy geglo het, soos mis verdwyn en skielik weer as sekerhede verskyn nie. Nee. Met al sy onsekerhede het hy in die geloof met God bly worstel. En het sy geloof in God, let wel, nie noodwendig daartoe gelei dat hy nou seker was van alles vorentoe in die lewe nie.

Aan die einde van die boek Job, broers en susters, sien ons openbaar God homself aan Job. En ook hier word Job se vrae nie direk beantwoord nie (soos ons soms so graag wil hê, en soms selfs glo dat God ons direk op sekere vrae antwoord). In 'n reeks pragtige beelde verduidelik God aan Job wie hy is, onder andere dat Hy die krokodil gemaak het. En om presies te sê wie Hy is, daag God spottend vir Job uit om te probeer om die krokodil mak te maak soos 'n mens met 'n klein voëltjie kan doen.

En in sy selfopenbaring sê God aan Job twee dinge: Eerstens: Jy was reg, Job. Die mens se heil, uitkoms, verlossing en sekerhede lê buite homself. Eers wanneer Job groot dinge kan doen soos om onder andere die krokodil mak te maak en alles te kan skep wat God geskep het, sal God erken dat die mens homself kan red.

En tweedens sê God vir Job: Job, moenie jouself so ernstig opneem nie. Kry afstand van jouself. Jy en jou vriende. Besef dat dit eintlik verspot is om te dink dat julle My kan verklaar, dat die mens kan dink dat hy/sy alles kan beheer. Dit is so verspot soos om 'n krokodil in 'n koutjie te probeer aanhou. Sien raak wat julle is: mensies wat verdwerg word deur My almag.

Waarop Job dan antwoord (Job 42:5): `Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien'

Hoe, broers en susters, maak ons vrede met onsekerheid? Deur te glo dat God ons sal help? Beslis. Natuurlik. Maar net onder andere. Want dit is nie al wat geloof is nie. Geloof is nie maar net gelyk aan sekerheid nie. Geloof mag ook as bestanddeel onsekerheid hê. Want geloof is ook, soos Job se geloof, om met God te worstel, om met God te stoei, en om dikwels nie antwoorde op al jou vrae te kry nie. En soms nooit te kry nie.

Ek wil amper sê: Wanneer 'n mens te seker van jou geloof word, die geloof as 'n te eenvoudige saak wil verstaan, dan loop 'n mens die gevaar om te glo dat ek maar net moet glo, want God sal dan help. So 'n geloof, broers en susters, as 'n mens mooi dink, wil God beheer, dra God sogenaamd in die hand rond. So 'n geloof maak nie plek vir onsekerhede nie, en, as die onsekerhede kom, dan stort so 'n geloof soms totaal in duie.

Daarom broers en susters, en ek sluit af: geloof bring in baie gevalle sekerheid. Dit leer die Bybel ons. En ons moet dit glo. Wanneer ons egter in onsekerheid verval, moet ons net nie dink dat ons nou ongelowig is nie. Want geloof en ongeloof is nie gelyk aan sekerheid en onsekerheid nie.

Ware geloof, inteendeel, is 'n geloof wat bly glo, selfs teen alle onsekerhede en redelikheid in. Selfs daar word God nie antwoord nie, daar waar God dalk nooit sal antwoord nie. Ware geloof probeer God nie verklaar nie, soek nie antwoorde op al die vrae nie. Inteendeel. Ware geloof, soos die van Job, stap God elke dag tegemoet. Leef voor God. Werk voor God. Speel voor God. Twyfel voor God. En doen dit alles in afhanklikheid voor God.

Dit is geloof. Al is daar onsekerhede.
Amen