Matteus 6:1-6; 21:28-31

Berou en spyt



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die week wat verby is het ek een aand na die hoogtepunte van die Australiese tennis ope gekyk wat die afgelope twee weke gespeel is. Tydens die uitsending het een van die kommentators 'n opmerking gemaak, heel waarskynlik onbedoeld, maar veelseggend.

Twee spelers was besig om houe te verwissel op 'n spannende tydstip van die wedstryd. Dit was maak of breek vir albei in terme van wen of verloor. Wat toe gebeur is dat die een speler 'n gewone voorarmhou geslaan het, te laag en in die rand net vas. Die bal het egter, in plaas van terug te spring, net oor die net geval. So was dit sy punt, alhoewel hy dit duidelik nie verdien het nie.

Wat toe gebeur het, is waarby ek eintlik wil aansluit. Die speler wie die gelukskoot oorgekom het, het sy raket in die lug gesteek om vir sy teenstander `ekskuus’ te sê. Waarop die kommentator opgemerk het: `Hy vra om verskoning, maar hy is nie eintlik regtig jammer nie’.

Wat my laat wonder het, broers en susters: is dit nie so tipies van ons manier van `ekskuus’ sê vir mekaar nie? Want die frase `Ek is jammer, hoor’ — en laat ons maar eerlik wees — beteken soms nie noodwendig regtig wat hierdie woorde veronderstel is om te beteken nie. Dit is eerder dikwels ook maar net ons wat die raket opsteek om te sê: `Ekskuus, maar ek is nie regtig jammer nie. Want dinge het darem toe vir myself voordelig uitgewerk’.

Wat eintlik erger is, broers en susters, is dat ons soms selfs die raket ook teenoor God aan die einde van ons gebede opsteek. `Vergewe dan nou genadiglik ook al ons sonde — nie omdat ons dit verdien nie, maar enkel uit genade’ is soms 'n redelik geykte slot van ons gebede. Maar dikwels, broers en susters, is die werklike inhoud van hierdie geykte slot niks anders as: `Ekskuus, Here, dat ek verkeerd gedoen het, maar eintlik is ek nie regtig jammer oor wat gebeur het nie. Op die ou end, al was dit so verkeerd, het dit my darem bevoordeel’.

Daarom wil ek vanoggend beweer, broers en susters: as daar nou een ding is wat makliker gesê as gedoen is, is dit om `ekskuus’ te sê. Want dit is maklik om ekskuus te sê, maar baie moeiliker om werklik jammer te wees oor wat jy gedoen het.

En nou ken ons mos die bekende spreekwoord wat sê: `Spyt kom altyd te laat’. En die woordjie spyt, hier wil eintlik sê: ek kon beter gevaar het, maar nou is dit te laat. Met ander woorde, spyt het te make met 'n soort selfbejammering van `het ek maar…’. Dan was ek nou beter af. Was ek nie my moontlike voordeel kwyt nie.

Ware jammerte of berou, daarenteen, broers en susters, het te make, nie met myself en my eie voordeel nie, maar met God en met ander mense. Berou het te make met die verlies of skade wat jy ander mense aangedoen het.

Die woordjie berou, broers en susters, is dus 'n evangeliese woord, 'n Bybelse begrip wat nooit iets wil sê oor jou eie voordeel nie, maar oor die voordeel van ander. En hierdie betekenis kry ons uit die voorbeeld van God self. Want God het Homself tog nie in die gestalte van 'n mens laat gebore word en aan 'n kruis kom sterf tot sy eie voordeel nie. Hy het dit deur en deur tot ons voordeel kom doen.

Daarom is die evangelie van Christus 'n evangelie wat 'n koersverandering in ons lewens wil bewerk: weg van jouself en jou eie voordeel en na ander mense toe. Want om berou te hê, opreg berou te hê, is om jammer te wees dat jou optrede nie tot voordeel van ander, en dus by implikasie tot voordeel van God en sy saak, was nie.

Dit is dan ook, broers en susters, hoe ek hierdie gelykenis in Matteus 21 verstaan. Eintlik 'n heel eenvoudige gelykenis, maar 'n gelykenis wat se betekenis nie so maklik te snap is nie. Wat gebeur in hierdie gelykenis?

Die pa kom na die eerste seun, om hom te vra om in die wingerd te gaan werk. Hierdie seun was heel waarskynlik die oudste seun, want die pa was, volgens die eise van sy kultuur, verplig om die oudste seun eerste te vra, aangesien die oudste seun die erfgenaam van alles was, maar ook omdat daar skande oor die pa sou kom as hy die oudste seun nie eerste sou vra nie. Die oudste seun antwoord egter prontuit: Ek wil nie.

Die vader gaan toe na sy tweede seun, wat hy nou mag vra omdat die eerste geweier het. Hierdie seun antwoord dat hy sal gaan.

Dan gebeur daar egter iets verder. Die eerste seun wat gesê het hy wil nie, gaan werk toe wel in die wingerd, en die tweede wat gesê het hy sal, gaan doen dit toe nie. Wat lê hier agter, of dan, hoekom het hulle so opgetree?

Doodeenvoudig, broers en susters, omdat dit of tot hulle voordeel was, of nie tot hulle voordeel was nie. Wat die eerste seun betref, het hy waarskynlik besef: as ek nie gaan nie, kan ek waarskynlik my erfporsie verloor, daarom moet ek liewer maar gaan, want dit kan net tot my voordeel wees as ek gaan. En dieselfde wat die tweede seun betref. Eers het hy, toe hy sien sy ouer broer sê nee, ek wil nie gaan nie, gesê dat hy sal gaan. Hoekom? Want daar was moontlik voordeel vir hom in. Maar toe hy sien sy ouer broer gaan wel, het hy besef: nou is daar niks meer moontlike voordeel vir my in om te gaan nie, daarom bly ek liewer maar.

Dan sien ons vra Jesus vir die omstanders: wie het gedoen wat die pa wou hê, en hulle antwoord `die eerste seun’. En tradisioneel, broers en susters, het mense gesê: ons stem hiermee saam, want al het die eerste seun eers gesê nee, het hy tog later gegaan omdat hy spyt was, terwyl die tweede seun gesê het hy sal, en nie gegaan het nie. Hy het dus 'n prontuit leuen vertel. En daarom is die eerste seun reg en die tweede verkeerd.

Uit wat Jesus verder in die gelykenis sê, broers en susters, lei 'n mens egter af dat dit volgens Jesus nie die korrekte antwoord was nie. Want nêrens bevestig Hy dat hulle reg geantwoord het nie. Inteendeel, hy begin met hulle oor iets anders te praat, iets wat niks te make het met die gelykenis wat Hy so pas vertel het nie.

En met wat Hy verder vertel, wil Hy eintlik sê: nie een van die twee seuns was reg nie. Hoekom nie? Want by beide van hulle was daar geen berou nie. By die een was daar spyt, want hy het besef hy kan benadeel word deur sy aanvanklike optrede. Die ander een het eenvoudig reageer na gelang van sy ouer broer se optrede, heel tyd soekendes na voordeel wat hy uit die situasie sou kon kry.

Daarenteen, sê Jesus, is daar mense soos tollenaars en prostitute, toe hulle gewys is deur Johannes op dit wat die hemelse Vader wil hê, berou gekry het oor die keuses wat hulle in die lewe gemaak het, en, tot nadeel van hulleself (ten minste finansieel) besluit het om die regte pad te begin loop.

Spyt en berou, wil Jesus dus ook met hierdie gelykenis sê, is nie dieselfde ding nie. Die oudste seun was spyt omdat hy besef het hy kon iets verloor. Die tollenaars en straatvroue, daarenteen, het, al het hulle hulle hele bron van inkomste prysgegee, so berou gehad oor hulle lewens tot dusver, dat hulle anders begin lewe het, sonder inkomste, maar tot eer van God. Berou het 'n koersverandering in hulle lewens bewerk: weg van hulleself en hulle eie voordeel na God en ander mense toe.

Berou is daarom, broers en susters, om werklik jammer te wees oor wat jy aan ander gedoen het, en dit ook so te bely teenoor diegene wat deur jou optrede benadeel is. En dan, broers en susters, maak dit nie eintlik saak of die een wie jy benadeel het jou werklik vergewe of anders teen jou begin optree nie. Want berou het te make met jouself, met 'n ding wat uit jou sisteem moet kom, met 'n blokkasie tussen mens en God wat jy van jou kant uit die weg moet ruim.

En dit geld nie alleen vir die openbare lewe nie, broers en susters. Dit geld ook, en veral, wat in die private binnekant van ons huise gebeur waar eggenote en ouers en kinders buite sig van die publieke oog met mekaar saamleef. Ook daar is berou die enigste kern van gesonde menseverhoudings. Maar dit is gewoonlik ook daar waar dit die moeilikste is om berou te hê oor dit wat jy aan jou ouers of kinders gedoen het.

In die openbaar is dit maklik, want daar sal mense sien dat jy die raket in die lug steek (al bedoel jy nie jy is werklik jammer nie), en bes moontlik jou 'n veertjie in die hoed steek. Maar waar dit net jy en die ander een is, is die publieke druk en oog afwesig, en word 'n mens se opregtheid en werklike bedoeling en oortuiging die swaarste beproef.

Miskien is dit waarom Jesus in Matteus 6 gesê het dat die toets vir ons ware Christelike oortuiginge nie die mark­pleine, die binnekant van ons kerke of die straathoeke is nie, maar — in die woorde van die Ou Vertaling — die verborgene, of dan, die binnekamer. Want om in die openbaar te sê jy is jammer of liefdadigheid te bewys kan jou nog altyd iets in die sak bring. Jesus stem immers daarmee saam: dit wat jy in die openbaar doen, het sy loon in die daad self.

Om egter in die binnekamer, in die verborgene, vir God te sê jy is jammer en dan ook regtig jammer te wees, dit wil sê, ware berou te hê en nie maar net spyt te wees nie, het geen belofte van loon nie. Geen belofte van eie voordeel nie. Daar is die loon iets anders: omdat dit die regte ding is om te doen omdat die liefde van God jou dring om dit te doen.

Hoe, broers en susters, staan u en ek wat hierdie saak betref? Wanneer ons sê ons is jammer, is ons maar net spyt omdat ons so 'n bietjie voordeel uit die saak verloor het, of dalk selfs voordeel kan trek uit die feit dat ander sien ons sê ons is spyt. Of, bedoel ons wanneer ons sê ons is jammer dat ons opregte berou het oor dit wat gebeur het. Opregte en ware berou (soos die Nagmaalsformulier dit stel) omdat ons besef dat ons optrede tot nadeel van ander en die saak van God was.

En kom ons vra sommer nou al: wanneer u en ek ons volgende Sondag sal voorberei om aan die tafel van die Here te kom aansit, gaan ons, voor ons by die tafel kom aansit maar net spyt oor sekere aspekte van ons lewens wees, of sal ons gesindheid deur ware berou gekenmerk word?

Spyt sal dan beteken: ongepas aan die tafel. Ware berou daarenteen: kom ervaar hierdie die liefde van God op so 'n wyse dat dit jou sal dring om meer en meer die voordeel van die saak van God en ander te soek.
Amen