Lukas 15:11-32

Die deur na God is oop



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Deure se funksie in die lewe is onder andere om ons te beskerm, om ons besittings binne en inbrekers en buitestanders buite te hou. Maar soms maak deure ons die buitestanders.

Almal van ons het al voor ‘n toe deur in die lewe gestaan. Jy kom ‘n afspraak na by iemand se huis, klop aan die deur, roep na binne, maar niemand maak oop nie. Jy kom by jou eie huis, en wanneer jy by die voordeur kom, besef jy jou sleutels lê by die kantoor. En jy kan nie vir jouself oopmaak nie. Of, miskien die beste voorbeeld: jy slaan jou motor se deur haastig toe, en jy sien die sleutels rustig in die slot hang. En jy weet, nou is jy buite. Nou is jy buitestander. En dit gaan moeite wees om binne te kom.

Daar is egter ook ander deure in die lewe wat mense buitestanders maak. Daar is deure tussen mense, deure wat na werk lei, na geluk, na vrede, en na drome. En hierdie deure gaan oop en toe in ons lewens. En soms klap van hierdie deure met seer in ons gesigte toe. Tussen mense, vriende, drome, prestasie, noem maar op.

Maar daar is ook ‘n laaste deur in ons lewens, broers en susters. Die deur na God. Soms voel dit vir ons of hierdie deur ook toeklap. En soms klap ons self hierdie deur toe.

Die gelykenis wat ons vanoggend gelees het, handel Jesus juis oor hierdie saak van oop en toe deure in die lewe van mense. Oor die deure tussen mens en mens, maar ook tussen God en mens.

Kom ons kyk na net ‘n paar aspekte van hierdie gelykenis, en wel vanuit ‘n bepaalde hoek. In die gelykenis ontmoet ons Jesus waar hy tussen ‘n skare mense beweeg. En in die skare is daar twee duidelik aanduibare groepe mense: die Fariseërs en skrifgeleerdes, aan die een kant, en die sogenaamde sondaars en die sogenaamde sondige tollenaars aan die ander kant. Die Fariseërs en skrifgeleerdes wie se lewens eintlik net uit die deure, baie dik deure, bestaan het.

Die deur na God, het hulle geglo, kan jy self oopmaak. Jy moes rein wees. Jy moes heilig wees. Soos God. Dan was die deur oop na God. En die wyse waarop hulle geëet het, kan as ‘n goeie beskrywing dien van hoe hulle hierdie saak verstaan het.

As jy rein wil wees, eet jy net saam met ander reines. Met mense soos jy. Die onreines, die buitestanders (die sondaars en tollenaars) moet buite bly, want nooi jy hulle in, word jy soos hulle, onrein. En gaan God se deur vir jou toe. Maar selfs as jy reeds by die tafel aansit, moet jy seker maak dat God jou nie daar die deur wys nie. Daarom moet alles rein wees: die kos, die borde, die messe, die vurke, die stoele, noem maar op.

Dieselfde het, volgens hulle, gegeld wat toegang tot die tempel betref. Net die reines, die heles, was welkom. Maar die onreines, dié met net een oog, die wat melaats was, dié met een of ander gebrek, hulle was nie welkom nie. God se deur was vir hulle toe. Want hulle was nie rein en heilig soos God nie.

In Matteus 23:13 sê Jesus presies wat hy van die Fariseërs en skrifgeleerdes se verstaan van God se oop en toe deure dink. ‘Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars. Julle sluit die deur van die koninkryk in mense se gesig toe. Julle self gaan nie in nie, en julle verhinder die wat wel wil ingaan’.

Maar vir wie is die deur na God toe dan wel oop? En wie mag by God se deur ingaan? Om dit te verduidelik, vertel Jesus dan die gelykenis van die verlore seun.

Daar was op ‘n keer ‘n seun wat alle deure vir homself gesluit het. Hy het, toe sy pa nog geleef het, sy erfporsie opgeëis. So het hy eintlik sy pa dood verklaar. En toe hy by sy ouerhuis se deur uitstap, het hy vaarwel gesê aan die huis waar hy altyd welkom was, het hy vaarwel gesê aan ‘n oop deur, aan sy opvoeding en in wese ook sy godsdiens.

En met sy geldjie het hy aanvanklik baie deure vir homself oopgemaak. Sy vriende het meer geword. Maar toe sy geld opraak, het hierdie deure begin toegaan. En hy eindig ten einde laaste by ‘n heidense familie — ‘n man wat varke besit het. Die laaste deur wat vir hom oop bly is die deur na die varke se kos. Om varke op te pas was verbied deur die Joodse wet. En deur van die varke se kos te eet, maak hy in wese die laaste deur in sy lewe toe: die deur na sy eie menswaardigheid. Hy leef nou soos ‘n dier, hy is nie eers meer mens nie.

En toe sit sy honger maag en plat sak hom aan die dink. Huis toe kan hy nie, want daardie deur is toegemaak. Maar, dink hy, miskien tog nie. Miskien kan ek by die agterdeur inglip. Miskien, as sy pa hom as ‘n dagloner sal laat werk, het hy ‘n kans. Want alhoewel die dagloner nooit by sy pa se voordeur sou mog instap nie, was hulle darem welkom by die agterdeur.

En wat gebeur toe hy by die huis kom. Sy pa kom haal hom. ‘n Handeling van die pa, broers en susters, wat ons miskien dikwels in die verlede misverstaan het. Want hierdie handeling van die pa kan ook so verstaan word. Toe hierdie seun sy erfporsie opgeëis het, het hy sy pa dood verklaar. So het hy skande oor sy pa gebring, maar ook oor die dorpie waarvan hy deel was. Mense in die tyd van Jesus was groepsmense, en daarom het dit wat die individu doen, altyd ‘n invloed gehad op die groep se eer in die oë van ander mense.

So, in wese was die stadsdeur — by wyse van spreke — nie eers vir hierdie seun oop nie. Wat hom sou inwag was nie vriendelike mense nie, maar eerder mense met klippe in hulle hande. Mense wat hulle eer wou terughê deur te vergeld — oog vir ‘n oog, dit sou hulle eer terugbring.

As die vader dan die seun gaan haal, sê hy eintlik dat hy nou sommer hierdie werkie sal afhandel. Hy sal sommer namens almal straf. So sal hy, en die ander inwoners, hulle eer terugkry. Maar dan gebeur die verrassende.

Die deure by die huis bly nie toe nie, dit is nie die agterdeur wat oopgemaak word nie, maar die voordeur. Hoekom: want, sê Jesus, God is wel iets soos ‘n pa, maar baie anders as aardse pa’s. Sy Pa sluit nie die voordeur toe nie, sy Pa se voordeur staan altyd oop. By sy Pa is jy nooit buitestander nie. Jy is inwoner, want jy is deel van sy gesin. Sy voordeur staan altyd oop.

En die oudste seun? Vir hom ook. Maar wat maak hy? Hy maak soos die Fariseërs en die skrifgeleerdes: die deur is oop, maar hy wil nie in nie. Ja, wel sal hy ingaan, maar dan op sy voorwaardes. As hy kan besluit wie goed genoeg is om in te gaan, en hulle kan kies wie saam met hom binne aan tafel mag aansit, dan sal hy instap. Maar as sy reëls nie kan geld nie, staan hy liewers buite.

Hoe sê Jesus in Matteus 23:13? Julle self gaan nie in nie, en verhinder ander om in te gaan.

Hierdie gelykenis, broers en susters, gelees vanuit vanoggend se invalshoek, kan daarom ook die gelykenis van ‘die oop en toe deure van hierdie wêreld’ genoem word. Dit is ‘n gelykenis wat baie mense se lewensverhaal oorvertel.

Dit vertel van mense wat soms alleen is, spreekwoordelik ver van die huis af. Dit sê iets van die liefde en aanvaarding waarna alle mense hunker. Maar ook van die toe deure waarin mense hulle dikwels vasloop. Juis omdat die wêreld se liefde en aanvaarding altyd maar voorwaardelik is, al is dit hoe effentjies.

Deure staan toe, totdat ons dit oop ‘verdien’ (soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs). Prestasie, geld, mag, invloed, kontakte, noem maar op, dit maak deure oop. Met die gevolg? Ons leer so maklik om ook maar ons liefde voorwaardelik te gee. En voorwaardelik te aanvaar. Net soos die oudste broer.

Net soos ons. Baie van ons, broers en susters, en dit is so tragies, staan dikwels ook buite God se oop deur. Ons gaan nie in nie. Hoekom nie? Want ons wil nie aanvaar dat God se liefde onvoorwaardelik is nie. Ons dink God se liefde is maar soos ons s’n. Daarom maak God se onvoorwaardelik liefde ons ongemaklik.

Want ons voel dit aan, ons weet: as ek hierdie onvoorwaardelike liefde aanvaar, sal ek dit ook seker moet gaan leef. En ek weet nie of ek regtig daarvoor kans sien nie.

God se mense, broers en susters, kan egter tog nie so leef nie. Ons kan tog nie so leef nie. God maak Sy deur vir ons oop. Vir almal van ons. Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy tog nie met Sy vinger mense selektief uitgesoek en gesê: ‘Ek sterf vir jou, en jou, en jou, maar nie vir jou nie’. Nee. Hy het vir almal gesterf, en daarom is God se voordeur vir almal oop. En ja, wanneer ons daar instap, is dit so: dan moet ons deure vir ander ook oop wees.

Watter deure maak ons nog toe in ons lewens, broers en susters? Watter deure is die toe deure in u lewe?. Vir wie maak ons daardie deure toe? En hoekom maak ons hierdie deure nie oop nie? Miskien, net miskien, omdat ons nog nooit werklik by God se oop voordeur ingestap het, en deel van sy fees geword het nie.

Die fees van sy teenwoordigheid, die fees van sy nabyheid, die fees van sy vrede. Die fees van sy liefde. Die fees om te weet ek behoort.
Amen