Lukas 18: 9-14

Die egtheid van gebed



Broers en susters en kinders
Met die eerste deurlees van die gelykenis, kom die gedagte by ‘n mens op dat jy presies weet waaroor dit hier gaan. Dit is redelik voor die hand liggend wat die gelykenis vir ons wil sê. Dit gaan hier oor die hoogmoed van die Fariseër, teenoor die mooi en regte nederigheid van die tollenaar. Anders gestel, dit gaan oor die skynheiligheid van die Fariseër teenoor die opregtheid van die tollenaar. Ek gaan die gedeelte weer vir ons deurlees. Luister dan of U ‘n ander nuanse of invalshoek hoor.

Wanneer ons hierdie gedeelte lees, dan kies ons dadelik kant vir die tollenaar, teenoor die Fariseër. Ons hou nie van die Fariseër nie. Moontlik omdat ons reeds ‘n baie negatiewe prentjie in ons koppe gevorm het oor al die negatiewe dinge wat oor die Fariseërs in die Bybel geskryf is. Jesus het hulle baie gereeld op hulle plekke gesit. Moontlik ook omdat predikante baie gereeld preek oor die skynheiligheid en hoogmoed van die Fariseërs. Hoe dit ook al sy, ons maak baie gou gevolgtrekkings en beoordeel die Fariseër in ‘n baie negatiewe lig, terwyl ons die tollenaar as ‘n held beskou.

Moontlik is dit juis in die bekendheid van die gelykenis, waarin die geheim wegraak. Ons moet nie die Fariseër so vinnig veroordeel nie gemeente, want eintlik is hy vir ons in ‘n sekere mate ‘n voorbeeld. Hoe dan so, sou u vra:

  • Die Fariseërs was die godsdienstige mense van daardie tyd. Soos ons kerkmense die godsdienstige mense is van ons tyd. Dit terwyl die tollenaars eintlik onverskillige mense was, die wêreldse mense.
  • Die Fariseër was die geestelike man. Terwyl die tollenaar die vleeslike man was wat maklik mense ingeloop het met geld. Hulle was bekend vir hulle skelmstreke en bedrog wat hulle gepleeg het.
  • Die Fariseërs was meestal rein in hulle lewe. Ons moet net raaksien met watter erns hulle hul godsdiens en aanbidding van God beoefen het. Terwyl die tollenaars dikwels met slegte vroue verbind is.
  • Die Fariseërs was die behoudendes. Die patriotte wat iets vir volk en vaderland gevoel het. Terwyl die tollenaars volksverraaiers was in diens van die Romeinse regering. Hulle het nie geskroom om hulle eie volksgenote in te loop en te verneuk nie.

Daarom is dit nogal vreemd dat Jesus die tollenaar hier prys en die Fariseër afwys. En die saak word nog ingewikkelder as ons hulle gebede van nader beskou.

  • Die Fariseër was die gereelde kerkbesoeker. Die tollenaar het waarskynlik baie ongereeld in die kerk gekom.
  • Die Fariseër het gereeld elke dag gebid, ten minste 3 keer per dag. Maar ons kan aflei die tollenaar het net gebid as hy regtig in ‘n hoek vasgekeer was.
  • Die Fariseër dank die Here in sy gebed. “Dankie Vader…” Terwyl die tollenaar net VRA.

Ons moet ook nie te veel inlees in die feit dat daar staan dat die Fariseër gaan staan het en by homself gebid het nie. Om te staan en bid was nie verkeerd nie. Trouens, om te staan was ‘n gewoonte gebedshouding in die tempel in daardie tyd. En die feit dat hy “by homself” gebid het kon maar net beteken het dat hy in sy hart ‘n stilgebed gedoen het. As dit oor vertoon gegaan het moes die tollenaar eerder meer onder skoot kom, want sy borsslanery was beslis meer opvallend.

Broers en susters, so laat ons dus aan die Fariseër gee wat hom toekom. Mens wil amper selfs sê ons sou dalk beter daaraan toe gewees het as ons vandag meer Fariseërs in die kerk gehad het en minder tollenaars. Meer mense wat erns maak met hulle godsdiens, wat ywerig is in hulle godsdiens, wat die Bybel bestudeer en lojaal is in hulle godsdiens. Minder tollenaars wat bloot in ontug saambly en met leuens en skinder hulle lewens deurbring. En wat eintlik maar net as die krisis in hulle lewe werklik groot is aan die Here dink.

Maar nou is ons nog nie by die punt wat Jesus deur die gelykenis wou maak nie. Want die uitspraak wat Jesus gemaak het nadat die Fariseër en die tollenaar gebid het is dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is. Hoekom? Die geheim van die gelykenis lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus die gelykenis vertel.”

Die Fariseër se fout was dat hy na die mense rondom hom gekyk het en nie na homself nie. Hy het homself gemeet aan die tollenaar en toe gemeen dat hy darem die toets slaag. Die Fariseër het nie homself voor God gesien nie, maar het homself langs die tollenaar raakgesien en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God in sy gebed, ja. Maar hy dank Hom eintlik net oor alles wat hy het. Oor al die mooi eienskappe wat hy besit. Maar hy vergeet wat hy nie het nie. Met ander woorde, hy neem homself in oënskou, dan gee hy homself punte vir sy godsdiens en geloof en in sy oë slaag hy die toets. Moontlik slaag hy nog daardie toets met lof.

Sy sonde is dus sy godsdienstige selfvertroue. Want in sy oë beoefen hy sy godsdiens met onderskeiding. En so tussen hakies — dank hy God daarvoor. En dan vang sy oog die tollenaar hier langs hom. En dit voltooi die prentjie. Want langs die tollenaar word sy gestalte al hoe groter. Trouens, in vergelyking met die tollenaar se bedrog en oneerlike lewe — kry sy eerlikheid behoorlik glans. Die Fariseër meet dus na ondertoe. Hy tref vergelykings. En in die slegtheid en tekortkominge van die ander, vind hy sy rang en ereplek by God.

Die tollenaar doen net die teenoorgestelde. Hy meet homself nie teen mense nie, maar meet homself voor God. Hy het niks voor die Here aan te bied nie. Niks waaroor hy eers trots en selfvoldaan voel nie. Hy staan met sy skuld en sonde voor God en weet hy verdien om verwerp te word. Maar hy besef: Al wat hy kan doen, is maar net om hom op God se genade te beroep. Die tollenaar se maatstaf is dus God alleen.

Dit bied vir ons die kern van die gelykenis. Dit is ook die heenwyser na ons eie situasie. Want wie van ons sal ontken dat ons nie al onsself dikwels gemeet het aan die lewe van ander mense nie?

Ons doen dit in ons huise en gesinne. In my gesin is alles so agter mekaar in vergelyking met daardie spul wie se huis soos ‘n kaarthuisie in mekaar tuimel.

En ons doen dit in ons sitkamers. Want daar word daar baie en fel geskinder. Want hoekom trek ons so maklik ons medemense uitmekaar as ons in ‘n groepie bymekaar is? Of oor ‘n koppie tee? Ons doen dit om onsself op te bou deur met ontsteltenis te praat van ander se swakhede. En as ons dit nie met ons tong doen nie, dan doen ons dit in ons harte. Skinder is eintlik ‘n soort selfbeskermings maatreël: want ‘n mens wil jou graag van jou eie voortreflikheid verseker deurdat jy jou oor ander ontstel en verhef.

Maar ons doen dit ook in die kerk. My kerkbesoek in vergelyking met my buurman s’n is werklik indrukwekkend, om die minste daarvan te sê. En dan die glimlag van die Fariseër. O ja, dis net genade. Maar die bors swel terselfdertyd van trots. Neem nou maar my prestasies en agtergrond en my getrouheid. Dit is altyd ek wat teenwoordig is en ek wat my kant bring. Ek is eintlik soos ‘n palmboom in God se koninkryk in vergelyking met so baie wat soos onkruid op die aarde rank… Fariseër…glimlag…

En so bepaal ons ons eie waarde. Deur net te let op die waardeloosheid van ander. Deur te konsentreer op die oogsplinters van ander trek ons die oogbalke uit ons eie oë weg. Maar in die proses, terwyl ons God dank vir sy genade wat ons sulke modelmense gemaak het, vergeet ons van ons eie misvormdheid en misgrype in die lewe. Ons meet ons kerkbesoek aan ander, maar ons vergeet ons onvergeeflikheid en onversoenlikheid waarmee ons dikwels leef. En daarom moet u en ek ons nie vererg as ons almal op hierdie punt Fariseërs genoem word nie.

Want wie ophou om homself te ondersoek of wie hom wel ondersoek , maar meet met ander se swakhede - so mens eindig altyd met selftevredenheid en uiteindelik met selfverheffing en hoogmoed.

Maar daar is nog ‘n gevaar wat hiermee saamgaan wat ons moet aanspreek. En dis tollenaarshoogmoed. Want dis ook moontlik. Dit is om hoogmoedig te wees op jou nederigheid. Om gedurig te praat van jou sonde en tekortkominge en daardeur indruk te wil maak by God en die mense.

Miskien het u dit al gehoor dat iemand sal sê: Ek is die grootste sondaar wat daar is. Hier het ons weer die Fariseër, maar nou in ‘n tollenaarskleed. Want skuldbelydenis en swartsmeerdery kan ook ‘n kunsie word. Jy kan jou berou en ootmoedigheid naderhand as ‘n prestasie sien.

Dit laat ‘n mens onwillekeurig dink aan baie bekeringsverhale wat ‘n mens by vroom mense hoor - veral by diegene wat na so bekering skielik die land vol reis om van hulle besonderse bekering te vertel. Die toestand waarin die bekeerling vroeër was word dikwels met allerhande kleure en geure geskilder. Die slegte jare word in detail vertel — om darem net die punt uit te bring hoe sleg jy as mens werklik eers was. In so ‘n getuienis maak díe beskrywing partykeer die grootste deel uit van die vertelling. En dan aan die einde kom die punt waarin God deurgebreek het in so mens se lewe. Waar ‘n ontmoeting met God plaasgevind het.

U moet my nie verkeerd verstaan nie. So ‘n ontmoeting met God is werklik moontlik. Die apostel Paulus het dit self ervaar. En wie dit ondervind sal God net wil dank en dank. Maar daar is ‘n gevaar aan verbonde. En die gevaar is dat hoe meer jy van die Godsbelewenis praat, hoe meer neem JYSELF ‘n sentrale plek in die verhaal in. En later word dit in plaas van ‘n getuienis oor God ‘n outobiografie oor jouself. So amper of so ‘n mens naderhand glo hy moes darem werklik iets besonders gewees het dat God hom juis gekies het om Hom mee te bemoei. So vlei jy jou as’t ware neer in jou slegte en stinkende lewe van vroeër.

Gemeente, aanstellerige nederigheid is net so verkeerd as selftevrede hoogmoed en trots. Dis presies dieselfde ding. Ek is nie meer die grootste sondaar wat leef nie, ek is iemand wat reeds skoon gewas is deur Jesus se bloed. Deur ‘n aanstellerige nederigheid, maak ons God se genade goedkoop en gooi ons dit as’t ware terug in sy gesig. Die gelykenis vertel ons dit nou wel nie, maar die tollenaar sou hierna nie meer ‘n verskoning gehad het nie, sou hyself dalk soos die Fariseër moes word, wel ‘n nederige Fariseër.

Broers, Susters en Kinders, ons moet onthou dat wanneer ons oordeelsdag aanbreek, is dit net God en ekself. Daar gaan niemand anders wees om onsself teen te meet nie. Ons maatstaf gaan nie ‘n tollenaar, of ander mense van die gemeente wees nie, ons maatstaf is dan alleenlik God en ons lewe voor God. Ons moet oppas dat ons nie na ander mense kyk en sien hoe min hulle doen nie. Die belangrike is dat ons na ons eie lewe kyk en vir God in nederigheid dankie sê vir die genade en voorreg om wel iets vir Hom te doen.

Ons is te bekommerd oor wat die ander mense doen, of eintlik nie doen nie, dat ons somtyds vergeet van onsself. Kom ons kyk eerder in dankbaarheid na ons eie lewe, en dank God dat Hy ons, sondige tollenaars, ook genadig is. Dat ons dankbaar is vir die genade om erns te kan maak met ons godsdiensbeoefening, soos die Fariseër, maar wel met nederigheid en dankbaarheid.
Amen