Lukas 16:19-31

Die gelykenis van die ses broers1



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gelykenis van die ryk man en Lasarus is een van die bekendstes in die Bybel. Egter ook een van dié gedeeltes in die Bybel wat die meeste misverstaan word. Want waaroor gaan hierdie gelykenis?

Nie, broers en susters, oor ‘n beskrywing van die hemel nie, hoe dit eendag in die hiernamaals gaan lyk nie. Want die gelykenis handel nie oor die lewe in die hemel nie, maar oor die lewe op aarde. Dit handel nie oor die lewe na die dood nie, maar oor die lewe voor die dood. Of liewer, dit handel oor die dood voor die dood.

Die sleutel om hierdie gelykenis te verstaan is verse 14-15. Die Fariseërs was baie lief vir geld. En juis daarom het hulle nie gehou van die evangelie wat Jesus verkondig het nie. Daarom het hulle Hom uitgelag, oor Hom gespot en Hom bespot, agter sy rug van Hom geskinder. Daarom het hulle ook probeer om Jesus by die ander mense verdag te maak, sy boodskap in diskrediet te bring, te probeer om Hom af te takel.

Sodat Jesus moes sê: julle doen julle so godsdienstig en ordentlik voor, maar God ken julle harte. Wat vir julle belangrik is, is vir God nie regtig belangrik nie. Wat julle begeer en hoog ag, is vir God ‘n gruwel. En wat vir God ‘n gruwel is, is vir julle belangrik.

Daarom, broers en susters, sou ek meen dat die volgende min of meer die punt van die gelykenis is: Die waardes van God se koninkryk is totaal anders as die waardes van hierdie wêreld. So baie dinge wat vir ons in hierdie wêreld belangrik is, en wat ons daarom begeer, is vir God ‘n gruwel. En dit wat ons soms so maklik — en om gerieflikheidshalwe — as onbelangrik, irrelevant en selfs aanstootlik beskou, word juis deur God hooggeag. En God ken ons harte. Hy weet hoe agterstevoor ons prioriteite dikwels is. Al doen ons ons ook hoe goed voor voor die mense. En al dink hulle hoe goed van ons. Dit is die punt van die gelykenis.

Maar kom ons kyk: wat gebeur in die gelykenis? Daar was ‘n ryk man, vertel Jesus, wat duur en deftige klere gedra het en elke dag feestelik en weelderig geleef het. En let mooi op — anders as wat ons normaal weg dink — dit is al wat van die ryk man gesê word. Niks slegs word van hom gesê nie. Geen enkele sonde word genoem nie. Geen uiterlike boosheid word vermeld nie.

Hy was net ‘n man, ‘n ryk man wat deftig en weelderig geleef het. Soos ons sal sê, en soos hulle daardie tyd seker ook van die man sou sê, ‘n suksesvolle man, ver­moënd, gerespekteerd, ‘n gesiene man volgens alle stan­daarde wat ons so dikwels onder mekaar aanlê om onsself en ander mee te meet.

Waarskynlik, sê Luther, was hy ‘n baie goeie kerkmens, ‘n kultuurmens, geëerd en ordentlik. Maar, sê Luther, sy lewe word nie deur Jesus in hierdie terme beskryf nie, maar met die woordjie ‘elke dag’. Daagliks. Vrolik en feestelik was nie vir hom die uitsondering nie, maar sy daaglikse lewenstyl. Dit was hý. Dit was vir hom die belangrikste. Posisie, aansien, eer, geluk, voorregte, besittings — dit was die dinge waarom sy daaglikse lewe gedraai het. Dit was hý. Daaglikse weelde en plesierigheid.

En by sy voordeur lê Lasarus. ‘n Bedelaar. Net mooi die teenoorgestelde. Vol swere, vol verlange na die krummels wat val van die ryk man se tafel. Sy naam beteken min of meer ‘God is my hulp’. En dit is hý. Die naam het hom gedefinieer. God is my hulp. Niks meer nie. Hy is een stuk verlange na God, een stuk noodroep om hulp. Uitge­lewer, hulpeloos, nie in staat om iets vir homself te doen nie. En natuurlik onbelangrik, absoluut onbelangrik volgens alle menslike standaarde. Die totale teenoorgestelde van sukses en aansien.

En dan volg die tweede toneel wat Jesus oor hierdie twee vertel, van meneer elke-dag-weelderig en God-is-my-hulp. Die bedelaar sterf en word weggedra na Abraham. Die ryk man sterf ook, en word begrawe. Wat nie eers van Lasarus gesê word nie. Waaruit ons miskien kan aflei dat die ryk man se begrafnis vir oulaas ‘n ding was. ‘n Okkasie. ‘n Swierige geleentheid wat vir oulaas sou pas by sy status op aarde.

Hy land egter in die doderyk, en vol pyn. En toe sien hy vir Abraham, daar in die verte. En ook vir Lasarus, heel waarskynlik vir die eerste keer! En hy pleit by Lasarus om sy nood te verlig, sy pyn weg te neem.

Maar Abraham sê: My kind, my kind. Verrassend, is dit nie, broers en susters? Die ryk man was toe al die tyd wel ‘n kind van Abraham. Een van God se kinders, een van sy uitverkorenes. Hy was ‘n gelowige, wat die guns van God geniet het (soos dit immers sigbaar in sy lewe was!). Iemand wat nooit moes geland het waar hy geland het nie. Want hy was ‘n kind van Abraham!

My kind, sê Abraham, jy het jou hele lewe die goeie gehad en Lasarus die slegte. Nou gaan dit anders om wees. En buitendien is daar so ‘n groot kloof tussen ons, sodat niemand hom meer kan help nie. Dramatiese woorde. Woorde wat aansluit by die punt wat die gelykenis wil maak: in die koninkryk vind daar ‘n radikale omkeer van waardes plaas. Wat op aarde geëerd en gesog en begeerlik was, word dáár pyn en teleurstelling. Wat verlange was, behoefte en nood, word dáár ereplekke, vreugde en versadiging.

God se taksasies, sy beoordeling van sake, sy mening oor wat belangrik is en wat nie is nie, is net radikaal anders as wat ons sou reken. En dit is finaal. Onherroeplik. Want die klowe wat ons gegrawe het tussen ons en God bly eenvoudig.

Wat ‘n verhaal! Maar nog is Jesus nie klaar nie. Want nou eers kom hy met die ontknoping. Die ryk man word benoud. Hy smeek Abraham om iemand te stuur — bedoe­lende Lasarus — om sy vyf broers te gaan waarsku. Maar Abraham bly rustig. Nee wat, hulle het mos die wet en die profete, hulle het mos God se Woord. Hulle het alles om te weet wat belangrik in die lewe behoort te wees en wat nie. Hulle weet mos hoe ‘n mens sukses moet beskou. En hulle weet mos dat die klowe wat die mens tussen homself en God grawe deur sy liefdeloosheid en sy onvergewensgesindheid, onherroeplik bly geld. Dit staan mos in die Woord van God wat hulle het.

Dan, sien ons, raak die ryk man nog meer benoud. Want hy weet mos hoe dit is. Hy het self die wet van Moses en die profete gehad. Hy self het geglo, maar nie geluister nie. Hy weet mos jy luister maar moeilik as jy so voorspoedig is. Daarom, hulle het iets meer nodig.

Iets, of iemand, soos Lasarus wat uit die dood na hulle toe sal gaan. Maar weer antwoord Abraham: nee wat. As hulle nie na die Woord wil luister nie, as die Woord hulle nie sal oortuig nie, sal hulle ook nie luister as iemand uit die dood opstaan nie. Want hulle wil nie luister nie. Dan is die suigkrag van die weelderige en suksesvolle lewe voor die dood vir hulle sterker as die lewe na die dood.

Daarom sal hulle altyd redes vind om nie te luister nie. En hulle sal ook nooit sien nie. Hulle sal Lasarus nie eers herken as hy uit die dood aan hulle verskyn as boodskapper nie. Net soos die ryk man hom nooit raakgesien het nie.

En nou moet ons onthou, broers en susters, dat wanneer Lukas hierdie gelykenis van Jesus oorvertel, meer as sestig jaar na Jesus Christus se opstanding, Lukas en sy le­sers weet dat Abraham reg was. Jesus het opgestaan, maar baie het dit nie geglo nie. Dat talle die Woord van God hoor, maar hulle nie aan die Woord of die opstanding steur nie. En steeds nog maar redes kry, soos die ryk man en die Fariseërs wat na die gelykenis luister, wat vir God afskuwelik is, as die aller belangrikste te beskou.

En dit, broers en susters, is die punt van die gelykenis: dit is eintlik gerig aan die ore van daardie vyf broers! En daardie vyf broers, broers en susters, is die hoorders en lesers van Lukas, dit wil sê, ook ons. Die broers in die gelykenis wat nog lewe, is die mense van hierdie wêreld. Hulle is ons.

Waarvan sommige se prioriteite so skeefgetrek het dat hulle maar net vir hulleself en hierdie lewe lewe. Hulle gryp na elke gawe in hierdie lewe, sonder om eers die Gewer van daardie gawes te wil ken of dien. hulle lewe draai net om hulleself. Hulle is doof vir die dieper betekenis van God se Woord. Ja, hulle ken die Woord, besit dit, lees dit, hoor dit gereeld. Hulle is eintlik baie gerespekteerde kinders van Abraham, maar hulle leef vol­gens hulle eie waardes, style en prioriteite.

Hierdie broers is die Fariseërs wat baie lief was vir geld. Aards. Hulle was alles behalwe ongodsdienstig. Inteendeel. Hulle was taamlik vroom en baie ernstig. Hulle het Moses en die profete gehad en geken en hulle baie hoog geag. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Want hulle het die Woord nie werklik ernstig opgeneem nie.

Hoe ernstig, my broer en suster, neem u en ek die Woord op? Laat u gedagtes vanoggend maar gaan. Of selfs skerper gestel: neem ons nog die Woord enigsins ernstig op? Hoe durf ek so ‘n vraag vra, sal sommiges van u dalk voel. Maar vra uself maar die volgende vrae af:

As iemand die Woord van God besit, lees, ken en glo, omdat hy/sy ‘n kind van Abraham is, ‘n gelowige, ‘n Christen, hoe is dit moontlik om liefdeloosheid te saai? Om onversoendheid uit te leef? Om skeidsmure van onbarmhartigheid op te rig tussen jou en ander mense?

Ons doen alles wat ons kan om die Lasarusse uit ons lewens te weer, dat ons hulle tog net nie moet raaksien nie. Ons wil nie hê hulle moet ons kwel, ‘n appél op ons plaas nie. Hulle mag nie die ritme van ons lewens versteur nie.

En verstaan mooi, broers en susters, die Lasarusse in ons lewens is nie net die bedelaars wat aan jou deur klop nie. Nee, deur elke deur waardeur jy elke dag loop, sal jy hulle vind. By die huis, by die werk, in die klaskamer, in jou buurt, in die strate, in die kerk, in jou gemeente. Want elkeen met ‘n behoefte is ‘n Lasarus. Enige iemand wat smag na aanraking, wat smag na ‘n oor wat sal luister, wat smag na wat ook al, na dit wat ek en u as kind van Abraham kan bied, is ‘n Lasarus.

Hulle, sê God, moet ons prioriteit in die lewe wees. Nie onsself of ons belange nie. En niks, broers en susters, gaan hulle vir ons die prioriteit in ons lewe maak behalwe die Woord nie. Niks meer gaan u dring om die Lasarusse te begin raaksien behalwe die Woord wat u vanoggend hoor nie. Hoor dit. Niks meer, niks meer, as daardie Bybel wat op u bedkassie lê, of dalk op ‘n plek waar u nie eers weet dit is nie, gaan u oortuig dat God se prioriteite ook u en my prioriteite moet word en wees nie.

So: luister vanoggend, hoor en gaan doen soos God vra. Of besluit anders. Maar weet een ding: niks anders gaan u en my bring om God se boodskap te aanvaar nie. Ons het net die Woord.

Of, soos Luther dit gestel het: Moenie verwag dat op ‘n dag ‘n verslaggewer uit die hiernamaals gaan terugkom om te kom bevestig wat God van ons verwag nie. God kom nie met skokke nie. Hy het ons sy Woord gegee. Die Woord is al wat ons het.

Is u saak met God reg, liewe gemeente? Is die prioriteite in u lewe reg? Of weet u iewers sal iets moet verander? Net u en ek sal weet. Niks gaan dramaties gebeur wat dit sal regtrek nie. Want u en ek het mos die Woord!

Presies dit wat die gelykenis wil sê: wat vir God belangrik is, is dikwels nie vir ons nie. Die woorde in sy Woord is belangrik. Is dit ook vir ons?
Amen