Matteus 13:44-46

Die grootste skat



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
'n Juffrou het op 'n dag vir haar klas papier en kryt uitgedeel en toe vir hulle gesê: Teken asseblief vir my wat julle die heel graagste wil hê.

Nou ja, soveel kinders, soveel prentjies. Die een het 'n lang, slap kar geteken; die ander 'n groot 4x4 bakkie. Een seuntjie, met die bou van 'n Ollie le Roux, het 'n groot bord kos geteken, 'n dogtertjie het 'n kinderpartytjie met elke soort lekkerny geteken. Een kind het iets geteken wat soos 'n groot muur lyk met die woordjie JA baie groot daarop geskryf. Toe die juffrou haar vra wat dit beteken, sê sy: Almal sê net altyd vir my nee: nee, moenie dit aantrek nie; nee, moenie daarheen gaan nie, nee, moenie dit sê nie, moenie dat doen nie. Wat ek meer as enigiets anders in die lewe wil hê, is dat iemand tog net een keer vir my JA sal sê….''

En as ek vanoggend vir u sou vra om 'n prentjie te teken van wat u die heel graagste in die lewe wil hê, wat sal dit wees? Ek het 'n idee dat 'n hele paar van ons 'n Lotto kaartjie met die ses regte nommers daarop sou probeer teken — en as ons nie kan teken nie en dit wat ons die heel graagste in die lewe wil hê in woorde sou moes omsit, dan sou 'n hele paar van ons saam ou Lukas Maree wou sing: Ek sou kon doen met 'n miljoen…

Of, miskien het baie van ons al gedagdroom oor hoe lekker dit sal wees as ons ontdek dat 'n familielid wat jy nie eers geken het nie 'n fortuin in sy testament aan jou bemaak het, of dat jy 'n skildery wat 'n hele paar honderdduisend Rand werd is, ontdek in Ouma se trommel wat nog al die jare in die motorhuis gestaan het…

As ons maar net so 'n kosbare skat sou kon ontdek, dink ons, iets wat kan maak dat ons nie meer elke dag moeilik hoef wakker te word as die wekker lui, teensinnig moet aantrek en onsself uit die huis sleep om weer in die sweet van ons aangesig jou brood te gaan verdien nie…. Lukas Maree het dus 'n punt beet: Ek sou kon doen met 'n miljoen.

Maar dit is maar net ydele dagdrome. Dié klas van dinge gebeur mos net altyd met ander mense, nooit met my nie. Die kanse dat ek 'n kosbare skat in die lewe sal ontdek is omtrent net so goed soos my kanse om 200 jaar oud te word.

Of is dit, broers en susters? Jesus vertel vir ons hier in Matteus 13 twee gelykenisse wat ons 'n bietjie hieroor laat nadink.

Al twee handel oor 'n kosbare skat wat gevind word: Die eerste een vertel van 'n man wat besig is om te ploeg. Hy is deur die boer gehuur om dit te doen. Dit is 'n harde werk, om so in die stof en son agter die os aan te loop en die ploeg se skaar in die grond in te probeer hou. En dan gaan steek die simpel skaar vas. Seker weer 'n klip. Maar as die man gaan kyk, sien hy die ploeg het teen 'n ou hout kis gaan vassteek. As hy die trommel oopmaak, is dit vol van honderde en honderde goue muntstukke – en hy besef: dit is als myne (Sien, daar was 'n Joodse wet in daardie tyd wat gesê het dat jy mag hou wat jy optel)

Net om dood seker te maak, gaan die man en hy verkoop alles wat hy het, sy nederige huisie, sy meubels, sy een ou melkkoei en hy gaan koop daardie stuk land waarop hy die skat ontdek het. Nou is daar geen twyfel meer nie: die skat is syne; hy is ryker as wat hy in sy wildste drome gedink het hy ooit sou wees. Nooit weer in sy lewe vreet hy die stof wat deur 'n os opgeskop word op nie…

Die tweede gelykenis vertel van 'n handelaar wat besig is om pêrels te soek. Op 'n dag kom iemand met 'n sakkie vol pêrels by hom aan. Hy gooi dit op die tafeltjie tussen hulle oop en die handelaar kan sy eie oë nie glo nie. Tussen al die doodgewone pêrels waarvan hy al honderde soortgelykes in sy lewe gesien het, lê daar 'n pêrel waarvan hy die gelyke nog nooit gesien het nie. Ook hy gaan verkoop alles wat hy het om dié kosbare pêrel in die hande te kry, want hy weet: As ek hierdie pêrel in die hande kry, dan het ek meer as wat ek nog ooit gehad het – ek het dan alles wat ek nodig het…

Dit is mooi storietjies, maar wat help dit my? redeneer jy dalk. Al wat dié storietjies sê dat as dit jou gelukkige dag is, dan is dit so. Maar as dit nie is nie, dan is dit eenmaal nie so nie. Die ou met die ploeg en die pêrelkoper was maar net toevallig op die regte tyd op die regte plek. En dan moes hulle ook nog alles gaan verkoop om die skat in die hande te kon kry. Beteken dit dat dit net die gelukkiges is en dié ouens is wat kredietwaardig genoeg is om die skat te gaan aankoop, dat dit net hulle is wat eendag die skat van die koninkryk van die hemele is die hande sal kry? Is dit blote toeval en daarmee saam die grootte van balans in die bank van goeie werke wat bepaal of jy eendag die koninkryk sal ontvang?

Nee, nee, duisend maal: Nee! Dit is nie wat die dubbeldoor gelykenisse oor die kosbare skat vir ons probeer sê nie. Dit sê presies die teenoorgestelde: Dit sê vir ons veral twee dinge: So 'n skat word nie per geluk gevind nie, maar uit genade; en: As jy so 'n skat ontdek het, kan jy tog nie dieselfde bly nie.

Net so seker as wat die ou met die ploeg of die pêrelhandelaar op geen manier verdien het om die skat te kry wat hulle ontdek het nie, maar moes besef het dat dit onverdiende geskenk wat hulle te beurt geval het, net so seker is die kosbare geskenk van die koninkryk van die hemele nie iets wat ons verdien nie, maar 'n kosbare geskenk wat God aan ons gee!

En dan die volgende punt: dié kosbare geskenk is nie altyd iets wat oop en bloot vir jou in die gesig staar nie, iets waaroor jy om elke hoek en draai gaan struikel en dit so ontdek nie – maar dit is hier – hier waar ons elke dag beweeg!! Die skat van die koninkryk is nie êrens op 'n verafgeleë planeet weggesteek nie; dit is nie diep onder die see in 'n klipharde oester verborge so dat niemand dit ooit in die hande sal kry nie! Die ploeër en die handelaar ontdek die skatte daar waar hulle elke dag beweeg, daar waar hulle elke dag doen wat hulle normaalweg doen. Dit is daar – reg voor hulle oë. Eintlik kan mens sê: Dit is nie hulle wat die skat vind nie, dit is die skat wat hulle vind!

En dit is nog soveel te meer waar van die skat van die koninkryk van die hemele: dit is nie iets daar onbereikbaar ver nie – dit is hier by ons, tussen ons, in ons.
Hoe kan ek dit sê? Sien, die skat van die koninkryk van die hemel is eintlik die Koning van die hemel sélf! Dit is Jesus, Jesus wat mens geword het, wat na ons toe gekom het – nie sodat die mense Hom kon vind nie, maar sodat Hy die verlore mense kon kom vind. Ons het dit mos gesing: Ek was verlore, is gevind; ek was vervreemd, is nou u kind - hoe groot is u genade!

Om dit te kan weet, om dit te kan glo, is 'n skat wat baie kosbaarder as enigiets wat 'n mens hier op aarde kan ontdek of bymekaarmaak. Ps 73: 25 sê dit baie mooi: Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.

Soos die twee manne van ons dubbeldoor gelykenis, kan jy ook nie maar net aangaan asof niks gebeur het as jy bewus word van hierdie kosbare skat waaraan God ook vir jou laat deel kry nie. Ook ek en jy sal moet reageer, sal alles in ons vermoë moet doen om te keer dat dié kosbare skat, dié onverdiende geleentheid nie by ons verbygaan of deur ons vingers glip nie.. Die skat van die koninkryk van die hemel roep ons op tot aksie, tot reaksie – tot gehoorsaamheid. Dit kán mos nie anders nie!

Skielik kom mens agter: dit wat ek vroeër gedink het ek die graagste sal wil hê in my lewe – dit is nie meer so belangrik nie. Nie al die al die geld in die wêreld, nie die kosbaarste van kosbare edelgesteentes, nie die blinkste van motorkarre beteken iets as dit kom by die kosbaarste skat van alle tye nie: die verlossing wat God in Jesus Christus aan ons geskenk het. Dít en dít alleen maak my skatryk, hemelryk, koninkryks-ryk – al besit ek nie 'n dooie sent of een misrabele ou varswaterpêreltjie nie…

Mag ek dit probeer illustreer: Ek was die afgelope week diep geroer toe 'n vrou tydens huisbesoek vir my vertel van die absolute wroeging waardeur haar geskeide kinders haar sit omdat die drie kleinkinders skandelik verwaarloos word. My hart het gebloei, wat ek het besef hoe magteloos, hoe desperaat, hoe bitter bekommerd sy as ouma moes wees. Maar dan sê hierdie selfde vrou vir my: As ek nie die kerk gehad het nie, as ek nie Sondae die erediens kon bywoon nie, dan sou ek dit nie gemaak het nie, dan sou ek nie deur die week kon kom nie. Watter kosbaarder skat kan daar wees as iets wat jou kan optel, jou kan dra, jou weer nuwe krag en troos kan gee sodat jy weer kan uitstap en die nuwe week met sy vars moeilikheid weer in die gesig kan staar…

Dit sou verregaande vermetelheid wees om te probeer sê hoe dit sou lyk as mens die Here kon vra om 'n prentjie te teken van wat Hy die heel graagste sou wou hê …Maar ons hoef ook nie. Die Here het al klaar vir ons gewys wat Hy die heel graagste sou wou doen en toe ook gedoen het. As ons daarvan 'n prentjie sou wou maak, sou dit dalk so-iets lyk (prentjie van kruis met JA op)…. die kruis van ons Verlosser, Jesus Christus en met dié kruis sê God vir ons: JA

JA – Ek is lief vir jou
JA – Ek het jou sondes vergewe
JA – jy is vir My kosbaar
JA – Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie
JA – Ek is jou Vader, kom wees jy my kind….
Amen