Lukas 16:19-31

Die woordjie genade: mooi en gevaarlik



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Iemand het op ‘n keer gesê dat dit genade kos om God se genade te kan verstaan. Want genade, broers en susters, is eintlik ‘n geweldige woord, dit is ‘n woord waarvan ons die omvang en volle betekenis seker nooit sal verstaan nie.

Ons ken genade as ‘n mooi woord. En dit is reg so. Want die woord genade verwys na al daardie dinge wat God ons so mildelik onverdiend skenk. Maar net so, kan die woord genade ook ‘n gevaarlike woord wees.

Hoekom? Want die woord genade, as dit reg verstaan woord, is ‘n genadelose woord: dit haal jou uitmekaar, dit breek jou stukkend, dit frommel jou op, ploeg jou onder. Want dit vra dat jy alles waarop jy sou kon roem, deur jou as nutteloos en as van geen waarde verklaar sal word. Dit vra dat ek myself sal weggee. Dat ek sal weet dat ek niks is nie en niks het nie.

Daarom, broers en susters, is die woordjie genade ‘n woord wat pas by ‘n bedelaar. By mense wat weet dat hulle voor God eintlik niks meer as bedelaars is nie.

Soos in ons gelese gedeelte van vanaand. Daar was, sê Lukas, op ‘n keer ‘n ryk man en ‘n bedelaar. En kom ons kyk eers na die ryk man. As daar nou iemand was wat in die verlede erg verdag gemaak was, dan is dit juis hierdie ryk man. Dink maar wat ons almal al van hierdie man gehoor het. Hy was sleg, hy was selfsugtig, hardvogtig, suinig, goddeloos. Dit is die beeld wat ons vir onsself dikwels in die verlede al van hierdie man opgebou het.

Net maar, broers en susters, dat ons in die gelykenis niks hiervan lees nie. In die gelykenis word hy nie as sleg beskryf nie, ook nie goddeloos of hardvogtig nie. Nee. Die gelykenis sê bloot dat hierdie man welaf was, hy was ryk, en daarom was hy in staat om byvoorbeeld mooi klere aan te trek.

Goed, sal ons sê. Dit is miskien waar. Maar hy kon darem vir Lasarus genooi het om saam met hom te kom eet, hy het immers in oorvloed aan sy tafel gehad. Maar, ons sou ook kon sê: Lasarus was vol swere, hy was daarom onrein. En deur hom aan tafel te ontvang, sou hierdie man ook as onrein beskou word. Daarom: hy het eintlik maar net na die kerk van sy tyd geluister. Hy wou maar net gehoorsaam aan God wees deur nie onrein voor God te leef nie.

Of, ons sou miskien kon sê: in vers 21 lees ons dat Lasarus begeer het om te kry van die krummels wat van die ryk man se tafel afgeval het — en dan voeg ons sommer by — die ryk man het dit nie eers gedoen nie. Dit staan egter nie daar nie, broers en susters. Ons lees nie dat die ryk man dit nie gedoen het nie.

‘n Mens sou selfs die feit dat Lasarus toegelaat was om by die ryk man se poort te lê, tot die guns van die ryk man kon uitlê. Iemand wat by die ingang van iemand se landgoed lê, vol swere en wat deur die honde gelek word, het nou seker nie iemand se landgoed heeltemal versier nie. Inteendeel. Hy kon, sou ons kon sê, as hy wou vir Lasarus daar weggejaag het. Maar, lees ons, hy het nie.

Ook bestaan daar geen rede om te dink dat hierdie man nie godsdienstig was nie. Hy het juis aan die godsdienstige reëls van sy tyd vasgehou deur nie saam met ‘n onrein persoon te eet nie.

Dit alles in ag geneem, sou ‘n mens kon beweer dat ons nie sommer maar net eenvoudig hierdie man as sleg kan uitmaak nie. Tensy ons dit in die gelykenis wil inlees. Wat ons wel weet, en dit sê die gelykenis baie duidelik, is dat hy ryk was, en dus geen gebrek gehad het nie. En dat Lasarus daar was, arm, met gebrek.

Snaaks, broers en susters, hoe slegter ons die ryk man gemaak het, hoe vromer het ons vir Lasarus gemaak. Links en regs het ons sertifikate van godsdienstigheid, goedheid, en vroomheid aan Lasarus uitgedeel. Net jammer, die gelykenis sê hiervan niks nie.

Wat wil ek sê, broers en susters? In die gelykenis is die ryk man nie sleg nie, hy is doodeenvoudig ryk. En Lasarus is nie noodwendig goed nie, hy is bloot arm. Die gelykenis sê dit dan ook presies op ‘n ander manier in vers 25. Wanneer die ryk man daar aan Lasarus vra dat hy tog net sy tong met ‘n bietjie water sal afkoel, sê Abraham nie nee omdat die ryk man sleg was en Lasarus goed nie. Nee. Hy sê bloot dat die man ryk was, en Lasarus arm. En nou is dit anders om: Lasarus is ryk en die ryk man is arm.

En dit bring die vraag na vore: wat kan ons hieruit aflei? Dat rykdom noodwendig sleg is, en armoede noodwendig goed? Of: hulle met wie dit goed gaan in hierdie lewe, hulle sal dit eendag sleg hê in die hiernamaals, en vice versa?

Ek dink nie so nie, broers en susters. Soos met die ander gelykenisse van Jesus moet ons hier ook baie versigtig wees om nie maar net bo-oor die gelykenis te lees nie. Ek meen dat in hierdie gelykenis, soos in die ander gelykenisse van Jesus, daar is ‘n sleutel waarmee ons die betekenis van die gelykenis kan oopsluit. Dit is waarna ons moet soek. En ek gaan dit nou probeer doen.

Ons tref in hierdie gelykenis van Jesus iets aan wat ons in nie een van die ander gelykenisse van Jesus raak lees nie. En dit is dat een van die hoofkarakters in die gelykenis ‘n spesifieke naam gegee word, naamlik Lasarus. En dit is nie toevallig nie, as ons in ag neem watter groot rol ‘n naam in die tyd van die Bybel gespeel het. In die tyd van die Bybel, broers en susters, het iemand se naam iets van sy wese gesê, dit wat hy/sy werklik was.

So beteken die naam Abraham ‘vader van baie nasies’ (dink maar aan die verbond), Ismael beteken ‘God hoor’, Isak beteken ‘hy lag’ en Moses beteken ‘uit die water gehaal’. So is dit dan ook met die naam Lasarus, wat beteken ‘God is hulp’.

So verstaan, broers en susters, sal ons kan sê dat Lasarus se hele lewe eintlik uit een noodkreet bestaan het, naamlik ‘God help my’. Hy was nie naar net ‘n bedelaar nie, hy was bedelaar voor God. ‘n Bedelaar wat met sy hele lewe uitgeroep het: God help. Sonder U kan ek nie lewe nie. Word deel van my lewe. Neem my in U beskerming, want sonder U kan ek nie lewe of bestaan nie. Dit alles, broers en susters, het Lasarus se naam gesê.

En wanneer dit gebeur, wanneer iemand so roep, dan help God. Ons kan amper sê: wanneer iemand roep ‘help God’, dan word die wese van God geopenbaar. As die een wat altyd help. As ons Verlosser. As die God van genade.

Genade, broers en susters, wat egter net ontvang kan word deur bedelaars. Deur mense wat weet: ek het niks om op te roem nie. Daar is niks in my wat kan maak dat God sal hoor en gee nie. Inteendeel. Al wat ek het, al wat ek kan doen, is om te kan vra!

En die ryk man? Kom ons stel dit so: hy het alles besit, behalwe God. En Lasarus het niks besit nie, net God. En daarom, in wese, was die ryk man arm, en Lasarus ryk.

Wat kan ons hieruit aflei vir ons vandag? Miskien die volgende: hy/sy wat dink hy is ryk (m a w, wie dink dat hy/sy alles het wat nodig is, en daarom nie God nodig het nie), vir so iemand is die woordjie genade ‘n gevaarlike word. Want vir so iemand beteken dit, as hy of sy die genade van God werklik wil ontvang, dat al daardie dinge wat hulle meen sekuriteit in die lewe bied, een kant toe geskuif sal moet word. Ook sal dit beteken dat die dinge wat so belangrik in die lewe beskou is, nou nie meer so belangrik sal kan wees nie. Hoekom?

Want die genade van God, broers en susters, eis ‘n mens op. Dit beteken nie alleen ontvang nie, dit beteken ook om te gee. Want genade wat ontvang word, laat ‘n bepaalde reaksie na vore kom. Dit skep toewyding, dit maak dat ek so ‘n bietjie minder belangrik word, dit maak dat ek myself, my kragte en talente wil weggee. Wil weggee aan God.

Juis daarom, broers en susters, kan die woordjie genade ‘n gevaarlike woordjie wees. Want iemand wat God se genade werklik ontvang en toe-eien - of anders gesê – iemand wat God se genade as genade ontvang, so iemand word deur daardie genade omgeploeg, opgefrommel en uitmekaar gehaal.

Hoekom? Want so iemand word ‘n bedelaar. Iemand wat weet dat hy of sy niks in die lewe het of verdien nie. En omdat hulle dan van God ontvang, sê hulle dankie. Sê hulle dankie met hulle hele lewe, juis omdat hulle weet hulle het niks verdien nie!

Verstaan ons dit, broers en susters? Wie meen dat hy iets verdien, kan nooit genade ontvang nie. Want dan kan genade nie meer genade wees nie. Maar die een wat weet dat hy niks verdien nie, hulle ontvang genade. Want dan is genade genade.

Dit wat van God af na ons kant toe kom, en terwyl ons dit ontvang kan ons nie vir onsself uitmaak hoekom ons dit ontvang nie. Want ons verdien dit mos nie. En hoe meer ons daaroor dink, hoe minder verstaan ons dit en hoe meer verstom word ons gelaat. En later raak ons stil. Omdat ons nie meer antwoorde het nie. En niks het om op te roem nie.

Vroeër het ons gesê die ryk man was ryk, maar arm by God. Hy het geglo, maar tog onderlangs gesê: ek glo, maar as ek eerlik moet wees, het ek God nie eintlik nodig nie. Nie met my vermoë nie. Daarteenoor was die hele lewe van Lasarus een noodkreet: God help my. Ek is van u afhanklik. Sonder U kan ek nie.

As ons nie bereid is, broers en susters, om hierdie belydenis net so voor God te maak nie, moet ons baie versigtig wees om aanspraak te maak op God se genade in ons lewens. Want dan wil ons iets ontvang wat ons nie eintlik dink ons nodig het nie. Dit is dan soos ‘n geskenk wat ek ontvang wat ek nie eintlik nodig het nie, en daarom eindig dit vergete iewers in ‘n kas of ‘n laai.

Wanneer ‘n mens egter iets ontvang waarsonder ‘n mens nie kan nie, dan vergeet ‘n mens dit nie. Jy pas dit op. Jy weet daarvan. Jy gebruik dit. Jy gee daaraan aandag. So iets gebeur met iemand wat nie alleen God se genade ontvang nie, maar ook weet: hiersonder kan ek nie.

Dan is genade ‘n mooi woord. Want dit bring my om my lewe totaal aan God te wy. Al verpletter dit my begeertes, ploeg dit my onder, vernietig dit my selfsugtigheid, ruk dit die sonde uit my hande.

Niks van dit maak meer saak nie, omdat ek net een begeerte het: om naby God te wees, en Hom te gehoorsaam.

Wil ons, broers en susters, regtig God se genade ontvang? Wil ons hê dat God se genade oor ons lewens die wag moet hou? Onthou dan net: genade ruk ‘n mens oop. Dit verander die mens. Dit vra om afstand te doen van myself. Dit vra dat ek myself eintlik sal afskryf.

En juis daarom kan genade ‘n gevaarlike woord wees. Wanneer dit ontvang word, half ongeërg, so asof ek eintlik maar daarsonder kan klaarkom, maar dit tog maar goed is dat ek dit het.

Want dan, broers en susters, dan verpletter die genade van God jou op ‘n ander manier. Dit skep die indruk dat dit goedkoop is. Dat dit eintlik niks van my vra nie. En dit maak ‘n mens arm by God. Dit skep afstand tussen God en mens. Dit maak ons die ellendigste van alle mense. Dit, terwyl ons dink alles is eintlik reg, al is dit nie.

Ek sluit af: maak nie saak wie ons is nie, maak nie saak wat ons is nie, maak nie saak wat ons besit nie, ons is almal bedelaars voor God. Ons kan nie sonder God leef nie. Dit behoort elke sondaar se belydenis te wees.

Wie dit wil bely, sal lewe. Sal agter kom dat God se genade ‘n mens opeis. Dit sal jou lewe verander. En jy sal ryk wees by God.

Wie egter meen dat ons sonder God kan lewe, maar dit tog goed is om God se genade te kan hê, so iemand maak genade goedkoop. En arm by God. Dan is ons naam nie Lasarus nie.
Amen