Markus 2:13–22

God doen nie laslapwerk nie!



Gemeente van ons Here Jesus Christus
So 'n paar jaar gelede het hulle in die oerwoude van een van die Indonesiese Eilande afgekom op 'n ou man wat in 'n grot weggekruip het, nog geklee in die flenters van die uniform van die Japannese Leër. Hy was nog vas onder die indruk dat die Tweede Wêreldoorlog aan die gang is, al is dit reeds vyftig jaar vantevore beëindig . Tydens die oorlog, het hy is hy geskei van sy makkers en hy het in die bosse gaan wegkruip uit vrees vir sy lewe. Miskien het hy op 'n keer gaan uitloer en 'n groot gewerskaf onder die Amerikaanse troepe op die hawe gesien en toe gedink dat hulle regmaak vir 'n groot aanval, min wetende dat hulle eintlik besig was om op te pak om huis toe te gaan. Toe gaan kruip die arme man maar diep in 'n grot in weg, want daar het nog soms soldate op patrollie deur die woude gemarsjeer, en daar het nog af en toe geweerskote geklap as hulle op 'n paar verdwaalde soldate van die vyand afkom – maar die vrede het reeds aangebreek, die oorlog was verby, al het daar nog hier en daar 'n paar skermutselings plaasgevind. Die vrede het aangebreek, maar vir vyftig jaar moes daardie arme Japannese soldaat in absolute vrees geleef het, want hy het gedink die oorlog gaan nog aan…

Nou moet ons nie eers dink om te sê: ''Maar hy's darem maar lekker simpel, die agter-die-klip ou soldaat!'' nie – ons moenie dit sê nie, want sien, ons maak maar baiekeer net so!

Ware vrede, die enigste ware, blywende vrede – die vrede waarvan die Bybel praat – dit het al bykans twee duisend jaar gelede aangebreek – maar dan leef ons asof die oorlog aan die gang is! Die laaste, die beslissende veldslag was die kruisdood en opstanding van Jesus Christus. Maar die vrede begin reeds wanneer 'n babatjie in Betlehem in 'n krip gebore word. Onthou julle nog wat die engelekoor gesing het?

Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!

Vrede op aarde: dis nie maar net 'n leë droom van iets wat eendag nog ver in die verskiet gaan gebeur nie. Dis 'n werklikheid en dis die waarheid – die vrede van Jesus Christus, vrede tussen God en mens, is hier, dis nou hier!

Ja, die troepe van die bose is nog aan die rondmarsjeer, soos 1 Petrus 5 dit sê: Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind¸en ja, sy boosheid en sy slinkse sette het nog nie afgeneem nie – hoe nader die eindtyd kom, hoe meer desperaat gaan die Bose word en hoe feller gaan sy aanslag teen die gelowiges wees. Maar sy mag is klaar gebreek, sy rug is geknak: die oorlog is gewen, al vind daar nog van tyd tot tyd 'n skermutseling plaas. Die vrede op aarde waarvan die engele sing, breek aan wanneer Jesus gebore word, dit kry sy beslag wanneer Hy aan die kruis sterf en uit die dood uit opstaan en ons sal by die wederkoms die volle glorie van hierdie vrede kan beleef!

Maar nou leef baie mense, ook baie godsdienstige mense, asof dit nog nie so is nie, asof die oorlog maar nog steeds aan die gang is, asof Jesus se koms na die aarde eintlik niks verander het nie.

Iets hiervan sien ons ook in die gedeelte wat ons vanmore uit Markus 2 gelees het. Jesus is aan huis van die tollenaar Levi – beter bekend as Matteus. Daar is 'n klomp mense daar bymekaar, mense wat deur die godsdienstige leiers van die tyd neerhalend beskryf sou word as 'n klomp tollenaars en sondaars.

Maar nou lees ons nie dat Jesus hier besig is om ernstig vir hulle te preek nie: Hy is besig om saam met hulle om 'n tafel te sit en lekker te kuier, lekker te eet. Lukas 6 sê dat hulle 'n groot feesmaal gevier het!

Die godsdienstige leiers, die Fariseërs, was duidelik nie beïndruk nie. Sulke optrede pas nie by iemand wat hom voorhou as die messias nie – en veral nie saam met tollenaars en sondaars nie. Hulle het geglo aan 'n lewe van streng dissipline, 'n lewe van gereelde vas en bid. As hulle saam met die volgelinge van Johannes die Doper wonder of dit nie beter sou wees om op daardie tydstip te vas nie, antwoord Jesus hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. 20Maar daar sal ’n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas.

Jesus sê in soveel woorde: Hier staan die Bruidegom voor julle en julle sien hom nie! Nou is dit nog die tyd om fees te vier en as jy feesvier, kan jy nie vas nie! Spoedig is Ek nie meer by julle nie en dan kom daar swaar tye, tye wanneer dit weer nodig sal wees om te vas as teken van julle toewyding aan My!

Sien, die Fariseërs vas omdat hulle dink dat hulle deur te vas deel van die uitverkorenes, van die bruilofsgaste kan word. Die dissipels weet hulle is bruilofsgaste, en hulle kan bly wees daaroor. Dis die groot verskil tussen iemand wat leef soos 'n dissipel en iemand wat leef soos 'n Fariseër: 'n dissipel leef van dit wat aan hom of haar geskenk is en geskenk word – die Fariseër wil leef van dit wat hy self in die hande wil kry; die dissipel leef vanuit die vreugde van die genade wat Jesus, die Bruidegom aan hom gee – die Fariseër wil vanuit homself vir homself probeer leef en daarom leef hy in onvrede en in vreugdeloosheid. En dis twee goed dié wat nie bymekaar pas nie: eie roem, verdienste wat verwerf word aan die een kant én genade wat geskenk word deur die verlossing in Jesus Christus aan die ander kant. Die goed pas nie bymekaar nie, want sien, God doen nie laslapwerk nie!

God doen nie laslapwerk nie! Maar dis so baiekeer wat ons van die evangelie probeer maak – 'n laslapkombers! Hierdie stukkie doen ek soos ek wil, daardie stukkie sal ek doen soos Jesus wil. Hierdie stukkie van Jesus se verlossing aanvaar ek, daardie stukkie wil ek nog op my eie probeer regkry – en so loop ons rond met 'n klomp stukkies van Jesus die Saligmaker waaraan ons probeer vasklou, maar ons sien nie die volle prentjie nie en ons kom nie uit by die volle vreugde van die fees van die saligheid nie!

Jesus sê: “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog ’n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. 22“Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.''

2 Korintiërs 5:17 sluit hierby aan: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Die evangelie van Jesus Christus bring nie herstelwerk nie, dit bring verlossing; dit wil nie maar net die oue opknap nie, dit vertel van die nuwe lewe in Jesus Christus. En God doen nie halwe werk nie en Hy doen ook nie laslapwerk nie. Ons is daarom nie halfgebakte, halfgelapte Christene nie. Ons is feesgangers met nuwe klere aan en met bekers wat oorloop van nuwe wyn!

As Jesus tydens die feesmaal by Levi die gelykenis van die lap en die wyn vertel, sou die feesgangers daar besef het dat nuwe klere en nuwe wyn in die Joodse denke van daardie tyd tekens van God se vernuwende genade was. God maak ons van buite en van binne af nuut: Hy beklee ons met die kleed van sy genade, Hy vervul ons met die nuwe wyn van sy koninkryk: daarvoor het Jesus gesorg toe Hy in ons plek aan die kruis gesterf het.

En nou wil ek dit weer sê: ook daar, veral daar het God nie halwe werk gedoen nie, Hy het nie laslapwerk gedoen nie. En daarom moet ons nie nou leef asof die oorlog nog aan die gang is nie, asof die vrede nog nie aangebreek het nie…

En ons doen dit, my broer en suster, ons dit nog maar al te graag, want ons redeneer nog gereeld mos so: die moeilikheid waarin ek nou verkeer, die probleme wat ek het, die siekte wat vir my of een van my geliefdes uitteer – dis seker maar God se manier om my te straf, want kyk hoe 'n slegte mens is ek; ja, God straf my nou, want ek het dit en dit gesondig; God straf my nou darem by erg - êrens in my verlede moes ek iets ergs verkeerd gedoen het!

Redeneer ons so, dan sê ons eintlik hiermee dat Jesus se offer aan die kruis nie volmaak was nie, dit was maar 'n laslap offer, want as die beproewinge waardeur ek nou gaan alles nog straf is wat van God af kom, dan beteken dit mos Jesus het hier 'n lappie straf gedra, daar 'n lappie straf gedra, maar daar het nog baie oorgebly waarmee God my so elke nou en dan kan teister! En daar is mos geen manier waarop dit waar kan wees nie!

Ja, ons gaan deur baie beproewings en ja, ons doen nog elke dag baie en verskriklike sondes, maar saam met Klaagliedere 3 kan ons weet dat dit deur die liefde van die Here is dat ons nie vergaan nie, en daar is geen einde aan sy ontferming nie – dit is elke more nuut!!

God se liefde en sy ontferming is elke more nuut en dit maak my nuut, dit maak my van binne en van buite nuut; van buite is ek nuut want God beklee my met die nuwe klere van 'n verloste kind van God, van binne word ek nuutgemaak wat die Heilige Gees woon in my en werk in my! En as dit nie rede is om fees te vier nie, dan weet ek nie wat is nie – en die beste, die heel beste manier om fees te vier is om iets te doen wat my die gelukkigste mens op waarde maak. Weet u wat maak 'n mens gelukkig, regtig gelukkig ? Om vir God dankie te sê maak 'n mens gelukkig, om in wat ek sê en wat ek doen vir God dankie te sê – dit maak my die gelukkigste mens op aarde!

Ek sluit graag af met die gebed van 'n vrou uit Afrika. Sy het gebid:
O God, vir baie jare wys ek 'n Christelike gesig
maar U wat na die diepste grond van my hart kyk,
U weet hoe dit regtig gaan.
U sien dat ek 'n gebarste driepootpot is wat,
terwyl die bars daar is, gou-gou alles verloor wat U vir my gee.
O God, wil u die bars tog regmaak?
Ag nee – 'n gebarste driepootpot kan nie weer gelap word nie!
Here, maak van my 'n nuwe driepootpot wat deur vuur gegaan het
sodat dit kan dien!

AMEN