Lukas 10:25-37

God verras ons keer op keer



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (wat net in Lukas voorkom), is aan ons almal goed bekend. So goed, meen ek, dat as ons iemand sou vra wat hierdie gelykenis beteken, daar baie maklik op hierdie vraag geantwoord sal word: die gelykenis wil ons leer dat die kind van God almal as sy/haar naaste moet beskou, en dat die Christelike liefde teenoor al ons naastes uitgeleef moet word. Dit is soos iemand eendag gesê het: dit is die verhaal oor goeie ou Sam.

Hoekom verstaan ons die gelykenis so, broers en susters? Verse 25-29 (die inleiding tot die gelykenis) en verse 36-37 (die slot van die gelykenis) lei ‘n mens om die gelykenis so te verstaan. Want in die inleiding vra die wetgeleerde aan Jesus `wie is my naaste’ en in die slot vra Jesus aan die wetgeleerde (nadat hy die gelykenis vertel het) wie hy dan nou sou oordeel waarlik in die gelykenis ‘n naaste was. Waarop die man nie anders kan as om te antwoord dat dit die barmhartige Samaritaan is nie.

Wat sal egter gebeur, broers en susters, as ons die gelykenis net as gelykenis lees? Met ander woorde, as ons die inleiding en slot van die gelykenis — soos dit in Lukas voorkom — nie in berekening bring in ‘n moontlike verstaan van die gelykenis nie? Nie dat dit verkeerd is om die gelykenis te lees soos dit in Lukas staan nie. Maar miskien kan ons die gelykenis ook op ‘n ander manier verstaan, ‘n manier - wat ek glo - ons sal verras.

En kom ek sê hieroor ‘n bietjie meer. Ons moet onthou dat Jesus hierdie gelykenis vertel het in ongeveer 25 tot 30 n.C. (dit het fisies gebeur). Lukas weer, vertel oor wat Jesus gesê het feitlik 50 jaar later (as ons aanvaar dat Lukas so teen ongeveer 85-96 n.C. geskryf was). Wat eenvoudig beteken dat die hoorders van die gelykenis, toe Jesus dit die eerste keer vertel het, se omstandighede beslis anders was as die hoorders van die gelykenis toe Lukas dit oorvertel het.

Watter verskille? Kom ek noem net ‘n paar: die gelykenis spel dit baie duidelik uit dat die Jode en Samaritane baie vyandig teenoor mekaar was. Dit was wel so in die tyd van Jesus, maar in die tyd van Lukas se skrywe was dit lankal nie meer so nie. In die tyd van Lukas het die tempel nie meer bestaan nie, en daarom sou die verwysings na priester en Leviet vir Lukas se hoorders nie eintlik aangespreek het nie. In die tyd van Jesus sou sy hoorders egter presies geweet het waarna Jesus verwys. Verder: Jerigopad was in die tyd van Jesus baie gevaarlik, maar in die tyd van Lukas was dit 'n doodgewone Romeinse pad wat baie veilig was. En ten slotte, en miskien die belangrikste: die hoorders van die gelykenis in Lukas was hoofsaaklik Grieke in KleinAsië, wat nie werklik die agtergrond van Palestina, hulle gebruike en mense geken het nie. Amper dus soos ons. Daarom, broers en susters, meen ek dat ons , as ons die gelykenis lees in die konteks en die tyd wat Jesus dit vertel het, ons dalk iets anders, verrassend, uit die gelykenis sal hoor. En dit wil ek nou saam met u probeer doen.

In die tyd van Jesus was die pad tussen Jerigo en Jerusalem baie gevaarlik. Dit was - by wyse van spreke - bekend as die ‘pad van die dood’. Aanvalle op reisigers op hierdie pad was aan die orde van die dag, aangesien dit deur die vallei langs die Jordaanrivier geloop het. Dit was ‘n pad wat aan rowers gulde geleenthede gebied het om weg te kruip, te roof en weer net te verdwyn. Dat 'n Judeër wat op hierdie pad reis aangeval kon word deur rowers, was dus aan die gehoor 'n bekende gesig;

Uit wie het Jesus se gehoor bestaan toe Hy die gelykenis vertel het? Heel waarskynlik mense wat getrou was aan die tempel en sy gebruike, ander weer wat dit nie was nie, en heel waarskynlik die familiehoofde en tempelamptenare, die priesters (die magtige elite wat die tempel beheer het), en die Leviete (helpers van die priesters, hulle was onder andere verantwoordelik vir die verskaffing van musiek, reukoffers en heilige/ongesuurde brood, die instandhouding van die tempelgordyne, die hantering van die tempeladministrasie, die finansies van die tempel asook die verpakking van ‘kosher’ vleis). Samaritane sou heel waarskynlik nie deel van die gehoor gewees het nie, want hulle sou met die hoogste uitsondering naby Jerusalem welkom gewees het.

Nou vertel Jesus aan sy gehoor dat op ‘n keer ‘n Judeër op die pad tussen Jerigo en Jerusalem aangeval is, en dat die wat hom aangeval het hom halfdood vol bloed en kaal langs die pad gelos het. Toe kom daar ‘n priester en Leviet verby, sien die man lê, en gaan verby.

Die feit dat die priester en die Leviet die man langs die pad gelos het en verbygegaan het, sou heel waarskynlik een van twee reaksies by Jesus se hoorders uitgelok het: die wat nie baie ooghare vir die tempel gehad het nie (veral omdat die belangrike tempelpersoneel soms kop in een mus was met die Romeine, en ook saam met die Romeine geweldige belastings van die doodgewone landmense/boermense gehef het), sou heel waarskynlik bevestigend geknik het en gesê het: ja, tipies van hulle wat so belangrik is, hulle het mos nie tyd vir die gewone mense nie, hulle dink net aan hulleself, hier is maar net weer 'n bewys daarvan.

Die weer wat trou aan die tempel was sou weer gevoel het hulle word aangeval. Want daar was immers goeie rede hoekom 'n priester en Leviet nie byvoorbeeld aan bloed mag vat nie. Of miskien was die persoon dood, en nie eers 'n priester mag aan 'n dooie liggaam geraak het nie (want dan sou hy simbolies dood wees vir 'n tydperk, en nie die tempeldiens kon verrig nie, dit waarnatoe hy juis op pad was). Dus: een groep sou hulle met die slagoffer geïdentifiseer het, want die pad was gevaarlik, en hulle sou so half in die mou vir die priesters en Leviete gelag het. Aan die ander kant sou die wat by die tempel betrokke was onmiddellik die nekke styf gemaak het omdat Jesus hulle as liefdeloos beskryf, terwyl hulle maar net doen wat voorgeskryf is.

Asof daar nie nou al genoeg spanning onder die teenwoordiges daar by Jesus was nie, gaan Jesus nou verder en vertel Hy die gelykenis so asof daar fisies tussen hierdie twee groepe 'n Samaritaan aangery kom. En nou begin die rooi ligte erg flikker. Nou begin die humeure eers om warm te raak. Hoekom?

Omdat die Jode geen maar geen ooghare vir die Samaritane gehad het nie. En laat ek vinnig en kort die agtergrond hiervan gee. Na die eerste ballingskap in 722 v C het die Jode wat agtergebly het met onder andere die Assiriërs ondertrou, en so het die Samaritane ontstaan. Hulle het egter nog steeds die Tora aanvaar, en hulle plek van aanbidding was Geresim [digby die moderne Nablus]. Verder: hierdie tempel by Geresim is gebou terwyl daar nie 'n tempel in Jerusalem was nie. Hieroor was die Jode nie gelukkig nie. Nie alleen het hulle nie ‘n tempel gehad nie en die Samaritane wel, het die Samaritane nog boonop hulle wet ook in hulle tempel gebruik. In 130 v.C. gebeur dit toe dat Johannes Hyrkanus., ‘n Jood, hierdie tempel verwoes, wat natuurlik die vyandigheid tussen die Judeërs/Jode en Samaritane verder verhoog het. Die Judeërs en Samaritane het om hierdie, en nog baie ander redes, dus nie langs dieselfde vuur gesit nie. So groot was die vyandigheid dat Jode, as pelgrims op pad vanaf Galilea na Jerusalem, buite om Samaria moes beweeg, anders is hulle doodgemaak.

Maar kom ons kom terug by die Samaritaan wat Jesus so rustig hier aangery laat kom. Heel waarskynlik was hierdie Samaritaan 'n ryk handelaar. ‘n Moontlike bewys hiervan is die feit dat hy baie geld, asook olie en wyn by hom gehad het. Handelaars, wat baie welgesteld was, was as veragtelik beskou, omdat in die tyd van Jesus gereken is dat iemand wat ryk word, dit altyd ten koste van ander doen. Handelaars is dus as diewe gereken, maar tog verdra, omdat hulle ware gehad het om te verkoop wat nie plaaslik gevind kon word nie. Dit was dan ook eintlik die enigste rede hoekom ‘n Samaritaan welkom in die omgewing sou wees. Handelaars het ook gereeld herberge besoek, plekke wat slegs deur persone met geen sosiale status en sonder eie familie besoek is. Maar ook plekke waar die vroue van die nag hulle ware uitgestal het.

En wat maak Jesus? Hy vertel aan sy hoorders dat hierdie Samaritaan stop, en geen moeite ontsien om die man op die grond te help nie. Ja, Jesus maak hom die held van die verhaal. Kan ons onsself indink wat die mense daar teenwoordig gedink het?

Ons kan maar net raai. Die wat vroeër in hulle mou vir die priesters en die Leviete gelag het, was nou aan hulle kant, want die Samaritaan was immers alle Jode se vyand. En dit het seer gemaak om te hoor dat ‘n Samaritaan die een is wat help. In so ‘n posisie het hulle nooit gedink sou hulle kom nie.

So ook het die priesters en Leviete waarskynlik ook gevoel. Ook hulle was in ‘n posisie waar hulle nie wou wees nie. Heel waarskynlik sou hulle wou help, maar omdat hulle op pad was na die tempel, kon hulle nie help nie. Want dan sou hulle onrein wees, en nie die tempeldiens kon lei nie. Maar dit was die posisie waarin hulle was, en hulle kon nie daaruit nie.

Presies dieselfde, broers en susters, het egter ook gegeld vir die Judeër/Jood, die man wat langs die pad gelê het. As hy so kon kies, sou hy nie deur 'n Samaritaan gehelp wou word nie. Meer nog: hy sou ook nie in 'n herberg wou land met al die konnotasies wat aan ‘n herberg gekoppel was nie. Maar hy kon niks doen nie. Hy was oor hulp verleë.

Maar ook die Samaritaan in die vertelling, broers en susters, is in ‘n posisie waarin hy nie wil wees nie. Hoekom? Want 'n Samaritaan met gesonde verstand sou nooit so iets doen nie. 'n Samaritaan sou nooit 'n Jood help nie.

So verstaan, broers en susters, is hierdie gelykenis nie ‘n vertelling wat ‘n punt wil maak oor barmhartigheid of die naaste nie, maar oor slagoffers. Dit is ‘n vertelling oor mense wat slagoffers van hulle omstandighede is, want in ‘n situasie/posisie gekom het waarin hulle nie wil wees nie: die Jood wat op die pad lê is ‘n slagoffer van geweld (wat hy nie wil wees nie) en word deur 'n Samaritaan gehelp (wie nou nie sy eerste keuse sou wees nie), op pad na ‘n herberg (waarheen hy eintlik nie wil gaan nie).

Die hoorders van die gelykenis is ook slagoffers: hulle wil nie hoor dat ‘n Samaritaan help nie. So ook is die priester en Leviet slagoffers van die omstandighede: hulle sou wou help, maar kan nie. En presies dieselfde geld vir die Samaritaan: as hy kon kies, sou hy nie 'n Jood wou help nie.

Of kom ons sê dit anders. So verstaan, wat wil Jesus met hierdie gelykenis sê? In die koninkryk van God, daar waar God in beheer is, word hulp aangebied aan hulle wie geen reg daartoe het nie (nie verdien nie), aan hulle wat nie weerstand kan bied om dit nie te ontvang nie, en hulp kom altyd vanaf iemand of iets wat iemand nooit sou verwag nie.

Dus: in die koninkryk kom hulp as 'n verrassing. In die koninkryk verras God, al verdien jy nie hulp nie, al wil jy dit soms nie hê nie, God help. Hy is met sy kinders besig. En Hy help so, dat jy nie weerstand kan bied nie. Hy voer jou mee, jy word uitgelewer aan die plekke waar Hy jou neem. Jy wil brieke aanslaan, maar God laat dit nie toe nie. Jy is in vir ‘n ding, al wil jy nie wees nie.

Wat bedoel ek hiermee, broers en susters? Kom ek verduidelik. Ook ons vanoggend hier is almal slagoffers. Ons is slagoffers van ons aard en natuur. Ons sondig. Dit is ons wese. Ons is daaraan uitgelewer. En daarom, al wil ons wraggies, haat ons God soms met wat ons dink, doen en sê. Ons kom mekaar te na. Ons laat na. Ons doen verkeerd.

Met die gevolg? Ons staan op ‘n plek voor God waar ons nie wil staan nie. Ons is eintlik verlore. Ons is soos die Jood op die pad wat lê en bloei. En al wil onsself opstaan van die pad af, kan ons nie. Ons kan onsself nie uitred nie. Al wil ons. Maar ook wil ons nie hoor dat ons ander se hulp nodig het nie. Veral nie God se hulp nie. As ons kon kies, sou ons self wil regkom. Ons eie heil uitwerk. Dit is in elk geval hoe dinge in ons tyd werk. Elkeen vir homself. Jy moet maar self regkom.

Maar dan die verrassing. God laat dit nie toe nie. Teen alle verwagting in, teen God se heiligheid in, kom Hy na ons in Jesus Christus. Verras Hy ons in Christus. Aan die begin wil ons brieke aandraai. Want Here, dit is goed om nou u kind genoem te word, maar ek wil darem nie dit of dat, of hiertoe of daartoe nie. Ja, Here, ek hou nie van die harde rug van hierdie donkie nie, en die herberg waarheen u met my op pad is, is nou nie eintlik waar ek sal wil wees nie.

Maar God bly verras. Hy bly gee, Hy bly met ons besig. Tot ons — op ‘n keer — ewe skielik besef: maar kyk net hoe goed is God vir my. Ek is nie meer slagoffer nie. Nee. Ek lewe. Ek ervaar God by my. Die lewe is goed. Dit is lekker om deel van God se plan te wees.

En van die oomblik af wat dit met ‘n mens gebeur, broers en susters, van daardie oomblik af kan ‘n mens nie wag om weer en weer deur God verras te word nie (al gebeur wat, al vra God wat). Maar ook, en veral: van daardie oomblik af kan ‘n mens ook nie wag om ander te verras nie.

Kom ons erken aan God dat ons slagoffers is van ons aard en natuur, dat ons is waar ons nie wil wees nie, en Hy sal ons verras, Hy sal ons bring waar ons nooit gedink het moontlik sou wees nie! Mag hierdie reis van u, saam met God, opwindend wees!
Amen