Lukas 15:25-32

Moet nie die fees misloop nie!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die oudste seun in hierdie gelykenis lyk op die oog af beslis na ‘n seun wat enige pa of ma kan begeer. Want op die oog af lyk hy werklik na ‘n perfekte kêrel. Hy trap in sy spoor, hou by die reëls en behandel almal met respek. Hy werk toegewyd soos ‘n slaaf. Hy verontagsaam geen opdrag nie. Dus uiters gehoorsaam.

Ja, sy getuigskrif lees — waar dit handel oor sy karakter — soos volg: onbesproke. Reputasie: silwerskoon. Lojaliteit: bo verdenking. Immers, terwyl sy jonger broer ‘n wilde lewe lei, bly hy tuis en sorg vir die oes en die boerdery. Beslis iemand wat jy sal wil hê by jou dogter moet kuier.

Dus ook, broers en susters, op die oog af beslis ‘n seun wat enige ouer kan begeer. Maar net op die oog af. Want binne hierdie kêrel kook, bruis en woel dinge. Daar binne waar niemand kan sien nie. Daar lyk dit anders. Binne in is alles hol en leweloos, alles is bitter. Jaloesie verteer hom, woede het sy hart oorgeneem en sy verbitterdheid het hom lankal reeds blind gemaak. Hy is kwaai, hy is eintlik lelik.

So anders, broers en susters, as die eerste twee mense van wie Jesus ons in hierdie drie gelykenisse vertel. Die eerste persoon oor wie Jesus iets hier sê is die herder. Hy het honderd skape, waarvan een wegraak. As hy ‘n sakeman was, sou hy seker die een ou skapie as verlies afgeskryf het. Maar herders dink nie soos sakemanne nie. Hy soek, en bly soek. En uiteindelik bring hy die skaap op sy skouers terug. Dadelik nooi hy sy bure en vriende, en hulle vier fees.

Die tweede fees word deur ‘n vrou gehou. Ook sy verloor iets. ‘n Muntstuk. En sy begin soek. Sy skuif die meubels weg, pak die kaste en laaie uit. Lig al die matte op. En daar is dit toe. En ook sy nooi al haar vriende en bure bymekaar, dat die fees kan begin.

En dan is daar die bekende verlore seun. Ons ken die gelykenis baie goed. Daarom net ‘n paar opmerkings. Deur sy erfporsie te vat en na ‘n vreemde land te vertrek waar hy eventueel saam met varke bly, skryf hy sy familie en geloof af. Hy word dus eintlik ‘n niemand, ‘n iemand vir wie jy nie meer mag omgegee het nie. Maar hy verloor ook meer: hy verloor homself, sy waardigheid en selfrespek. HY het berou, en hoop op ‘n werkie op sy pa se plaas en dalk miskien ‘n buitekamer. En wat kry hy? ‘n Stoeplig wat brand en ‘n pa wat sy afwesige seun se plek elke aand aan die tafel gedek het. En natuurlik: weer is daar ‘n fees!

Maar toe word die oulike kêrel met die mooi getuigskrif kwaad. Toe begin sy ware kleure na vore te kom. Dit wat al die tyd binne gebroei het, kom kuier nou so bietjie ook buite daar waar ‘n mens kan sien. En daar sit hy buite, weg van die fees, dikmond en sê heel waarskynlik vir homself: So, is dit hoe ‘n mens erkenning in hierdie huisgesin kry? Word lekker dronk, mors al jou pa se geld uit, en dan word daar vir jou ‘n fees gereël? En sy slotsom: ek is ‘n slagoffer van onregverdigheid. Hy is ‘n onreg aangedoen. Wat nou gebeur, is darem net nie reg nie. Die lewe kan nie, en mag darem nie, so met ‘n mens maak nie.

En toe sy pa na buite gaan om hom te soek en in te nooi, borrel dit wat al die jare binne was na buite: een vir een begin hy die onregte — wat hy dink hy aangedoen is — op te noem. En dit klink amper asof hierdie onregte begin het die dag toe hy gebore is: ek het soos ‘n slaaf gewerk, ek was nog nooit ongehoorsaam nie, pa het nog nooit vir my iets gegee vir my en my vriende nie — en nou kom hierdie slegte seun terug en kyk wat doen pa vir hom! Dit, dink ek, is darem wraggies nie billik nie!

Dit wil amper lyk, broers en susters, of al twee hierdie seuns tyd in die varkhok deurgebring het. Die varkhokke se name het maar eintlik net van mekaar verskil. Die een hok se naam was rebelsheid, en die ander hok se naam was selfbejammering. En toe kom die jongste een huis toe. Maar die oudste een kom nie. Hy bly sit in die modder. En al wat hy sê is: dit is alles so onregverdig. Niemand is vir my lief en niemand gee vir my om nie! En hy bly sit in daardie tronk van verbitterdheid.

Hierdie tronk, broers en susters, is ‘n gevaarlike plek. Dit is swart en koud, en maklike ontsnapping daaruit is baie moeilik. Die mure is glad van haat, en die vloer van woede hou ‘n mens se voete vas. En ‘n digte miswolk van selfbejammering belemmer die uitsig op die uitgang ernstig.
Wat meer is, broers en susters, is dat hierdie sel sekere tye in ‘n mens se lewe as ‘t ware by jou smeek om in te klim. Kom bly hier, want het jy nie al genoeg seergekry nie? Dink maar aan al die verwerpings wat jy moes beleef. Is jy nie al genoeg vergeet en agtergelaat nie? Daarom, kom gerus binne, hier is nog baie plek.

Wanneer ‘n mens so na die lewe kyk, broers en susters, is daar eintlik maar net een van twee keuses. ‘n Mens kan, soos baie ongelukkig kies, jou wonde binne gaan vasketting. Of jy kan, voor hierdie gedagtes van jou in haat en diepe bitterheid omgesit word, besluit om jou daarvan los te maak.

Hoekom? Hoekom is dit enigsins moontlik? Want in jou sak is daar ‘n uitnodigingskaartjie. Met God se hand self geskryf. ‘n Kaartjie wat sê: kom woon asseblief my fees by. Jou plek is gedek by die tafel. Jou naamplaatjie is daar. Want my kind, omdat jy my kind is, kan niemand hierdie voorreg van jou wegneem nie. Soos die een wat sy skaap, en die een wat haar muntstuk gevind het.

Juis dit het die vader vir die oudste seun gesê: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune’. En presies dit sê God, broers en susters, vanoggend vir u en vir my.

Wat maak God, broers en susters, wanneer ons harte soms ook maar bitter is. Hy sê ook vir ons: my kind, jy is altyd by My, en alles wat Ek het, is ook joune. Anders gesê: Hy herinner ons dat dit wat ons het, baie belangriker is as dit wat ons nie het nie. Jy is steeds sy kind, jy het nog steeds ‘n verhouding met Hom. En niemand kan dit van jou wegneem nie. Ja, ons gesondheid kan ons verloor, ons besittings kan gesteel word of vergaan, maar nie ons verhouding met God nie.

Die oudste broer was verbitterd omdat hy so gefokus het op dit wat hy nie gehad het nie, dat hy vergeet het van dit wat hy wel het. Sy pa moes hom herinner aan dit wat hy alles gehad het en nog steeds het. Soos God ook maar dikwels met ons moet doen. Hy het nog sy werk gehad, sy erfporsie, sy naam, sy plek aan die tafel by die fees.

Al wat hy nie gehad nie, was die kollig, en die feit dat daar nie met sy jonger broer gebeur het soos hy sou wou gehad het nie. En omdat hy nie tevrede was met wat gebeur het nie, het hy die fees misgeloop.

Hoe lyk dit met u en met my, broers en susters? Wat sien ons raak rondom ons? Dit wat ons het, of dit wat ons nie het nie, of dit wat ons dink ons behoort te gehad het? Wat ons met die oë sien, bepaal die toestand van ons hart. As ons sien wat ons het, veral dat ons aan God behoort, sal ons hart vol vreugde wees en sal ons lewe een stuk feesviering wees. Maar as ons net sien wat ons nie het nie, sal ons harte bitter wees, met al die gevolge daarvan.

Ons sê so maklik ‘God is vir ons alles’. En bedoel dit ook. Maar is God vir ons alles? Want as God is, het ons niks meer nodig nie. En sal ons nie verlang na meer nie. Ons sal meer na God verlang. Na sy liefde en genade en teenwoordigheid. Dit maak ‘n mens se lewe vol. Dit maak die lewe ‘n fees!
Amen