Johannes 1:19-23

'n Gelykenis vir vandag



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer 'n mens na die gelykenisse wat Jesus vertel so 'n bietjie ontleed, kom 'n mens gou agter dat daar in al Jesus se gelykenisse 'n paar gemeenskaplike kenmerke na vore kom wat 'n mens maklik kan aantoon sonder om enige werklike diepgaande teologiese kennis te hê. Ek wil vanoggend net drie sulke gemeenskaplike kenmerke noem:

  • Jesus se gelykenisse volg, of is 'n reaksie op, wat mense gedoen of gesê het. As iemand byvoorbeeld meen dat hy belangriker is as 'n ander, vertel Jesus 'n gelykenis (in hierdie geval dié van die Fariseër en die tollenaar). Of, as iemand nie wil vergewe nie, vertel Jesus die gelykenis van man wat iemand baie geld geskuld het, sy skuld vrygespreek gekry het, maar toe hy buite kom nie iemand, wat hom baie minder geskuld het, wil vryspreek nie.
  • Tweedens het Jesus in sy gelykenisse van beelde en voorbeelde gebruik gemaak wat algemeen bekend was aan en deel was van sy hoorders se leefwêreld. Dink maar aan die gelykenis van die saaier (die meeste mense in Galilea was boere), die gelykenis van die mosterdsaad, die verlore muntstuk, of dié van die verlore skaap.
  • Derdens, broers en susters, het Jesus se gelykenisse gehandel oor die koninkryk van God, dit wil sê, hoe mense, in hulle daaglikse handel en wandel, moes optree of lewe sodat hulle in hulle woorde en dade iets van die koninkryk van God sigbaar sou maak. Veral Matteus is byvoorbeeld baie lief daarvoor om sy gelykenisse te begin met die woorde `die koninkryk van die hemel/God is soos iets of iemand', waarop die gelykenis dan volg.

Ek wil vanoggend, broers en susters, van hierdie eienskappe van Jesus se gelykenisse gebruik maak om ook 'n gelykenis te vertel. Ook ons het vanoggend 'n opmerking waarby ons kan begin, naamlik, maak die pad van die Here reguit. Tweedens, broers en susters, wil ek gebruik maak van beelde en gewoontes in ons eie tyd om, soos Jesus, die gelykenis te laat lewe en te laat spreek. En derdens, ook ons gelykenis vanoggend wil iets sê oor die koninkryk van God, met ander woorde, hoe ons behoort te lewe ten opsigte van 'n bepaalde saak en hoe ons behoort op te tree om iets sigbaar te maak van God se koninkryk.

Hier is die gelykenis. Dit is 'n moderne gelykenis, en soos in die geval van Jesus se gelykenisse, 'n fiktiewe verhaal, 'n storie, dit wil sê, opgemaak.

Op 'n keer was daar 'n dorpie wat langs 'n groot rivier geleë was. Wanneer 'n mens met die hoofpad na die dorpie gereis het, moes jy, net voor jy die dorpie inkom, oor 'n groot brug ry wat oor die rivier gebou was. Een nag het die rivier afgekom en die brug weggespoel. Omdat die brug op 'n gevaarlike skerp draai geleë was, het 'n hele paar motors gedurende daardie nag oor die kant van die brug gery en in die rivier beland.

Die volgende oggend het die burgemeester van die dorp 'n paar mense bymekaar geroep om 'n plan te beraam om die motoriste te beveilig totdat die brug herstel kon word. Hulle geluk was dat daar 'n smal paadjie net langs die brug was wat langs die rivier afgeloop het waarmee 'n mens gelukkig ook by die dorpie kon uitkom. Die plan wat hulle gemaak het was eenvoudig tog baie effektief.

Sowat 'n twee honderd meter voor die draai het iemand stelling gaan inneem met 'n groot bord wat van sy skouers afhang waarop daar gestaan het `Pasop, brug verspoel’. ‘n 100 meter verder het ‘n tweede gaan staan, ook met 'n bord wat oor sy skouers staan, waarop daar gestaan het: `Verminder spoed'. En net by die skerp draai het 'n derde gaan staan met ook 'n bord om die skouers wat gelees het: `Hou regs vir die regte pad', met 'n vinger wat die veilige roete aangedui het.

So het die mans gaan staan, gereed om die motoriste te waarsku teen die verspoelde brug. En aanvanklik het die plan baie goed gewerk. Wanneer 'n motor die brug genader het, het die eerste man opgestaan en na sy teken gewys wat lees `Brug verspoel'. Dan het die tweede man 100 meter verder na sy teken gewys wat lees `Verminder spoed'. En soos die motoriste die teken gehoorsaam het, het hulle maklik en betyds die derde teken gesien wat lees `Hou regs vir die regte pad'. En alhoewel die pad maar smal was, het die motoriste gehoorsaam en was hulle veilig. Dus: omdat die drie mans hulle werk gedoen het, is baie mense weerhou van gevaar en skade.

Maar na 'n paar uur het die drie mans laks begin raak. Die eerste man het moeg en vaak geword en besluit dat hy so 'n bietjie sal gaan sit en slaap, maar darem op so 'n plek waar die motoriste daarom nog sy teken kon sien. Terwyl hy gesit en slaap het, het sy arm egter oor de teken gegly, en al wat die motoriste kon sien was net die woordjie `Brug', in plaas van `Brug verspoel'.

Die tweede man het nie moeg geword nie, maar wel so 'n bietjie verwaand. Want hoe langer hy gestaan het om die mense te waarsku, en hoe langer die mense aan sy waarskuwingsbord gehoor gegee het, hoe belangriker het hy gevoel. 'n Paar het selfs van die pad afgetrek om hom te bedank vir 'n welgedane taak. Baie dankie het hulle gesê, as dit nie vir jou was nie, kon ons dood gewees het.

Hulle is heeltemal reg, het die tweede man gedink, hoeveel mense sou nie dood gewees het as dit nie vir my was nie. En nie lank nie, of hy het begin dink dat hy net so belangrik as sy teken is. En daarom het hy sy teken afgehaal en op die grond gesit langs die plek waar hy gestaan het. Wat hy egter nie besef het nie, is dat hy een woord van sy teken toegestaan het. En plaas van `Verminder spoed', het die motoriste net gelees `Verminder'. En so het die meeste motoriste gedink hy adverteer een of ander diëetplan, en glad nie spoed verminder nie.

Die derde man weer het nie moeg geword soos die eerste of verwaand soos die tweede nie. Nee, hy het begaan geraak oor sy teken en dit wat daarop gestaan het Wat hom gehinder het was dat dit boodskap van sy teken so streng en gebiedend was. Mense, het hy begin dink, moet mos altyd 'n keuse kan hê oor hoe hulle wat wil doen. Wie is ek, het hy gereken, om vir ander te besluit wat die regte pad en die verkeerde pad is?

Daarom het hy besluit om die bewoording van sy teken te verander. Hy het die woordjie `Hou' regs vir die regte pad uitgevee en dit met die woordjie `Oorweeg' vervang, sodat sy bord nou gelees het `Oorweeg regs vir die regte pad'.

Maar ook hierdie verandering het hom nog nie tevrede gestel nie. Mense, het hy gedink, stem nie altyd saam oor wat presies die regte of die verkeerde is nie. En omdat hy bang was 'n paar motoriste stop en begin met hom te stry oor wat nou eintlik reg en verkeerd is, vee hy toe die woord `regte' uit, en vervang dit met die woord `aanbevole', sodat sy bord nou gelees het `Oorweeg regs vir die aanbevole pad'.

Maar ook dit het nog nie vir hom reg geklink nie. Die mense, het hy gedink, kan miskien aanstoot neem as hulle dink ek wil voorgee dat ek iets weet wat hulle nie weet nie. Daarom het hy besluit om die woorde `aanbevole pad' te vervang met 'n meer neutrale frase. En na hy klaar was, het hy nou tevrede teruggestaan en na sy bord gekyk wat gelees het: `Oorweeg regs vir een van twee ewe geldige alternatiewe'.

En so, broers en susters, terwyl die eerste man geslaap het met sy arm oor sy bord wat net lees `Brug', en die tweede man selfvoldaan regop voor sy bord gestaan het waar die motoriste net `Verminder' kon lees, en die derde man sy boodskap tot iets eintlik niksseggend verander het, het die een motor na die ander in die rivier in gejaag en het baie mense gesterf.

Hoe, broers en susters, maak ons die paaie vir die Here reguit? Of anders gesê: Hoe lyk die tekens wat ons dra? Daar kom tye in elkeen van ons se lewens wanneer ons, soos die drie aan die begin gedoen het, die regte tekens dra. Wanneer ek byvoorbeeld so pas belydenis van geloof afgelê het, of baie onlangs my kind gedoop het, of dalk deur 'n groot en lang stuk lyding gegaan het, het ons die manier om werklik met oorgawe vir die Here te leef. Dan het ons sulke goeie en toegewyde voornemens. En die borde wat ons dra lees dan baie duidelik: die Here verwag van ons om so of so te lewe. Ek moet my kind so of so voorleef, want dit is wat die Here van my as ouer vra. Of: ek het so pas belydenis van geloof afgelê, en daarom kom ek Nagmaal toe, leef soos iemand wat aan die kerk van die Here behoort, en maak moeite met my verhouding met die Here. Of: omdat die Here vir my so goed was na my lang siekte of groot bekommernis, kan ek nie anders as om uit dankbaarheid met my hele lewe te sê: so lewe 'n kind van God nie.

Maar ongelukkig, broers en susters, word ons soms ook soos die eerste man net voor die draai. Ons raak lui, ons raak moeg om moeite te maak en in te sit wat betref ons verhouding met die Here. En baie gou is ons nie meer so toegewyd nie. Nie dat ons nie meer moeite maak nie, dat ons nie meer glo nie. Ons doen dit net nie meer met soveel oorgawe nie.

Ander weer bly met groot toewyding te lewe soos God van hulle vra. Maar omdat ek so baie insit, so baie moeite maak, omdat ek weet wat die regte is en wat die verkeerde is, en veral, omdat net ek weet wat die regte besluite en die verkeerde is, word ek so belangrik dat ek nie meer ander om my raaksien nie. Ek is dalk so taakgeörienteerd dat ek nie meer die mense om my begin raaksien nie. In elk geval, as ek dan so belangrik is, wie anders se opinie of mening kan dan tel. Wie anders as ek weet van beter. So, ander moet maar liewer na my luister, want ek weet die beste.

Die gevaarlikste, broers en susters, is wanneer ons word soos die laaste man. Waar ons begin reken: ons lewe in 'n tyd waar almal die reg tot keuses het. So, wie is ek om ander te wil voorskryf hoe hulle moet lewe? Buitendien, 'n mens moet darem nie aanstoot gee nie.

En voor ons agterkom, broers en susters, sê ons vir ons kinders, soms met die mond, maar meestal met ons voorbeeld: kies jy maar self hoe jy wil maak. Sommige dinge is goed, ander is minder goed. Hierdie keuse is baie goed, die ander een minder goed, maar nie te sleg nie. Maar eintlik is albei goed. So oorweeg maar self hoe jy wil maak.

Dit vra die Here nie van ons nie. Wat Hy van ons vra is om sy paaie reguit te maak. Om duidelike tekens te dra. Tekens wat by ander geen vrae mag laat oor hoe iemand behoort te lewe wat aan God behoort nie. Tekens wat ander na die koninkryk moet lei, ondubbelsinnig. Teken wat aan ander, of dit nou ons kinders, vriende, maats, of wie ook al is, moet wys: hierdie is die pad na die koninkryk.

Maar terwyl ons moeg word, broers en susters, terwyl ons belangriker as die koninkryk begin word, terwyl ons reken dat ons darem nie vir ander mag besluit nie, kom my buurman nie meer kerk toe nie, laai ek my kinders by die kategese af, raak ons jongmense net na die belydenis van hulle geloof weg, woon al hoe minder lidmate die Nagmaal by, is al hoe minder van ons bereid om daar, buite in die wêreld, vreesloos vir die Here te getuig. En so raak ons, hulle, en die wêreld, die pad byster.
Amen