Matteus 21:28-32; 22:1-14

Ons is almal genooi



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Enige uitnodiging wat 'n mens ontvang, is spesiaal. Want die feit dat 'n mens na 'n geleentheid genooi word, bete­ken dat iemand jou graag daar wil hê, dat jy vir iemand spesiaal is. Juis daarom, ook, broers en susters, is dit so belangrik om alle uitnodigings op 'n beleefde en vriende­like manier te beantwoord (hieroor later).
Uitnodigings, broers en susters, het verder nie net te make met mense wat mense nooi nie. Ook God, ek wil amper sê, veral God, nooi uit. Ons God is 'n God van uit­nodigings, het iemand eendag gesê, en daarom is die Bybel vol wonderlike uitnodigings. Hy het diere na die ark genooi, Dawid genooi om koning te word, Israel genooi om die land waar hulle slawe was, te verlaat, en so kan ons aangaan.

Oor en oor gebruik God in sy Woord die woordjie kom:

  • Kom nou laat ek die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, hulle sal wit word soos sneeu (Jes 1:18);
  • O almal wat dors het, kom na die waters (Jes 55:1);
  • Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee (Matt 11:28);
  • Kom agter my aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word (Mark 1:17);
  • As iemand dors het, laat hom na my toe kom en drink (Joh 7:37), om maar net 'n paar te noem.

Verder, broers en susters, is daar ook verhale in die Bybel wat handel oor mense wat genooi is, deur ander mense, maar eintlik deur God. Want dit is waaroor die meeste van hierdie verhale handel. Beslis, in elke geval, die twee verhale wat ons vanoggend saamgelees het, die verhale/gelykenisse oor die twee seuns en die koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees gehou het.

In die eerste verhaal word twee seuns genooi om in die wingerd te gaan werk, en hulle reaksies verskil hemels­breed: die een weier eers, maar voel later sleg en gaan tog wel, die ander sê hy sal gaan, aanvaar die uitnodiging, maar ignoreer sy belofte later.

In die tweede verhaal reël 'n koning vir sy seun 'n bruilof. Hy nooi baie mense daarheen, maar hulle wou nie gaan nie. Party het allerhande verskonings gemaak, ander het eenvoudig geweier om te gaan, en ander het selfs die koning se boodskappers wat hulle kom herinner het, doodgemaak.

Het u al ooit gewonder, broers en susters, hoe Jesus ge­voel het toe Hy hierdie verhale vertel het? Nogal in die laaste week van sy lewe. As u al 'n persoonlike uitnodiging aan iemand gerig het, en hierdie persoon antwoord nie eers nie, maar ignoreer u uitnodiging volledig, sal u iets verstaan van wat Jesus moes gevoel het toe Hy hierdie verhale vertel het.

Want Hy het in sy lewe baie mense uitgenooi. Uitgenooi tot 'n nuwe lewe, 'n nuwe wyse van lewe, uitgenooi tot 'n nuwe wyse van dink oor God, uitgenooi tot die ervaring om God teenwoordig te kan beleef, uitgenooi tot 'n nuwe broederskap waar mense vir mekaar omgee, waar daar plek is vir sondaars, vroue en kinders, siekes, verstotenes, alleenlopers, noem maar op.

Party het positief gereageer, ander (die meeste) het Hom verwerp, en ander weer het sy uitnodigings doodeenvoudig geïgnoreer, hulle nie aan Hom gesteur nie.

En soos Jesus die mense in sy tyd genooi het, broers en susters, nooi God vandag nog, vir u en vir my. Hy nooi ons om deel te word van sy koninkryk, 'n koninkryk wat te make het met hierdie lewe en die lewe hierna. Vir wie nooi Hy? Hy nooi almal wat wil kom. Hy nooi almal, Hy nooi vir jou en vir my.

Openbaring 3 sê dat Hy by ons harte staan en klop. En om God se klop te hoor, broers en susters, om sy stem te herken wanneer Hy roep, wanneer Hy nooi (en dit gebeur natuurlik op verskillende maniere), is om God te ken. Reeds te ken. Want as God vir u en vir my nooi, beteken dit dat ons nie maar net iewers van God gehoor het nie, maar dat ons God se roep, sy klop, persoonlik ontvang, persoonlik tot ons elkeen gerig.

God se uitnodiging, broers en susters, is verder ondubbel­sinnig en baie spesifiek: Hy gee alles, letterlik alles (sy Seun, die lewe, wat ons nodig het), en daarom vra Hy alles. Eintlik baie eenvoudig. En die keuse is ons s'n. Oor baie dinge in die lewe het ons geen beheer nie. Ek kon nie kies hoe groot my voete moes wees, hoe lank ek gaan word, of hoe vinnig ek kan hardloop nie.

Ek kan ook nie werklik kies wat hierdie jaar met my gaan gebeur nie. Goed, keuses wat ons maak beïnvloed natuur­lik dikwels wat met 'n mens gaan gebeur, maar u weet, net so goed soos ek, dat sekere dinge in die lewe, dinge wat oor 'n mens kom, niks met keuses, ons keuses, te make het nie. Want sekere dinge kom soms maar net oor 'n mens.

Maar wanneer God nooi, broers en susters, dan kan ons kies. Moet ons kies. Wat ek dink ons somtyds eenvoudig net nie doen nie. Ons stel ons keuses uit. Ons verskuif die oomblik waarop ons sekere keuses sal moet maak. Weer en weer, en later onbepaald.

Gee meer aandag aan jou verhouding met My, sê God terwyl Hy by die deur staan en klop. Ek hoor Here, antwoord ons, maar net nie nou nie, later. Sien raak dat Ek jou versorg, en veral versorg het toe jy dit bitter nodig gehad het, sê die Here, wanneer jy al jou voorspoed sien en jou gesondheid geniet, sien raak dat ander jou nou nodig het. Ek sien dit raak Here, baie dankie, maar net nie nou vir ander mense of 'n bietjie van my tyd nie. Ek is te besig.

Of, dalk die beste voorbeeld: God nooi ons om deel te word van die ewigheid. Glo in My, en jy sal lewe. Seker, broers en susters, die belangrikste besluit wat iemand in sy lewe kan neem. Wat, maak ons daarmee? Wat maak ons met al die uitnodigings wat Hy aan ons rig?

Daar is seker niks in die lewe, broers en susters, wat so seer maak as wanneer jy 'n baie spesiale uitnodiging tot iemand wat vir jou baie spesiaal is rig, net om te hoor dat hy of sy later, wanneer hulle daarby uitkom, na ander belangrike dinge afgehandel is, 'n besluit oor jou uitnodi­ging sal neem. Of nog meer: om verwerp te word in terme van jou uitnodiging is reeds erg, maar sê nou maar so ie­mand ignoreer jou uitnodiging, of neem dit hoegenaamd nie ernstig op nie?

Is dit nie presies, broers en susters, wat u en ek soms met God se uitnodigings maak nie? Soms sê ons ons sal doen wat Hy vra, maar doen dit nie, omdat ons te besig is. Of, ons sê nee, ons het nie nou tyd nie, ons sal nie doen wat Hy vra nie, en omdat ons later bang is God sal ons straf, doen ons tog wat Hy vra, maar sonder dat ons harte in die saak is. Of: ons is vol verskonings soos hulle wat na die bruilof genooi is. Dit, terwyl God ons nooi omdat ons vir Hom spesiaal is. Onvervangbaar. En al wat Hy wil hê is dat ons by Hom sal wees.

Ek wil afsluit, broers en susters, met 'n kort vertelling wat van toepassing is op wat vanoggend gesê is:

Daar was een keer 'n man wat God uitgedaag het om te praat.

Laat die bos brand soos vir Moses, God. Dan sal ek U volg.
Laat die mure omval soos vir Josua, God. Dan sal ek veg.
Maak die storm stil soos vir die dissipels, God. Dan sal ek gehoorsaam.

Toe gaan sit die man by 'n bos, teen 'n muur, naby die see, en wag vir God om te praat.
En God het die man gehoor, en toe het Hy geantwoord.
Hy het 'n brand gestuur, nie vir 'n bos nie, maar 'n brand wat mense se harte die geloof aan die brand gesteek het.
Hy het 'n muur laat omval. nie van stene nie, maar 'n muur van sonde wat skeiding maak tussen God en mense.
Hy het 'n storm stilgemaak, nie op die see nie, maar in baie mense se siele.

En God het vir die man gewag om te reageer. En gewag, en gewag, en gewag.

Maar omdat die man
na bosse gekyk het en nie na harte nie,
na stene en nie na lewens nie,
na oseane en nie na siele nie,
het hy besluit dat God niks gedoen het nie, dat God hom nie gehoor het en hom dus nie genooi het tot 'n nuwe lewe nie.
En uiteindelik het hy na God gekyk en gevra: Het U u mag verloor?
En God het hom aangekyk en gesê: Het jy jou gehoor verloor?

Hoor u en ek nog God se geklop teen die deur, broers en susters? En as ons hoor, hoe reageer ons op sy uitnodiging? En onthou: Hy nooi vir u en vir my, ons almal, omdat ons sy skeppinge is, omdat ons vir Hom spesiaal is. Wat gaan u en ek hierdie jaar met sy uitnodigings maak? Want weet maar goed: ons is genooi!
Amen